Ekonomie
Jy het seker al gehoor as die grootmense oor die land se ekonomie gesels. Hulle sê dalk iets soos, “Dit groei swak,” of “Dit groei omtrent glad nie”. Maar het jy geweet dat jy ook ’n rolspeler in die ekonomie is? Elke keer as jy iets koop (selfs by jou skool se snoepie) maak jy ’n bydrae tot die ekonomie.
Wat is ’n ekonomie?
’n Ekonomie verwys na die manier waarop ’n land geld maak en bestee deur goedere te koop en te verkoop en om dienste te lewer.
Goedere (ook bekend as handelsware, produkte en verbruikersware) is daardie goed wat gemaak of geproduseer word en wat ons kan koop soos, onder meer, kos, selfone en rekenaarspeletjies. Dienste is vaardighede wat mense gebruik om ander van diens te wees en waarvoor jy moet betaal. Jou krieketafrigter word vir sy diens betaal, jou tandarts en so ook die haarkapper wat jou hare sny. Mense wat hierdie goedere koop en vir dienste betaal, word verbruikers genoem.
Die proses waardeur hierdie goedere en dienste geskep word, is vervaardiging of produksie. 1
’n Samelewing het geld nodig om in sy behoeftes te voorsien en ’n mens kan geldmaak deur produkte te maak en te verkoop of ’n diens verskaf.
Daar is ook allerlei faktore wat die ekonomie beïnvloed, soos die skaarsheid van hulpbronne (is daar baie minerale, water en gewasse op plase?), mense (is daar goeie werkers?), die politieke en sosiale klimaat (kyk maar net wat het Covid-19 aan die ekonomie gedoen!) en, laastens, tegnologiese vooruitgang. 2
Die rolspelers in ’n ekonomie
Daar is vier hoofdeelnemers in ’n ekonomie. Dis die regering (ook die staat of openbare sektor genoem), ondernemings in die land (die privaat sektor), huishoudings (waarvan jou gesin ook deel vorm) en dan speel die buiteland ook ’n belangrike rol. 3
Ekonomiese prosesse
Hoewel die ekonomie soms moeilik verstaanbaar kan wees, berus dit op drie maklik verstaanbare begrippe: produksie (of vervaardiging), ruilhandel en verbruik. 4
Produksie
Vervaardiging of produksie is ’n belangrike hoeksteen van die ekonomie en daar is drie sleutelfaktore wat dit beïnvloed: grond, arbeid en kapitaal.
- Grond sluit nie net die fisieke grond in waarop jy kan werk nie – dit sluit ook natuurlike hulpbronne soos olie en minerale in.
- Arbeid, wat die tweede faktor is, is die mense wat vir betaling werk. Werknemers kan nie verniet werk nie en hulle moet vir hul werk betaal word sodat hulle weer in hul basiese (en ander) behoeftes kan voorsien.
- Die derde faktor is kapitaal. Dit sluit die fabrieke, kantore en gereedskap in wat nodig is om goedere te maak of dienste te verskaf. Dis met ander woorde al die geld wat gebruik word om hierdie kapitaalgoedere vir produksie te koop.
Geld word nie as ’n faktor van produksie gereken nie. Dit is eerder die manier waarop maatskappye vir grond, arbeid en kapitaal kan betaal.
Die maatskappye wat ’n produk vervaardig of diens verskaf, word gegroepeer in wat ons ’n bedryf (of industrie) noem. Hierdie vervaardigers en verbruikers vorm ’n mark. 5
Ruilhandel
Ruilhandel is wanneer ons geld ruil vir die goedere en dienste wat ons wil gebruik. Geld kom natuurlik uit inkomstes (soos jou ouers se salaris) of jou sakgeld. Jy het dalk al selfs ’n ander tipe ruilhandel by die skool beleef. Jy het dalk albasters vir ’n karretjie geruil, of Pokémon-kaarte vir Minecraft-kaarte.
In die ou dae toe daar nog nie geld was nie, het die mense slegs goed geruil. Hulle kon, byvoorbeeld, melk van hul koeie vir ’n buurman se koring ruil om meel mee te maak en brood te bak. Geld maak dinge vir ons vandag baie makliker.
As ons handel bespreek, is dit ook belangrik om van wisselkoerse kennis te neem. As jy al op Amazon geloer het na dinge wat jy soek, het jy sekerlik gesien dat die produkte in dollars geprys is. As jy daai bedrag in rand omsit, gaan dit baie hoër wees. Dit is as gevolg van die wisselkoers. Die wisselkoers is die bedrag van een geldeenheid wat ’n mens vir ’n ander kan ruil. Suid-Afrika voer byvoorbeeld baie goedere in van China, maar dan moet ons altyd die wisselkoers van hul geldeenheid in gedagte hou. Die wisselkoers verander elke dag.
Verbruik
Huishoudings (soos jou gesin) en ondernemings is verbruikers en verbruik twee soorte goedere.
’n Mens kry kapitaalgoedere wat gebruik word om ander produkte en dienste te produseer. Dink hier aan die toerusting wat nodig is om jou selfoon te maak.
Verbruikersgoedere is weer die goed wat jy in die winkel koop. Die PlayStation-speletjie of selfie-lig wat jy al so lank soek, is ’n voorbeeld van verbruikersgoedere. 6
Verskillende ekonomieë
’n Ekonomie kan groot of klein wees. Daar is jou plaaslike ekonomie, die land se ekonomie (nasionaal) en dan die groot een, die wêreld se ekonomie.
- Plaaslike ekonomie: Hierdie ekonomie verwys na die handel binne-in ’n gemeenskap. Die munisipaliteit, organisasies, ondernemings en mense in hierdie gemeenskap dra tot die ekonomie by.
- Nasionale ekonomie: ’n Nasionale ekonomie is ’n land se ekonomie. Verskillende lande se regerings het gewoonlik verskillende maniere hoe hulle hul land se ekonomie kan laat groei. Hulle moet groot besluite maak oor hul land se begroting. Die begroting vertel hoe geld spandeer moet word en waar die geld vandaan gaan kom. Elke land se ekonomie verskil van die ander. Die Amerikaanse ekonomie is byvoorbeeld heelwat anders as Suid-Afrika s’n. Lande het wel die een ding in gemeen: Almal wil hê hul ekonomie moet sterk groei.
- Die globale ekonomie: Hierdie ekonomie is die wêreldekonomie. Dit sluit al die verskillende ekonomiese stelsels en aktiwiteite in wat in en tussen nasies plaasvind. Lande voer produkte na mekaar toe uit en in. Suid-Afrika voer byvoorbeeld mielies, goud en vrugte na ander lande toe uit, maar voer weer voertuie (soos jou pa se bakkie) in.
Vertakkings van ekonomie
Die ekonomie kan nogal ’n tameletjie wees om te verstaan en daarom as ekonome dit bestudeer, onderskei hulle tussen twee hoofkategorieë: mikro- en makro-ekonomie.
Mikro-ekonomie gaan oor individuele besluite, maar nie net die besluite wat jy en jou gesin (as verbruikers) maak nie, maar ook die besluite wat maatskappye maak. Hierdie ekonomie fokus op vraag en aanbod en die ander kragte wat pryse beïnvloed. Vraag is mense se aanvraag na die dinge wat hulle wil gebruik. Aanbod is dit wat beskikbaar is vir ons om te koop. Soms is daar byvoorbeeld min tamaties in die winkels, want dit het te veel gereën en baie oeste is vernietig. Dan is die vraag na tamaties groot (want almal soek dit), maar die aanbod (dit wat beskikbaar is), is weer min. Tamaties se prys raak dan baie hoog en al die verbruikers (soos jou ma) kla daaroor.
Makro-ekonomie het weer te doen met die hele werking van die ekonomie. Watse besluite maak die regering van ’n land wat die ekonomie beïnvloed? ’n Hele paar kwessies val hieronder soos die groei van die ekonomie, inflasie en selfs werkloosheid. Inflasie gebeur as die vraag meer as die aanbod is. Dan is daar ’n tekort aan goedere en dienste, wat pryse laat styg. Dit is dan inflasie. 7
Ekonomiese sektore
Gewoonlik word ’n ekonomie in drie sakesektore verdeel:
- Die primêre sektor: Hierdie sektor het te make met die ontginning of insameling van grondstowwe soos koring, goud, koolstof, hout en yster. Dink hier aan mense wat goud myn, of boere of houtkappers.
- Die sekondêre sektor: In hierdie sektor word die grondstowwe verwerk en verander dit in produkte. Fabrieke verwerk byvoorbeeld ’n boer se mielies of koring en maak ’n produk soos graanvlokkies of meel daarvan.
- Die tersiêre sektor: Hierdie is die sektor wat dienste verskaf en dit sluit ook goedere in wat mense verbruik. Jou dokter, die vakansieplek waar julle in Desember bly en die taxibestuurders op die pad val almal binne dié sektor. 8
Ekonomiese stelsels
Die regering van ’n land besluit gewoonlik watter ekonomiese stelsel hulle verkies. Die meeste lande het gemengde ekonomiese stelsels waar die regering help met die verskaffing van basiese dienste soos water en krag. 9 Suid-Afrika het ’n gemengde ekonomiese stelsel, waar sommige funksies dus deur ondernemings (private sektor) verrig word en ander weer deur die staat (die openbare sektor).
In Suid-Afrika, is die staat verantwoordelik vir ons krag en water en besit ook byvoorbeeld ons nasionale lugdiens en posdiens. Dit is nie so in elke land nie.
Amerika het ’n vryemarkstelsel en dis gegrond op vraag en aanbod met min of geen beheer van die regering.
Die sentraal-beplande stelsel is weer ’n stelsel waar die staat produksiemiddele besit en hulle wil eerder goedere gelyk onder die gemeenskap versprei as om net op wins te fokus. 10
Woordbank
begroting | ’n Skatting van uitgawes wat aangegaan moet word. |
geldeenheid | Die geld wat ’n land se burgers gebruik. Ons geldeenheid in Suid-Afrika is die rand. |
goedere | Goed wat vervaardig word om verkoop te word. |
hulpbronne | Iets wat jou kan help of iets wat nuttig is vir ’n mens. |
inflasie | Die styging van lewenskoste en pryse as gevolg daarvan dat geld se waarde verminder. |
mikro- en makro-ekonomie | Individuele besluite van verbruikers en ondernemings. Die hele ekonomie. |
ontwikkelende ekonomie | ’n Land wat ekonomies stadig groei. |
ontwikkelde ekonomie | ’n Land met sterk ekonomiese groei. |
produksie | Die lewering of vervaardiging van ’n produk. |
produktiwiteit | Die hoeveelheid produkte wat in ’n sekere tyd vervaardig word. |
ruilhandel | ’n Stelsel waar goedere uitgeruil word. |
samelewing | Mense in die algemeen, soos hulle in gemeenskappe saamleef, veral in gemeenskappe waarin hulle dieselfde gewoontes, wette, ensovoorts, handhaaf. |
skaarsheid | ’n Beperkte hoeveelheid is beskikbaar. |
tegnologiese | Wetenskaplike kennis wat op praktiese maniere in die nywerheid benut word. |
verbruikers | Iemand wat goedere of dienste vir persoonlike gebruik koop. |
vervaardiging | In groot hoeveelhede maak. |
vryemarkstelsel | Dis ’n ekonomiese stelsel waar vraag en aanbod die prys van goedere en dienste bepaal. |
werknemers | Iemand wat vir ’n loon of ’n salaris werk. |
werkloosheid | Dit is die hoeveelheid mense wat nie werk het nie. |
wins | Geld wat jou besigheid maak deur goed te verkoop en ná jy al jou kostes betaal het. 1 |
Lees die volgende artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Wat is ’n ekonomie?
Meer oor ekonomie
10 feite oor ekonomiese groei
Die ekonomie van Antieke Rome