Roman
ʼn Roman is ʼn redelike lang, fiktiewe verhaal waarin ʼn aantal episodes wat met mekaar verband hou, afspeel. Hierdie episodes word gewoonlik in hoofstukke verdeel. In die episodes word die karakter of karakters, en dit wat met hulle oor ʼn bepaalde tydperk gebeur, weergegee met die fokus op hul denke en handelinge. Die roman as literatuurvorm het waarskynlik sy oorsprong in die Middeleeuse Keltiese, Antieke en Bisantynse sages wat handel oor heldedade, ridderlike liefde, trou, kuisheid en wonderbaarlike gebeure.
Soorte romans
Daar kan breedweg tussen die volgende soorte romans onderskei word:
- Avontuurromans waarin die hooffokus op die gebeure is (byvoorbeeld die ridderroman, robinsonade, reisroman, speurroman, western)
- Psigologiese romans waarin die hooffokus op die karakter se innerlike ontwikkeling en verandering is (byvoorbeeld die ontwikkelingsroman, Bildungsroman, opvoedingsroman)
- Tydsromans wat in ʼn bepaalde tyd afspeel (byvoorbeeld sleutelroman, sosiale roman, sederoman, historiese roman, toekomsroman, wetenskapsfiksie, utopiese literatuur)
- Indien die klem in tydsromans ook op ruimte val, kan ook onderskei word tussen gotiese romans, streeksliteratuur, stadsroman en dorpsroman.
- Eksperimentele romans wat die tradisionele romanvorm bevraagteken en omverwerp deur verskillende tegniese eksperimente (byvoorbeeld die metaroman en bewussynstroomroman)
Benewens hierdie breë kategorieë, is daar ook die ek-, hy-, brief-, dagboek- en kroniekroman.
Kenmerke van ʼn roman
Die narratiewe elemente karakter, tyd, ruimte, verteller, plot, tema, styl en konflik word in ʼn geslaagde roman aangetref. Die karakters in ʼn roman ervaar gewoonlik innerlike konflik (binne die karakter self) en uiterlike konflik (met ander karakters of die omgewing). Hoe meer waarskynlik die karakters en gebeure in ʼn roman is, hoe groter is die kans dat die leser dit geloofwaardig sal vind. In ʼn suksesvolle roman sal die leser dus met die fiktiewe karakters en gebeure kan identifiseer.
Die hoofkarakter word die protagonis genoem, terwyl die antagonis die hoofkarakter se teenstander is. Benewens hierdie twee soorte is daar ook newekarakters, soos die tritagonis, wat in die agtergrond figureer. Die belangrikste element van ʼn goeie roman is ʼn boeiende storie. Daar kan meer as een storielyn in ʼn roman wees. Hoofstorielyne bevat gewoonlik die belangrikste gebeure soos deur die hoofkarakter ervaar word, terwyl substorielyne gewoonlik oor minder belangrike gebeure handel soos deur minder belangrike karakters ervaar word.
Die gebeure in ʼn roman speel altyd teen bepaalde agtergronde of milieus op spesifieke tye af. Dit is belangrik om te onthou dat die skrywer van die roman onderskei moet word van die verteller. Eersgenoemde is die persoon wat die roman geskryf het, terwyl laasgenoemde die storie vertel. Die verteller is meestal ʼn eerstepersoonsverteller (of ek-verteller) of ʼn derdepersoonsverteller.
Voorbeelde van romans
Die Hertzogprys word elke derde jaar aan ʼn prosaskrywer wat werke van hoogstaande gehalte skryf, toegeken. Onlangse romans wat met hierdie prys bekroon is, sluit in Agaat (2004) deur Marlene van Niekerk, 30 nagte in Amsterdam (2008) deur Etienne van Heerden, Die aanspraak van lewende wesens (2012) deur Ingrid Winterbach, Buys (2014) deur Willem Anker, en Die derde spoel (2017) deur S.J. Naudé. Ander bekende romanskrywers sluit in André P. Brink, P.G. du Plessis, Elsa Joubert, Etienne Leroux, Dalene Matthee, Deon Meyer, Francois Smith, Eben Venter en Bettina Wyngaard.
Die volgende voorbeeld is ʼn uittreksel uit bekroonde skrywer Sophia Kapp se roman Kanaän (2020) en word hier met die vriendelike vergunning van die skrywer geplaas:
Die oomblik toe die jong man die vertrek binnetree, weet sy: Sy was reg om hom te laat kom.
Hy het geprotesteer natuurlik, met al sy gewone protestasies: Hy is besig, hy het verpligtinge, die sperdatum wat nou al hoeveel keer uitgestel is, is hierdie keer finaal vasgemaak en die uitgewer dring daarop aan dat hy dit móét nakom … Maar sy ken hom al vandat hy ʼn uur oud was en sy pa hom vir die eerste keer in haar arms neergelê het – hy kan nie vir haar lieg nie. Met sy mond, ja, maar nie met sy oë nie. En daarom weet sy onmiddellik: Hierdie mens is tot in sy siel toe uitgeput, met geen idee waar om weer vervulling vandaan te kry nie.
“Nonna Bella,” sê hy en kom buig oor haar stoel sodat hy haar op albei wange kan soengroet. Sy aanvaar dit met ʼn glimlag, en laat hom toe om terug te tree sodat hy voor die venster kan gaan staan. Die afstand sal sy hom toelaat. Tot tyd en wyl.
“Dis mooi, nè?” sê sy. “Veral nou met die wingerd so groen ná al die reën.”
“Ja, dit bly besonders.” Hy draai om en pen haar met sy blik vas. “Het jy my die hele ent pad Sicilië toe laat kom om met my oor die uitsig te praat?”
Sy knik en antwoord gelykmatig: “Deels.”
Woordbank
fiktiewe | Dit wat slegs in die verbeelding bestaan. |
vergunning | Toestemming. |
psigologiese | Sielkundige. |
wetenskapsfiksie | Storie in die literatuur of in ʼn rolprent, gebaseer op verbeelde wetenskaplike ontwikkelings of omgewingsveranderings in/van die toekoms. |
milieus | Omgewings. |
sages | Oorlewering, verhaal. |