Vinnige feite

  • Rusland is die land met die meeste natuurlike hulpbronne. Die waarde van dié land se hulpbronne – wat steenkool, olie, aardgas, goud, hout en seldsame aardmetale insluit – word op $75 biljoen (“trillion”) gereken. Die VSA is in die tweede plek en die waarde van sy natuurlike hulpbronne soos steenkool, hout, aardgas, goud en koper beloop sowat $45 biljoen. 42
  • Petroleum (ruolie) kom van die Latynse naam af wat letterlik “rotsolie” beteken. 43
  • Sowat 36% van die wêreld se elektrisiteit en 70% van die wêreld se staal word vervaardig deur van steenkool gebruik te maak. Steenkool is ook ʼn belangrike bestanddeel van sement. Tussen 200 tot 450 kg steenkool word benodig om 1 ton sement te maak. 44
  • Een windturbine kan genoeg elektrisiteit vir 1 400 huise opwek. 45
  • Koffie is die wêreld se tweede meeste verhandelde kommoditeit naas ruolie. Die waarde van die wêreldkoffiemark word op $100 miljard geraam. 46
  • Het jy geweet dat glas oor en oor herwin kan word sonder dat die gehalte daarvan afneem? Die feit dat dit nie vanweë gebruik en ouderdom verswak nie, maak dit een van die maklikste materiale om te herwin. 47
  • Die eerste mense wat rubber gebruik het, was die inboorlinge van Sentraal-Amerika. Hulle het omstreeks 1600 v.C. reeds rubberballe en -skoene gemaak. Christopher Columbus het in 1495 die eerste keer gesien hoe inboorlinge in Haïti met ʼn rubberbal speel. 48
  • Die Switsers eet die meeste sjokolade ter wêreld – ʼn gemiddeld van sowat 8,8 kg per persoon per jaar. Die inwoners van Oostenryk en Duitsland is ʼn kortkop agter hulle met onderskeidelik 8,1 en 7,9 kg per persoon per jaar. 49
  • Goud is baie rekbaar. ʼn Enkele ons goud (ongeveer 28 gram) kan in ʼn goue draad van 8 kilometer lank uitgerek word. Goue drade word selfs in borduurwerk gebruik. 50

Die aarde is ʼn wonderlike skatkis propvol nuttige en kosbare hulpbronne. Daar is mooi goed soos goud en diamante wat ontdek word; riviere, plante en diere wat ons van kos en water voorsien; olie, steenkool en gas wat verseker dat ons hitte, lig en energie het. Letterlik alles wat ons elke dag gebruik – van medisyne en motors, tot klere, rekenaars en yskaste se oorsprong lê in die natuur! 1

Natuurlike hulpbronne

Natuurlike hulpbronne is alles wat in die natuur voorkom wat deur mense gebruik kan word en lewe ondersteun. Die aarde se natuurlike hulpbronne sluit in sonlig, grond, lug, water, minerale, metale, sand, olie, steenkool en aardgas. Diere, voëls, visse en plante is ook voorbeelde van natuurlike hulpbronne.

Natuurlike hulpbronne is dus alles wat as voedsel, brandstof en grondstowwe (ook primêre produkte genoem) vir die vervaardiging van goedere gebruik word. 2

Elke plek op aarde het sy eie unieke natuurlike hulpbronne. Sommige lande het baie olie of diamante, terwyl ander vrugbare landbougrond en baie water het, maar min minerale. Terloops, die rykste lande is nie noodwendig dié met die grootste hoeveelheid of verskeidenheid natuurlike hulpbronne nie, maar dié wat handel dryf in vervaardigde goedere en dienste.

Al die kos wat ons eet, kom van plante en diere af. Natuurlike hulpbronne soos steenkool, natuurlike gas (of aardgas) en olie (petroleum) verskaf weer hitte, lig en energie. Dit word fossielbrandstowwe genoem. Natuurlike hulpbronne is ook die grondstowwe (of rou materiaal) wat in die vervaardiging (maak) van produkte gebruik word. 3

Hernubare en niehernubare hulpbronne

Natuurlike hulpbronne kan in twee groepe verdeel word, naamlik hernubare en niehernubare hulpbronne. Baie van die natuurlike hulpbronne wat mense en diere nodig het om te oorleef, is hernubaar.

  • Hernubare hulpbronne – soos sonlig, water en lug – kan nie opgebruik word nie, maar besoedeling bedreig dié hulpbronne en maak dit minder bruikbaar of selfs onbruikbaar. As water byvoorbeeld besoedel word, kan ons dit nie drink nie. As lug besoedel word, het ons nie skoon lug om in te asem nie. Plante en diere is ook hernubare hulpbronne. Normaalweg word nuwe lewende dinge geskep (as deel van plante en diere se lewensiklusse) deur voortplanting, maar menslike aktiwiteite soos jag, houtkappery (ontbossing), bouwerk (konstruksie) en besoedeling kan veroorsaak dat plante en diere uitsterf en vir ewig verdwyn. 4
  • Niehernubare hulpbronne is dinge wat nie vervang of herwin kan word nie, soos fossielbrandstowwe (olie, steenkool en natuurlike gas). Fossielbrandstowwe het miljoene jare gelede op die aarde ontstaan. Steenkool kom van plante af, en olie en gas kom hoofsaaklik van mikroskopiese organismes, soos alge, af. Anders as die son, wind en water wat altyd daar sal wees, kan fossielbrandstowwe eendag opraak. Sommige wetenskaplikes reken dat steenkool teen 2200 gaan opraak en olie teen 2040. 5 Fossielbrandstowwe is ook nie goed vir die omgewing nie, omdat dit besoedeling deur die vrystelling van CO2 veroorsaak, 6 wat tot aardverwarming lei. 7

Die gevolge van die gebruik van natuurlike hulpbronne

Die ontginning, verwerking en gebruik van natuurlike hulpbronne kan omgewingsprobleme soos lug-, grond- en waterbesoedeling veroorsaak; ekosisteme ontwrig (versteur) of vernietig; en tot ʼn afname in biodiversiteit lei.

Koolstofdioksied – wat geproduseer word deur die verbranding van steenkool, olie en aardgas – is ʼn kweekhuisgas. Kweekhuisgasse absorbeer die hitte van die son. Voorbeelde van kweekhuisgasse sluit in metaan, ammoniak en swaeldioksied. Wetenskaplikes glo dat die opbou van kweekhuisgasse in die atmosfeer klimaatsverandering veroorsaak. Dit is die verandering in die gemiddelde temperatuur van die atmosfeer naby die aarde se oppervlak. Met verloop van tyd kan dit vloede, droogte en siektes veroorsaak. 8

Die onttrekking en gebruik van natuurlike hulpbronne kan ook verhoudings binne ekosisteme versteur. Ekosisteme is selfregulerende gemeenskappe of groepe plante en diere wat op ʼn spesifieke plek voorkom en van mekaar afhanklik is. As bome byvoorbeeld afgekap word, kan dit diere se habitat vernietig en hulle dwing om elders blyplek te gaan soek. As hierdie diere die ekosisteem verlaat, kan verdere versteurings binne plant- en dierepopulasies voorkom wat van hierdie spesies afhanklik is. 9 Dit verminder die biodiversiteit. Biodiversiteit is die verskeidenheid organismes wat op die aarde leef. 10

Bewaring van ons natuurlike hulpbronne

Om nuwe produkte van natuurlike hulpbronne of grondstowwe te maak, gebruik nie net baie energie nie, maar veroorsaak heelwat besoedeling. Daarom is herwinning broodnodig om ons natuurlike hulpbronne te bewaar. Herwinning is wanneer materiaal (soos papier, glas, aluminium en staal) hergebruik word om ander produkte te maak. Al hoe meer maatskappye ontwikkel nuwe en innoverende maniere om herwinde materiaal in die vervaardiging van produkte te gebruik. Pleks van plastiek uit olie vervaardig, kan ʼn mens byvoorbeeld ou plastiekprodukte (wat op die ashoop sou beland) gebruik om nuwe of ander produkte te maak. 11

Tweedens kan ons keer dat niehernubare hulpbronne soos olie, steenkool en gas vinnig opraak deur hernubare energie, wat ook skoon of groen energie genoem word, op te wek. Hernubare energie kom van natuurlike hulpbronne soos sonlig, water en wind. Mense gebruik reeds vir honderde jare die natuur se krag vir verwarming, vervoer, beligting, en so meer. Wind laat seilbote byvoorbeeld op die see vaar en laat windpompe draai om water uit ’n boorgat te kry of om graan te maal. Die son verskaf weer hitte in die dag en baie mense gebruik nog steeds die son om vuur te maak. Deur hernubare bronne soos die son (sonpanele), wind (windturbines) en water (hidroëlektrisiteit) te gebruik om elektrisiteit op te wek, sal ons olie-, steenkool- en gasreserwes vir nog baie jare gespaar bly. 12

Produkte uit hulpbronne

Primêre produkte

Grondstowwe, oftewel primêre produkte, sluit alle grondstowwe in wat uit die vier primêre aktiwiteite (bosbou, landbou, mynbou en vissery) verkry word in. Dié produkte is onveranderd en kan in sy oorspronklike vorm verkoop word.

Sekondêre produkte

Sekondêre produkte word ook vervaardigde produkte genoem. Hier word gekyk na die proses om primêre produkte te verander in sekondêre produkte. Twee belangrike dinge spruit hieruit, naamlik dat werk in die vervaardigingsproses geskep word en dat vervaardigde produkte vir meer geld utigevoer kan word.

Menslike hulpbronne

Ekonomies ontwikkelde lande dryf ook handel in dienste. Lande sal byvoorbeeld mense met skaars vaardighede lok om sekere leemtes te vul. Voorbeelde hiervan is dokters, ingenieurs en IT-sagtewareontwikkelaars.

Voorbeelde van produkte wat van natuurlike hulpbronne gemaak word:

Hulpbron Produk(te)
bome (hout) papier, meubels, brandstof
katoen klere, linne, handdoeke, geldnote
olie/petroleum plastiek, brandstof, teer, rubber, chemikalieë
natuurlike gas (aardgas) brandstof (vir verhitting en verkoeling)
steenkool brandstof (veral om elektrisiteit op te wek)
ystererts staal (vir byvoorbeeld konstruksie)
bouksiet (aluminiumerts) aluminium (soos koeldrankblikkies en motoronderdele)
goud juwele, tandheelkunde, elektroniese toerusting, selfone
koper kabels, munte, elektriese toerusting
mangaan staal, gietyster
kobalt staal, stralerenjinonderdele, snygereedskap
platinum juwele, telekommunikasietoerusting, lugbesoedelingsbeheer
chroom vlekvrye staal, groen glas, leerbehandeling
diamante juwele, meganiese toerusting (soos boorpunte)

Van grondstof tot produk

Sade tot stroopsoet sjokolade

Sjokolade se geskiedenis strek oor sowat 4 000 jaar en het in antieke Meso-Amerika (vandag word dit Mexiko genoem) begin. Die Olmeks, een van die vroegste beskawings in Latyns-Amerika, was die eerste wat die kakaoplant in sjokolade verander het. Hulle het sjokolade tydens rituele gedrink en dit as medisyne gebruik. Eeue later het die Majas sjokolade as die “drankie van die gode” beskou. Hulle het geroosterde en gemaalde kakaobone met, onder meer, brandrissies en water gemeng en dit xocolatl genoem, wat “bitter water” beteken.

Teen die 15de eeu het die Asteke kakaobone as geldeenheid gebruik, dit as verfrissende drankie geniet, en dit selfs gedrink om vir oorlog voor te berei. 13 Die bone (eintlik is dit sade) binne die vrugte van ʼn kakaoboom is die grondstof wat gebruik word om sjokolade mee te maak. Hoewel kakao in 50 lande verbou word, is meer as die helfte van die wêreld se kakao van Ghana en die Ivoorkus in Wes-Afrika afkomstig. Die ideale klimaat vir kakaoproduksie is naby die ewenaar omdat die warm, vogtige klimaat van hierdie tropiese gebiede ideaal is vir kakaobome om te floreer. 14

Hoe gebeur dit dat daardie vruggies wat soos boontjies binne ʼn peul aan die boom hang uiteindelik in die lekkerny omskep word wat ons in die winkel koop?

Die proses van kakaobone tot sjokolade bestaan uit die volgende stappe: 15

Oes

Kakaopeule word twee keer per jaar tussen Mei en Julie, en tussen November en Januarie geoes. Die peule word versigtig met die hand gepluk sodat die bome nie beskadig word nie en dan oopgemaak om die bone of sade te verwyder. ʼn Peul is amper so groot soos ʼn rugbybal en bevat tot 50 bone.

Kakaoboom
Kakaopeule

Gistingsproses

Nadat die bone verwyder is, word dit in houers in die son geplaas. Soms word die bone met piesangblare bedek om die hitte binne te hou. Die bone moet gereeld geroer word om seker te maak dat die gisting (of fermentasie) eweredig plaasvind. Tydens die gistingsproses, wat tussen vyf en agt dae duur, word die bone donkerder en die smaak ontwikkel (die bitter smaak verdwyn). 16

Uitdroging

Ná gisting word die kakaobone vir nóg ʼn week tot 14 dae uitgedroog – óf in die son, óf in groot elektriese droërs. Die bone is nou die helfte kleiner as wat hulle oorspronklik was. Die kleur verander ook van rooibruin na donkerbruin. 17

Kakaobone

Rooster

Hierna word die bone vir tussen 20 en 40 minute teen tussen 100 °C en 150 °C gerooster. Hierdie proses steriliseer die bone terwyl die smaak verder ontwikkel. 18

Sifting

Tydens sifting of skeiding word die skille of doppe van die bone geskei. Die kakaobone sonder ʼn dop word pitte (Engels: nibs) genoem en dit is dié gedeelte wat die hoofbestanddeel van sjokolade is.

Verfyning

Die verfyning van die kakaopitte kan deur masjiene of selfs tussen twee klippe gedoen word. Die resultaat van die maalproses is ʼn stof wat die kakaomassa genoem word. Deur die kakaomassa verder te maal, word kakaobotter (die vloeibare deel) en kakaopoeier (die vaste bestanddeel) gevorm.

Bereiding en tempering

Sjokolade word gemaak deur die kakaomassa teen ʼn sekere temperatuur te meng om die oortollige vloeistof en groot stukke kakaomassa te verwyder. Hoe langer hierdie gedeelte van die proses duur, hoe beter is die kwaliteit van die eindproduk. Tydens die temperingsproses word die kakaomassa stadig verhit en afgekoel sodat dit kan stol. Sonder hierdie stap sal die sjokolade nie hard word nie. 19

Verskillende soorte sjokolade

Deur verskillende hoeveelhede kakaopoeier en kakaobotter met ander bestanddele te meng, lewer verskillende soorte sjokolade op. Donkersjokolade bevat die hoogste persentasie kakaopoeier en kakaobotter van alle soorte. Melksjokolade bevat melkpoeier, suiker en ʼn klein persentasie kakaopoeier en -botter.

Dit is die byvoeging van melkpoeier en die verlaging in kakao in melksjokolade wat dit ʼn romeriger en soeter smaak gee. Witsjokolade bevat glad nie kakaopoeier nie, net suiker, melk en ʼn klein hoeveelheid kakaobotter. Donkersjokolade bevat ʼn minimum van 70% kakao teenoor ʼn maksimum van 35% in wit sjokolade. Omdat donkersjokolade baie meer kakaobotter bevat, smelt dit makliker teen kamertemperatuur as wit sjokolade. 20

Van rotserts tot goue ring

Goud is nie net mooi nie, maar die feit dat suiwer goud een van die mees smeebare en rekbare metale is, het dit vir mense van die vroegste tye af moontlik gemaak om dié edelmetaal in allerlei mooi én bruikbare produkte te omskep. Dit is boonop ʼn goeie geleier van hitte. 21

Hoewel goud in enigiets van mediese instrumente tot ruimtetuie en selfone gebruik word, word 78% van die wêreld se goud gebruik om juwele te maak. 22

Die volgende prosesse word gevolg om gouderts in ʼn pragtige ring te omskep:

  • Ontginning

Opsporing

Voordat goud ontgin (gemyn) kan word, moet dit natuurlik eers ontdek word. Het jy geweet dat slegs 10% van alle goudneerslae in die wêreld genoeg is om winsgewend te wees? 21 Sodra die gouderts gevind is, word die goud deur middel van ondergrondse myne (diepskagmyne) of oopgroefmyne ontgin. 23

Verwydering en opbreek van erts

By diepskagmyne word gate in die ertsmassa geboor. Plofstof word dan gebruik om die erts los te skiet. Sodra die rotse skoongemaak is, word dit uit die myn vervoer om verder bewerk te word. By oopgroefmyne word die plofstof in gate op die oppervlak geplaas. Die stukke rots word ná die ontploffing deur geoloë getoets om te bepaal of dit bruikbaar is. 23

Vervoer van erts na aanlegte

Die erts van ondergrondse myne word deur middel van horisontale en vertikale skagte na die oppervlak gebring. Van daar af word dit met vervoerbande na die behandelingsaanlegte vervoer. By oopgroefmyne word die erts deur groot vragmotors (wat tot 250 ton kan dra) vervoer. 23

  • Verwerking

Vergruising

Die groot stukke rots waarin die goud is, moet nou fyngemaak word. Die vergruisingsproses waartydens rotse tot ʼn fyn sand of poeier verwerk word, is nodig sodat die goud verder verwerk kan word. 22

Verwerking

Hierdie fyn, goudgeel sand word met water, sianied en koolstof gemeng tot ʼn slik waaruit die goud makliker gehaal kan word. Die goud wat deur hierdie proses uitgehaal word, bind met die koolstof. Tydens die laaste fase van die verwerkingsproses word die koolstof en die goud geskei. 21

Smelting

Die goud wat ná die verwerkingsproses agterbly, word teen hoë temperature gesmelt (sowat 1 000 °C) tot ʼn rooiwarm vloeistof wat in goudstawe gegiet word. 21

Suiwering

Die goudstawe word na verwerkingsaanlegte gestuur waar die goud nog meer gesuiwer word. Die goudstawe word aan maatskappye verkoop wat dit weer smelt om juwele en ander gebruiksartikels te maak.

Karaat, kleure en prys

Tydens die produksie van onder meer juwele word goud met ander metale gemeng om dit sterker te maak. Die suiwerheid van goud word in karaat (kar.) gemeet of aangedui. 9 kar.-goud bestaan uit 37,5% goud, 42,5% silwer en 20% koper. 18 kar.-goud bestaan weer uit 75% goud, 15% silwer en 10% koper. 24 kar.-goud is die suiwerste en sagste vorm van goud en bevat geen ander metale nie. Witgoud- en roosgoudjuwele is deesdae ook baie gewild. Witgoud bevat twee keer soveel silwer as goud, en roosgoud bevat baie meer koper as goud. 24

Goud is baie gesog en baie mense koop goud as belegging (byvoorbeeld Krugerrande). Dit word as ʼn veilige belegging beskou omdat dit waardevoller word soos die wêreld se onontginde goud minder word. Die goudprys verander elke dag en word onder meer beïnvloed deur hoeveel goud geproduseer word, die vraag na juwele en ander gebruiksartikels, die goudreserwes wat beskikbaar is en die waarde van die Amerikaanse dollar.

Goud het in November 2023 teen bykans $2 000 (sowat R36 000) per fyn ons verhandel, teenoor minder as $300 in 2000. 25 Dit beteken dat die prys van goud oor die afgelope twee dekades met bykans 600% toegeneem het.

Van sand tot deursigtige glas

Die kuns om glas te maak, kan tot ongeveer 2600 v.C. in Mesopotamië en Egipte teruggevoer word. Glas is ʼn soliede en deursigtige materiaal wat ons om elke hoek en draai aantref – van die vensters in ons huise en motors, tot die glase waaruit ons koeldrank drink en die botteltjies waarin ons gunstelingtoebroodjiesmeer verkoop word. 26

Glas is ʼn produk wat van natuurlike hulpbronne gemaak word. Ons gebruik onder meer sand en kalksteen om glas te maak. Dié grondstowwe word teen ʼn baie hoë temperatuur gesmelt om vloeibare glas te vorm. Teen ʼn hoë temperatuur (sowat 1 700 °C) is glas letterlik rooiwarm en die struktuur is soortgelyk aan dié van ʼn vloeistof. As dit afkoel, word dit hard en deursigtig, en is die struktuur soortgelyk aan ʼn vaste stof. Omdat glas van ʼn vloeistof na ʼn vastestof (en andersom) kan verander, kan dit gegiet, geblaas en gevorm word. 27

Van boontjies tot koffie

Net soos kakao (wat in sjokolade gebruik word), was koffie – die gewildste drankie in die wêreld naas water – ook eens op ʼn tyd sade in ʼn vrug aan ʼn koffieboom of -struik. 28

Die proses om koffie te maak, begin by die oes of pluk van die vrugte (dit neem meer as vier jaar vir ʼn koffieboom om vrugte te dra). Dié rooi vruggies, wat soos kersies lyk, word oopgebreek om die groen sade binne-in uit te haal. Die sade word in die son gedroog en die dun skil (soos ʼn vel of membraan) verwyder. Die droë sade, oftewel bone, word dan in ʼn spesiale oond (ʼn silindervorm wat bo ʼn hittebron soos ʼn gasvlam draai) gerooster. Hoe langer die bone aan die hitte blootgestel word, hoe donkerder word dit en hoe sterker is die koffie. Die geroosterde bone word óf net so verpak sodat ʼn mens dit tuis kan fynmaal óf dit word as fyngemaalde bone verkoop. 29

Om kitskoffie te maak, is vinniger en goedkoper as om filterkoffie van gemaalde koffiebone te maak. Om kitskoffie te maak, word ʼn spuitdroog- of ʼn vriesdroogproses gebruik. Met spuitdroging word die koffiekonsentraat (ʼn mengsel van fyngemaalde koffiebone en water) as ʼn fyn mis in warm lug gespuit. Wanneer die konsentraat met die warm lug meng, vorm klein kristalle omdat die water verdamp.

Met vriesdroging word die koffie tot ʼn ekstrak gekook en dan gevries by baie lae temperature (tot -50 ℃). Dit vorm ʼn bevrore blok koffie wat dan gedroog word sodat die ys smelt en die droë korreltjies agterbly. Wanneer jy warm water by die poeier of korrels voeg, kan jy ʼn heerlike koppie koffie geniet. 30

Vriesdroging is ’n meer ingewikkelde proses as spuitdroging, maar die resultaat is baie beter en die moeite werd.

Van boom tot papier

Hoewel katoen, bamboes en ander plantsoorte gebruik kan word om papier te maak, is 95% van alle papier van die hout van bome afkomstig. Die papier waarvan geld gemaak word, is dikwels ʼn mengsel van katoen en linne. 31

Voordat daar met die vervaardiging van papier begin kan word, word die harde boombas verwyder. Hierdie oortollige materiaal word ʼn biomassa-energiebron om die papiermeule (waar papier vervaardig word) van elektrisiteit te voorsien. 32 Wanneer biomassa verbrand word, word chemiese energie vrygestel as hitte en kan dit elektrisiteit met ʼn stoomturbine opwek. 33

Die belangrikste stap in die verwerking van papier is om lignien, ʼn natuurlike gom wat die vesels in plante aanmekaar hou, uit die hout te verwyder sodat die vesels geskei kan word.

Die proses om hout in papier te verander, bestaan uit die volgende stappe: 34

  • Die hout word eers in ʼn pulp (ʼn vloeistofmengsel van houtvesel, lignien, chemikalieë en water) verander. Verpulping kan meganies plaasvind waar masjiene gebruik word om die houtstukkies fyn te maal. Tydens hierdie proses word nie al die lignien uit die vesels verwyder nie. Die kort stukkies vesel wat tydens meganiese verpulping oorbly, word gebruik vir produkte wat nie sulke sterk papier nodig het nie, soos byvoorbeeld koerante of telefoongidse.
  • Die meer algemene metode is om chemikalieë te gebruik om die lignien van die vesels te skei. Die pulp is sterker en kan vir produkte wat stewiger papier nodig het, gebruik word.
  • Na gelang van die eindproduk, word bleikmiddel by die pulp gevoeg om die papier witter te maak.
  • Omdat die pulp soms nog baie waterig is, moet die vesel van die vloeistof geskei word. Groot masjiene word gebruik om die pulpmengsel op bewegende gaasskerms te spuit om ʼn mat met verskillende lae te vorm. Hierdie mat gaan deur verskillende prosesse om al die water te verwyder.
  • Daarna beweeg die papiermat deur verhitte rollers om die laaste oortollige water uit te druk. Dit word saamgedruk om ʼn lang, aaneenlopende rol papier te vorm wat tot 900 cm breed kan wees.
  • Sodra die papier die verlangde dikte het, kan dit met spesiale chemikalieë gekleur of behandel word om dit ʼn spesiale tekstuur te gee, of om dit ekstra sterk of meer waterbestand te maak.
  • Laastens word die papierrolle in die verlangde grootte gesny voor dit na ander plekke vervoer word om in verskillende soorte papierprodukte verwerk te word.

Van rubberboom tot motorband

Rubber is ʼn buigbare en baie veelsydige materiaal wat in die vervaardiging van honderde produkte gebruik word – van motorbande tot mediese handskoene, tuinslange, skoene, speelgoed, balle, rek, badproppe en selfs uitveërs. 35 Daar word voorspel dat die aanvraag na rubber gaan toeneem met die aantal voertuie wêreldwyd wat teen 2050 dubbel soveel gaan wees as wat dit tans is. Sowat 70% van die wêreld se natuurlike rubber word vir die vervaardiging van motorbande gebruik. 36

ʼn Mens kry twee soorte rubber wat in die vervaardiging van rubberprodukte gebruik word, naamlik natuurlike en sintetiese rubber.

Natuurlike rubber is van rubberbome afkomstig wat in tropiese streke met ʼn hoë jaarlikse reënval geplant word. Maleisië is die wêreld se grootste produsent van rubberbome. 37

Hoe kry ʼn mens die rubber uit dié bome? Werkers maak eers klein snytjies in die boombas. ʼn Soort melkerige vloeistof (wat lateks genoem word) drup uit dié snytjies en word in emmers opgevang. Werkers maak die emmers elke 2 tot 3 uur leeg en neem die lateks na ʼn fabriek toe. As hulle nie wikkel nie, stol die lateks (dit word hard) en kan dit nie gebruik word nie. By die fabriek word die lateks gefiltreer en met water verdun. Daarna word dit met suur behandel om die rubberdeeltjies te laat stol. Laastens word dit platgerol en gedroog voor dit na ander plekke vervoer word waar dit in rubberprodukte verwerk word. 38

Baie produkte word deesdae van sintetiese rubber gemaak. In dié proses word chemikalieë en niehernubare hulpbronne soos steenkool, petroleum (olie) en natuurlike gas gebruik. Sintetiese rubber word op dieselfde manier as natuurlike rubber verhit, uitgedroog en in groot rolle of velle verwerk. Dié rolle of velle word op vragmotors gelaai en na fabrieke geneem waar die finale vervaardigingsproses van rubberprodukte soos motorbande of speelgoed plaasvind. 39

Woordbank

biodiversiteit Verskeidenheid van lewensvorme (plant- en diersoorte) binne ʼn ekosisteem. 40
biomassa Die totale massa van organismes in ʼn gegewe streek.
brandstof Enige stof wat geskik is vir verbranding.
ekosisteme Biologiese sisteem; organismes wat saam- en op mekaar inwerk, asook die omgewing waar dit plaasvind.
ekstrak Gekonsentreerde vloeibare aftreksel.
erts Metaalhoudende delfstof.
grondstowwe Stof waaruit/waarvan iets vervaardig word; hoofbestanddeel.
herwin Wat nutteloos/onbruikbaar geword het, weer nuttig/bruikbaar maak; hersikleer.
hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is, veral met betrekking tot bestaansmiddele.
konsentraat Om ʼn vloeistof sterker te maak en die volume daarvan te verminder deur water daaruit te verwyder.
kweekhuisgas Gas, veral koolsuur- en metaangas, wat hitte in die laer atmosfeer van die aarde vasvang en die kweekhuiseffek veroorsaak.
lateks    Melksap van sekere bome, veral rubberbome.
natuurlik Van/volgens die natuur; nie kunsmatig nie.
proses Reeks handelinge wat uitgevoer word om ʼn spesifieke resultaat te bereik.
pulp Papperige massa; pappery.
rituele Wyse waarop kerklike (godsdienstige) of geloofsplegtighede verrig word.
sintetiese Verkry deur vereniging van verskillende bestanddele/elemente; chemies vervaardig; nie natuurlik nie.
smeebare     Metaal verwerk, dit hamer en vorm gee.
steriliseer Kiemvry maak; alle lewende organismes tot niet maak.
temper Smeebaar maak deur dit teen ʼn laer temperatuur te herverhit.
vervaardiging Maak; saamstel; produseer.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Maak sjokolade van vars kakaopeule

Hoe sjokolade gemaak word

 

Hoe natuurlike rubber van bome verkry word

Van koffiebone na kitskoffie: Só gebeur dit

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 Mei 2022 | Bygewerk op 3 April 2024