Vinnige feite
- Menseregte word in die meeste lande van die wêreld erken.
- Eleanor Roosevelt het eerste begin om die begrip “human rights” te gebruik.
- Menseregte word in Hoofstuk 2 van Suid-Afrika se Grondwet bespreek.
- Die Handves van Menseregte is die naam van die dokument waarin menseregte bespreek word.
Menseregte het eers bekend gestaan as “the rights of man”. In die middel van die 20ste eeu het die Amerikaanse presidentsvrou Eleanor Roosevelt, wat toe by die Verenigde Nasies gewerk het, begin om daarna te verwys as “menseregte” of “human rights”. Sy het gesê dit klink asof “the rights of man” net te doen het met die regte van mans en daarom het sy die nuwe woord begin gebruik. 1
Menseregte beteken daardie regte wat elke liewe mens het omdat hy of sy ’n mens is. Elke mens kry hierdie regte vanaf die oomblik dat hy of sy gebore word. Alle mense het hierdie regte, elke mens moet dieselfde regte hê en niemand mag hierdie regte van jou wegneem nie. 1 2
Menseregte in Suid-Afrika
Suid-Afrika se Grondwet gee ’n uiteensetting van die menseregte van Suid-Afrikaanse burgers. Menseregte is só belangrik in Suid-Afrika dat ’n hele hoofstuk van die Grondwet – hoofstuk 2 – daaraan afgestaan word om al die verskillende menseregte te beskryf en verduidelik. 1
Die dokument waarin menseregte beskryf word, word die Handves van Menseregte genoem. 1
Handves van Menseregte
Daar is 27 artikels in die handves wat elk een van die regte van Suid-Afrikaanse burgers beskryf.
Hier volg ’n lys van die menseregte soos bevat in die handves:
1. Die reg op gelykheid
Almal is gelyk voor die reg en moet gelyke beskerming van die wet kry. Daar mag teen niemand gediskrimineer word wat op enige manier anders as jyself is of wat anders as jy glo nie. Hiermee word bedoel dat ’n mens nie mag diskrimeer teen iemand van ’n ander ras, geslag, kleur, geloof, godsdiens of kultuur nie. ’n Mens mag ook nie diskrimineer teenoor mense wat oud is, ’n ander taal praat of gestremd is nie.
2. Die reg op menswaardigheid
Almal moet met dieselfde respek behandel word; almal het dieselfde waarde as mens.
3. Die reg op lewe
Niemand mag iemand anders se lewe beëindig nie. In Suid-Afrika mag ’n hof ook nie die doodstraf oplê nie omdat dit deur die Grondwet verbied word.
4. Die reg tot vryheid en sekuriteit van die persoon
Dit beteken onder meer dat mense beskerm moet word teen geweld, nie gemartel mag word nie en nie op ’n wrede manier gestraf mag word nie. Mense mag ook nie sonder hul toestemming vir mediese of wetenskaplike eksperimente (toetse) gebruik word nie.
5. Die reg teen slawerny en gedwonge arbeid
Wanneer mense gedwing word om arbeid te verrig, behoort die departement van arbeid en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) daarvan ingelig te word.
6. Die reg op privaatheid
Dit beteken dat mense se huise of eiendom nie deursoek mag word nie en dat kommunikasie tussen mense privaat moet wees.
7. Die reg op vryheid van godsdiens, geloof en opinie
In Suid-Afrika word al die verskillende soorte godsdienste met respek behandel. Niemand mag teen iemand anders diskrimineer omdat die ander persoon ’n ander godsdiens of geloof volg nie. Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe gee aandag aan hierdie regte van mense. Meer inligting oor hul werk is op hul webtuiste beskikbaar: www.crlcommission.org.za
8. Die reg op vryheid van uitdrukking
Die koerante en ander media in Suid-Afrika moet hul mening vryelik kan oordra. Daar moet ook vir kunstenaars vryheid wees om hul kuns te beoefen, en daar moet vir mense in die akademie en wat wetenskaplike navorsing doen, die vryheid wees om hul werk te doen. Daar is organisasies wat hierdie regte beskerm, soos onder meer die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika en die pers ombudsman. Let ’n bietjie op dat daar dikwels op die TV-skerm ’n boodskap gewys word wat sê dat mense mag kla as daar iets op TV gewys word waarmee hulle nie saamstem nie.
9. Die reg om te vergader, te betoog en petisies op te stel
Mense het die reg om vreedsaam en ongewapen te vergader en te betoog en ook om petisies op te stel. Só kan mense wys as hulle oor iets ontevrede is. Die SAMRK het ’n pamflet opgestel waarin hulle meer inligting gee oor hoe mense op ’n wettige manier protes mag aanteken. Hierdie pamflet kan op die kommissie se webtuiste gelees word by www.sahrc.org.za en die naam daarvan is Menseregte en Gemeenskapsprotes.
10. Die reg op vryheid van assosiasie
Elke mens mag by enige groep of organisasie aansluit en elke mens mag ook self ’n groep of organisasie stig.
11. Politieke regte
Elke mens het die reg om ’n politieke party te stig en ook om aan ’n politieke party se bedrywighede deel te neem. Mense het ook die reg om tydens verkiesings in die geheim te stem.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webtuiste, by www.elections.org.za, gee inligting oor die reg om te stem en oor verkiesings.
12. Die reg dat burgerskap nie weggeneem word nie
Niemand se burgerskap mag weggeneem word nie. Die departement van binnelandse sake hanteer kwessies te doen met burgerskap.
13. Die reg op verblyf en om vry te kan rondbeweeg
Burgers van Suid-Afrika mag op enige plek in die land bly. Hulle mag die land verlaat en weer terugkeer. Burgers het ook die reg om ’n paspoort te hê.
14. Die reg op vryheid van handel en vryheid van beroep
Elke burger mag enige werk kies wat hy of sy wil doen en kan ook kies om ’n eie besigheid te begin.
15. Die regte van werknemers en werkgewers
Werknemers en werkgewers moet reg en billik behandel word.
16. Omgewingsregte
Mense het die reg om te woon en te werk in ’n omgewing wat nie sleg is vir hul gesondheid nie. Besoedeling is een van die dinge wat mense siek kan maak. Daarom is dit die regering se plig om seker te maak dat onder meer myne nie die omgewing besoedel nie.
17. Eiendomsregte
Niemand se eiendom mag van hulle af weggeneem word nie.
18. Die reg op toegang tot behuising
Almal moet toegang tot behuising hê en mag nie uit hul woonplekke gesit word nie.
19. Die reg op toegang tot gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike sekuriteit
Almal moet toegang hê tot gesondheidsorgdienste, asook tot genoeg voedsel en water. Mense moet ook hulp kry as hulle nie self vir hulself en hul gesinne kan sorg nie. Niemand wat mediese behandeling nodig het, mag toegang tot sulke behandeling geweier word nie.
20. Die regte van kinders
Kinders se regte is baie belangrik in Suid-Afrika en baie aandag word daaraan gegee in die Grondwet. Kyk na die artikel Kinderregte vir volledige inligting hieroor.
21. Die reg tot onderwys
Almal het die reg om basiese onderwys te ontvang, asook om ná skool verdere onderwys te ontvang.
22. Die reg op taal en kultuur
Elke persoon het die reg om sy of haar eie taal te gebruik en elke persoon het ook die reg om deel te neem aan sy of haar eie kultuurlewe. Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad is een van die organisasies wat hierdie regte beskerm. Vind hulle by www.pansalb.org.
23. Die reg van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe
Mense wat aan ’n kulturele, godsdienstige of taalkundige gemeenskap behoort, het die reg om hul kultuur te geniet, hul godsdiens uit te leef en hul taal te gebruik.
Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe is die organisasie wat hierdie regte beskerm. Hul webwerf is by www.crlcommission.org.za.
24. Die reg op toegang tot inligting
Elke persoon het die reg om toegang te kry tot inligting wat in die regering of ’n ander persoon se besit is indien daardie inligting nodig is vir die beskerming van iemand se regte.
25. Die reg op regverdige administratiewe optrede
Enige mens moet regverdig behandel word deur administratiewe reëlings van die regering of organisasies, soos byvoorbeeld wanneer lisensies uitgereik word. Wet 3 van 2000, die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (WBAG), is die wet wat mense beskerm teen onregverdige administratiewe optrede.
26. Die reg om toegang tot howe
Elke mens het die reg om ’n saak na ’n hof te neem om uitsluitsel daaroor te kry.
27. Die regte van persone wat gevange geneem word
Daar is baie reëls wat nagekom moet word wanneer iemand van ’n misdaad beskuldig word of gevange geneem word. Enkele van hierdie reëls is dat so ’n persoon die reg het om niks te sê nie en so gou as moontlik in ’n hof moet verskyn.
Die beperking van regte
In die Handves van Menseregte word ook aandag gegee aan gevalle waar twee mense se regte met mekaar kan bots. Byvoorbeeld: Een persoon kan miskien iets sê omdat hy vryheid van spraak het, maar dit wat hy sê, kan ’n tweede persoon se waardigheid aantas. In so ’n geval moet probeer word om die saak op so ’n manier op te los dat albei persone steeds regverdig behandel word. 3 4
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)
Die SAMRK is gestig om menseregte in Suid-Afrika te beskerm.
Hierdie is die pligte van die SAMRK:
- Om klagtes van menseregteskendings te ondersoek.
- Om elke jaar ’n verslag vir die Parlement op te stel oor die staat se vermoë om aan Suid-Afrikaners sosio-ekonomiese regte te verskaf.
- Om die publiek van menseregte bewus te maak en hulle meer daaroor te leer.
- Om seker te maak dat alle nuwe wette die beginsels van menseregte in ag neem.
- Om met die media saam te werk om inligting wat belangrik is vir menseregte bekend te maak.
- Om geleenthede te skep waartydens kundige mense menseregtekwessies kan bespreek.
- Om die optrede van mense wat ander se menseregte geskend het, reg te stel. 2
Watter soort klagtes ondersoek die Menseregtekommissie?
Die SAMRK kan enige klag ondersoek wat te doen het met ’n mensereg van ’n persoon of ’n groep wat geskend is. 3 Hou gerus die koerante dop om te kyk of jy berigte kan raaksien oor sake wat deur die Menseregtekommissie ondersoek word.
Woordbank
Verenigde Nasies | Die Verenigde Nasies is ’n internasionale organisasie. Die doel van die organisasie is om al die lande in die wêreld te laat saamwerk oor dinge wat verskillende lande raak – soos onder meer ekonomiese ontwikkeling, veiligheid en menseregte. |
Grondwet | Die Grondwet is die hoogste wet van Suid-Afrika. |
demokrasie | ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers van al die inwoners van ’n land. |
gediskrimineer | Om onbillik onderskeid te tref in die manier waarop ’n mens teenoor verskillende persone of groepe optree. |
billik | Om iemand billik te behandel beteken om hom of haar regverdig te behandel. |
handves | ’n Dokument waarin belangrike beginsels oor regsake bespreek word. |
geskend | Om iemand se menseregte te skend: Om iemand nie reg te behandel nie, soos wanneer teen iemand gediskrimineer word. 5 6 |