Sosialisme en kommunisme

Verbeel jou daar is ’n land waar niemand ryk of arm is nie. Niemand besit ’n eie onderneming nie, want die fabrieke behoort aan almal. Daar is dus nie ryk eienaars nie, maar ook nie arm werkers nie. Dit klink vreemd, nè? Dit is egter die basiese idee van sosialisme, maar in die praktyk werk dit nie altyd volgens die sosialiste se ideaal nie.

Wat is sosialisme dus? Dit is ’n ekonomiese en politieke stelsel wat gegrond is op die kollektiewe, gemeenskaplike of openbare eienaarskap van alle produksiemiddele. Dit sluit masjinerie en fabrieke in wat gebruik word om goedere te vervaardig om aan mense se behoeftes te voldoen. 1 Sosialisme het dus meer met die ekonomie te doen en die doel is dat welvaart gelyk verdeel moet word.

Die ontstaan van sosialisme

Sosialisme het ontstaan as ’n reaksie op kapitalisme. In ’n kapitalistiese bestel mag mense eiendom besit en mense en maatskappye ding met mekaar mee vir welvaart. Daar is dus sterk mededinging tussen maatskappye vir verbruikers se geld.

Tydens die 1700’s en 1800’s is masjinerie uitgevind en baie van die take wat mense eers verrig het, is toe deur masjinerie oorgeneem. Dit het daartoe gelei dat produksie in fabrieke verhoog kon word en hierdie tyd staan as die Industriële Revolusie bekend. Kapitalisme het flink in hierdie tydperk gegroei en sekere mense, soos fabriekeienaars, het vinnig ryk geword terwyl ander, soos die fabriekwerkers, steeds swaargekry het. Hulle het min geld gekry en hul werksomstandighede was dikwels haglik. Soos ’n mens kan dink, het dit baie werkers kwaad gemaak.

Mense het toe begin speel met idees hoe om die probleem op te los. Een idee was dat regerings moes ingryp, nywerhede beheer en só ’n gemakliker en beter lewe vir al die burgers kon skep. Dié stelsel wat hulle voorgestel het, was sosialisme. 2

Die wortels van sosialisme

Hoewel daar ooreenstemming is dat sosialisme tydens die Industriële Revolusie ontstaan het, het die eintlike idee daarvan lank voor daardie tyd ontstaan. Dit was die Antieke Grieke wat met hul idees ver voor hul tyd was. Só het die filosoof Plato in sy dialoog Republic ’n kollektiewe samelewing voorgestel met wortels van sosialisme. Kollektief beteken dat die mense saamwerk en saam besluite neem en optree. Dit was reeds in 360 v.C.

Sir Thomas More het in die 16de eeu in sy werk Utopia geskryf oor ’n plek waar geld afgeskaf word en mense op dieselfde vlak werk en leef. 3

Die ontwikkeling van sosialisme

Vroeë sosialiste soos Henri de Saint-Simon, Robert Owen en Charles Fourier het modelle vir sosialistiese gemeenskappe opgestel. Hulle wou hê dat mense eerder saam met mekaar moes werk, pleks daarvan om met mekaar mee te ding. Saint-Simon se voorstel was dat die regerings van lande die produksie moes beheer en dat die goedere tot almal se voordeel verdeel moes word. Fourier en Owen het bietjie anders gedink en hul voorstel was dat daar net klein kollektiewe gemeenskappe moes wees, pleks van een sentrale staat. 3

Robert Owen

Henri de Saint-Simon

Charles Fourier

Van sosialisme na kommunisme

Die sosialiste se idee was dat die eienaarskap van fabrieke en eiendom mettertyd vanaf die ryk mense na die werkers oorgedra moes word, maar nie almal het gedink dat dit realisties is nie. Hulle wou beslis nie wag vir ’n verandering wat baie jare kon vat nie.

Hul plan was dat die kapitalistiese stelsels omvergewerp moes word en deur ’n nuwe klas vervang moes word. Waar kom dié idee vandaan? Van die Duitse akademikus Karl Marx (1818-1883). Hy het geglo dat die sosialiste se drome onrealisties was en dat daar slegs verandering deur aksie kon kom.

Karl Marx

Hy het gesê dat die samelewing uit klasse bestaan en as sekere klasse produksie beheer, sal hulle die mag gebruik om die arbeidsmag (of werkers) uit te buit.

Hy en Friedrich Engels se bekende manifes het die grondslag van kommunisme geword. Hulle het geargumenteer dat ware wetenskaplike sosialisme net bereik kan word as werkers vir hulself opstaan, ’n revolusie lei en die kapitaliste omverwerp. As die werkers (of soos hy hulle genoem het, die proletariaat) as oorwinnaars uit die stryd tree, sal hulle die nuwe regerende klas word.

Hy het geglo dat daar dan ’n ware kommunistiese samelewing kan ontwikkel. Maar wat behels so ’n samelewing? Niemand mag privaat eiendom besit nie, daar moenie ’n regering wees nie en mense vervaardig goedere op grond van hul vermoëns. 4

Kommunisme is dus ’n ekonomiese of politieke stelsel waarmee die staat alle eiendom, industrieë en ekonomiese instellings besit en beheer, en alle mense gelyk behandel – of ten minste probeer om dit te doen. 1

As jy in ’n kommunistiese land bly, kan jy byvoorbeeld nie jou eie onderneming besit of jou oupa sy eie plaas besit nie. Dit vat dus die idees van sosialisme verder.

Selfs nadat Marx dood is, het sy idees versprei en gegroei en dit is mettertyd deur verskeie politieke partye opgeneem en daarop uitgebrei. 3

Die eerste kommunistiese regering is deur die Russe geskep. Dit het ná ’n revolusie in 1917 gebeur.

Die nuwe leier, Vladimir Lenin, se politieke party het Marx se idees geïmplementeer. Hy het sy party die Kommunistiese Party genoem en hulle het ook in 1922 die Sowjetunie (vandag is dit Rusland) tot stand gebring. Die slagspreuk was “Die groot sprong vorentoe”.

Dit was katastrofies vir die bevolking. Tydens die regerings van Lenin en Joseph Stalin het tussen 60 en 100 miljoen mense gesterf. Grootskaalse hongersnood het die Sowjetunie getref toe baie suksesvolle kleinboere van hul grond verwyder is. Miljoene mense is vanaf die jare twintig tot die jare vyftig in strafkampe geplaas en dikwels ook tereggestel. Dit was mense wat as “gevaarlik” vir die staat gesien is. Dit het beteken dat selfs skrywers wat krities was teen die staat, asook ryk plaaseienaars, toegesluit is.

Hierdie strafkampe is Gulag genoem. Dis ’n akroniem wat basies die administrasie van korrektiewe arbeidskampe beteken.

Baie lande in Oos-Europa het by die Sowjetunie aangesluit en ook kommunisties geword. 5

Ná die Tweede Wêreldoorlog het kommuniste beheer oor China, Noord-Korea, Viëtnam en Kuba geneem en baie Afrikalande het ook kommunisties geword.

Die Verenigde State van Amerika en sy bondgenote was gekant teen die verspreiding van kommunisme en dit het tot die sogenaamde Koue Oorlog tussen die Sowjetunie en die VSA gelei. 5

In die jare negentig het die Sowjetunie tot ’n val gekom en al sy lidlande het onafhanklik geword en meer demokratiese regeringsvorms aangeneem.

Kommunisme het dus daar tot ’n val gekom en lande het meer kapitalisties geword. 5

Die verskille tussen sosialisme en kommunisme

In ’n kommunistiese land word alle ekonomiese hulpbronne deur die staat besit en beheer. Individue mag geen persoonlike eiendom of bates besit nie. Sosialiste glo individue mag privaat eiendom en bates besit, maar alle nywerhede en fabrieke moet gemeenskaplik besit word en deur ’n demokraties verkose regering beheer word.
Ingevolge kommunisme moet goedere vervaardig word om in mense se basiese behoeftes te voorsien en dan gratis aan mense versprei word. Volgens sosialisme word goedere vervaardig om die individu en die samelewing se behoeftes te bevredig en word verdeel volgens die individu se vermoë en bydrae tot die proses.
Daar is geen sosiale klasse in ’n kommunistiese bestel nie en niemand kan meer as ander verdien nie. Al werk jy byvoorbeeld harder as jou buurman, sal julle steeds dieselfde geld verdien. In ’n sosialistiese bestel, bestaan sosiale klasse en dis moontlik vir mense om meer as ander te verdien.
Kommunisme laat geen beoefening van godsdiens toe nie. Sosialisme maak voorsiening vir vryheid van godsdiens. 6

Sosiaal-demokrasie

Sosiaal-demokratiese partye het in die 20ste eeu toenemend in baie Europese lande veld gewen. Hul idees is basies gegrond op sosiale hervormings soos openbare onderrig en gesondheidsorg deur ’n demokratiese regering met ’n hoofsaaklik kapitalistiese ekonomie.

Dit beteken dat hulle glo dat ’n samelewing en ekonomie demokraties bestuur moet word en dat daar in die behoeftes van al die burgers voorsien moet word. Hulle voel die regering het ’n verantwoordelikheid om sy burgers met welsynsprogramme te help, terwyl ’n vryemarkekonomie (waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit) aangemoedig word. Hul ekonomieë is dus afhanklik van sterk kapitalisme en kan as ’n gemengde ekonomie beskryf word.

Het jy geweet?

Daar is ’n verskil tussen sosiaal-demokrasie en demokratiese sosialisme.

Sosiaal-demokrasie is gegrond op ’n kapitalistiese ekonomiese stelsel en het regeringsinstellings wat deur maatskaplike programme in burgers se behoeftes voorsien.

Demokratiese sosialisme het ’n visie van ’n samelewing en ekonomie wat demokraties is en waar individue meer sê as groot maatskappye het. Hierdie stelsel wil die ekonomie sosialisties eerder as kapitalisties hê. 6

Woordbank

akroniem ’n  Enkele woord saamgestel uit die eerste letter(s) van die komponente van ‘n begrip, omskryf deur verskeie woorde, bv. Soweto is die akroniem vir “South Western Townships”.
bates Besitting wat iemand of ’n maatskappy voordelig kan aanwend.
bestel In hierdie geval beteken dit “bewind” of “regime”.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
demokraties ’n Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, en gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg, en van die media.
ekonoom Sakekenner; beoefenaar van die ekonomiese wetenskap.
filosoof ’n Denker, geestelike, (hoog)geleerde, intellektualis, soos Plato.
haglik In ’n baie slegte toestand, bedenklik; rampsalig.
geïmplementeer Ten uitvoer bring, toepas, bewerkstellig.
kollektief Gesamentlik, gemeenskaplik
mededinging Wanneer mense of ondernemings beter as hul teenstander(s) wil doen/presteer.
omverwerp Om iets te laat misluk.
produksie Die lewering of vervaardiging van ’n produk.
produktiwiteit Die aantal produkte wat in ’n sekere tyd vervaardig word.
realisties Wat die werklikheid weergee.
regerings Die bestuur van ’n land.
revolusie Dis ’n situasie waarin mense van ’n land baklei om die bestaande regering met ’n regering van hul keuse te vervang.
samelewing Mense in die algemeen, soos hulle in gemeenskappe saamleef, veral in gemeenskappe waarin hulle dieselfde gewoontes, wette, ensovoorts het.
veld gewen Vooruitgang maak.
verbruikers Iemand wat goedere of dienste vir persoonlike gebruik koop.
vervaardig Maak, fabriseer, voortbring.
vryemarkekonomie Waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit.
vryemarkstelsel Dis ’n ekonomiese stelsel waar vraag en aanbod die prys van goedere en dienste bepaal.
welvaart Rykdom.
werkers/werknemers Iemand wat vir ’n loon of ’n salaris werk.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video om meer te wete te kom

Die verskil tussen kapitalisme, sosialisme en kommunisme