Uys Krige
Wie is sedert die 1930’s een van die mees geliefde Afrikaanse digters? Die man wat ewe goed in Afrikaans én Engels kon skryf en vlot Nederlands, Spaans, Italiaans, Duits, Frans én Portugees kon praat en skryf? Wie was die joernalis wat as oorlogskorrespondent krygsgevange geneem is en ná twee jaar daarin kon slaag om te ontsnap? Wie is die skrywer wat wonderlike stories, gedigte en dramas van ander wêrelddele vir ons in Afrikaans vertaal het? Die antwoord is … Uys Krige. Kom ntmoet hierdie legende van ’n man!
Jeugjare en persoonlike lewe
Mattheus Uys Krige – bekend as Uys Krige – is op 4 Februarie 1910 op die plaas Bontebokskloof in die Swellendam-distrik gebore. 1 Krige was sy ouers, Jacob Daniel (Japie) Krige en Susanna Hermina (Sannie) Uys, se tweede kind. 2 Die Krige-paartjie het uiteindelik ses kinders gehad, eers vier seuns en toe twee dogters.
Uit die ses kinders het almal behalwe een hul ma se kunssinnigheid geërf. Om kunssinnig te wees, beteken om baie goed met kuns te wees. (Kuns is ook nie net om iets te teken of te skilder nie, maar is enigiets wat met jou verbeelding en kreatiwiteit geskep kan word, soos skilderye, gedigte, stories, foto’s of musiek.) 3 Sannie was ’n onderwyseres en lief daarvoor om klavier te speel. Sy het, soos haar seun, ook geskryf en later in haar lewe is ’n aantal van haar kortverhale in bundels uitgegee. 4
Hoewel Krige sy liefde vir letterkunde van sy ma gekry het, het sy pa – ’n landdros en Springbok-rugbyspeler – ook ’n groot invloed op dié skrywer se lewe gehad. Japie was ’n vernuftige senter en word deur sommige rugbykenners as een van Suid-Afrika se beste spelers ooit beskou. Hy het vir die Westelike Provinsie uitgedraf en was in 1906 deel van die Springbokspan wat na Brittanje en Frankryk getoer het. 4
Japie se werk as landdros het beteken dat die Krige-gesin gereeld na ander dorpe getrek het, en kort ná Krige se geboorte het hulle na Uniondale en later na Bredasdorp getrek. Teen 1917 het die gesin in Kaapstad gaan bly. Hier het Krige sy skoolloopbaan aan die Engelse laerskool Tamboerskloof Primary School begin. Hy skuif later na ’n skool in Bellville, maar teen 1920 trek die gesin weer. Hierdie keer gaan woon hulle in Stellenbosch waar Krige by die Hoër Jongenskool inskryf en ook later matrikuleer. Die bekende rugbyspeler, wat ook vroeër sy pa se Springbokspanmaat was én na wie die skool later hernoem is, Paul Roos, was in daardie stadium die skoolhoof van dié skool. 2
Ná skool besluit Krige om in sy pa se voetspore te volg en gaan studeer regte aan die Universiteit Stellenbosch. Hier maak hy ook sy merk as kranige sportman en neem deel aan krieket en rugby. Hy blink egter veel meer uit in krieket en haal die universiteit se eerste span.
Drie jaar later voltooi Krige sy regsgraad, maar hy het uiteindelik nooit in dié rigting gaan werk nie. Sy lewe het nou ’n heel ander, veel meer avontuurlike, rigting ingeslaan toe Krige sy tasse pak, die Kaap verlaat en Johannesburg toe trek om te gaan skryf.
Krige word skrywer
Soos ’n mens kan dink, het Krige nie oornag besluit om ’n skrywer te word nie. Hy het eintlik al van jongs af geskryf. As tiener (sommige bronne meen hy was maar 13 jaar oud, 2 en ander reken dat hy 15 jaar oud was) 4 het Krige al begin om gediggies, verhale en nuusberigte in Afrikaans en Engels te skryf. 2 Hy skryf ook nie net vir homself nie – van sy berigte en gedigte is in die weekblad The Cape en The South African Review opgeneem.
Krige se skryftalent is sommer van vroeg af al duidelik en hy wen al as skoolkind letterkundige pryse van The Cape Argus en die tydskrif De Goede Hoop.
Op 1 Maart 1930 begin Krige se loopbaan as joernalis – en dus as voltydse skrywer – in alle erns toe hy as junior verslaggewer by die Johannesburgse dagblad The Rand Daily Mail begin werk. 4
Krige die wêreldreisiger, skrywer, rugbyspeler en krygsgevangene
In Junie 1931 begin ’n heel nuwe fase in Uys Krige se lewe. Hy verlaat Suid-Afrika en spandeer die volgende vier en ’n half jaar in Europa. In hierdie tyd reis hy na Nederland en Engeland, maar dit is eerder lande soos Spanje en Frankryk wat hierdie skrywer trek. Hy gaan woon in ’n stadium in die suide van Frankryk en om ’n ekstra inkomste te verdien, speel hy rugby vir die Franse klub Toulon. Hy word as’t ware ’n rugbyheld.
Intussen het Krige ook op ander maniere ’n inkomste verdien en het soms artikels oor die lewe in Frankryk aan die Suid-Afrikaanse media gestuur. 4
In hierdie tyd ontmoet Krige ook die Engelse Suid-Afrikaanse skrywer Roy Campbell, wat in daardie stadium ook in Frankryk gewoon het. Krige trek uiteindelik in 1933 saam met die Campbells na Spanje. Hier ontdek Krige die letterkunde van die Spaanse digter en dramaturg Federico García Lorca. Krige was gek oor Lorca se werk en het begin om dié skrywer se gedigte in Afrikaans te vertaal. 2
Die kennis van Spaans en Frans, sowel as sy kennis oor dié lande se kultuur, het uiteindelik ’n groot invloed op Krige se eie skryfwerk gehad. Met hierdie kennis het Krige in 1935 na Suid-Afrika teruggekeer en die Afrikaanse letterkunde kom verryk.
Terug in Suid-Afrika het Krige weer as joernalis gewerk, eers by die Johannesburgse middagblad Die Vaderland en toe in Kaapstad by Die Suiderstem. 4
In 1937 trou hy met die aktrise Lydia Lindeque. In 1937 word hul eersteling, ’n dogtertjie, Eulalia, gebore. Sewe jaar later, in 1944 word Taillefer (sy noemnaam was Tai) gebore. 5 Hul huwelik het egter reeds teen die vroeë 1940’s begin verbrokkel (dit beteken dat hulle begin het om uit mekaar te groei) en teen 1958 het hulle uiteindelik geskei. 6
In die nagenoeg twintig jaar wat Krige en Lydia getroud was, was Krige dikwels weg van die huis af. Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 uitgebreek en Suid-Afrika is by dié wêreldwye konflik betrek. Krige is intussen aangestel as Afrikaanse uitsaaier by die inligtingsburo. Dié buro is deur Suid-Afrika se eerste minister Jan Smuts op die been gebring om ’n teenvoeter te wees vir die valse Nazi-propaganda wat Suid-Afrika binnegedring het.
Krige wou egter nie net in Suid-Afrika bly en oor die oorlog praat nie – hy wou deel wees daarvan. Hy het Smuts versoek om as oorlogskorrespondent by die oorlog aan te sluit en Smuts het ingestem. Krige het nogal op sy gevoel gespeel en selfs gevra: “Oom Jannie, jy het darem nie, toe die Anglo-Boereoorlog aan die gang was, die hele tyd hier in Pretoria gesit nie?”
Uys Krige – die oorlogskorrespondent – het in 1940 in Nairobi, Kenia, aangekom. In die maande daarna skryf Krige oor die Suid-Afrikaanse soldate se bedrywighede teen die Italianers in die noorde van Kenia en Abessinië (vandag bekend as Ethiopië).
In Mei 1941 word Krige siek en word vir ’n tyd lank teruggestuur Suid-Afrika toe, maar teen September daardie selfde jaar sluit hy weer aan by die Suid-Afrikaanse magte in Kaïro, Egipte. Nagenoeg ’n maand later word meer as 3 000 Suid-Afrikaanse troepe in Libië krygsgevangene geneem tydens die Slag van Sidi Rezegh – Krige was een van hulle. Die Duitse troepe het kort ná die slag begin praat van Totensonntag (‘Sondag van die dooies’). Later skryf Krige ’n gelyknamige skets oor die gebeure by Sidi Rezegh en beskryf dié slag as “een van die ingrypendste en mees fundamentele gebeurtenisse van my lewe”. Kenners meen dié skets was een van die “briljantste en mees dramatiese sketse” wat Krige ooit geskryf het. 5
Krige is uiteindelik meer as twee jaar lank in ’n krygsgevangenekamp in Italië aangehou, voordat hy en ’n aantal ander gevangenes in September 1943 daarin slaag om te ontsnap. In sy boek The Way Out, wat later in Afrikaans verwerk is as Môrester oor die Abruzzi, beskryf Krige onder meer die gebeure rakende sy ontsnapping. 5 Tog het Krige nie genoeg gehad van die oorlog nie en nadat hy ’n paar maande in Suid-Afrika was, keer hy terug na die oorlog as oorlogskorrespondent. In Maart 1944 kom hy in Kaïro aan en bly uiteindelik tot Maart 1946 in Europa.
Ná sy terugkeer na Suid-Afrika, wy Krige al sy tyd aan sy skryf- en vertaalwerk. Dit is sy produktiefste tyd as skrywer en ’n tyd waarin hy keer op keer vereer word vir sy vertalings van groot letterkundige werke.
In 1958 koop Krige en die Engelse skrywer Jack Cope ’n houthuis op Clifton – ’n deel van Kaapstad wat hy as een van die mooiste én mees poëtiese beskou. Sy intense liefde vir die see het deur sy hele lewe na vore gekom. Hier kon Krige nou drie keer per dag in die yskoue waters van die Atlantiese Oseaan gaan swem. Hier was Krige ook dikwels in die geselskap van ander skrywers en digters – insluitende Ingrid Jonker, André P. Brink en Jan Rabie.
Hy onttrek homself wel gereeld en gaan bly vir lang rukke op Onrus, ’n kusdorp naby Hermanus waar hy as kind gereeld by sy grootouers gaan kuier het. Hy trek in April 1968 daarheen en koop twee jaar later die huis Swartdakkies. In die 1970’s gaan sy gesondheid met tye agteruit. Hy sukkel in dié jare baie met ’n bloeiende maagseer en het in ʼn stadium sowat 24 kg verloor.
Vroeg in 1987 word kanker by hom gediagnoseer en op 10 Augustus daardie jaar sterf een van die mees geliefde Afrikaanse digters by sy huis Swartdakkies in sy geliefde Onrus (hoewel Krige daarop aangedring het dat die dorpie eintlik Onrust heet).
Krige se skryfwerk
Uys Krige was veral bekend as digter, kortverhaalskrywer, dramaturg en vertaler. Sedert die publikasie van sy eerste digbundel, Kentering in 1935 tot die 1991-bundel met vertaalde gedigte wat ’n paar jaar ná sy dood bekendgestel is, Spaanse dans, het 57 digbundels, kortverhaalbundels, dramas en toneelstukke uit Krige se pen verskyn.
Hy het in sy loopbaan die volgende digbundels gepubliseer:
- Kentering (1935)
- Rooidag (1940)
- Oorlogsgedigte (1942). In 1947 is dié bundel herdruk, een gedig is bygevoeg en dit is uitgegee as Die einde van die pad en ander oorlogsverse.
- Hart sonder hawe (1949)
- Ballade van die groot begeer en ander gedigte (1960)
- Gedigte, 1927-1940 (1961)
- Vooraand (1964)
As digter is Krige tot ’n groot mate beïnvloed deur Franse en Spaanse letterkunde en hiermee bring hy iets nuuts na dit wat hy in Afrikaans skryf. Hy het ook ’n voorliefde vir Franse ballades gehad. Volgens kenners word Krige se poësie gekenmerk deur “klank en woordrykheid wat progressie en musikaliteit aan sy poësie verleen”.
Krige se joernalistieke agtergrond kom ook keer op keer na vore in sy digkuns. Hy het byvoorbeeld in die gedigte wat vir die bundel Oorlogsgedigte geskryf is, nie werklik rym gebruik nie. Dié werk word daarom geag as oorlogsjoernalistiek in versvorm. 7
Krige sal ook veral onthou word vir sy vertalings van gedigte van Lorca, wat in Afrikaans as Die huis van Bernarda Alba en Yerma uitgegee is. Hy het ook verskeie stukke van Shakespeare vertaal, soos Koning Lear en Twaalfde Nag. 8
Belangrikste erkennings en toekennings
- Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Vir die luit en die kitaar – toegeken in 1951.
- Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Yerma – toegeken in 1956.
- Eredoktorsgraad van die Universiteit van Natal – toegeken in 1958.
- Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Twaalfde Nag – toegeken in 1969, maar Krige weier om die prys te ontvang.
- Eredoktorsgraad van Rhodes-Universiteit – toegeken in 1971.
- Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Spaans-Amerikaanse keuse – toegeken in 1971.
- Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Koning Lear en Dokter teen-wil-en-dank – toegeken in 1972.
- Hertzogprys vir Poësie vir sy poësie-oeuvre – toegeken in 1974.
- Eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch – toegeken in 1975.
- Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Die huis van Bernarda Alba – toegeken in 1981.
- Hertzogprys vir drama vir sy drama-oeuvre – toegeken in 1985. 5
Woordbank
oeuvre | Die gesamentlike werke van ’n kunstenaar. |
avontuurlike | Iets wat baie interessante gebeure in het. |
dramaturg | Skrywer van stukke wat opgevoer moet word. |
Franse ballades | ’n Ware Franse ballade bestaan uit drie 8-reëlige strofes, almal met dieselfde rymskema, gevolg deur ’n 4-reëlige boodskap. 10 |
gelyknamige | Iets met dieselfde naam. |
kranige | Baie goed of uitmuntend. |
kunssinnigheid | Met ’n aanleg of liefde vir kuns. |
landdros | ’n Regterlike amptenaar wat uitspraak gee in die laer hof; voorheen magistraat. |
letterkunde | Die werk van digters en prosaskrywers, kuns wat deur taal uitgebeeld word. |
musikaliteit | ’n Aanvoeling vir musiek. |
oorlogskorrespondent | Joernalis wat tydens ’n oorlog nuus oor die oorlog skryf. |
progressie | Vooruitgang. |
skets | Kort, beskrywende artikel. |
teenvoeter | Teëstander of opponent. |
uitgedraf | Om vir ’n span te speel. |
vernuftige | Skerpsinnig, verstandig, talentvol, oulik. |
verryk | Ryk maak of word. |
woordrykheid | Ryk aan woorde; groot woordeskat. 9 |
Lees die volgende vir meer inligting
- Die goue seun: Die lewe en werk van Uys Krige (J.C. Kannemeyer se biografie oor Krige)
- Vrolike Wêreldburger 35 j. ná sy dood onthou.
- Uys Krige se gedig “Plaashek”.
Kyk die volgende video’s vir meer inligting
ʼn Voorlesing van “Ken jy die see?”