Jan Smuts
Jan Smuts was in die 1900’s een van Suid-Afrika se invloedrykste politici. Hy het nie net ʼn aktiewe rol in die plaaslike politiek gespeel nie, maar ook ʼn reusebydrae op die gebied van internasionale politiek gelewer. As die Suid-Afrikaanse leier wat die langste ooit aan die hoof van die Suid-Afrikaanse regering was, het Smuts Suid-Afrika gelei om vrede ná ʼn bitter oorlog met Engeland te vind. Hy was ons land se eerste minister van 1919 tot 1924, en weer van 1939 tot 1948. (Vandag is die leier van ons regering die president, vroeër jare is hy die eerste minister genoem.)
Dié teruggetrokke en skrander strateeg het op die politieke wêreldverhoog gehelp om lande wêreldwyd te versoen ná twee bloedige wêreldoorloë. Hoewel Jan Smuts besluite geneem het wat hom dikwels baie ongewild by Suid-Afrikaners gemaak het, is sy bydrae tot die geskiedenis merkwaardig – hy was, onder andere, deel van die stigting van die Volkebond en die latere Verenigde Nasies.
Smuts die plaasseun
Jan Christiaan (dit word soms ook as Christian gespel) Smuts is op 24 Mei 1870 op die plaas Bovenplaats naby Riebeek-Wes in die Wes-Kaap as die tweede van ses kinders gebore. (Hy het drie boeties en twee sussies gehad.) 1
Sy ouers was Jacobus Abraham Smuts en Catharina Petronella (Philippina) Gerhardina de Vries. Jan se belangstelling in die politiek (wat gaan oor die beheer of bestuur van ʼn land) is waarskynlik aan sy pa te danke, wat later lid was van die Kaapse wetgewende vergadering vir Malmesbury, ʼn dorp naby die Smuts-gesin se plaas. 2
Vir die eerste ses jaar van Jan se lewe boer sy pa en oupa op Bovenplaats en in 1876 verhuis die gesin na die naburige plaas Klipfontein. Sy kinderjare op die plaas het ʼn vurige liefde vir die natuur, die plaaslewe en eenvoud by hom gekweek. 3
Net ná sy twaalfde verjaarsdag tref tragedie (ʼn baie hartseer ding) die Smuts-gesin: Jan se oudste broer, Michiel, sterf aan ingewandskoors. In daardie tye was dit die gebruik dat die oudste seun die geleentheid kry om te studeer. Hoewel sy ma hom geleer lees en skryf het, het Jan tot in daardie stadium geen formele skoolopleiding ontvang nie. Toe sy boetie oorlede is, het Jan op 12-jarige ouderdom vir die eerste keer in sy lewe die binnekant van ʼn skool in Riebeek-Wes betree. 4
Jan het aanvanklik ʼn bietjie klei getrap (gesukkel) met dié skoolganery omdat die onderwysers net in Engels klasgegee het, maar hy was ʼn slim seun en het binne vyf jaar sy maats, wat reeds van kleintyd af op die skoolbanke gesit het, ingehaal. Met sy eindeksamen (soos vandag se graad 12) vaar hy tweede beste in die hele Kaapkolonie! 4
Sestienjarige in Stellenbosch
As sestienjarige skryf hy by die Victoria College in (dit staan vandag as die Universiteit Stellenbosch of US bekend) 4 en neem vakke soos Nederlands, Duits, Antieke Grieks en Bybelkunde. 5
Dit is hier waar hy sy vrou, Sybella Margaretha Krige (Isie of Ouma Smuts soos almal haar genoem het), ontmoet. Isie se ouers was bekende wyn- en melkboere in Stellenbosch. In daardie tyd was dit ongewoon dat meisies matriek voltooi, maar Isie (sy was glo baie intelligent en kunstig, en ook effens eksentriek) vaar só goed op skool dat sy toegelaat word om aan die Victoria College te studeer. Hoewel dit haar droom was om ʼn dokter te word, kon haar ouers dit nie bekostig nie en sy besluit om haar as ʼn onderwyser te bekwaam. 2
In 1891 voltooi Jan en Isie hul grade. Jan ontvang ʼn beurs (ʼn bedrag geld wat iemand kry, amper soos ʼn borgskap, om by ʼn instansie soos ʼn universiteit of kollege te kan studeer) vir buitelandse (oorsese) studie en besluit om regte aan die Christ’s College in Cambridge, Engeland, te studeer. 6 Regte is die studie van hofsake en wette wat prokureurs en advokate moet slaag voordat hulle in ʼn hof kan verskyn.
Isie bly in Suid-Afrika agter, maar studeer ook verder. In die tyd wat Jan weg is, leer sy om Afrikaans, Nederlands, Duits, Grieks, Frans en Engels vlot te praat, en oor die volgende vier jaar skryf hulle gereeld briewe vir mekaar. Later jare het Isie Jan se boeke na Engels vertaal. 2
Hoewel Smuts aan die begin gesukkel het om in Cambridge aan te pas (hy was baie jonk, het anders as die ander studente grootgeword, en het baie na die huis en plaaslewe verlang), het hy gou sy voete gevind en uitstekend op akademiese gebied gevaar. Trouens, Smuts word as een van Cambridge se beste regstudente van alle tye beskou en in dieselfde asem as mense soos Charles Darwin (ʼn Britse natuurkundige en vader van die evolusieteorie) en John Milton (ʼn skrywer, digter en geskiedkundige) genoem! 1
By Cambridge het Smuts sy eie filosofie oor die lewe begin vorm. Hy’t dié filosofie holisme genoem. Holisme beteken dat die geheel (of somtotaal) van ʼn sisteem of stelsel belangriker is as die kleiner dele waaruit dit bestaan. Om iets te verstaan, moet jy dus na die geheel kyk en nie net na die kleiner, afsonderlike dele nie. As jy dus wil weet hoekom iemand optree soos hy of sy doen, moet jy kyk hoe die persoon saam met ander is (met ander omgaan/interaksie het). Reduksionisme (wat ook reduksie of vereenvoudiging beteken) is die teenoorgestelde van holisme, en kyk eerder na die mens as individu of sisteem in sy eenvoudigste vorm om sekere afleidings of gevolgtrekkings te maak. Sy filosofie van holisme sou Smuts se besluite vir die res van sy lewe beïnvloed. 7
Dis byna soos ’n legkaart. Holisme kyk na die voltooide legkaart, terwyl reduksionisme die afsonderlike legkaartstukkies ondersoek.
Aan die einde van sy studies ontvang Smuts (of “slim Jannie” soos Afrikaanssprekendes hom genoem het) ʼn rits (klomp) akademiese pryse. In 1894 slaag hy die eksamen om as ʼn advokaat (“barrister”) in Engeland te werk. Christ’s College het hom ook ʼn werk as professor aangebied, maar hy besluit om in 1895 na Kaapstad terug te keer om sy eie regspraktyk te open en mense met hul regskwessies te help. 5
Paaie kruis met Rhodes
Smuts se regspraktyk maak nie sakke vol geld nie en hy besluit om vir die Engelse koerant The Cape Times te begin skryf. Hy raak al meer by die politiek betrokke en kry in 1895 die geleentheid om as Cecil John Rhodes se persoonlike regsadviseur (iemand wat advies of raad oor regskwessies gee) op te tree. In daardie stadium was Rhodes nie net in die politiek bedrywig nie, maar het ook die wêreldbekende De Beers-mynmaatskappy (veral bekend vir die myn van diamantknewels) saam met Charles Rudd op die been gebring. Smuts se skouerskuurdery met Rhodes het hom baie kritiek van veral Afrikaanse mense op die hals gehaal, maar hy het lojaal aan Rhodes gebly. 5
Kort nadat Smuts vir Rhodes begin werk het, gee Rhodes opdrag aan luitenant Jameson om die destydse Transvaal in te val (die Jameson-inval) en oor te neem, maar dit misluk. 8
Smuts is woedend en bedank onmiddellik by De Beers, want hy’t gevoel Rhodes het hom verraai. Hy pak sy tasse en verhuis na Johannesburg om ʼn regspraktyk daar te begin, maar ook hiér wil sy regsonderneming net nie behoorlik van die grond af kom nie. In 1896 trek hy Pretoria toe. Hoewel hy voorheen ʼn groot ondersteuner van Engeland was, toer hy deur Suid-Afrika om mense te waarsku dat Engeland Transvaal en Oranje-Vrystaat wil oorneem. 5
Die president se regterhand
Agter die skerms het die briefwisseling tussen Smuts en sy studenteliefde, Isie, voortgeduur. In 1897 besluit Smuts dié hofmakery moet nou rigting kry en neem ʼn trein van Pretoria na Stellenbosch. Daar aangekom, het hy douvoordag (05:00 die oggend, om presies te wees) voor die Kriges se deur gestaan om Isie te vra om met hom te trou. En op 30 April 1897 word Isie Krige mevrou Isie Smuts. 2
1898 was ʼn groot jaar vir Jan Smuts. Nie net word hy op die ouderdom van 28 deur president Paul Kruger van Transvaal as staatsprokureur aangestel nie, maar Isie raak swanger. 9
Die egpaar se tweeling, ʼn dogtertjie en ʼn seuntjie, sterf ongelukkig met geboorte. In 1899, net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (ABO) tussen Engeland aan die een kant en Transvaal en die Oranje-Vrystaat aan die ander kant, is Jacobus (Kosie) Abraham Smuts gebore. Vir die eerste nege maande van die oorlog bly Smuts meestal in Pretoria waar hy pres. Kruger help om reëlings te tref en vergaderings met Europese diplomate te hou in die hoop dat hulle die Boererepublieke in die oorlog kan help. Hy het wel elke nou en dan na die front (die gebied of plekke waar die oorlog geveg is) gegaan om boodskappe af te lewer en te kyk hoe dit met die Boere gaan. 5
Nadat Pretoria deur die Britte geannekseer is, stuur pres. Kruger vir Smuts na die gevegsfront. Isie word in hierdie tyd ernstig siek en toe sy die Engelse vra om na Stellenbosch na haar ouers te gaan, weier hulle. Lord Kitchener, wat die hoof van die Engelse magte was, stuur haar na haar suster Ella de Wet in Pietermaritzburg in die destydse Natal. Drie maande ná hul aankoms in Natal, sterf Kosie. Isie se hart was stukkend en sy’t nie eens geweet waar en hoe om Smuts in die hande te kry om dié hartseer nuus met hom te deel nie. Sy was só kwaad vir die Engelse dat sy op elke brief die posseël van die Britse koningin onderstebo geplak het sodat die koningin “op haar kop staan”. 2
Die Anglo-Boereoorlog-generaal
Onbewus van die tragedie van sy derde kind wat gesterf het, lei Smuts as generaal die Boerevegters tydens die oorlog. Sonder enige militêre opleiding, veg hy saam met generaal Koos de la Rey. Tydens die tweede gedeelte van die ABO, nadat die meeste groot dorpe deur Engelse troepe oorgeneem is, het die Boere hul sogenaamde guerilla-taktiek gebruik om die Britte op hul knieë te probeer dwing. 10 “Guerilla” is ʼn Spaanse woord wat “klein oorlog” beteken. 11
Die Boeresoldate het ʼn groot voordeel bo die Engelse gehad omdat hulle die omgewing goed geken het. Hulle het geweet waar om weg te kruip sodat die Engelse hulle nie sien nie. Tydens ʼn skermutseling (geveg) sou hulle vinnig uit hul skuilplek soos ʼn koppie kom, die Britte aanval en dan weer gaan wegkruip. Generaal De la Rey was ʼn meester in guerilla-oorlogvoering en Smuts het vinnig by hom geleer. 11
(Lees hier meer oor die Anglo-Boereoorlog en die Boere se unieke manier van oorlogvoering.)
Aan die einde van die oorlog was daar meer as 400 000 Engelse soldate teenoor die 18 000 aan die Boere se kant. 11 Smuts word teruggeroep na Transvaal om saam met die ander Boeregeneraals vir vrede te onderhandel. Tydens dié vredesgesprekke speel Smuts ʼn belangrike raadgewende rol. Hy stel ook die dokument saam waarop die Vrede van Vereeniging gegrond is. 5
Op 31 Mei 1902 word die Vrede van Vereeniging in Pretoria onderteken, wat die einde van die ABO beteken het. 12
Die Unie van Suid-Afrika
Ná die oorlog probeer Smuts weer om in Transvaal ʼn regspraktyk van die grond af te kry en in 1903 sluit Isie by haar man aan. 13
In dieselfde jaar is hul dogtertjie Susannah gebore, gevolg deur Catherine in 1904, en Jacob in 1906. Sybella maak in 1908 haar opwagting, en Jan jr. is in 1912 gebore toe Isie al 41 jaar oud was. 14
Ná die Anglo-Boereoorlog is Suid-Afrika deur Brittanje geregeer. Jan Smuts en generaal Louis Botha, wat hy tydens die oorlog baie goed leer ken het, stig in 1904 ʼn politieke party met die naam Het Volk. 15
Hul eerste doelwit was om ʼn regering bestaande uit Suid-Afrikaners vir Transvaal te stig. Hierna wou veral Smuts probeer om die Unie van Suid-Afrika te stig waar al vier provinsies van Suid-Afrika onder een regering bestuur word. Toe daar ʼn nuwe politieke party in 1906 in Engeland aan bewind kom, besluit hulle dat Transvaal wel hul eie regering mag hê. Botha word die leier van hierdie regering omdat Smuts in daardie stadium te jonk was. Botha stel hom wel in 1907 as minister van opvoeding in die Transvaalse regering aan. 11
Tussen 1907 en 1910 werk Smuts hard aan die idee om al vier Britse kolonies (die Kaap, Natal, Transvaal en Oranje-Vrystaat) onder een regering te verenig. In 1909 keur die Britse parlement ʼn wet goed wat tot die stigting van die Unie van Suid-Afrika lei. 11 Smuts skryf, onder meer, die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika. In die tyd wat hy deel van Botha se kabinet was, word hy oor verskillende staatsdepartemente soos binnelandse sake, verdediging en mynbou aangestel. 14
Die minister van verdediging is aan die hoof van die weermag, lugmag en vloot (skepe wat oorlog voer) van ʼn land. Wanneer daar ʼn oorlog is, neem die minister van verdediging belangrike besluite oor die oorlog. Voor die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika was daar verskillende weermagte in elk van die vier kolonies in Suid-Afrika. Smuts het in 1912 as minister van verdediging die Unieverdedigingsmag gestig om al dié verskillende eenhede te verenig en ná sy dood het dit die Suid-Afrikaanse weermag geword. 11
Volgens Smuts se filosofie van holisme het hy geglo dat Uniewording die ideale geleentheid vir Suid-Afrika was om deel te word van die magtige Britse Ryk, bestaande uit lande soos Australië en Indië (wat kolonies van Brittanje was). Hy was nog steeds ʼn Afrikaner, maar het geglo dat Afrikanerskap ondergeskik moet wees aan die doel om deel van die groter geheel van die Britse Ryk te word. Hy wou byvoorbeeld gehad het dat net Engels in skole gebruik word. Dit het hom natuurlik baie ongewild onder die Afrikaners gemaak. 16
Die groot skeiding tussen Suid-Afrikaners wat geglo het Suid-Afrika moet deel word van Engeland en diegene wat geglo het dat Suid-Afrika onafhanklik (afsonderlik) van Engeland moet wees, lei tot die stigting van die Nasionale Party deur J.B.M. Hertzog. Hertzog was deel van Louis Botha se kabinet, maar het nie saamgestem met die idee om deel van Engeland te word nie.
Die Nasionale Party word die Het Volk-party se grootste politieke teenstander (opposisie) en gee aan Suid-Afrikaners wat nie met die Het Volk-party saamgestem nie, ʼn alternatief om voor te stem. 17
In 1914 beveel Brittanje Suid-Afrika om Suidwes-Afrika (of Duitswes-Afrika – vandag staan dit as Namibië bekend) namens Brittanje in te neem. In daardie stadium was Suidwes-Afrika onder Duitsland se beheer, maar Brittanje wou ook dié deel aan die suidpunt van Afrika as ʼn Engelse kolonie eien. Vir Smuts en Botha was dit vanselfsprekend dat die Unie van Suid-Afrika Suidwes-Afrika namens Brittanje sou oorneem, maar baie mense en soldate van die Unieverdedigingsmag het glad nie hiermee saamgestem nie. 18
Op 22 Oktober word ʼn vergadering naby Koppies in die Vrystaat gehou. Daar word besluit dat die soldate wat nie namens Brittanje wil veg nie, wel onder generaal Beyers en De Wet gaan veg. Die rebelle, soos die soldate genoem is wat in opstand teen Louis Botha gekom het, het nie baie wapens gehad nie en is maklik op verskillende plekke deur die Unieverdedigingsmag verslaan (oorwin). In Desember 1914 word Jopie Fourie, een van die leiers van die Rebellie wat geweier het om aan die kant van die Unieverdedigingsmag te veg, op Smuts se bevel doodgeskiet. Fourie se fusillering was die einde van die Rebellie.
Sowat 12 000 rebelle word óf in die tronk gegooi óf is stewige boetes opgelê. Botha en Smuts se regering het die Afrikaners baie ontevrede gemaak. Hierdie ontevredenheid is een van die redes waarom die Nasionale Party sterker geword en in gewildheid toegeneem het. 18
Die Unieverdedigingsmag kon eers in Julie 1915 daarin slaag om Suidwes-Afrika oor te neem. Altesaam 529 Suid-Afrikaanse en 1 188 soldate van Suidwes-Afrika is in dié oorlog dood. Die suksesvolle oorname van Suidwes-Afrika was amper soos ʼn oefenlopie vir die Unieverdedigingsmag om aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem. 19
Die Eerste Wêreldoorlog
Ná die Rebellie was Smuts slaggereed om aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem en meld op 19 Februarie 1916 vir diens in Oos-Afrika aan. In die tien maande wat hy die bevelvoerder (hoof of leier) van die geallieerde magte (lande wat teen Duitsland in die Eerste Wêreldoorlog geveg het) se soldate in Oos-Afrika was, kon hy egter nie daarin slaag om die Duitse magte te oorwin (verslaan) nie. Hy word deur David Lloyd George, toe Brittanje se eerste minister, gevra om in Engeland se oorlogskabinet te dien en die Britte in die oorlog te help. Smuts help met oorlogbesluite en neem die leisels van al die lugmagte oor, wat uiteindelik lei tot die totstandkoming (stigting) van die Britse Koninklike Lugmag. 20
Smuts bly in Engeland tot die oorlog verby is. Ná die oorlog is daar ʼn konferensie (vergadering) met 32 lande gehou waar die Verdrag van Versailles opgestel is. Dié verdrag het bepaal hoe Duitsland vir sy aandeel in die oorlog gestraf sou word. Daar is ook besluit wat om met lande soos Suidwes-Afrika wat deur ander lande oorgeneem is, te doen. Die verdrag het byvoorbeeld bepaal dat Suid-Afrika Suidwes-Afrika namens Brittanje sou bestuur. 21
Smuts het egter gewaarsku dat die straf teen Duitsland te erg was en dat dit eendag weer tot ʼn oorlog kon lei. Ondanks sy waarskuwings, word die Verdrag van Versailles op 28 Junie 2019 in Parys, Frankryk onderteken. 22
Talle wêreldleiers het kopgekrap oor wat gedoen kon word om nóg ʼn wêreldoorlog te verhinder (keer). Woodrow Wilson, die president van die Verenigde State van Amerika (VSA) ná die Eerste Wêreldoorlog, het geglo dat ʼn internasionale organisasie wat uit baie lande bestaan, genoeg sou wees om oorloë tussen lande te keer. 23
Nog ʼn veer in Smuts se hoed is die dokument wat hy opgestel het en waarop die Volkebond gebaseer is. Hierdie dokument het die beginsels en die implementering van dié internasionale organisasie en voorloper van die Verenigde Nasies bepaal. 23
Plaaslike politieke loopbaan
Met Smuts se terugkeer na Suid-Afrika in 1919, dieselfde jaar waarin Louis Botha sterf, word hy die nuwe eerste minister van Suid-Afrika. Hy is sommer met die intrapslag deur baie uitdagings in die gesig gestaar, soos ontevredenheid oor Suid-Afrika se swak naoorlogse ekonomie, stakende mynwerkers (mense wat vir ’n bepaalde tyd ophou werk om byvoorbeeld beter betaling of beter werkomstandighede te eis) en ʼn groeiende (toenemende) gevoel van Afrikanernasionalisme. 17
Sy besluit om stakings met geweld te onderdruk, het hom baie ongewild gemaak, veral die voorval in 1922 aan die Witwatersrand (vandag Johannesburg) toe ʼn vreedsame staking met geweld onderdruk is. Smuts se ondersteuners het al minder begin word. Altesaam 214 mense (meestal stakers) en 42 onskuldige mense is dood, en selfs Engelssprekende Smuts-ondersteuners het die rug op hom gedraai. 24
Die Arbeidersparty, wat hoofsaaklik deur Engelse werkers ondersteun is, smelt in 1924 met die Nasionale Party saam om die Arbeider-Nasionale Party te vorm en verslaan Smuts se Suid-Afrikaanse Party by die stembus. As leier van die opposisie (die party wat die grootste aantal setels naas die regerende party het) het Smuts tot 1933 ʼn bietjie uit die Suid-Afrikaanse politiek verdwyn. 17
Met die verskriklike droogte en die Groot Depressie van 1933 het Hertzog se regering se gewildheid getuimel. Voor die 1933-verkiesing besluit Hertzog en Smuts om ʼn koalisie (twee politieke partye wat saamwerk) te vorm. Hierdie koalisie vaar só goed tydens die verkiesing dat Hertzog en Smuts besluit om permanent saam te smelt. Hertzog was die Verenigde Party (VP) se leier en die eerste minister van die land. Ook in 1938 vaar die VP uitstekend in die nasionale verkiesing danksy Smuts en Hertzog se samewerking. 17
Die Tweede Wêreldoorlog
Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 lei weer tot onmin binne Afrikanergeledere. Hertzog het gevoel Suid-Afrika moet neutraal bly en nie aan die oorlog deelneem nie, terwyl Smuts op sy beurt gevoel het dat Suid-Afrika, net soos in 1915, sy kragte by dié van Brittanje moes snoer. Die Suid-Afrikaanse parlement het ʼn stemming oor die saak gehou en met ʼn meerderheid van dertien stemme besluit Suid-Afrika om wel aan die oorlog deel te neem. Hertzog bedank as eerste minister en in 1939 word Smuts opnuut die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika. 17
Net soos met die Tweede Wêreldoorlog was Smuts meer betrokke by Brittanje se oorlogspoging as by die sake van sy eie land. Hy word aangestel as veldmaarskalk, wat die hoogste rang is wat jy in die Britse weermag kan hê. Hierdie keer dien hy in Winston Churchill, die Britse eerste minister in daardie tyd, se oorlogskabinet, waar hy help om besluite oor die oorlog te neem. 17
Hoewel baie mense gevoel het dat Smuts nie sy gewig ten volle by Suid-Afrika ingegooi het nie, wen sy Verenigde Nasionale Suid-Afrikaanse Party die plaaslike verkiesing in 1943. 25
Aan die einde van die bitter bloedige Tweede Wêreldoorlog speel Smuts weer ʼn groot rol in die vredesonderhandelings. Hy skryf die Handves van Menseregte, wat die inleiding vir die Handves van die Verenigde Nasies – ʼn organisasie waaraan lande van die hele wêreld behoort – geword het. Smuts wou nie die foute van die Verdrag van Versailles herhaal deur die strafmaatreëls teen Duitsland te erg te maak nie. Wat merkwaardig is, is dat Smuts die enigste persoon was wat die vredesdokumente ná die einde van albei wêreldoorloë onderteken het. 17
Nalatenskap en laaste jare
Smuts se betrokkenheid by die internasionale politiek het hom telkemale aan die hakskeen gebyt en sy plaaslike gewildheid laat taan (afneem). Die Herenigde Nasionale Party, onder leiding van D.F. Malan, kraai gevolglik koning in die algemene verkiesing in 1948. 26
Smuts word in 1948 die eerste buitelander wat as die kanselier van die Universiteit van Cambridge in Engeland aangestel word. Dit het hom vir ʼn rukkie laat vergeet van sy nederlaag in die 1948-verkiesing.
Die skielike dood van sy oudste seun, Japie, tref hom baie diep. Vir die laaste twee jaar van sy lewe is hy steeds betrokke by die politiek in Europa en die Gemenebes-lande (al die kolonies of lande wat aan Brittanje behoort het). 5
Op 29 Mei 1950, ʼn week nadat daar ʼn groot partytjie vir sy tagtigste verjaarsdag in Johannesburg gehou is, kry Smuts ʼn beroerte. 6
Vir die volgende paar maande versorg Isie haar man tot hy in Augustus amper weer sy kragte herwin het. Op Maandagmiddag 11 September 1950 kom hy terug van ʼn uitstappie in die veld en kla van ʼn pyn in sy bors. Ná aandete gaan lê hy ʼn bietjie, maar sak later, in die teenwoordigheid van sy twee dogters, agteroor en sterf. 15
Smuts is in sy leeftyd bekroon met die Orde van Verdienstelikheid, die titel van veldmaarskalk, kanseliersposte en vele eredoktorsgrade van gesogte universiteite, die vryheid van talle stede, en die bewonderende vriendskappe van groot geeste soos Churchill en Roosevelt, en selfs die Britse koninklike familie.
Hy was ’n verbete vegter én vurige vredemaker.
Woordbank
advokaat | In Engeland word ʼn advokaat ʼn “barrister” genoem. ʼn Advokaat is ʼn persoon (litigant of regsgeleerde) wat sy kliënte in ʼn hof verdedig/vir ʼn persoon of saak pleit. |
geannekseer | Wanneer ʼn gebied of ʼn land deur ʼn ander land oorgeneem/ingelyf word (soos toe die Britse soldate Pretoria ingeneem het). |
diplomate | ʼn Persoon wat sy of haar land in ʼn ander land verteenwoordig; ambassadeur; gesant. |
eerste minister | Die eerste minister is die hoof van ʼn land. ʼn Eerste minister stel gewoonlik die ander ministers aan. |
eksentriek | Anders as die gewone; sonderling; eienaardig. |
filosofie | Wetenskap wat die kern en aard van kennis, die werklikheid, die bestaan, asook die betekenis van die lewe ondersoek; wysgerige denke. |
fusillering | As iemand met ʼn geweer doodgeskiet word as (militêre) straf. Gewoonlik is dié teregstelling deur ʼn vuurpeleton (ʼn klomp soldate wat gelyk skiet) gedoen. |
generaal | ʼn Generaal is die naam of die titel van die rang van iemand wat die hoogste of tweede hoogste rang onder ʼn kommandant-generaal of ʼn veldmaarskalk het; veldheer; strateeg. |
grondwet | Die “hoofwet” van ʼn land waaraan alle wette onderworpe is; konstitusie; onder alle omstandighede geldend. |
guerilla-oorlog | Dis ʼn ongewone wyse waarop oorlog gevoer word. Tydens aanvalle val klein groepies soldate vinnig aan en beweeg dan weer vinnig terug na hul skuilings. |
handves | Die reëls waaraan ʼn organisasie of land moet voldoen en dit gehoorsaam om deel van ʼn organisasie te wees; dokument waarin regsbeginsels vasgelê is. |
holisme | ʼn Filosofiese standpunt wat deur Jan Smuts ontwikkel/gehuldig is en berus op die idee dat die geheel van iets steeds belangriker is as die verskillende dele daarvan. |
ingewandskoors | Akute, aansteeklike bakteriese siekte; maagkoors; buiktifus. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kanselier | Nie-uitvoerende hoof van ʼn universiteit. |
koalisie | ʼn Verbond of ooreenkoms tussen twee politieke partye/moondhede teen ʼn gemeenskaplike teenstander/vyand. |
kolonie | Gebied wat deur ʼn ander land oorheers/beheer word. |
knewel | Iets wat baie groot is. |
militêre | Alles wat met die krygswese/oorlogvoering te doen het. |
minister | ʼn Lid van ʼn kabinet wat die land bestuur. ʼn Minister is gewoonlik die hoof van ʼn staatsdepartement, soos byvoorbeeld onderwys of finansies. |
nasionalisme | Die liefde wat ʼn persoon vir sy eie mense/volk, taal en kultuur het. |
politikus | ʼn Persoon wat hom of haar besig hou (wie se werk/beroep dit is) om die land te bestuur. |
professor | Titel van ʼn openbare dosent van die hoogste rang aan ʼn universiteit; hoogleraar. |
regering | Al die persone saam wat ʼn land bestuur; oppergesag; bewind; landsbestuur. |
regspraktyk | Die kantoor of sakeonderneming van ʼn advokaat of prokureur wat mense met regskwessies help. |
setels | Plek waar iets/iemand gevestig is; verteenwoordiger van ʼn politieke party in die parlement. |
skrander | Vinnig van verstand/begrip; slim; intelligent; skerpsinnig. |
strateeg | Persoon wat weet hoe om probleme te hanteer of te oorkom; krygskundige. |
verdrag | ʼn Ooreenkoms tussen twee of meer lande/state/magte. |
Volkebond | Organisasie van lande in 1919 opgerig om die vrede ná die Eerste Wêreldoorlog te handhaaf, ná die Tweede Wêreldoorlog opgehef en vervang deur die Verenigde Volkeorganisasie (VVO), wat vandag as die Verenigde Nasies (VN) bekendstaan. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Al was Smuts nie so gewild onder Suid-Afrikaners nie, is talle oorsese pryse aan hom toegeken.
- Die Anglo-Boereoorlog was een van Brittanje se duurste oorloë ooit.
- Smuts was ’n voorstander van segregasie (skeiding tussen verskillende rasse of bevolkingsgroepe, maar terselfdertyd ʼn baanbreker op die gebied van menseregte.
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Wat beteken holisme?
Die Smuts-familie het verkies om in hierdie plaashuis buite Pretoria te bly in plaas van die deftige woning wat vir die eerste minister van Suid-Afrika bedoel is. Smuts het baie keer die 16 km van Doornkloof na Pretoria gestap.
Smuts het ʼn hegte vriendskap met Winston Churchill gehad
Smuts het ʼn week ná sy tagtigste verjaarsdagvierings ʼn beroerte gehad
Met Smuts se dood het Suid-Afrika én die wêreld ʼn slim man verloor