James Madison
James Madison staan bekend as die vader van die Amerikaanse Grondwet. Dit is een van die belangrikste dokumente in die geskiedenis van die Westerse wêreld. Baie van Madison se idees oor hoe lande regeer moet word, vorm vandag nog die hoeksteen van suksesvolle demokrasieë.
Grootwordjare
James Madison is op 16 Maart 1751 in Port Conway, Virginia gebore. Sy ouers was James Madison en Nellie Conway. 1
Hy was die oudste van 12 kinders, waarvan sewe tot volwassenheid geleef het. 2 Madison het grootgeword op Montpelier (eers bekend as Mount Pleasant), sy familie se tabakplantasie in Virginia. 1
Madison was ’n sieklike kind, en sy gesondheid sou dwarsdeur sy lewe swak bly. 3
Opvoeding
Madison het waarskynlik sy eerste opvoeding by sy ma ontvang. 2 Hy was van jongs af nuuskierig, ondersoekend en hardwerkend. 4
Tussen 11 en 16 was hy in die skool van eerwaarde Donald Robertson, ’n Skotse onderwyser. Hy het belang gestel in ’n wye reeks vakke, onder meer aardrykskunde, wiskunde en Latyn. 2
Madison het by die College of New Jersey ingeskryf, wat vandag as die Universiteit van Princeton bekend staan. 1 Hy het in 1771 sy graadkursus, wat gewoonlik drie jaar duur, in twee jaar voltooi 4 omdat hy werklik hard gewerk het – hy het sommige nagte net vier ure geslaap! 5 Hy het uitgeblink in tale, wiskunde, aardrykskunde en filosofie. 2
Hy het daarna aangebly om nog ’n jaar onder die dosentskap van die universiteit se president te studeer. 3 Hy het in Hebreeus en politieke filosofie gespesialiseer. Madison was die universiteit se eerste nagraadse student. 2
Madison het nou ’n goeie opvoeding in geskiedenis, regeringsake en regte gehad. 6 Hy het egter nog nie ’n plan gehad vir wat hy ná universiteit wou doen nie. Dit het verander toe hy in die politiek betrokke geraak het. 7
Politieke loopbaan
In die vroeë 1770’s was Amerika op die vooraand van die Amerikaanse Vryheidsoorlog. Madison het baie in die verhouding tussen Brittanje en sy Amerikaanse kolonies belang gestel.
Toe die Amerikaanse kolonies besluit het om vir hul onafhanklikheid van Brittanje te veg, is hy as kolonel in die plaaslike burgermag aangestel. Hy was egter klein en sieklik, en hy het dus gou sy militêre loopbaan vir ’n politieke een verruil.
In 1776 het Virginia onafhanklikheid van Brittanje verklaar. Madison was ’n verteenwoordiger by Virginia se Konstitusionele Konvensie, die vergadering waar daar vir Virginia ’n nuwe grondwet opgestel is.
Daarna was hy lid van Virginia se parlement. Hy het hier vir Thomas Jefferson, die latere Amerikaanse president, ontmoet. Hy en Jefferson het lewenslange vriende geword.
Madison se vernaamste werk in die parlement was die stryd om vryheid van godsdiens. Hy het geglo dat godsdiens nie op mense afgedwing moes word nie. 1
In 1780 was hy, op 29-jarige ouderdom, die jongste afgevaardigde vir Virginia by die Kontinentale Kongres in Philadelphia. 4 Die Kontinentale Kongres moes Amerika se stryd teen Brittanje koördineer. 8 Tydens die Kongres het Madison ’n reputasie opgebou vir sy goed deurdagte argumente én vermoë om mense met verskillende idees te versoen. 2
In 1783 het hy die Kongres verlaat en teruggekeer na Virginia se parlement. 1 Hier het hy gewerk om ’n statuut vir godsdiensvryheid, wat oorspronklik deur Jefferson geskryf is, aanvaar te kry. Dit het in 1786 wet geword. 4
Stigtingsvader van die VSA se grondwet
Die Verenigde State van Amerika het in 1776 hul onafhanklikheid verklaar. Die Artikels van Konfederasie is daarmee saam geskep, om as Amerika se eerste grondwet te dien. Dit is in 1781 deur die Amerikaanse state bekragtig.
Hierdie artikels het Amerika ’n federasie gemaak. Dit beteken daar was ’n federale (ook genoem nasionale) regering vir al die state saam, maar die state (soos Virginia) kon steeds hul eie wette maak. Die state het egter soveel mag gehou dat hulle basies soos onafhanklike lande was. Die federale regering daarenteen het baie min mag gehad. Hulle kon byvoorbeeld nie die VSA se skuld afbetaal of ’n behoorlike weermag onderhou nie.
Amerika het die stryd teen Brittanje gewen en in 1783 hul onafhanklikheid gekry. In Mei 1787 is die Konstitusionele Konvensie in Philadelphia gehou. Die doel hiervan was om die Artikels van Konfederasie te hersien en die grondwet van die VSA te finaliseer. 1
Madison het in die maande voor die Konstitusionele Konvensie ’n intensiewe studie van wêreldregerings gedoen. Hy het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:
- Amerika moes ’n sterk federale regering hê om die state te beheer
- Belastinginvordering moes opgeknap word
- Daar moes ’n stelsel van wigte en teenwigte wees, sodat die verskillende dele van die regering ewe sterk sou wees. 1
Tydens die Konstitusionele Konvensie het hy sy idees, genaamd die “Virginia Plan”, voorgelê. 4 Sy belangrikste punt was dat skeiding van magte noodsaaklik was. Die drie takke van ’n regering: wetgewend (die mense wat die wette maak), regsprekend (die hof wat mense straf wat wette oortree) en uitvoerend (die president en daardie mense wat orde hou) moes heeltemal apart van mekaar funksioneer. 1
Daar was heelwat teenkanting teen sy idees, omdat dit die eerste keer ooit sou wees dat só regering ʼn geskep word. 2 Madison het egter sy opponente oortuig, en die skeiding van magte het as grondslag van die finale grondwet gedien. 1
Madison het tydens die Konstitusionele Konvensie gereeld en entoesiasties aan debatte deelgeneem. 6 Hy het ook tydens gesprekke en debatte deeglike notas gemaak, wat gebruik is toe hulle die finale weergawe van die nuwe grondwet geskryf het. 1
Vir al hierdie redes het Madison die bynaam “Vader van die Grondwet” gekry. 1 Madison het egter self gesê dat die Grondwet nie die “kind van een brein” was nie, maar “die werk van baie koppe en baie hande.” 6
Bekragtiging
Ná die Grondwet voltooi is, moes dit deur die state bekragtig word. Sommige state was teen die nuwe grondwet gekant omdat hulle gevoel het dat die federale regering nou té veel mag sou hê. 1
Om ondersteuning vir die Grondwet op te bou, het Madison en twee ander Amerikaanse stigters, John Jay en Alexander Hamilton, 6 die Federalist Papers – ’n reeks van 85 artikels, oftewel essays – geskryf waarin hulle hul ondersteuning vir die idees van die Grondwet verduidelik het. Dit is tussen 1787 en 1788 anoniem in koerante dwarsoor die VSA gepubliseer. 4
Hulle was suksesvol. Die Grondwet is in 1788 bekragtig en die nuwe regering het in 1789 in werking getree. 1
Madison moes spesifiek die regering van Virginia oortuig om die Grondwet te aanvaar. Om dit reg te kry, het hy belowe dat hy ’n Handves van Regte, in die VSA bekend as ’n Bill of Rights, sou skep wat by die Grondwet gevoeg sou word. Hy was self hierteen gekant, maar het besef dat kompromie nodig was. 7
Handves van Regte (Bill of Rights)
Die Handves van Regte is byvoegings of wysigings tot die Grondwet wat fundamentele regte, soos vryheid van spraak en vryheid van geloof, duidelik uitgespel het. 1
Madison se idees het as grondslag vir die finale Handves van Regte gedien. Ná lang debatte en hersienings is die Handves van Regte, wat uit 10 wysigings bestaan het, deur die state bekragtig. 3
Stryd in die Kongres
Madison het tussen 1789 en 1797 in die Huis van Verteenwoordigers gedien. 1
In die nuwe Amerikaanse Kongres was daar steeds konflik oor die kwessie van hoeveel mag die federale regering moes hê. Madison en Jefferson het veral met Alexander Hamilton, die leier van die Federale groep, vasgesit oor die idee van ’n nasionale bank. 1 Hamilton wou een skep, maar Madison en Jefferson het geglo dis ongrondwetlik, 3 en sou te veel mag aan finansiële leiers gee. 6
In 1790 het hulle tot ’n kompromie gekom: Die hoofstad van Amerika sou op die Potomac-rivier tussen Virginia en Maryland geleë wees, en in ruil daarvoor sou die federale regering die state se skuld betaal. 7
In 1792 het Madison en Jefferson in teenstand teen Hamilton se idees die Demokraties-Republikeinse Party, Amerika se eerste amptelike opposisieparty, gestig. 1
Minister van buitelandse sake, 1801-1809
Madison het in 1797 na Virginia teruggekeer, eintlik met die idee om uit die politiek te tree. 2
In 1800 is Jefferson egter as die Amerikaanse president verkies. Hy het Madison as sy minister van buitelandse sake (in Engels: Secretary of State) aangestel.
In hierdie amp het Madison onder meer gehelp met die Louisiana-aankoop van 1803, wat die grootte van die VSA amper verdubbel het. 1
In Europa het die Napoleontiese Oorloë sedert 1803 gewoed. Frankryk en Brittanje het gedurende hierdie oorloë op Amerikaanse skepe beslag gelê. 6 Madison en Jefferson het daarom die Handelsverbod (in Engels: Embargo Act) van 1807 aangeneem. 3 Hiervolgens is alle handel met Frankryk en Brittanje opgeskort. Die Handelsverbod was ʼn ramp vir die VSA se ekonomie en het die land in ʼn depressie gedompel. 6 Dit is in 1809 weer afgeskaf. 1
President
In die verkiesing van 1808 het Madison die Federaliste se kandidaat verslaan om die vierde president van die VSA te word. 1 Hy het met 70% van die stemme gewen, ’n verstommende oorwinning veral gegewe hoe ongewild die Handelsverbod was. 3
Oorlog teen Brittanje, 1812-1814
Die Napoleontiese Oorloë het voortgeduur. Brittanje het steeds beslag gelê op Amerikaanse skepe en Amerikaanse matrose gedwing om vir Brittanje te veg. 4 Madison het daarom in 1812 oorlog teen Brittanje verklaar. 1
Amerika was nie voorbereid op oorlog nie. Hulle het nie geld daarvoor gehad nie, en hul militêre mag was onvoldoende. Baie state was boonop nie bereid om wat hulle “Meneer Madison se oorlog” genoem het, te ondersteun nie. Ten spyte hiervan het die Amerikaanse magte goed gepresteer. Die weermag was wel swak, maar die vloot was sterk en goed gebou.
Madison is in 1812 as president herverkies, ten spyte van die probleme wat met die oorlog gepaard gegaan het en waarvoor hy blameer is.
Daar is weer ’n verbod op handel met Europa geplaas. Sommige state het gedreig om af te stig. In Augustus 1814 moes Madison en sy familie uit Washington DC vir Britse troepe vlug. Die Britte het Washington DC beset en die Withuis, die Kongresgebou (Capitol) en die Kongresbiblioteek afgebrand. 1
Die vredesverdrag van Gent is in Desember 1814 onderteken. 1 Die oorlog het op ’n dooie punt geëindig, en nie een kant het gewen nie. 7
Kort voor die nuus dat vrede gesluit is die Amerikaners bereik het, het nuus van ’n paar belangrike militêre oorwinnings hul bereik. Die belangrikste hiervan was generaal Andrew Jackson (’n latere Amerikaanse president) se oorwinning oor Britse magte in New Orleans. 6
Hierdie oorwinning het aan die oorlog ’n positiewe einde gegee, 1 en Amerikaners laat voel asof hulle die oorlog gewen het. 7
Madison is vir die foute blameer en vir die oorwinnings geprys. 1 Die oorlog het egter gelei tot ’n opwelling van Amerikaanse nasionalisme. 6
Ander stigtings
Die verloop van die oorlog het Madison laat besef dat ’n nasionale bank tog nodig was. Hy het sy na-oorlogse gewildheid gebruik om die stigting van ’n nasionale bank deur te voer. 7
Daarby het hy geld beskikbaar gemaak vir ’n staande weermag en vloot. 2
Persoonlike lewe
Madison het in 1794 vir Dolley Payne Todd, ’n weduwee met een seun, John Payne Todd, ontmoet. Hulle het in dieselfde jaar getrou. Hy was 43 en sy was 26. Hulle was vir 41 jaar getroud en altyd saam. 1
Dolley het die Withuis ’n bymekaarkomplek gemaak waar politici (en hul gades) van verskillende politieke partye beskaafde gesprekke kon hê, al het hulle polities verskil. Sy het dit reggekry om ’n omgewing te skep wat nie te formeel was nie, maar tog die gaste gerespekteer het. 2
Sy was ’n uitstekende gasvrou. Haar weeklikse onthale was baie gewild onder diplomate, politici en intellektueles. 5
Latere jare
Ná sy twee termyne as president het Madison Washington DC in 1817 verlaat en saam met Dolley teruggekeer Montpelier toe.
Hy het by regsake betrokke gebly. Hy het ook in 1826 die rektor van die Virginia-Universiteit (wat deur Jefferson gestig is) geword. 1
Madison was ’n entoesiastiese boer, maar nie baie suksesvol nie. 2 Dit was darem nie net sy eie skuld nie: Virginia se boerderybedryf het in daardie tyd agteruitgegaan. 7
Hy het ook finansieel gesukkel, deels omdat sy aangenome seun, John Payne Todd, ’n dobbelaar en alkoholis was, en hy hom finansieel probeer help het. 2
Madison was ’n slawe-eienaar en het nie ná sy dood sy slawe vrygestel nie. Hy het altyd getwyfel of wit en swart mense op gelyke voet kon saamwoon. 7 Hy was lid en later president van die Amerikaanse Koloniseringsgenootskap, wat vry, swart slawe uit Amerika in Afrika wou hervestig. 4
Madison het op 28 Junie 1836, in die ouderdom van 85 jaar, aan hartversaking gesterf. 1 Hy is by Montpelier begrawe. 7
Nalatenskap
Madison was ’n stil, intellektuele man. 3 Hy word steeds vandag as ’n groot denker, kommunikeerder en staatsman beskou. 1
Hy het die diepte en wydte van sy kennis gebruik om ’n nuwe soort regering te skep, een wat die regte van mense beskerm het. Sy idees het gehelp om die grondslag te lê waarop die Amerikaanse nasie gebou is. 3
Woordbank
af te stig | Om ’n nuwe groep uit ’n bestaande groep te vorm. |
afgevaardigde | Iemand wat na ’n vergadering gestuur word om die mening/standpunt van ’n vereniging/groep/regering te stel. |
Amerikaanse Kongres | Die wetmakende liggaam van die VSA, wat bestaan uit die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers. |
Amerikaanse Vryheidsoorlog | Stryd tussen Amerikaanse kolonies en Brittanje tussen 1775 en 1783. |
amptelike | Wanneer iets kom van iemand of iets wat gesag het. |
anoniem | Iemand wie se naam nie bekend gemaak word nie; naamloos. |
Artikels van Konfederasie | Die geskrewe dokument wat die funksies van die nasionale regering van die Verenigde State vasgestel het nadat dit onafhanklikheid van Groot-Brittanje verklaar het. |
bekragtig | Dit wettig maak; jou goedkeuring daaraan gee/heg. |
beset | Met geweld oorneem/inneem; in besit neem. |
beslag gelê | Konfiskeer; afneem/ in besit neem. |
blameer | Die skuld gee. |
burgermag | Die deel van die verdedigingsmag van ’n land wat nie deel is van die staande mag (permanente en heeltydse mag) nie. |
(Washington) DC | Washington DC is nie ’n staat nie, dis ’n distrik. DC staan vir Distrik van Columbia (vernoem Christopher Columbus). |
debatte | Besprekings op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisselings of ’n redes, bv. in ’n parlement. |
denker | Iemand met ʼn selfstandige oordeel; filosoof, peinser. |
demokrasieë | ’n Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, en gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg en van die media. |
depressie | Tydperk van ekonomiese insinking, onder meer gekenmerk deur swak verkope, lae pryse, geringe inisiatief, werkloosheid en geldskaarste. |
deurdagte | Iets waaroor goed nagedink en besin is. |
direkteur | Persoon wat bestuur of beheer uitoefen, veral een van ʼn groep persone (die direksie) wat die sake van ’n bedryf/maatskappy bestuur. |
dooie punt | ’n Geveg wat gestol het en nie verder gevoer kan word nie. |
dosentskap | Die leiding van ’n persoon wat les gee aan ʼn inrigting vir tersiêre onderwys. |
eerwaarde | ’n Predikant in sommige Christelike kerke. |
federasie | ’n Soort regeringstelsel bestaande uit ’n klomp state wat hulle eie sake bestuur, maar deur ’n nasionale regering beheer word. |
filosofie | Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek. |
fundamentele | Vernaamste, basies; wat die grondslag betref. |
gades | Huweliksmaats. |
gepaard gegaan | Verbonde met, saam met. |
grondwet | Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
hartversaking | Siektetoestand waarin die hart nie in staat is om ʼn persoon aan die lewe te hou nie. |
hersien | Nagaan en verbeter; verander; wysig. |
hervestig | Weer in ’n gebied gaan plaas waar daar tevore iets was. |
hoeksteen | Fondament, grondslag. |
Huis van Verteenwoordigers | Een van die twee kamers van die Amerikaanse Kongres, die wetgewende liggaam van die VSA. |
intellektueles | Dit hou verband met die vermoë om dinge te verstaan en intelligent te dink. |
inwydingsbal | Deftige dans wat gehou word wanneer iets die eerste keer gebeur. |
kandidaat | Iemand wat hom- of haarself beskikbaar stel vir ’n verkiesing tot ’n posisie in die openbare lewe, soos byvoorbeeld die posisie van ’n politikus. |
kolonel | ’n Offisier in die weermag, met ander woorde iemand wat bevel het oor gewone troepe. |
kolonies | Gebied wat aan ’n ander staat/moondheid onderhorig en daarvan afhanklik is. |
kompromie | Ooreenkoms waarin al die betrokkenes minder aanvaar as wat hulle oorspronklik wou hê; skikking waarby elke kant iets toegee. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande. |
Konstitusionele Konvensie | ’n Vergadering van afgevaardigdes om ’n nuwe grondwet aan te neem of ʼn bestaande grondwet te hersien. |
Kontinentale Kongres | Die Kontinentale Kongres was die beheerliggaam waardeur die Amerikaanse koloniale regerings hul weerstand teen Britse heerskappy gedurende die eerste twee jaar van die Amerikaanse Revolusie gekoördineer het. |
koördineer | Om baie verskillende dinge as ’n geheel goed/effektief te laat werk. |
nagraadse student | Studies wat ’n mens ná voltooiing van jou eerste graad kan doen. |
nasionalisme | Liefde vir jou eie volk of nasie. |
omkopery | Met geld of ʼn geskenk omhaal/oorhaal om iets slegs/onwettigs te doen. |
onafhanklikheid | Die reg om jouself te regeer. |
ongrondwetlik | Teen die grondwet, met ander woorde teen die wette van die land. |
op die vooraand | Net voor/vlak voor, maar figuurlik bedoel; nie noodwendig die aand voor nie. |
op gelyke voet | Eenders, dieselfde. |
opgeskort | Om iets op te hou doen en uit te stel na ’n later datum. |
opponente | Teenstanders (in sport, politiek, ens.) |
opposisieparty | Die belangrikste politieke party wat nié deel van ʼn land se regering is nie. |
opwelling | Toename, styging. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
plantasie | Stuk grond waarop bome of ander plante aangeplant is; terrein waarop suiker/katoen/koffie/tabak, ens. gekweek word. |
politieke filosofie | Studierigting wat die betekenis van politiek en regerings ondersoek. |
president | Voorsitter. |
regte | Die Wet. |
rektor | Hoof van ’n universiteit. |
reputasie | Dit waarvoor iemand bekend is. |
skermutseling | Botsing of geveg tussen vyande. |
staande weermag | ’n Weermag wat altyd gereed is, gewoonlik met professionele soldate. |
staatsman | ’n Politikus. |
state | Nasies of gebiede as georganiseerde politieke gemeenskappe onder een regering. |
statuut | Wet. |
uitgeblink | Besonder goed presteer. |
vader | Die stigter of voorganger van iets nuuts. |
versoen | Bymekaarbring; vyandskap tot ʼn einde bring; die vrede herstel. |
verteenwoordiger | ’n Persoon wat aangestel is om iemand anders/ʼn instansie te verteenwoordig, om namens hom/haar/ʼn instansie op te tree. |
vloot | Die afdeling van die gewapende magte van ’n land/staat wat militêre operasies op see uitvoer. |
weeshuis | Inrigting vir die versorging van weeskinders/kinders wat nie ouers het nie. |
Westerse | Dinge wat te doen het met lande wat uit Europa afstam of Europese gebruike aanneem. |
wigte en teenwigte | Twee dinge wat saam balans bewerkstellig, in hierdie geval, waar al die verskillende dele van die regering ewe veel mag het en dus in balans is. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor James Madison
- Wie was James Madison?
- Wat was die Kontinentale Kongres?
- Washington DC is as gevolg van ’n kompromie wat Madison aangegaan het, as Amerika se hoofstad aangewys
Kyk hierdie video’s om jou kennis verder te verbreed
James Madison (kort biografie)
Die Amerikaanse Konstitusionele Konvensie
Meer oor die Konstitusie en Madison se drie groot idees
Die VSA se Bill of Rights (Handves van Regte)
Dolley Madison – gewilde, geliefde en gerespekteerde presidentsvrou
Só lyk die binnekant van Montpelier
Die Oorlog van 1812
Tien interessante feite oor James Madison