Stemreg

Het dit al ooit met jou gebeur dat jy deel is van ’n groep maats waar een die hele tyd besluit wat die hele groep moet doen? Dit irriteer ’n mens sommer gou, want almal moet altyd doen wat dié persoon sê, en niemand anders se idees of planne word ooit oorweeg nie.

Die regverdigste manier om in ’n groep besluite te neem, is om daaroor te stem. Dit beteken almal in die groep kry ’n geleentheid om voorstelle te maak, en dan besluit die groep deur middel van ’n stemming – waarin almal die reg het om ja of nee te sê – oor wat volgende moet gebeur. Die uiteindelike besluit word bepaal deur die meerderheid – die stemme vir elke idee word getel, en die idee met die meeste stemme is die idee wat dan aanvaar word.

Verkiesings

Stemmings kan in enige konteks gehou word, maar in hierdie artikel gaan dit eintlik oor stemreg in verkiesings. Dit is groot stemmings waar die burgers van ’n land besluit wie hul leiers moet wees. Die reg om te stem, is verskriklik belangrik, want die leiers wat ’n mens in ’n verkiesing kies, moet die burgers se belange in die regering verteenwoordig. Hierdie reg om jou eie leiers te kies sodat dinge wat vir jou belangrik is in die regering aandag kan kry, is waarskynlik die belangrikste reg wat ’n mens in ’n demokratiese land het.

Algemene stemreg

In ’n ware demokrasie is daar algemene stemreg, maar daar is selfs in ’n volwaardige demokrasie mense in die land wat nie mag stem nie:

  • Net die burgers van ’n land mag aan ’n verkiesing deelneem. Dit beteken nie dat buitelanders geen regte in die land het nie – daar is baie wette wat alle mense in die land se regte en hul menswaardigheid beskerm. Buitelanders het net nie die reg om deel te neem aan die land se regering nie, daarom stem hulle nie in ’n ander land se verkiesings nie.
  • Net mense wat mondig is, mag stem. In Suid-Afrika kan ’n mens stem sodra jy 18 is. Die Wet beskou minderjariges as onvolwasse en daarom nog nie gereed om besluite oor die regering te neem nie.
  • Mense met sekere soorte geestesiektes of baie beperkte verstandelike vermoëns mag gewoonlik nie stem as hulle nie werklik verstaan waaroor die verkiesing gaan nie. 1
  • Sekere kategorieë misdadigers verloor hul reg om te stem as deel van hulle straf. 2

Stemreg oor die wêreld

Mense het nie in alle lande oor die wêreld dieselfde reg om aan verkiesings deel te neem nie. Sommige lande beperk sekere groepe of sommer al die burgers se stemreg, of hulle hou verkiesings, maar steur hulle nie regtig aan die uitslae nie. Dit is ’n groot probleem, want mense wat nie mag stem nie, kan nie hul omstandighede verbeter nie. Sulke groepe mense is gewoonlik reeds onderdruk. As hulle nog boonop nie stemreg het nie, kan die regering, die howe en die ander burgers in die land hulle uitbuit.

Voorbeelde van lande waar stemreg nie enige gewig dra nie, is China, Afghanistan, Mianmar, Thailand, Viëtnam, Laos, Saoedi-Arabië, Jemen, Jordanië, Oman, Soedan, Suid-Soedan, Somalië, Tsjaad, Libië, Marokko, Mali en Guinee. 3

In sommige lande het mense stemreg, maar die land word in werklikheid deur een leier of deur ’n klein groepie mense regeer wat hulle eintlik nie aan die wil van die mense steur nie. Rusland, Belo-Rusland, Indië, Pakistan, Iran, Irak, Turkye, Serwië, Hongarye, Nicaragua, Honduras, Venezuela, Algerië, die Ivoorkus, Angola, Egipte, die DRK (Demokratiese Republiek die Kongo), Tanzanië, Zambië, Zimbabwe en Mosambiek is voorbeelde hiervan. 3

Sommige lande is demokrasieë omdat hulle algemene stemreg het, maar die regering wat dan aan bewind kom, neem net die wil van die meerderheid in ag. Minderhede in hierdie lande se regte word dikwels verontagsaam. Voorbeelde van sulke lande is Mongolië, Oekraïne, Pole, Boelgarye, Roemenië, Oostenryk, Brasilië, Argentinië, Peru, Paraguay, Indonesië, Namibië en Suid-Afrika. 3

In lande soos die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Australië, Nieu-Seeland, Japan, Suid-Korea, Noorweë, Swede, Denemarke, Spanje, Duitsland, Frankryk, Letland, Litaue, Italië, Griekeland, Chili en Botswana regeer die party wat deur die meerderheid mense verkies is, maar die regte van minderheidsgroepe word aktief beskerm. Sulke lande word liberale demokrasieë genoem omdat hulle nie net die wenners van ’n verkiesing se regte beskerm nie, maar ook die verloorders. 3

Stemreg in Suid-Afrika

Eerste regerings (voor 1910)

Suid-Afrika het eers in 1910 Suid-Afrika geword, toe die Unie van Suid-Afrika gestig is. Voor daardie tyd was daar koninkryke, kolonies en Boererepublieke waar die regerings baie verskillend gewerk het. Stemreg is ook nie op dieselfde manier toegeken nie.

In die Kaapkolonie het die grondwet van 1853 en 1872 voorsiening gemaak vir gekwalifiseerde stemreg. Dit het beteken mense kon stem as hulle aan sekere vereistes voldoen het. Aanvanklik kon alle mans wat eiendom besit het of 25 pond gehad het, as kiesers registreer, ongeag hul ras.

Later het leiers soos Cecil John Rhodes en Gordon Sprigg hulle daarvoor beywer om die vereistes te verhoog sodat swart mense se stemreg beperk kon word. Stamgrond sou nie meer as eienaarsreg geld nie, kiesers moes 75 pond hê en hulle moes geletterd wees. Dit het baie swart mense, bruin mense en arm wit mense verhoed om te stem. 4

Cecil John Rhodes

In Natal kon enige man van enige ras stem, maar die vereistes was só hoog dat 99% van swart mense nie daaraan voldoen het nie. Slegs wit mans kon in parlementêre verkiesings staan. 4

In die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat kon net wit mans van 21 jaar en ouer stem. 4

Stemreg in die Unie (1910-1961)

Toe die Unie in 1910 tot stand gekom het, is die Kaap en Natal toegelaat om ’n beleid van gekwalifiseerde stemreg te behou. Die grondwet van die Unie het egter voorsiening gemaak daarvoor dat enige bepaling in verband met stemreg met ’n tweederdemeerderheid verander kon word. Dit het die geleentheid geskep vir die Nasionale Party en die apartheidsregering om hierdie toegewing later op te skort. 4

In 1936 is alle swart kiesers van die kieserslys afgehaal en op ’n aparte lys geplaas. Hulle het nog die reg gehad om te stem, maar vir net drie setels in die parlement. Dit beteken hul verteenwoordiging in die regering was nie regverdig nie. Hierdie drie setels is in 1960 afgeskaf. 4

Bruin kiesers het nog in 1953 aan die verkiesing deelgeneem, maar van 1958 af is hulle ook op ’n aparte kieserslys geplaas. Hulle het van daar af net vier setels in die parlement gehad. 4

Stemreg vir vroue

’n Belangrike positiewe ontwikkeling in verband met stemreg in die Unie, was dat vroue stemreg gekry het. Dit klink vandag vreemd om te sê dat vroue wêreldwyd nie toegelaat is om te stem nie, maar eeue lank is lande hoofsaaklik deur mans regeer. Die eerste land waar vroue stemreg gekry het, was Nieu-Seeland (1893), en kort daarna kon vroue in Australië (1902), Finland (1906) en Noorweë (1913) ook aan die algemene verkiesings deelneem. 5

Vroueregte het ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) behoorlik begin aandag kry, en ’n hele klompie lande het in hierdie tyd aan vroue stemreg toegeken. Een van hierdie lande was Suid-Afrika, wat in 1930 aan wit vroue bo 21 stemreg toegeken het. 5 Die belangrikste rede hiervoor was dat die regering gedink het wit vroue sal die swart en bruin kiesers in die Kaap se stemreg neutraliseer. 6

Een van die belangrike Afrikanervroue wat hulle vir stemreg beywer het, was dr. Petronella van Heerden. Sy was ook die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat ’n dokter geword het.

Dr. Petronella van Heerden, die eerste Suid-Afrikaanse vrouedokter.

Stemreg ná Republiekwording (1961-1994)

Toe Suid-Afrika in 1961 ’n republiek word, het swart mense nie meer stemreg of enige setels in die parlement gehad nie. Bruin mense kon wel nog stem vir vier setels in die parlement. Hierdie vier setels is in 1970 afgeskaf, wat beteken het dat net wit mense aan algemene verkiesings kon deelneem. 4

Soos wat ’n mens sou verwag, was swart mense nie hiermee tevrede nie. Groepe soos die ANC, PAC en IVP het hulle teen hierdie beleid verset, en Suid-Afrika het groot kritiek en teenkanting uit die buiteland gekry omdat die verkiesings so onregverdig was. 7

Teen 1983 was die situasie in die land só onstuimig dat die driekamerparlement ingestel is. Dit was ’n parlementêre stelsel met drie huise wat elk ’n bevolkingsgroep verteenwoordig het. Daar was die Volksraad vir wit mense, die Huis van Verteenwoordigers vir bruin mense en die Huis van Afgevaardigdes vir Indiërs. In hierdie bedeling het bruin en Indiër Suid-Afrikaners wel die reg gehad om vir hul leiers te stem. Swart mense het steeds nie verteenwoordiging in die parlement gehad nie. 4

’n Demokratiese Suid-Afrika (1994 en daarna)

Die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika is op 27 April 1994 gehou. Alle Suid-Afrikaners ouer as 18 jaar kon in hierdie verkiesing stem. Die ANC het die verkiesing gewen en Nelson Mandela het Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president geword.

In 1996 is daar in die nuwe Grondwet voorsiening gemaak vir ’n enkele kieserslys waarop alle Suid-Afrikaanse stemgeregtigdes se name verskyn. Dit beteken alle Suid-Afrikaners het nou dieselfde reg om te stem. 4

Woordbank

aan bewind kom

Begin regeer.
algemene stemreg Al die land se burgers het die reg om te stem.
beywer Hard werk vir iets.
demokrasie ’n Land is ’n demokrasie as sy hele bevolking die reg het om te stem.
deur middel van Met.
geleentheid Kans.
geletterd Om te kan lees en skryf
gewig dra Betekenis het.
huise Afdelings.
in ’n verkiesing staan Beskikbaar wees om gekies te word.
konteks Plek, tyd en omstandighede.
menswaardigheid Mense se reg om ordentlik behandel te word en met waardigheid te leef.
minderhede Kleiner groep in ’n verkiesing wat nie genoeg stemme kry om leiers te kies nie en dus nie regeer nie.
minderjariges Nog nie volwasse nie; in Suid-Afrika is dit jonger as 18.
monargie Staat geregeer deur ’n monarg; alleenheerskappy.
mondig Volwasse ingevolge die wet.
neutraliseer Minder invloed gee.
onderdruk Regte beperk of wegneem.
onstuimig Onrustig; kwaad.
op te skort Beëindig.
setels Plek in die parlement.
te velde getrek Kritiek lewer.
uitbuit Op ’n slegte manier gebruik; so gebruik dat die ding of persoon beskadig word.
verontagsaam Nie in ag neem nie.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié om meer te wete te kom

Hoekom is dit belangrik om te stem?

Só stem jy in Suid-Afrika

Stemreg vir vroue

Joernaliste vertel hoe hulle Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 ervaar het