Vinnige feite

  • Die Nasionale Bemagtigingsfonds (NBF) is in 1998 gestig om aandele in geherstruktureerde ondernemings aan voorheen benadeelde Suid-Afrikaners te gee.
  • Die begrip “regstellende aksie” is vir die eerste keer in 1961 in die VSA gebruik toe die destydse Amerikaanse president John F. Kennedy ’n dokument met riglyne vir werkgewers onderteken het.
  • Solidariteit het in 2023 ’n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse regering aangegaan wat bevestig dat die regering se rigiede toepassing van maatreëls vir regstellende aksie teen internasionale norme indruis. Ander faktore as ras moet ook oorweeg word in die toepassing van hierdie maatreëls. Dit kom ná ’n hofbevel in Oktober 2023. 8
  • Die Suid-Afrikaanse regering het in 2024 nuwe rasteikens in die Staatskoerant gepubliseer. Daarvolgens is konsepregulasies vir die volgende vyf jaar ingestel en dit stipuleer hoe rasgroepe in verskillende sektore verteenwoordig moet word. 9
Foto: iStock

Stel jouself die volgende voor: Jou skool hou elke week ’n markdag, maar elke keer as daar markdag is, mag die graadsesse nie daaraan deelneem nie. Die skool diskrimineer dus teen die graadsesse en hulle mag nie iets koop of verkoop of eens gaan kyk wat by jul markdag aangaan nie. Dis darem baie onregverdig, nè?

Dan word ’n nuwe skoolhoof aangestel en hy sê die graadsesse mag nou deelneem en nog belangriker, hulle moet vergoed word vir al die kere wat hulle nie deelgeneem het nie. Nou hoef hulle nie soos die ander kinders in ’n ry by die stalletjies te staan nie en hulle kry sommer elke keer ’n gratis stokkielekker. Die skoolhoof probeer om die onregverdigheid van die verlede reg te stel. ’n Mens kan sê hy pas regstellende aksie toe.

Wat is regstellende aksie?

Regstellende aksie is die optrede of aanstellings om ’n werkplek, span of organisasie verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling te maak. 1

Regstellende aksie is ’n beleid wat probeer vergoed vir groepe wat dalk voorheen onregverdig behandel is en van geleenthede soos werk, woonplek en studies uitgesluit is. Dit gee byvoorbeeld voordele of voorkeur aan sekere groepe van die samelewing as hulle aansoek doen vir werk of as hulle plek by ’n universiteit soek. Regstellende aksie se doel is om historiese patrone van diskriminasie reg te stel, vandaar die benaming “regstellende aksie”.

Regstellende aksie behels onder meer die toekenning van beurse, finansiële hulp en toelae aan sekere mense, asook indiensnemingkwotas. Indiensnemingskwotas, wat ook bemagtigingsteikens genoem word, behels dat maatskappye byvoorbeeld ’n sekere aantal swart mense, ’n sekere aantal vroue of ’n sekere aantal mense met gestremdhede moet aanstel. As ondernemings of instellings nie aan hierdie kwotas voldoen nie, kan dit beteken dat hulle geen finansiering of kontrakte van die regering af kry nie omdat hulle nie aan die regulasies voldoen nie. 2

Kom ons neem ’n praktiese voorbeeld. Gestel die bevolking bestaan uit 10% swart vroue, bepaal regstellende aksie dat dié persentasie swart vroue byvoorbeeld in ’n maatskappy se werkmag teenwoordig moet wees. Wetgewing oor regstellende aksie is die eerste keer in 1998 in Suid-Afrika ingestel.

Die geskiedenis van regstellende aksie

Hoewel regstellende aksie vandag sinoniem is met Suid-Afrika, het dit nie sy oorsprong in ons land nie.

Die Verenigde State van Amerika (VSA) het dié beleid sedert 1964 gevolg. Baie swart mense is vanaf die 1600’s tot die 1800’s “gevang” en vanaf Afrika na die VSA geneem om daar te gaan werk. Slawe is eers in 1863 vrygestel, maar toe het hulle geen onderrig, geld, grond of geleenthede gehad nie.

Daar was vir nog 100 jaar ná die afskaffing van slawerny allerlei diskriminerende beleide teen swart mense.

Die jare vyftig en sestig was tye van politieke onrus in die VSA en leiers soos Martin Luther King jr. en Malcolm X het bekend geword vir hul oproepe vir rassegelykheid. Dit het die Burgerregtewetgewing van 1964 tot gevolg gehad. Die doel daarvan was om diskriminasie uit die weg te ruim en ondernemings en instellings te dwing om meer geleenthede vir voorheen benadeelde gemeenskappe te gee. Dit was dus ’n manier om gelyke geleenthede te bevorder. 3

Ander lande, insluitend Maleisië, Indië en Brasilië, het ook al vorms van regstellende aksie toegepas of pas dit steeds toe.

Martin Luther King jr.

Regstellende aksie in Suid-Afrika

Soos jy weet, het die Suid-Afrikaanse regering in ’n stadium ’n beleid en wetgewing van afsonderlike ontwikkeling of segregasie ingestel. Die Nasionale Party-regering (NP-regering) het vanaf 1948 tot demokrasiewording ’n beleid van apartheid gevolg. Daarvolgens is Suid-Afrikaners in rassegroepe verdeel en nie alle ras- of bevolkingsgroepe het gelyke regte geniet nie.

Dinge het egter in die jare tagtig begin verander en uiteindelik is Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 gehou. Die regering het toe ’n beleid van regstellende aksie ingestel om die negatiewe impak van apartheid te probeer regstel. Artikel 9(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996) staan as die regstellendeaksieklousule bekend. Die doel van hierdie artikel is om mense wat voorheen benadeel is, te ontwikkel en te beskerm.

Die Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998 se Artikel 15(l) maak voorsiening dat regstellende aksie in die werkplek toegepas kan word. Die doel is om seker te maak dat mense van sekere groepe gelyke geleenthede tot werk gegee moet word. Mense wat as swart geklassifiseer word, vroue en diegene met gestremdhede, kry voorrang of voorkeur. 4

Soos vroeër genoem, is verskeie wetgewing oor die jare ingestel om regstellende aksie en swart bemagtiging te bevorder. In 2023 het pres. Cyril Ramaphosa ’n Wysigingswet op Gelyke Indiensneming onderteken. Dit bevat meer ingrypende (strenger of verreikender) bepalings as die oorspronklike wet. Dit gee die minister van indiensneming en arbeid die mag om teikens (doelwitte) vir ras, geslag en mense met gestremdhede in alle sektore en streke te stel. Kragtens dié wet moet alle ondernemings met meer as 50 werknemers planne vir gelyke indiensneming opstel en aandui hoe hulle dié teikens binne vyf jaar gaan bereik. 5

Dit kom nadat daar in 2023 bevind is dat, 24 jaar nadat die Wet op Gelyke Indiensneming in 1998 van krag geword het, nog net 6% van werkgewers ten volle aan die vereistes van die Wet voldoen. Dit is gegrond op 860 inspeksies wat in 2022 uitgevoer is.

Swart ekonomiese bemagtiging

Jy het seker ook al van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) of afkortings soos BEE gehoor. BEE staan vir “Black Economic Empowerment”. Met swart bemagtiging word ook bruin mense, Indiërs, vroue en gestremde mense bedoel.

Swart ekonomiese bemagtiging loop hand aan hand met regstellende aksie. Net soos regstellende aksie, is dit al vanaf 1994 hoog op die regering se prioriteitslys.

Baie mense kon op grond van hul ras vir jare nie aan ekonomiese aktiwiteite deelneem nie. Swart ekonomiese bemagtiging word beskryf as die proses wat gemik is op die oorbrugging van ongelykhede in die eienaarskap en beheer van Suid-Afrikaanse ekonomiese hulpbronne, deur die bevordering van swart deelname op alle vlakke van die ekonomie.

Dit word gedoen deur werkskepping, armoedeverligting, opvoeding, bestuursontwikkeling, betekenisvolle eienaarskap en toegang tot finansiële bystand. 6

In 2003 is die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging 53 van 2003 (BBSEB) ingestel. (In Engels: Broad-based Black Economic Empowerment Act). Verdere wysigings aan die BBSEB-wetgewing het gevolg, soos die Wysigingswet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging 46 van 2013.

Omgekeerde diskriminasie of nie?

Regstellende aksie word dikwels gekritiseer en as omgekeerde diskriminasie beskou omdat baie mense wat nie verantwoordelik was vir die apartheidsbeleid van die eertydse NP-regering nie, voel dat hulle onregverdig daardeur behandel word en nie gelyke kanse gegun word nie.

Die vakbond Solidariteit het die regering se “raswette” reeds op verskeie geleenthede in die internasionale kollig geplaas. In 2016 het die Verenigde Nasies (VN) beslis dat die Suid-Afrikaanse regering nie aan die nodige standaarde ten opsigte van die toepassing van regstellende aksie voldoen nie. 7

Solidariteit het ook in 2021 die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) genader ná plaaslike remediëring uitgeput is om ’n ooreenkoms met die regering te bereik. Hierna is ’n proses van mediasie gevolg en ’n ooreenkoms in Junie 2023 tussen die regering en Solidariteit bereik. Hiervolgens mag daar byvoorbeeld geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie en die inherente vereistes van ’n pos kan in ag geneem word vir aanstelling en bevordering.

Solidariteit het egter in November 2023 wéér ’n verslag by die VN ingedien waarin geëis is dat die Suid-Afrikaanse regering ’n besliste einddatum vir die afskaffing van regstellende aksie en alle gepaardgaande raswette moet stel, en dat aanstellings op meriete moet geskied. Solidariteit glo die wetgewing bring nie gelykheid nie, maar bevorder eerder verdeeldheid.

Ondersteuners van regstellende aksie en bemagtiging meen egter dat baie jare nodig is om gelykheid in die Suid-Afrikaanse samelewing te bewerkstellig en om meer geleenthede vir voorheen benadeelde mense te gee.

Woordbank

apartheid Dis die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948-1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe van mekaar geskei is.
benadeel Skade berokken.
demokratiese verkiesing Waarin almal in Suid-Afrika stemreg gehad het.
diskrimineer ’n Onbillike onderskeid word in die behandeling van mense of groepe gemaak.
geherstruktureerde Nuut en anders gestruktureer/georganiseer.
gelykheid Om gelyk te wees.
hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is.
indruis In stryd wees met; onverenigbaar.
ingrypende Wat ’n verreikende, groot of belangrike invloed/uitwerking het.
inherente Ingebore; volgens aard; uiteraard.
kollig Om in die nuus te wees; iets/iemand wat aandag trek of die middelpunt van belangstelling is.
konsepregulasies ’n Voorlopige voorstel vir die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer moet word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
kwotas Die minimum aantal mense wat volgens ’n bepaalde besluit in ’n groep ingesluit moet word.
meriete Bekwaamheid; wanneer jy iets verdien.
norme Standaarde of maatstawwe waarvolgens ’n mens iets toets.
oorbrugging Om iets/ʼn probleem/hindernis te oorkom.
plafonne Die hoogste peil wat toegelaat/bereik kan word.
prioriteitslys Lys van dinge waaraan spesiale aandag verdien; iets is belangriker as die res en wat voorkeur geniet.
rassisme Die veronderstelling of oortuiging dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras of velkleur.
regstellende aksie Regstellende aksie is die optrede of aanstellings om ’n werkplek/span/en dies meer verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling te maak. Dit bied dan geleenthede aan mense uit groepe teen wie daar voorheen gediskrimineer is.
rigiede Onbuigsaam, ontoegeeflik.
segregasie Apartheid, rasseskeiding, rasseverdeling; diskriminasie.
sektore Afdelings of gebiede.
sinoniem ʼn Woord of term met (ongeveer) dieselfde betekenis as ’n ander.
slawerny Knegskap, gevangeskap; gebondenheid; om aan ʼn ander onderworpe te wees.
stipuleer Bepaal, vasstel.
vergoed Aan iemand iets gee of vir iemand iets doen omdat hy/sy skade gely het.
verteenwoordigend In hierdie geval die persentasie van elke ras of groep wat saam die bevolking van ’n land vorm.
van krag geword In werking getree.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video om meer te leer

Wat is swart ekonomiese bemagtiging? Twee leerders verduidelik

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 September 2024 | Bygewerk op 5 September 2024