Vinnige feite

  • Die naam “Gat in die muur” (Hole in the Wall) is vir die eerste keer in 1823 opgeteken deur ’n kaptein Vidal, kommandeur van ʼn skip wat deur die Britse vloot gestuur is om die suidooskus van Afrika op te meet.
  • Die plaaslike mense van die omgewing noem dit esiKhaleni (“die plek van die groot geraas”).
  • Hierdie gat of tonnel is gevorm deur miljoene jare se malende water wat by die rotseiland breek. Die gat is ʼn goeie voorbeeld van erosie en die krag van water.

 

Foto: iStock

Die Gat in die muur is ʼn interessante rotsformasie, 8 km suid van Koffiebaai, by die mond van die Mpakorivier in die Oos-Kaap. Deur die rotsmuur loop ʼn “tonnel” wat groot genoeg is dat ʼn seilboot daardeur kan vaar. 1

Hierdie gat of tonnel is gevorm deur miljoene jare se malende water wat by die rotseiland breek. Die gat is ʼn goeie voorbeeld van erosie en die krag van water. Die sagter lae onder die doleriet is deur die water weggewerk totdat ʼn tonnel uiteindelik gevorm het. Dieselfde proses van malende water het ook die rots aan die kus weggewerk en gemaak dat dit ʼn losstaande struktuur is.

Die naam “Gat in die muur” (Hole in the Wall) is vir die eerste keer in 1823 opgeteken deur ’n kaptein Vidal, kommandeur van ʼn skip wat deur die Britse vloot gestuur is om die suidooskus van Afrika op te meet.

Die legende

Die plaaslike mense van die omgewing noem dit esiKhaleni (“die plek van die groot geraas”). Talle skeepswrakke lê teen die rotsagtige kus van hierdie “muur”. Vondse soos krale, muntstukke en dele van skepe word steeds hier uitgeduik. Die matrose wie se skepe hier vergaan het, is deur die Xhosas die abeLungu genoem (dit beteken “skuim uit die see”) omdat hulle ligte velle met seeskuim bedek was toe hulle uitgespoel het aan die kus. 2

Volgens ʼn Xhosa-legende is die gat in die rotsmuur ʼn deurgang tot hul voorvaders. Hulle vertel ook dat die Mpakorivier wat deur die gat vloei eens ʼn geslote meer was. Die jaar 1856 was ʼn moeilike jaar vir die Xhosa-gemeenskap langs die Wildekus: hul grond is beset deur die Britse owerhede, daar was ʼn groot droogte en hul beeste het van siektes omgekom.

ʼn Jong meisie, Nongqawuse, ʼn weeskind wat by haar sangoma-oom, Mhlakaza, gebly het, het gesê die voorvaders het vir haar ʼn oplossing gegee.

Nongqawuse en Nonkosi, 1856

Volgens haar moes almal hul gewasse verbrand en hul beeste doodmaak, want daar sou nuwe beeste en gewasse kom; en so ook al hul voorvaders, wat die Britte die see sou indryf. 3

Teen Februarie 1857 is meer as 200 000 beeste doodgemaak en al die gewasse vir die somer is verbrand. Niks het gebeur nie. Die gemeenskap het begin verhonger en meer as ʼn derde van die gemeenskap is dood aan honger en siektes. Die hele tragedie het dit vir die Britte net makliker gemaak om die grond te beset. Nongqawuse is na Robbeneiland geneem vir haar eie veiligheid. Die plek waar sy met die voorvaders gepraat het, kan vandag nog besigtig word op begeleide toere. 4

Woordbank

gewasse Bepaalde soort plant, veral in die landbou, soos mielies en koring.
matrose Seemanne. Laagste rang op ‘n skip.
omgekom Doodgaan/sterf.
vondse Goed wat gevind word. Verskil van die woord “fonds” wat geld beteken.
weeskind Ouerlose kind.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 4 September 2024