Vinnige feite

  • ’n Ruimtepak kos sowat $12 miljoen (R220 miljoen) en 70% van die koste is vir die rugsak- en beheermodule. Die ruimtepakke wat Nasa gebruik, is in 1974 gebou. As dit in vandag se geldwaarde omgesit word, sal dit sowat $150 miljoen (meer as R2,75 miljard) kos. 11
  • Daar is dalk heelwat vullis op ons stortingsterreine op die aarde, maar daar is meer as ’n miljoen stukke rommel wat om die aarde wentel. Ruimterommel is ’n groot probleem en selfs iets so klein soos ’n skuifspeld kan ons satellietstelsel verwoes. 12
  • Ons son is een van meer as 100 miljard sterre in die melkwegstelsel, en die Melkweg is slegs een van meer as 100 miljoen sterrestelsels in die heelal. Die swart gat in die middel van die melkwegstelsel is miljoene keer die massa van die son. 13
  • Die son se kern stel energie vry wat gelykstaande is aan 100 miljard kernbomme per sekonde en daardie energie beweeg duisende jare deur die son se lae voordat dit as hitte en lig uitgestraal word. 14
  • Om ’n motor na die naaste ster teen ’n snelheid van 110 km/h te bestuur, sal meer as 356 miljard jaar duur. 15
Foto: iStock

Astronomie of sterrekunde is dié deel van die natuurwetenskappe (wat insluit wiskunde, chemie en fisika) wat die ruimte bestudeer en fokus op hemelliggame of hemelse voorwerpe soos sterre, komete, planete en sterrestelsels. Sterrekunde is een van die oudste wetenskappe en daar bestaan bewyse dat mense so ver terug in die geskiedenis soos die antieke Mesopotamiërs meer oor die hemelruim wou uitvind.

Latere beskawings soos die Grieke, Romeine en Mayas het ook die ruimte bestudeer, maar hierdie vroeë wetenskaplikes kon die ruimte net met hul oë waarneem. Die uitvinding van die teleskoop in die vroeë 1600’s het dít verander en wetenskaplikes kon daarmee baie sterreliggame en ander hemelse voorwerpe soos die maan en planete van baie nader af beskou. 1

Die 16de-eeuse sterrekundige Nicolaus Copernicus word deur baie as die vader van die sterrekunde beskou omdat hy gesê het die son, en nie die aarde nie, is die middelpunt van ons sonnestelsel. Copernicus het sy tydgenote geskok met sy teorie dat die aarde een keer per dag om sy eie as draai en een keer per jaar om die son wentel, in sy baanbrekerswerk De Revolutionibus Orbium Coelestium (On the Revolution of the Heavenly Spheres), wat kort voor sy dood in 1543 gepubliseer is. Sy baanbrekerswerk is in 1616 deur pous Paulus V veroordeel as strydig met die Bybel. 2

Vroegste tye

Vroeë kulture het hemelliggame met gode en geeste geïdentifiseer. 3 Hulle het verskynsels soos reën, droogte, seisoene en getye aan hierdie voorwerpe en hul bewegings toegeskryf. Dit word algemeen aanvaar dat die eerste “professionele” sterrekundiges priesters was en dat hul begrip van die “hemelruim” as goddelik gesien is, vandaar die astronomiese verband met die veld wat astrologie genoem word. Antieke strukture soos Stonehenge het waarskynlik sowel astronomiese as godsdienstige funksies vervul. 4

Kalenders is opgestel deur die son en die maan dop te hou (meet die dag, maand en jaar) en was van belang vir landbou, waar die oes afhang daarvan om op die regte tyd van die jaar te plant. Die algemeenste moderne kalender is gegrond op die Romeinse kalender, wat die jaar in 12 maande verdeel het met afwisselend 30 en 31 dae per maand. Verskeie Romeinse keisers het aan die kalender verander. Julius Caesar het die hervorming van die kalender begin en die skrikkeljaar geskep.

Wat is die verskil tussen astronomie en astrologie?

Sterrekunde (astronomie) is ’n wetenskap wat alles buite die atmosfeer van die aarde bestudeer, soos planete, sterre, asteroïdes en sterrestelsels, sowel as die eienskappe en verwantskappe van daardie hemelliggame. Sterrekundiges grond hul studies op navorsing en waarneming. 5

Astrologie, daarenteen, is die oortuiging dat die posisie van die sterre en planete gebeure op aarde beïnvloed.

In die antieke tyd het mense geweet daar is iets aan die sterrestelsels, die son en die maan, die sterre en planete wat dinge op ons planeet beïnvloed. Sterrekykers (astroloë) het die belyning van hemelliggame bestudeer en gegrond daarop konings en koninginne gehelp om belangrike besluite te neem of beter keuses oor hul gesondheid te maak.

Met die verloop van tyd wou meer en meer gewone mense ook “raad” hê oor hul toekoms, loopbaan en liefdeslewe en tot vandag toe is mense bereid om te betaal vir die kennis wat hulle glo sterrekykers in die sterre sien. Vandag is horoskope (wat jou sterreteken voorspel) en private “lesings” by astroloë oor wat jou toekoms vir jou inhou, baie gewild en wat jou “sterre voorspel” word selfs in koerante en tydskrifte gepubliseer.

Belangrike uitvindings

 Deur die eeue heen is belangrike astronomiese ontdekkings gemaak. Daar word gesê dat Galileo Galilei die eerste mens was wat die teleskoop na die ruimte gerig het. Hy het groot verbeterings aan die teleskoop aangebring en die planete noukeurig waargeneem. Hy het baie ontdekkings gemaak, waaronder die vier groot mane van Jupiter (wat ook sy vier groot satelliete genoem word) en die son se sonvlekke.

Johannes Kepler was nog ’n beroemde sterrekundige en wiskundige en sy planetêre bewegingswette beskryf hoe die planete om die son wentel. Isaac Newton het weer die fisika agter die sonnestelsel verduidelik aan die hand van sy wette van beweging en swaartekrag. Ons is vandag steeds besig met groot ontdekkings in die sterrekunde. Dit sluit onder meer die bestaan van sterrestelsels, swart gate, neutronsterre en kwasars in.

Astronomievelde

Daar bestaan verskillende velde in die wetenskap van sterrekunde.

Dit sluit in: 4

  • Waarnemingsterrekunde – Dit is om die hemelliggame in die buitenste ruim waar te neem, soos sterre en planete. Daar is verskillende soorte waarnemingsterrekunde wat verdeel word deur hoe die voorwerpe waargeneem word. Dit sluit in basiese lig (waarneming met ons oë), radio-, infrarooi-, X-straal-, gammastraal- en ultravioletwaarnemings (met behulp van komplekse hoëtegnologiese toerusting).
  • Teoretiese sterrekunde – In hierdie veld van die sterrekunde gebruik wetenskaplikes wiskundige modelle om beter te beskryf wat waargeneem word en selfs om gebeure te beskryf wat ons nie met ons huidige tegnologie kan waarneem nie.

  • Sonsterrekunde – Hier fokus wetenskaplikes op die son. Dit is ’n belangrike veld van die wetenskap omdat sonaktiwiteite ’n groot invloed op die aarde het.
  • Planetêre sterrekunde – ’n Gebied van die wetenskap wat daarop fokus om meer te leer oor planete, mane, asteroïdes en komete. Hieruit kan ons leer hoe planete en ander voorwerpe gevorm is en waaruit dit bestaan.
  • Konstellasiesterrekunde – Dit is die studie van sterre, insluitend hoe hulle gevorm word, waaruit hulle bestaan en hul lewensiklus. Dit sluit verskillende soorte sterre in en hul finale toestand, waaronder interessante voorwerpe soos rooi reuse, swart gate, supernovas en neutronsterre.

Astronomie vandag

Vandag versamel sterrekundiges data oor hemelliggame deur groot teleskope op die grond asook in die ruimte te gebruik. Hierdie moderne teleskope, toegerus met enorme spieëls, laat sterrekundiges toe om die lig van baie flou en ver voorwerpe vas te vang. Gespesialiseerde tegnieke en sensitiewe wetenskaplike instrumente is ontwikkel om nie net sigbare lig nie, maar ook die hele elektromagnetiese ligspektrum te bestudeer, insluitend infrarooi lig, radiogolwe en X-strale. Groot, ingewikkelde teleskope en gevorderde tegnieke het sterrekundiges selfs in staat gestel om verskynsels soos swart gate, verre eksoplanete en swaartekraggolwe direk waar te neem.

Danksy die grootte van sy 6,5 meter- goue spieël, is die James Webb-ruimteteleskoop die grootste ruimteteleskoop wat nog ooit gebou is. Dié ruimteteleskoop, wat deur Nasa ontwikkel is met bydraes deur die Europese en die Kanadese Ruimteagentskappe, is op 25 Desember 2021 gelanseer. Dié teleskoop, wat na verwagting sowat 20 jaar in gebruik sal wees, gee danksy sy presisie-instrumente aan sterrekundiges ’n baanbrekende blik sal gee op die vroegste oomblikke van ons heelal en stel hulle in staat sal stel om planete en sterre te ontdek wat nog nooit tevore gesien is nie.  6

In Suid-Afrika

 Die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) in Sutherland is die grootste enkele optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond en een van die grootstes in die wêreld. Dit het ’n seskantige primêre spieëlskikking van 11 meter, bestaande uit 91 individuele seskantige spieëls wat elk 1 meter groot is. 7 Hierdie massiewe teleskoop is tussen 2000 en 2005 deur Suid-Afrika en sy Duitse, Poolse, Amerikaanse, Nieu-Seelandse en Britse vennote opgerig en hier woel sterrekundiges om afgeleë sterre, sterrestelsels en hemelgloede op te spoor wat duisendmiljoen keer dowwer is as wat ’n mens met die blote oog kan sien. Trouens, daar word vertel dat SALT so kragtig is dat hy iets so dof soos ’n kers se vlammetjie op die maan sal kan waarneem. Die teleskoop versamel 25 keer meer lig as enige ander bestaande teleskoop op die Afrika-vasteland. 8

SALT Teleskoop in die Karoo, Sutherland

Die tweede groot Suid-Afrikaanse teleskoopprojek is die SKA (Square Kilometre Array). 9 Dit bestaan uit ’n klomp skottels wat, as dit langs mekaar gepak sou word, een vierkante kilometer sou beslaan. Die SKA sal uiteindelik duisende skottels (soos die televisieskottels buite ons huise) en tot ’n miljoen laefrekwensie-antennas gebruik.

Dit sal sterrekundiges in staat stel om die ruimte baie vinniger te ondersoek as enige huidige stelsel. Dit sal ook die beste foto’s kan lewer. Die SKA is ’n internasionale projek met die meeste skottels wat in Suid-Afrika en ander Afrika-lande opgerig word en die laefrekwensie-antennas in Australië. Dit sal na verwagting teen 2028 voltooi wees. Die MeerKAT-teleskoop is tans die grootste en sensitiefste radioteleskoop in die Suidelike Halfrond. Dit bestaan uit 64 skottels met ’n deursnee van 13,5 meter elk. 10

Woordbank

baanbrekerswerk Die eerste werk wat in ’n nuwe rigting gedoen word en wat gewoonlik met baie moeite gepaardgaan.
chemie Die wetenskap wat hom besig hou met die ondersoek na die samestelling van stowwe uit hul elemente, na die wette van verbinding, die verwantskap en die eienskappe van stowwe en elemente, chemie.
fisika Wetenskap wat handel oor die verskillende vorms van lewelose materie en oor dié van hulle verskynsels waarby geen verandering van hul chemiese samestelling betrokke is nie; natuurkunde.
keisers ’n Man (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer.
X-strale ’n Vorm van elektromagnetiese straling, soortgelyk aan sigbare ligstrale. X-strale het egter hoër energie en dit kan deur die meeste voorwerpe, insluitend die liggaam, gaan. Mediese X-strale word gebruik om beelde van weefsels en strukture in die liggaam te genereer.
supernovas Nuwe, uitsonderlik helder ster – met lig tot 100 miljoen keer sterker as dié van ons son.
infrarooi Elektromagnetiese straling met langer golflengtes as dié van sigbare lig.
Suidelike Halfrond Die helfte van die aarde wat suid van die ewenaar lê.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Inleiding tot astronomie

60+ ruimtefeite

Ontdek die wêreld van astronomie

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Januarie 2022 | Bygewerk op 10 September 2024