Vinnige feite

  • Die Orde van Luthuli (Goud) is in 2004 aan professor Matthews toegeken. Dit is een van Suid-Afrika se hoogste eerbewyse, en dit word toegeken vir bydraes tot die stryd vir demokrasie, menseregte, vrede en geregtigheid. Matthews is postuum met hierdie eerbewys bekroon, ter erkenning van sy bydrae tot die anti-apartheidstryd, sy werk as opvoeder en sy rol as politieke leier. 11
  • Die Z.K. Matthews-koshuis by die Universiteit van Fort Hare is na hom vernoem, en is ’n simbool van sy verbintenis tot onderwys en maatskaplike geregtigheid.
  • Die Z.K. Matthews Great Hall by die Universiteit van Suid-Afrika is ook na hom vernoem. Die saal is ’n sentrum vir kulturele en intellektuele aktiwiteite.
  • Die Z.K. Matthews Gedenklesings word jaarliks deur vooraanstaande geleerdes en openbare figure in Suid-Afrika gelewer. Hierdie lesings fokus op kwessies wat verband hou met maatskaplike geregtigheid en menseregte.
  • The Z.K. Matthews Educational Trust ondersteun studente en skoliere wat hulle wy aan die bevordering van maatskaplike geregtigheid en gelykheid in Suid-Afrika. 3
  • In 1928 is hy met Frieda Bokwe getroud. Sy was die dogter van John Knox Bokwe, ’n Presbiteriaanse predikant en een van die bekendste skrywers van Xhosagesange. Die bekende lied “Plea from Africa” is deur John Knox Bokwe geskryf. 12
  • Professor Matthews se seun, Joe Matthews, was van 1994 tot 1999 adjunkminister van veiligheid en sekuriteit.
  • Naledi Pandor, sedert 2019 Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, is Z.K. Matthews se kleindogter.

Zachariah Keodirelang Matthews was ‘n prominente akademikus en politikus. As jy dalk ’n musiekuitvoering by Unisa se kampus in Pretoria bywoon, is die kans goed dat dit in die Z.K. Matthews-ouditorium aangebied word. Dié universiteit het hom vereer deur hierdie groot lokaal (wat 970 sitplekke het) na hom te vernoem, omdat hy die eerste swart Suid-Afrikaner was wat aan ’n Suid-Afrikaanse instelling gegradueer het en die eerste swart Suid-Afrikaner was wat ’n regsgraad aan Unisa verwerf het.

Z.K. Matthews-ouditorium

Vroeë jare

Matthews is op 20 Oktober 1901 in Kimberley in die Noord-Kaap gebore. Hy was die seun van Martha Mooketsi Matthews en Peter Motsielwa, ’n Tswana-mynwerker wat later ’n hostel vir mynwerkers opgerig het.

Reeds op ’n jong ouderdom is hy aan politiek blootgestel – sy pa was ’n kieser in die destydse Kaapkolonie, en sy neef, Sol Plaatje, was ’n stigterslid van die ANC. Maar Matthews het die eerste deel van sy lewe aan sy eie opleiding gewy.

Hy het skoolgegaan by Lovedale, ’n sendinginrigting in die Oos-Kaap wat skoliere van alle rasse aanvaar het. 1 Daarna is hy na die Universiteit van Fort Hare, en op 3 Mei 1924 het hy die eerste swart Suid-Afrikaner geword wat aan ’n Suid-Afrikaanse instelling gegradueer het. 2 Hy was ook die eerste swart Suid-Afrikaner wat ’n regsgraad in Suid-Afrika verwerf het, wat in 1930 deur Unisa aan hom toegeken is. Hy is as prokureur tot die Johannesburgse balie en die Transvaalse Hooggeregshof toegelaat. 3

Hy het egter nooit as prokureur gepraktiseer nie. ’n Studiebeurs is aan hom toegeken om in die buiteland te studeer, eers aan die Yale-Universiteit in die Verenigde State, waar hy onderwys, antropologie en regte studeer het, en later aan die London School of Economics onder die wêreldbekende en invloedryke antropoloog Bronislaw Malinowski. 2

Bronislaw Malinowski

’n Vooraanstaande onderwyser en dosent

Matthews se loopbaan as onderwyser het in 1925 begin toe hy as die eerste swart hoof van Adams College in Natal aangestel is. Albert Luthuli was sy kollega by Adams College, dieselfde Albert Luthuli wat later die president van die ANC sou word.

Ná Matthews se studies in die buiteland het hy in 1935 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het  die volgende jaar ’n dosent in sosiale antropologie en naturellereg en administrasie aan die Universiteit van Fort Hare geword.

Z.K. Matthews (links), Robbins B. Guma (middel) en Albert Luthuli (regs) by die Adams College in die laat 1920’s

Matthews was ’n passievolle en toegewyde onderwyser wat geglo het dat onderwys ’n kragtige instrument vir maatkskaplike verandering is. Hy het sy studente uitgedaag om krities oor die maatskaplike en kulturele dinamika van die Suid-Afrikaanse samelewing te dink, en hy het hulle aangemoedig om betrokke te raak by aktivisme en maatskaplike geregtigheid. Hy het verskeie belangrike struggle-leiers tydens sy onderwysloopbaan in sy klas gehad, onder andere Nelson Mandela, Oliver Tambo, Robert Sobukwe 2 en Mangosuthu Buthelezi. 4

In 1944 word Matthews hoof van Fort Hare se Departement Afrikastudies en word hy ’n professor. 2

Universiteit van Fort Hare

Jare van aktivisme

ANC-jeugliga

Professor Matthews het ’n sleutelrol gespeel in die opleiding van jong swart leiers. As antropoloog het hy geglo aan “Afrikanisme” – die reg en mag van swart Afrikane om ’n eie identiteit en magsbasis in Afrika te vestig.

In 1944 was hy betrokke by die stigting van die ANC se jeugliga, die deel van die organisasie wat toekomstige leiers oplei. Die doel van die jeugliga was ook om ’n meer militante en radikale benadering tot die stryd teen apartheid te bevorder. Matthews was in daardie stadium ’n gerespekteerde dosent, maar die jonger geslag was agterdogtig oor sy tegemoetkomende houding teenoor die wit regering. Volgens hulle was hy nie radikaal genoeg nie. Tog het hy in 1949 met die steun van die jeugliga die president van die Kaapse afdeling van die ANC geword. 5

ANC se vlag

Die Versetveldtog

Toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, was hul hoofdoel om segregasie deur middel van wetgewing te formaliseer. Hulle het die beleid van apartheid aangeneem, en in 1950 is die eerste van ’n reeks apartheidswette afgekondig toe dit onwettig geword het vir swart en wit Suid-Afrikaners om te trou, of selfs net saam te kuier of uit te gaan. 6

Afrika-leiers het hulle in reaksie op hierdie apartheidswette verbind tot ’n militante Afrika-nasionalisme en massa-aksie. Hulle taktiek was boikotte, stakings en burgerlike ongehoorsaamheid. Die Versetveldtog (In Engels: “Defiance Campaign”) is in 1952 van stapel gestuur, ʼn poging tot die grootste niegewelddadige teenstand teen die owerhede wat Suid-Afrika nog gesien het. Dit was ook die eerste veldtog wat gesamentlik deur alle rassegroepe onder leiding van die ANC en die Kongres van Suid-Afrikaanse Indiërs (SAIC) gevoer is. 7

Matthews het Suid-Afrika in Junie 1952 op die vooraand van die Versetveldtog verlaat om ’n pos as besoekende professor by New York se Union Theological Seminary aan te neem. In Mei 1953 het hy teruggekeer huis toe, toe dit reeds duidelik was dat die veldtog nie sou slaag nie. 2

ZK Matthew Gallery in Hoerikwaggo, Universiteit van Kaapstad

Die Kongres van die Mense en die Vryheidshandves

Omdat hy gesien het dat die Versetveldtog misluk, het Matthews geglo dat die ANC ’n hele nuwe benadering tot die stryd teen apartheid moet volg. Daarom het hy in Augustus 1953 in sy presidensiële toespraak by die ANC se Kaapse Konferensie die idee van ’n Kongres van die Mense voorgestel. Dit sou ’n nasionale byeenkoms wees waar alle groepe in Suid-Afrika verteenwoordig kon word en waar nasionale probleme op ’n inklusiewe wyse opgelos sou word. By so ’n byeenkoms, het hy voorgestel, moet daar ’n handves van vryhede wees wat die grondslag kan vorm vir die demokratiese Suid-Afrika van die toekoms. 8

Sy droom is in 1955 verwesenlik toe die Kongres van die Mense (In Engels: Congress of the People) op 25 en 26 Junie by Kliptown buite Johannesburg byeengekom het. By hierdie geleentheid is die Vryheidshandves aan die afgevaardigdes voorgelê. 9

Kongres van die Mense se ontmoeting by Kliptown

Die Vryheidshandves het die eienskappe uiteengesit wat die anti-apartheidsbeweging as die grondbeginsels vir ’n demokratiese en regverdige Suid-Afrika beskou het. Die Handves het onder meer gevra vir die vestiging van ’n nierassige demokrasie, die nasionalisering van belangrike nywerhede en die herverdeling van grond. Matthews se bydraes tot die Handves weerspieël sy diep verbintenis tot maatskaplike geregtigheid en sy geloof in die krag van gesamentlike optrede om betekenisvolle verandering teweeg te bring.

Die Verraadverhoor

Die apartheidsregering het die verrigtinge by Kliptown dopgehou. Hulle het die vergadering ontwrig en beslag gelê op al die dokumente wat hulle kon kry. Met hierdie dokumente, wat die Vryheidshandves ingesluit het, het hulle geglo dat hulle bewyse gehad het dat daar hoogverraad plaasgevind het. Hulle het die name en adresse van al die afgevaardigdes opgeteken. 7

In 1956 is 156 kongresleiers in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla. Matthews was een van die aangeklaagdes. Die een oomblik was hy nog waarnemende hoof van die Fort Hare-Universiteit, die volgende was hy ’n beskuldigde in ’n hoogverraadverhoor. 2

Die verhoor het nie goed verloop vir die apartheidsregering nie. Aan die einde van 1958 is Matthews vrygelaat en het hy na Fort Hare teruggekeer. Maar hy het kort daarna uit sy pos bedank, en só ’n groot klomp pensioengeld verloor, uit protes teen die feit dat die regering die universiteit oorgeneem het. 2

Die Freedom Charter-gedenkteken in Kliptown, Soweto

Die Sharpeville-slagting en die noodtoestand

In 1960 het die Sharpeville-slagting plaasgevind toe mense teen paswette betoog het. 10 Die regering het ’n noodtoestand afgekondig sodat hulle die onluste wat daarop gevolg het, kon onderdruk. Matthews is weer in hegtenis geneem. Hy was ses maande lank in detensie. Ná sy vrylating het hy saam met Albert Luthuli begin vra vir samesprekings tussen swart leiers en vir ’n nasionale byeenkoms waar alle Suid-Afrikaners verteenwoordig kon word. Hierdie oproepe het uiteindelik gelei tot die Alomvattende Afrikakonferensie (In Engels: “All-In African Conference”) wat in Maart 1961 in Pietermaritzburg gehou is.

In dieselfde jaar het Matthews na Genève verhuis, waar hy die pos van sekretaris van die Afrika-afdeling van die Wêreldraad van Kerke opgeneem het. 2

Latere lewe en aftrede

In 1965 het hy na Botswana, die land van sy voorvaders, verhuis om daar te gaan aftree. In 1966 het Botswana onafhanklikheid verkry, en Matthews het die pos as Botswana se ambassadeur in die Verenigde State gekry. Hy is in 1968 in Washington DC in die Verenigde State oorlede en in Gaborone, Botswana begrawe. 2

Ten spyte van al die uitdagings wat hy ondervind het, het Matthews toegewyd gebly aan sy visie vir ’n meer regverdige Suid-Afrika. Sy nalatenskap inspireer mense steeds wêreldwyd om regverdigheid en gelyke regte vir almal na te streef.

Woordbank

aktivisme Kampvegter; ʼn Persoon wat hom aktief vir die bevordering van ’n saak beywer.
antropologie Natuurkennis van die mens, menskunde.
balie ‘Toegelaat tot die balie’ beteken om toegelaat te word om as advokaat te praktiseer.
beslag gelê Vat.
boikotte Georganiseerde weiering om ’n bepaalde artikel te koop of met ‘n bepaalde land/regering handel te dryf.
demokrasie ’n Land is ’n demokrasie as sy hele bevolking die reg het om te stem.
detensie Aanhouding.
formaliseer Formeel instel.
handves Dokument wat beginsels uiteensit.
hoogverraad Verraad teen die staat.
inklusiewe Waar almal ingesluit word.
militante Strydend, aanvallend.
ʼn pos opneem ’n Pos begin beklee; ’n werk begin doen.
nasionalisering Onder die beheer van die staat bring.
noodtoestand ’n Toestand wat deur die regering afgekondig word waarin hulle spesiale maatreëls kan toepas en byvoorbeeld mense kan aanhou sonder om hulle aan te kla.
onluste Opstande, gewoonlik teen die regering.
ontwrig Versteur; opbreek.
op die vooraand van Net voor.
opgerig Bou; skep.
oproepe Openbare versoek.
postuum Iets wat ná die dood van iemand gedoen woord.
radikale Ekstreem.
segregasie Skeiding tussen rasse.
stakings Tydelik laat stilstaan uit protes (werk/betalinge/bedrywighede).
teweeg te bring Laat gebeur.
verwesenlik ’n Werklikheid maak.

Lees meer

Kyk hierdie video’s

Die restourasie van Z.K. Matthews se huis in die Oos-Kaap

Luister na ’n baie mooi opname van “Plea from Africa” deur die Suid-Afrikaanse mezzosopraan Sibongile Khumalo

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 September 2023 | Bygewerk op 9 April 2024