Vinnige feite

  • Die eerste koalisieregering in Suid-Afrika soos wat ons dit vandag ken, was die pakt-regering tussen die Suid-Afrikaanse Party en die Unionistiese Party wat tussen 1924 en 1933 regeer het.
  • Meer as die helfte van alle demokratiese lande in die wêreld het ‘n koalisieregering.
  • Volgens navorsing is die gemiddelde leeftyd van koalisieregerings ongeveer 2,5 jaar.
  • Die langste wat dit nog gevat het om ʼn koalisie te vorm, was in België ná dié land se 2010-verkiesing – dit het 541 dae gevat voordat ʼn koalisie gevorm is.
  • Die woord “koalisie” kom van die Latynse “coalitus“ wat beteken “om te verenig” of “om saam te groei”.

In die wêreld van politiek is daar ‘n spesiale soort “spanwerk” wat ʼn koalisie genoem word. Kom ons ontdek saam wat koalisies is, hoekom dit belangrik is, en hoe dit in Suid-Afrika se politiek werk.

Wat is koalisies?

ʼn Koalisie gebeur wanneer twee of meer politieke partye besluit om saam te werk om te kan regeer. 1 Dink daaraan as ʼn rugbyspan wat spelers van verskillende spanne bymekaarbring om ʼn superspan te vorm. Hulle doen dit sodat hulle saam ʼn sterker kans het om te wen of beter besluite te maak vir die mense van hulle land of stad.

Waarom koalisies belangrik is

In Suid-Afrika gebruik ons ʼn proporsionele verteenwoordigingstelsel. Dit beteken elke party kry ʼn aantal setels of sitplekke in die regering, gegrond op die aantal stemme wat hulle kry. Soms kry geen enkele party genoeg stemme (meer as 50%) om alleen te regeer nie. Dan is koalisies belangrik omdat dit partye toelaat om saam te werk, sodat hulle genoeg steun het om te regeer.

Wanneer en hoe word koalisies gevorm?

Koalisies word net ná ʼn verkiesing gevorm, wanneer dit duidelik is dat geen party alleen kan regeer nie. Partye sal dan met mekaar begin gesels om te sien hoe hulle saam kan werk. 2 Soms gesels partye voor verkiesings reeds, om ʼn idee te kry met watter partye hulle sal kan saamwerk en watter kwessies belangrik is.

Formele koalisie-ooreenkomste kan egter eers gesluit word ná verkiesings – enigiets waaroor voor verkiesings ooreengekom word, is nie bindend nie en daarom nie noodwendig deel van die ooreenkoms ná ‘n verkiesing nie.

Die toekoms van koalisies in Suid-Afrika

Die toekoms van koalisies in Suid-Afrika lyk interessant. Met ʼn groeiende aantal politieke partye en veranderende stemvoorkeure, kan koalisies ʼn al hoe belangriker rol speel in hoe Suid-Afrika bestuur word.

Die afgelope 30 jaar het die ANC – veral op nasionale en provinsiale vlak – die meeste van die tyd ʼn meerderheid stemme gekry. Dit beteken dat hulle altyd genoeg stemme gekry het om alleen te kan regeer. 3

Hulle meerderheidstem is egter besig om af te neem – veral op nasionale vlak. Dit beteken dat koalisies al hoe belangriker word in ons politiek. Partye moet leer hoe om kompromieë aan te gaan, hoe om te onderhandel, hoe om buigsaam te wees oor die regte goed, en hoe om hulle voet neer te sit oor sekere goed.

Voordele en nadele van koalisies

Terwyl ons ontdek wat koalisies is en hoe dit werk, is dit belangrik om te kyk na die goeie en slegte kante daarvan. Soos enige spanwerk, het koalisies voordele en nadele wat oorweeg moet word. 4

Voordele

  1. Meer inklusiewe regering: Koalisies help om ʼn regering te skep wat die idees en behoeftes van ʼn breër groep mense verteenwoordig. Dit is omdat meer partye betrokke is by die besluitnemingsproses, eerder as net een party wat regeer en self oor alles besluit.
  2. Stabiliteit: In ʼn stelsel van proporsionele verteenwoordiging kan koalisies stabiliteit bring deur te verseker dat daar ʼn meerderheid is wat kan regeer en besluite neem.
  3. Voorkoming van ekstremisme: Deur koalisies kan meer gematigde en gebalanseerde beleide gevolg word, aangesien uiterste standpunte dikwels deur samewerking versag word. Die partye in die middel kan met mekaar saamwerk om ʼn regering te vorm waarmee die meeste mense tevrede is.

Nadele

Hoewel koalisies dalk ʼn onvermydelike deel van politiek is, is daar steeds sekere nadele daarvan – of minstens risiko’s wanneer dit kom by die vorming en onderhou van koalisies.

  1. Kompromieë: Om ʼn koalisie te laat werk, moet partye dikwels kompromieë aangaan. Dit kan beteken dat nie alle beloftes aan kiesers nagekom kan word nie en dat partye met ander moet saamwerk waarmee hulle (en hul kiesers) dalk nie saamstem nie.
  2. Onstabiliteit en konflik: As daar groot meningsverskille tussen die koalisievennote is, kan dit tot onstabiliteit en konflik binne die regering lei, wat besluitneming kan vertraag. Hierdie is waarskynlik die een nadeel wat ons die meeste in Suid-Afrikaanse koalisies sien.
  3. Moeilike regeringsvorming: Die proses om ʼn koalisie te vorm, kan lank neem, veral as daar baie onderhandeling nodig is. Dit kan ʼn tydelike onsekerheid skep oor wie die land gaan regeer. Sommige lande kan tot maande lank onderhandel om te besluit hoe ʼn koalisie gaan lyk. In Suid-Afrika het partye egter net twee weke ná ʼn verkiesing om ʼn koalisie te vorm.

Wat maak ʼn goeie koalisievennoot?

Om te sê watter politieke partye die “beste” of “slegste” koalisievennote in Suid-Afrika is, kan baie subjektief wees en hang van die perspektiewe en politieke doelwitte van die onderskeie partye af. 5

Verskillende partye het verskillende beleidsprioriteite, ideologieë, en doelwitte, wat beteken wat vir een party ʼn ideale vennoot mag wees, mag vir ʼn ander minder goed wees. Ook kan die dinamika tussen partye oor tyd verander, afhangende van die politieke landskap, kiesers se mening of gevoel, en die sukses van vorige koalisies.

Partye met soortgelyke of versoenbare beleidsprioriteite en ideologieë vind dit dikwels makliker om saam te werk. Hoe meer partye oor goed saamstem, hoe makliker is dit natuurlik vir hulle om saam te werk en koalisies met mekaar te vorm.

Partye wat as betroubaar en stabiel beskou word, met ʼn geskiedenis van die nakoming van ooreenkomste, maak dikwels beter vennote. Wanneer ʼn party ʼn geskiedenis van gebroke ooreenkomste het, sal ander partye meer skrikkerig wees om in die toekoms weer met hulle ooreenkomste en koalisies aan te gaan.

ʼn Goeie koalisievennoot is ook een wat bereid is om te onderhandel en kompromieë te maak vir die groter doel van die koalisie. Partye wat oor niks wil onderhandel nie of wat ander partye wil voorsê oor alles, sal slegte koalisievennote maak. Aanpasbaarheid en buigsaamheid is aan die kern van koalisievorming en -samewerking.

Wat maak koalisievorming moeilik?

Wanneer partye baie verskillende of teenstrydige ideologieë het, kan dit moeilik wees om oor beleidskwessies ooreen te kom. Hoewel ʼn mens aanpasbaar moet wees, moet partye natuurlik ook by hul eie beleid en waardes hou – anders kan kiesers dalk voel dat hul party hulle verraai deur in koalisie te gaan met ander partye waarmee hulle lynreg verskil.

Dit gaan dus alles oor die regte balans!

Partye wat ʼn geskiedenis van openbare konflik of meningsverskille het, kan dit moeilik vind om vertroue en samewerking te bou. Partye wat as onstabiel of onbetroubaar beskou word, kan risiko’s vir ʼn koalisie inhou. Sommige partye stel nie eintlik daarin belang om koalisies te vorm om te regeer nie, maar wil net met ander partye baklei en onstabiliteit veroorsaak. Dit sal baie moeilik wees om dié partye te vertrou en met hulle saam te werk.

Koalisies in Suid-Afrika

In Suid-Afrika het die stabiliteit van koalisies oor die afgelope 30 jaar baie gewissel. Sommige koalisies is al vir jare lank baie stabiel en suksesvol, terwyl ander weer van die begin af onstabiel en problematies was.

Daar was in Suid-Afrika nog nooit koalisies op provinsiale of nasionale vlak gevorm nie, wat beteken die enigste voorbeelde is koalisies op munisipale vlak.

Een voorbeeld van ʼn uiters suksesvolle koalisie is dié van die Stad Kaapstad (DA-geleide koalisie). Sedert 2006 het die Demokratiese Alliansie (DA) hoofsaaklik beheer oor die Stad Kaapstad gehad, met periodes van koalisiebestuur. Hierdie koalisie is oor die algemeen as suksesvol beskou vanweë goeie dienslewering en stabiele bestuur.

Nog ʼn voorbeeld is dié van die Midvaal-munisipaliteit (DA-geleide koalisie). Die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng het onder DA-leiding as ʼn voorbeeld van doeltreffende plaaslike regering en stabiliteit in koalisiebestuur gestaan, wat as ʼn positiewe model in die Suid-Afrikaanse politiek uitstaan.

Daar is ongelukkig ook baie voorbeelde van onstabiele en onsuksesvolle koalisies op plaaslike vlak. Verskeie groot stede soos Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai het ná die 2016-verkiesing koalisies probeer vorm wat wisselende grade van stabiliteit getoon het. 6

Hierdie koalisies, wat dikwels party soos die DA, EFF, UDM, ANC en verskeie ander kleiner partye ingesluit het, het verskeie uitdagings ondervind. Daar was probleme met leierskapsverandering, beleidskonflik, en stemmings wat die koalisie se meerderheid bedreig het.

Koalisies is kompleks en dinamies

Terwyl sommige koalisies in Suid-Afrika as meer stabiel beskou kan word as ander, is die algehele landskap van koalisiepolitiek kompleks en dinamies. Stabiliteit hang van ʼn verskeidenheid faktore af, wat dit soms moeilik maak om te voorspel en ontleed. Soos die politieke landskap ontwikkel, kan die aard van koalisies en hul stabiliteit verander. Hoe hierdie verandering ook al lyk, is dit belangrik om te verstaan dat koalisies hier is om te bly – in die politiek en in Suid-Afrika.

Woordbank

ekstremisme Baie sterk en dikwels gewelddadige oortuigings of optrede wat baie ver afwyk van wat die meeste mense dink.
ideologie ‘n Stel idees of oortuigings wat mense het oor hoe die wêreld moet werk en hoe regerings dinge moet doen.
koalisie Waar twee of meer partye saamwerk om ‘n regering te vorm.
koalisievennoot ‘n Party wat deel is van ‘n koalisie en saamwerk met ander om te regeer.
koalisie-ooreenkomste ‘n Ooreenkoms tussen partye om saam te werk in ‘n koalisie.
kompromieë Wanneer mense of groepe mekaar halfpad moet ontmoet en elkeen ‘n bietjie moet toegee om ooreen te kom.
meerderheid Meer as 50% van die stemme.
proporsionele verteenwoordigingstelsel ‘n Manier om mense in die regering te kies sodat die aantal setels wat elke party kry, gebaseer is op die aantal stemme wat hulle ontvang.
regeringsvorming Die proses om ‘n nuwe regering te vorm nadat ‘n verkiesing gehou is, dikwels deur koalisies en ooreenkomste.
subjektief Wanneer iets deur jou eie mening beïnvloed word en dus nie noodwendig korrek of regverdig is nie.

Loer en lees om meer te leer

 

Gepubliseer op: 6 Mei 2024 | Bygewerk op 1 Oktober 2024