Vinnige feite

  • Volksverhale word vir honderde jare van geslag tot geslag oorvertel.
  • Skrywers soos Eugène Marais, Minnie Postma en Pieter Grobbelaar het volksverhale in Afrikaans opgeteken.
  • Natuurbewaring is een van die temas wat gereeld in volksverhale voorkom.
Foto: iStock

’n Volksverhaal ontstaan in die volksmond (onder ’n sekere groep mense) en dit word van geslag tot geslag oorvertel. Op hierdie manier bly so ’n verhaal vir baie lang tye – selfs vir eeue – lewendig. 1

Daar is baie verskillende soorte volksverhale. In sommige is toordery die tema, ander vertel van realistiese gebeure en ander het ’n romantiese tema.

Alle ouderdomsgroepe word in volksverhale aangetref. Volksverhale se doel is meesal om mense wat daarna luister, te vermaak. Daar is egter ook ’n dieper betekenis wat saam met die vermaak oorgedra word. 1

Kenmerke van volksverhale

Tyd waarin volksverhale afspeel

Volksverhale word nie aan datums gekoppel nie. Mens kan dus nie sê dat ’n volksverhaal in ’n spesifieke jaartal gebeur het nie. Daarom word daar in hierdie verhale net vaag na tyd verwys. Kyk byvoorbeeld na hierdie sinne wat gereeld aan die begin en einde van volksverhale gebruik word:

“Toe die wêreld nog jonk was…”
“Eendag was daar…”
“Hulle het vir altyd gelukkig saamgelewe.” 1

Plek waar volksverhale afspeel

Die plek waar die storie in ’n volksverhaal gebeur, word meeste van die tyd nie duidelik beskryf nie. Maar daar word tog meesal aangedui of dit in byvoorbeeld Europa, in die Skandinawiese lande of in Afrika gebeur. 1

Karakters in volksverhale

Daar is ’n groot verskeidenheid karakters wat gebruik word om die stories in volksverhale te vertel. Daar is gewone mense, towerwesens en ook diere wat soos mense optree. In Afrika-volksverhale kry mens dikwels baie diere wat soos mense optree. Op dié manier, wys hulle eintlik hoe die samelewing lyk. 1

Gemeenskaplike eiendom

Daar was altyd baie goeie storievertellers in tradisionele gemeenskappe. Stories het aan die hele gemeenskap behoort omdat dit van geslag tot geslag oorgedra is. Dit is nie soos vandag slegs deur een persoon geskryf nie. Die San (vroeër bekend as die Boesmans) het gesê dat hul stories op die wind dryf, dat dit van mens tot mens en van plek tot plek waai. Die San het hul stories ‘kukummi’ 2 genoem. Dit sluit stories, mites, legendes, herinneringe en drome in.

Volksverhale is gekoppel aan die fisieke omgewing

Dit wat in verhale vertel word, gaan dikwels oor dinge soos plante en diere in die omgewing waarin mense grootword. Wanneer die omgewing verander of gemeenskappe wegtrek, het dit ’n invloed op die verhale.

Piet Witbooi van Riemvasmaak in die Noord-Kaap verduidelik hoe hul gemeenskap hul stories verloor het toe hul grond aan die Suid-Afrikaanse Weermag oorgegee is. “Ons kon nie ons ou stories vertel nie, want ons bome en plante was nie meer om ons nie. Hoe vertel jy ’n storie oor ’n kokerboom aan ’n kind wat nog nooit een gesien het nie? Hoe vertel jy die storie van die Moloporivier as daar geen rivier om jou is nie? Nee, hulle het ons stories ook weggevat.” 2

Die neerskryf of optekening van volksverhale

Volksverhale van inheemse volke in Suid-Afrika is in die verlede net deur mondelinge vertelling oorgedra en so aan die lewe gehou. Die eerste neerskryf daarvan, is deur Westerse navorsers en skrywers gedoen. 1

In Suid-Afrika het die volgende skrywers ’n belangrike werk gedoen deur Afrika-volksverhale neer te skryf:

  • Von Wielligh het teen die einde van die 19de en begin van die 20ste eeu volksverhale neergeskryf.
  • Eugène Marais het dieselfde aan die begin van die 20ste eeu gedoen.
  • Minnie Postma het in die 1950’s volksverhale opgeteken (neergeskryf) wat sy ‘legendes’ genoem het. Van die boeke wat sy hieroor geskryf het, is, onder meer, Legendes uit die misrook en Legendes uit Basoetoeland.
  • Pieter Grobbelaar het vanaf die 1960’s volksverhale opgeteken.
  • Marie Opperman het in die 1970’s volksverhale opgeteken.
  • Maguerite Poland het in die 1980’s volksverhale opgeteken. 1

Volksverhale leer lesse en dra waardes oor

Lewenslesse

Die vertel van stories is die oudste manier waarop mense kinders (en ook volwassenes) geleer het. Voordat daar boeke was, was daar ’n storie wat vir elke lewensles oorvertel is. 2

Baie volksverhale gebruik oorlewing as tema. Die slim karakter is gewoonlik die wenner. Jakkals wen vir Wolf omdat hy slim (of skelm) is. Maar Jakkals verloor dan teen Krap omdat Krap slimmer is as hy. Ook Hasie wen omdat hy slimmer is as Jakkals en dan wen Skilpad weer vir Hasie omdat hy slimmer is as Hasie. In Skilpad en Volstruis (deur Katrina Esau) wen Skilpad die resies omdat hy en sy familie saamwerk. Volstruis verloor omdat hy so hardkoppig en eiewys is. 1 2

Daar is jagstories wat vertel hoe ’n jong man sy eerste eland geskiet het en die verhaal verduidelik die sosiale en geestelike waardes van die jag. Die storie leer dus die jong manne hoe om ’n volwasse rol in die gemeenskap te speel. 2

Natuurbewaring

Natuurbewaring is dikwels ’n belangrike tema in ons volksverhale. Plekke waar mense water kan kry, is skaars in Afrika en daarom het mense respek vir water. Om hierdie rede is daar baie verhale waarin water ’n rol speel.  In die Noord-Kaap is daar byvoorbeeld verhale oor die groot slang wat in die water woon en waarvoor die mense baie bang is.

Daar is ook verhale wat sê dat mense net genoeg hout mag neem om self te gebruik of dat hulle nie sommer voëls vir die pret mag skiet nie.

By die Moloporivier is daar, volgens een verhaal, ’n groot slang wat jou vang as jy die water sonder sy toestemming gebruik.

In nog ’n verhaal bloei die bome in die Kalahari se harte as jy hulle takke afbreek.

In die storie The Pam-Pam Bird, fluit die pam-pam-voël in een van die verhale hierdie boodskappie aan die jagter: “Neem net een van my veertjies vir jou pyl, anders is daar nie meer vere ná die volgende volmaan nie.”

Hierdie volksverhale is van geslag tot geslag oorvertel en het aan almal vertel hoe die mens gestraf word as hy die natuur misbruik. Die verhale het mense dus geleer dat natuur en mens van mekaar afhanklik is. 2

Volksverhale is erfenis wat mens nie kan sien nie

Terwyl dinge soos monumente deel is van die erfenis van ’n volk is wat mens kan sien, is volksverhale daardie erfenis van ’n volk wat ontasbaar is, of wat mens nie kan sien nie. 2

In die volksverhaal kom die tasbare en die ontasbare erfenis bymekaar uit.

Voorbeeld: Daar kan in ’n verhaal vertel word van voorwerpe wat mense gebruik of van plante wat deel is van die tasbare erfenis. En dan word daar ook vertel van byvoorbeeld reëndanse of musiek wat weer ontasbare erfenis is. 2

Universele temas

Dit is baie interessant dat daar volksverhale is in lande wat duisende kilometers uitmekaar is en wat dieselfde storie vertel.

Daar is byvoorbeeld ooreenkomste tussen die volgende verhale:

  • Die Duitse verhaal “Rooikappie” wat uit die 17de eeu kom en die Nama-storie “Karlientjie”.
  • Die trolkarakter wat in verhale in Skandinawië voorkom en die tokkelossie wat in Afrika-verhale voorkom.
  • Die antieke fabels van die Griekse skrywer Aesopus en die ou San-stories oor diere.
  • “Jantjie Rooiklaas” van die Kharkams-omgewing in die Noord-Kaap en die Middeleeuse Europese verhaal oor Robin Hood.
  • Die storie van Racheltjie de Beer kom in verskillende vorme in baie ander lande voor.

Hierdie ooreenkomste kom voor omdat inheemse stories dikwels deur Europese volksverhale beïnvloed is en dit het ook andersom gebeur, soos stories oorvertel is en “op die wind gewaai” het. 2

Voorbeelde van volksverhale

  • “Antjie Somers” is ’n Suid-Afrikaanse verhaal oor ’n man wat hom snags as ’n vrou vermom en in die woonbuurte ronddwaal. Hy vang dan kinders wat stout is of laat uitbly en dra hulle in ’n sak oor sy skouer weg. Daar is die eerste keer oor Antjie Somers geskryf in ’n artikel wat op 10 Augustus 1866 in The Friend in Bloemfontein verskyn het. Volgens die artikel was Antjie Somers ’n berugte Kaapse struikrower wat vroueklere aangetrek en snags mense aangeval het wanneer hulle op pad huis toe was. Die oorspronklike verhaal het verander soos dit oorvertel is om kinders skrik te maak. 3
  • “Die Vlieënde Hollander” is ’n bekende verhaal wat in die Kaap ontstaan het. ’n Kaptein Hendrik van der Decken het in die 17de eeu in ’n stormwind besluit dat hy om die Kaap die Goeie Hoop gaan vaar, al neem dit hom tot by die Oordeelsdag om dit reg te kry. Volgens die verhaal probeer hy nog steeds om om die Kaap te seil. 3

Woordbank

volksmond Die manier waarop die mense wat aan ’n taalgroep behoort, praat.
berugte Om vir die verkeerde redes bekend te wees, dit wil sê vir negatiewe redes.
realistiese Werklike.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Luister hier

By hierdie skakel kan jy luister na die storie van Haastige Haas en Stadige Skilpad.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Februarie 2022 | Bygewerk op 11 September 2024