Woordbou: Stamme en affikse

Wat is woordbou?

Woordbou (ook: morfologie) is die afdeling van die taalkunde waarin ons woorde se samestelling bestudeer.

Woorde is soos Legoblokkies. Van die blokkies kan op hulle eie iets beteken, ander blokkies moet eers deel raak van ʼn ander bousel voor hulle iets beteken.

In hierdie afdeling bespreek ons die soorte bousels wat ʼn mens kry waaruit woorde aanmekaargesit kan word. In die afdeling oor simplekse en komplekse woorde bespreek ons die soorte bousels wat ʼn mens kry as jy klaar die onderdele aanmekaargesit het.

Wat is stamme?

’n Stam (ook soms “basisvorm” genoem) is die kleinste betekenisdraende deel van ʼn woord wat onafhanklik kan optree. Sommige woorde bestaan net uit stamme. ʼn Mens kan geen deel van so ʼn woord wegneem sonder om ʼn betekenisverandering te veroorsaak nie:

blom vrou kind leer
wonder koppel Londen berg

Wat is affikse?

Affikse (ook soms “morfeme” of “voegsels” genoem) is bousels wat ʼn mens saam met stamme kan gebruik om die betekenis van die stam uit te brei. 1 Hoewel affikse dus betekenis bydra, kan affikse nie op hulle eie in ʼn sin staan om betekenis oor te dra nie. In die volgende woorde is die affikse vetgedruk:

blomme vroulik kinderagtig leerling
wonderlik ontkoppel Londense gebergte

Hoe verbind affikse met stamme?

Affikse kan op vier maniere met stamme verbind:

Affikse kan voor die stam kom, dan noem ons hulle “prefikse” (of “premorfeme” of “voorvoegsels”). In die voorbeelde hier onder is die prefikse vetgedruk:

ontkoppel verkoop gekry herskryf beblom

Affikse kan ná die stam kom, dan noem ons hulle “suffikse” (of “postmorfeme” of “agtervoegsels”). In die voorbeelde hier onder is die suffikse vetgedruk:

koppeling koppelaar koper skryfsel blomme

Affikse kan tussen stamme kom, dan noem ons hulle “interfikse” (of “tussenmorfeme” of “tussenvoegsels”). In die voorbeelde hier onder is die interfikse vetgedruk:

kinderkamer verjaarsdag hondehok

Affikse kan weerskante van stamme kom, dan noem ons hulle “sirkumfikse”. Let op: Hierdie soort affikse is nie net ʼn prefiks en ʼn suffiks wat toevallig saam gebruik word nie, dis twee affikse wat saam gebruik moet word. ʼn Mens kan nie een van die twee weglaat nie. In die voorbeelde hier onder is die sirkumfikse vetgedruk:

beskroomd bekend gediend gebergte

Watter soorte affikse kry ons?

Affikse word in twee groepe verdeel op grond van wat hulle vir die woord doen. 2 Ons noem die twee groepe “fleksie” en “afleidings”.

Fleksie word gebruik om die woord te laat pas by wat nog in die sin aangaan en maak eintlik net ʼn ander vorm van dieselfde woord.

Die taalkundige eienskappe van fleksie is dat dit:

  • meestal nie die woordsoort van die woord verander nie; en
  • “buite” (voor prefikse en ná suffikse) aan die woord kom.

Kyk byvoorbeeld na die sin Hy gee vir sy ma een blom. In hierdie sin is daar ʼn ooreenstemming tussen die telwoord een en die naamwoord blom. Omdat een die hoeveelheid 1 aandui, moet die naamwoord in die enkelvoud wees.  In ʼn sin soos Hy gee vir sy ma twee blomme móét ons die suffiks -e ná die woord blom gebruik, want die naamwoord moet met die telwoord ooreenstem.

Affikse waarmee ons die volgende maak, is tipies fleksievorme:

Meervoude

Julian koop twee roomyse.

Verkleiningsvorme

Julian se ou roomysie is maar klein.

Verlede tyd

Julian het ʼn roomys gekoop.

  • Die affikse waarmee ons die vergrotende en oortreffende trap aandui (-er en -ste)

Brendan se roomys is groter as Julian sʼn, maar Geraldine sʼn is die grootste.

  • Die attributiewe -e:

Julian het ʼn nuwe roomys gekies.

  • Deelwoorde (Dis ʼn belangrike kategorie, want hoewel dit van ʼn werkwoord ʼn adjektief maak, word dit in die morfologie as fleksie beskou.)

Die smeltende roomys het op alles gedrup.

  • Affikse wat gender (geslag) aandui

Die koningin ry in haar koets.

Julian koop vir hom iets te ete.

  • Naamvalle (Baie skaars in Afrikaans.)

Julian koop vir hom iets lekkers.

Afleidings, daarteenoor, se taalkundige eienskappe is dat dit

  • die woordsoort van die woord kan verander; en
  • “binne” die fleksievorme staan.

In die volgende voorbeelde is die afleidings vetgedruk:

My oupa het sy wysheid oor baie jare gekry (maak van die byvoeglike naamwoord wys ʼn naamwoord wysheid).

Ek is nou sommer moedeloos (maak van die naamwoord moed ʼn byvoeglike naamwoord moedeloos).

Die delwer kry ʼn groot diamant (maak van die werkwoord delf ʼn naamwoord delwer)

Waar is die skakelaar? (maak van die werkwoord skakel ʼn naamwoord skakelaar).

Drink genoeg vloeistof sodat jy nie ontwater nie (maak van die naamwoord water ʼn werkwoord ontwater).

Kry ons net stamme, afleidings en fleksievorme?

Nee, die woorde waarmee ons in Afrikaanse tekste te doen kry, is dikwels ʼn samevoeging van hierdie morfologiese bousels. Hierdie meer komplekse woorde word in die volgende afdeling bespreek. Kyk byvoorbeeld na die volgende:

ontploffings (ont- + plof + -ing + -s = afleiding (prefiks) + stam + afleiding (suffiks) + fleksie (suffiks))

gebergtes (ge- + berg + -te + -s = afleiding (sirkumfiks) + stam + fleksie (suffiks))

winkelvensterversierings (winkel + venster + ver- + sier + -ing + -s = stam + stam + afleiding (prefiks) + stam + afleiding (suffiks) + fleksie (suffiks))