Kunselemente
Kunselemente is aspekte wat deur ʼn kunstenaar gebruik word tydens teken, verf of die skep van enige ander vorm van ʼn kunswerk. ʼn Kunswerk word ook volgens sy kunselemente ontleed.
Hierdie kunselemente word gerangskik sodat dit ʼn patroon of konsep vorm wat uiteindelik die kunswerk tot stand bring. Die sewe kunselemente is soos volg: lyn, kleur, ruimte, tekstuur, fatsoen, vorm en toonwaarde. Die kombinasie van kleur en vorm kan ʼn spesifieke gevoel oordra of die illusie van spasie, volume, beweging of lig skep.
Sommige kunswerke vertoon tweedimensioneel omdat dit op ʼn plat oppervlak met lengte en wydte geskep word wat nie diepte ook het nie. Ander kunswerke lyk heeltemal plat/gelyk (eendimensioneel). Net so kan kunswerke ook driedimensioneel vertoon, afhangende van hoe die kunstenaar die kunselemente kombineer en uitvoer. 1
Elemente van kuns
Hoekom is kunselemente belangrik?
Om die kunselemente en -beginsels te ken en toe te pas, dra by tot visuele geletterdheid. Kunstenaars kan deur middel van die toepassing van die kunselemente beter en kreatiewer kunswerke lewer. Mense wat kunswerke aankoop of kunsgalerye besoek om kuns te besigtig, kan ook met behulp van kennis van die kunselemente die fynere besonderhede van kuns waardeer. Die boodskap wat die kunstenaar met die kunswerk wil kommunikeer, kan ook met behulp van kennis van die kunselemente beter geïnterpreteer word deur die persoon wat die kunswerk aanskou. 2
Om ’n kunswerk te skep, is byna soos koekbak of om ’n gereg voor te berei: ’n Mens het bestanddele (elemente) nodig, jy moet besluit wat jy wil maak (komposisie) en om dit suksesvol te maak, het jy riglyne of ’n resep (ontwerpbeginsels of -reëls) nodig.
Onthou, die elemente van kuns is net so belangrik soos die bestanddele van ’n koek of gereg. Geen bestanddele, geen gereg. Geen elemente, geen kuns.
‘n Mens kan die elemente van kuns ook sien as die bakstene, sement, verf, bouplan, ensovoorts wat nodig is om, byvoorbeeld, ’n kerk te bou. Geen boumateriaal, geen kerk. Geen elemente, geen kuns.
Nie elke kunswerk bevat elkeen van hierdie sewe elemente nie, maar ten minste twee is altyd teenwoordig. Byvoorbeeld: ‘n Beeldhouer moet vorm én ruimte gebruik om ’n driedimensionele beeld te skep, want vorm en ruimte is driedimensionele elemente.
Meer oor die verskillende kunselemente
Lyn
Die soort lyn wat in ʼn kunswerk gebruik word, help om ʼn boodskap oor te dra en word ook meestal as die belangrikste kunselement beskou. Lyne kan lig of donker, dik of dun, egalig, geboë of happerig wees, alles afhangende van die gevoel en beeld wat die kunstenaar daarmee wil oordra. Die rigting van ʼn lyn speel ʼn belangrike rol in ʼn kunswerk. Diagonale (skuins) lyne help om beweging en energie oor te dra, terwyl horisontale (plat) en vertikale (regop) lyne stabiliteit en kragtigheid beklemtoon. 4
Nog voorbeelde van lyne is: Kontoerlyne (buitelyne); abstrakte lyne; gestileerde lyne (duidelik, vereenvoudig, vir beklemtoning om te oordryf); ekspressiewe lyne (roep ʼn gevoel op); gestruktureerde lyne (skep ʼn illusie); beskrywende lyne (beskryf die vorm); konstruksielyne (eerste lyne in die tekening) en hoof buitelyne (gewoonlik lig en vry).
Lyne het bepaalde eienskappe – dit het mates, dui rigting aan, en dit speel ʼn spesifieke rol op die bepaalde plek waar die lyne aangebring word. ʼn Lyn het ook karakter deurdat dit sag/hard, sensitief/wild of lig/donker uitgebeeld kan word. Lyne help die kunstenaar dus ook om emosie en konsepte oor te dra. 5
Kyk die voorbeeld hier onder van hoe lyn in kuns aangewend word. 6
Lyn word as die mees basiese element van kuns beskou. Ten opsigte van kuns word lyn as “’n bewegende punt” beskou. ‘n Eenvoudige manier om aan ‘n lyn te dink, is om ‘n punt voor te stel wat beweeg.
Kleur
Kleur word verskillend geïnterpreteer deur verskillende kulture en gemeenskappe, asook deur individue. Die kleur kan helder/dof of realisties/onrealisties (abstrak) wees en help om spesifieke emosies op te roep of uit te beeld. Die gebruik van kleur gaan dikwels ook oor die boodskap wat die kunstenaar probeer oordra.
Die kleurwiel
-
- Die drie primêre kleure in die kleurwiel – wat nie gemaak kan word deur die vermenging van kleure nie – is rooi, geel en blou.
- Die drie sekondêre kleure is oranje, pers en groen. (Rooi en geel maak oranje, geel en blou maak groen, en rooi en blou maak pers.)
- Die ses intermediêre kleure is rooi-oranje, geel-oranje, geel-groen, blou-groen, blou-pers en rooi-pers. Hierdie kleure kom tussen die primêre en sekondêre kleure op die kleurwiel voor.
- ʼn Tersiêre kleur – byvoorbeeld bruin – kom tot stand wanneer twee komplimentêre kleure gemeng word.
- Swart is die teenwoordigheid van alle kleure, terwyl wit die afwesigheid van alle kleure verteenwoordig is. 7
Kleurgroepe
Komplimentêr
Daar is drie pare komplimentêre kleure: rooi en groen, geel en pers en blou en oranje. Een is die primêre kleur en die ander een die sekondêre kleur – direk teenoor mekaar op die kleurwiel. Hierdie kleure komplimenteer mekaar wanneer hulle direk langs mekaar geplaas sou word (verhelder).
Monochromaties
ʼn Monochromatiese skildery gebruik variasies van slegs een kleur. Dit is ʼn suiwer kleur wat alleen gebruik word en ook met swart en wit gemeng kan word.
Sielkundige uitwerking van kleur
Kleur het ʼn sielkundige uitwerking en word in warm en koel kleure verdeel. Warm kleure (soos rooi, oranje en geel) skep ʼn gevoel van opwinding, terwyl koel kleure (soos blou, groen en lemmetjiegroen) ʼn kalmerende effek het.
Simboliese betekenis
Die simboliek wat aan kleur gekoppel word, kan verskil in kulture. Rooi word byvoorbeeld aan liefde gekoppel, maar kan ook gevaar uitbeeld. 2
Ruimte
Ruimte verwys na hoe die kunstenaar die elemente (voorwerpe) op die skildery rangskik. Dit sê vir ons hoe die kunstenaar die spasie gebruik het. Die ruimte kan vol, leeg of matig wees. Negatiewe spasie is die wit spasie wat rondom die voorwerp van fokus voorkom. Positiewe spasie is spasie wat deur die voorwerp in die kunswerk gevul word. Om die ruimte reg in ʼn kunswerk aan te wend, is belangrik omdat te veel elemente op mekaar die kyker kan oorweldig.
Kyk na die voorbeeld hier onder om te sien hoe postiewe en negatiewe spasie in ʼn tekening gebruik word. 8
Tekstuur
Tekstuur verwys na hoe die oppervlak voel (of die tekstuur wat geïmpliseer word as ‘n mens daarna kyk). Deur verf dik aan te wend, kan tekstuur op ʼn prent geskep word. Tekstuur kan ook ʼn illusie wees wat die kunstenaar skep deur die regte gebruik van ʼn lyn. Tekstuur wat byvoorbeeld op ʼn foto van ʼn blom gesien kan word. Dit lyk of die blare en boombas grof is, maar as jy daaraan sou vat, is die foto se oppervlak glad. 2
‘n Paar voorbeelde van tekstuur is harig, hobbelrig, glad, grof, sag en hard. Daar is baie vorme van tekstuur, maar die twee hoofvorme is werklike tekstuur en visuele tekstuur.
- Werklike tekstuur (tasbare tekstuur) is nie net sigbaar nie, maar kan ook gevoel word. Dit staan bo die oppervlak uit, wat dit van tweedimensioneel na driedimensioneel verander.
- Visuele tekstuur is streng tweedimensioneel en word slegs deur die oog wat dit as tekstuur beskou, waargeneem.
Tekstuur word verkry deur die lyne, kleure, vorms en ander elemente van kuns te kombineer.
Fatsoen en vorm
Fatsoen is tweedimensioneel (2D, plat) met ʼn herkenbare rand. Vorm is ʼn driedimensionele (3D) fatsoen.
- Geometriese/meetkundige vorms is presies en reëlmatig, soos vierkante, reghoeke en driehoeke.
- Natuurlike (biomorfiese) vorms stel lewende dinge voor, soos plantegroei, mense, diere, ensovoorts.
ʼn Vorm het hoogte, breedte en diepte. Dit verwys ook na die illusie van volume in ʼn tweedimensionele werk. 2 Vorms kan groot of klein en rond of organies wees. Dit kan ook hoekig of geometries wees. ʼn Kunstenaar laat ʼn 2D-prent dikwels 3D lyk deur sy/haar kennis van lyn en skakering te gebruik. Vorms kan realisties of onrealisties (abstrak) wees.
Vorms het nie buitelyne in die werklikheid nie, hulle word deur lig gedefinieer – sonder lig sien ons dus geen vorm nie. Vorm is een van die elemente van visuele kuns wat betrekking het op die manier waarop ‘n fatsoen of die uiterlike vorm plek in beslag neem. ‘n Driedimensionele kunswerk (soos beeldhouwerk of argitektuur), het ook lengte, breedte en diepte.
Toonwaarde
Toonwaarde verwys na die skakering of die graad van lig en donker. Wanneer toonwaardes gebruik word, is dit belangrik om te bepaal hoe lig op ʼn vorm val. Toonwaarde is die graad van helderheid en donkerte in ‘n kleur. Die verskil in toonwaardes word kontras genoem. Wit word as die ligste waarde beskou, terwyl swart die donkerste is.
Die beginsels van kuns (ontwerp)
Is daar ’n verskil tussen die elemente van kuns en die beginsels van kuns? Ja!
- Die elemente van kuns is die boustene van ‘n kunswerk: kleur, lyn, fatsoen, vorm, waarde, tekstuur en ruimte. Dit is die gereedskap wat kunstenaars gebruik wanneer hulle ‘n kunswerk skep.
- Die beginsels van ontwerp is hoe daardie boustene gerangskik is: balans, kontras, beklemtoning, beweging, patroon, ritme, eenheid en verskeidenheid. Dit is die maniere waarop ‘n kunstenaar die elemente van kuns kan organiseer om ‘n wye reeks effekte te skep.
In hierdie deel kyk ons na die beginsels van kuns (ook ontwerpbeginsels genoem), aangesien ons reeds die elemente van kuns bespreek het. Let daarop dat sommige ontwerpbeginsels van kuns ooreenstem met die elemente van kuns. 12
Balans
Balans is die gevoel dat die skildery “reg voel” en nie “swaarder” is aan die een kant nie. ’n Skildery wat nie gebalanseerd is nie, skep ’n gevoel van onrustigheid. (Die verskillende soorte balans is onder die elemente van kuns bespreek.)
Kontras
Kontras is die rangskikking van teenoorgestelde elemente en effekte. Byvoorbeeld, ligte en donker kleure, gladde en growwe teksture, groot en klein vorms. Kontras kan gebruik word om verskeidenheid, visuele belangstelling en drama in ‘n kunswerk te skep.
Beklemtoning (fokus)
Beklemtoning is wanneer die kunstenaar ‘n fokuspunt skep wat die kyker se aandag trek. Dit word dikwels met kontras bereik.
Beweging
Beweging is die resultaat van die gebruik van die elemente van kuns sodat dit die kyker se oog rondom en binne die beeld beweeg. ‘n Gevoel van beweging kan geskep word deur diagonale (skuins) of krom lyne, deur die illusie van ruimte, deur herhaling, of deur energieke merktekens.
Patroon
‘n Patroon is ‘n ontwerp waarin lyne, vorms, vorms of kleure herhaal word. Patrone kan gereeld of onreëlmatig wees.
Ritme
Ritme is ‘n beginsel van ontwerp wat beweging of aksie voorstel. Ritme word gewoonlik bereik deur herhaling van lyne, vorms, kleure en meer. Dit skep ‘n visuele tempo, byna soos ‘n pad vir die kyker se oog om te volg.
In die onderstaande voorbeeld gebruik die kunstenaar patroon, herhaling van lyn en kontras tussen geboë en reguit lyne om ritme in kuns te skep.
Eenheid
Eenheid, ook bekend as harmonie, is ‘n ontwerpbeginsel wat verwys na die samehorigheid van ‘n kunswerk. Eenheid in kuns is nie noodwendig net ‘n herhaling van dieselfde element oor en oor nie, maar dit is die aangename kombinasie van elemente om ‘n harmonieuse komposisie te skep.
Verskeidenheid
Verskeidenheid is die gebruik van die verskillende elemente van kuns, soos vorms van kontras, klem, asook die verskil in grootte en kleur.
Woordbank
harmonie | Vereniging van dele of verwante dinge dat dit ‘n welgeordende geheel vorm wat vir die oog aantreklik is. |
illusie | Iets wat jy dink jy sien, maar wat nie werklik so is of bestaan nie. |
kontras |
Verskil tussen dinge; wat met mekaar vergelyk word; teenstelling. |
patroon | Herhaling van vorm/kleure/lyne. |
tekstuur | Hoe die oppervlak van iets voel as ‘n mens daaraan voel/raak. |
Lees dié om meer te wete te kom
Kyk dié video’s om meer te leer
Kuns
Kleur (wenke)
Verstaan die kunselemente
Sewe kunselemente
Kunselemente: Kreatiewe kaart
Die sewe elemente van kuns deur kunstenaar Lillian Gray