Vinnige feite

  • Lande soos Amerika, Australië, Kanada, Oostenryk, Spanje en Switserland het ’n federale stelsel. Dit beteken eintlik net dat mag tussen die nasionale regering en die verskillende state of provinsies se regerings verdeel word. Baie Europese lande het weer unitêre stelsels, waar die nasionale regering al die mag het en alle ander afdelings is ondergeskik daaraan. 3
  • Ongeveer 25 lande is federasies. 3
  • Die 25 lande verteenwoordig egter ongeveer 40% van die wêreld se bevolking. Ons kan dus sê dat byna die helfte van die wêreld se mense onder ’n federale politieke stelsel regeer word.
  • Nie alle lande met federale stelsels verdeel mag op dieselfde manier nie. In sekere lande soos Nigerië is die nasionale regering verantwoordelik vir omgewingsbeskerming, terwyl dit in Maleisië verdeel word. 3
  • Met Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994, was daar partye, soos die Nasionale Party (NP), wat gevra het dat Suid-Afrika federalisme moes implementeer, maar die African National Congress (ANC) was gekant daarteen en wou ʼn unitêre staat met ʼn sterk sentrale regering en plaaslike owerhede hê. Daar is vandag nog partye in Suid-Afrika wat glo dat federalisme die antwoord op baie van Suid-Afrika se probleme is.
  • Die Anti-Federalists (antifederaliste) was ʼn groep van politici, soos Patrick Henry, in vroeë Amerikaanse geskiedenis wat gekant was teen ’n federale regering. Hulle het nie gehou van die idee van ’n sterk sentrale regering, soos wat die Amerikaanse grondwet van 1787 voorgestel het, nie. Die gevolg daarvan was dat ’n Handves van Regte by die Grondwet gevoeg is. 5
  • Daar was eens op ’n tyd ’n federalistiese politieke party genaamd The Federalist Party in Amerika, maar dit het omtrent teen 1828 doodgeloop. 6
Foto: iStock

As graadeentjie het jy gewoonlik die heeldag in een klas gebly, maar soos jy ouer geword het, het jy begin om klasse te wissel en moes byvoorbeeld na die wiskunde- of kunsklas toe loop. Só het jy nuwe onderwysers leer ken en gesien dat elkeen sy of haar eie reëls in die klas het. Sommige reëls sal tussen onderwysers ooreenstem, soos om nie in die klas te gesels as julle moet werk nie, maar daar is ook reëls wat vir spesifieke vakke geld. In die natuurwetenskapklas mag jy dalk nie met die apparate in die klas peuter nie, en in die wiskundeklas mag jy weer nie die somme met ’n sakrekenaar uitwerk nie. Benewens elke klas se eie reëls, het die skool ook reëls, soos dat kinders sekere skooldrag moet dra en dat seuns se hare kort en netjies gesny moet wees.

Nou sal jy vra, wat op aarde het federalisme met skoolreëls te make? Eintlik nogal heelwat. Ons kan die skool met ’n nasionale (of sentrale) regering vergelyk en die verskillende klasse met verskillende provinsies of state in ’n land soos Amerika. Amerikaanse state verskil byvoorbeeld van Suid-Afrikaanse provinsies in die sin dat sekere wetgewing byvoorbeeld net van toepassing is in een staat, en nie dieselfde is as in ander state nie, waar in Suid-Afrika dieselfde wette tans in alle provinsies geld. Dit is omdat Amerika ’n federale regeringstelsel het. 1

Federalisme is ’n beweging wat ’n federale staatsopbou nastreef. ’n Federale staatsopbou bestaan uit ’n groep state wat hul eie sake bestuur, maar word beheer deur ’n nasionale regering wat besluite oor buitelandse sake, verdediging, en dies meer maak. Die woord word van die Latynse woord foedus afgelei. Die woord beteken ‘verdrag’. 2

Groepe mense het dikwels ’n paar dinge gemeen, maar net soos hulle ooreenstem, so verskil hulle ook van mekaar, en federalisme maak dit vir hulle prakties moontlik om binne een stelsel te werk en regeer te word. Dit is moontlik deur mag te deel oor die dinge wat hulle gemeen het, soos internasionale handel, maar om beheer te hou oor die dinge wat net vir hulle belangrik is, soos die onderwys en gesondheidsorg in hul omgewing. 1

Federalisme werk dus besonder goed vir groot lande soos Amerika, Indië en Brasilië. Dit is gewoonlik ook geskik vir lande met baie kulture en groot groepe mense wat in verskillende gedeeltes van die land bly. Hulle kan dan hul eie identiteit behou, of dit nou op grond van taal of godsdiens is. Goeie voorbeelde van lande waar dit so werk, is België, Switserland en Nepal. 3

’n Mens moet egter versigtig wees om te dink dat federalisme slegs behels dat ’n land in kleiner streke, soos provinsies, verdeel word. Dit is nie waar nie. Lande word in die algemeen in kleiner gedeeltes soos provinsies verdeel, maar dit beteken nie dat hulle hulself noodwendig regeer nie. Federalisme behels juis dat elke gedeelte (soos state) hul eie wetgewing moet hê. 1

Geskiedenis van federalisme

’n Fransman genaamd Montesquieu was glo die eerste wat die idee van federalisme bekendgestel het. Hy het in sy 1748-boek The Spirit of Laws die eerste poging aangewend om federalisme te beskryf. Hy het die Antieke Grieke en Romeine se state bestudeer en gevind dat daar al vorme van federalisme bestaan het, hoewel hulle nie dié woord daarvoor gebruik het nie. 4

Montesquieu

Daar is dus in die geskiedenis van die Antieke Grieke voorbeelde van federalisme voor Amerika dit bekend gemaak het. ’n Griekse federale staat is ’n koinon of sympoliteia genoem. ’n Federale staat het uit ’n aantal stadstate, kleiner dorpe of groepe bestaan.

Johannes Althusius het in sy 1603-boek Politica Methodice Digesta ’n spesifieke regeringsmodel wat op federalisme gegrond is, beskryf. Hy het gevoel dat gemeenskappe deur hul eie regerings verteenwoordig moet word en dat ’n sentrale regering nie alles moet beheer nie. Baie mense beskou dit as die eerste moderne teorie van federalisme.

Johannes Althusius

Immanuel Kant het in 1795 in sy boek Perpetual Peace: A Philosophical Sketch geskryf dat nasies ’n federasie van vry state moet hê as hulle vrede wil nastreef. Hy het geglo dat ’n federasie die enigste manier is om vrede te reguleer.

Immanuel Kant

Die werk van Pierre-Joseph Proudhon is ook baie belangrik as daar na federalisme verwys word. Hy het sy federalistiese teorie teen die middel van die 19de eeu geskryf. Hy het geglo dat federalisme nodig is om individue en hulle regte teen ’n staat wat hulle kan onderdruk, te beskerm.

Pierre-Joseph Proudhon

Kenmerke van federale stelsels

Federale stelsels het twee vlakke van regering. Die eerste vlak is ’n sentrale (nasionale) vlak van regering, wat die hele land regeer ten opsigte van dinge wat belangrik vir almal is. Dit is dinge soos burgerskap, die verdediging van die land (weermag, lugmag en vloot), handel met ander lande, buitelandse beleid en nasionale infrastruktuur, soos hawens en lughawens. Die tweede vlak van die regering is die een wat die verskillende streke soos state of provinsies beheer. Elke staat het dan sy eie wetgewing en stel sy eie beleide in ten opsigte van aspekte soos gesondheidsorg en onderwys. 3

Nog ’n kenmerk is dat daar sekere prosesse en meganismes in plek moet wees sodat die verskillende state of provinsies by die besluitneming van die sentrale regering betrokke kan wees. Dit is gewoonlik in die parlement of senaat. In Australië en Argentinië word elke staat byvoorbeeld in die senaat deur hul verkose senatore verteenwoordig.

Parlementsgebou, Australië, Canberra

’n Verdere kenmerk is dat die magte en verantwoordelikhede van die verskillende regerings in die grondwet gestipuleer moet word, sodat dit nie maklik verander kan word nie. 3

Wat van Suid-Afrika?

Suid-Afrika het drie regeringsvlakke: nasionaal, provinsiaal en plaaslik (munisipaal). Suid-Afrika is nie ’n federale staat nie, want ons provinsiale en plaaslike regerings is ondergeskik aan die nasionale regering, wat beteken hulle moet steeds doen wat ons nasionale regering vir hulle sê om te doen.

Hulle is verantwoordelik vir die uitvoering van nasionale wette en beleid, maar mag nie hul eie reëls sonder die nasionale regering afdwing nie. Ons het dus in wese ’n unitêre staat. As ’n staat ’n unitêre regeringstelsel het, beteken dit dat die nasionale regering al die mag besit en al die ander afdelings (soos die provinsiale regerings en munisipaliteite) onderdanig is daaraan. Landsburgers stem ook in Suid-Afrika wie in beheer van die verskillende regeringsvlakke moet wees, so dit is streng gesproke moontlik dat drie verskillende partye die drie regeringsvlakke binne een sfeer van die stelsel op een stadium kan regeer.

Parlementsgebou, Kaapstad

Woordbank

burgerskap Lid van ’n stad of staat. 2
ondergeskik Onder iemand se bevel, van ’n laer rang of van iemand afhanklik is.
regering Die bestuur van ’n land. 2
staat ’n Land of waar ’n groep mense ’n bepaalde gebied bewoon, polities georganiseer onder ’n soewereine regering wat die mag besit om reg en orde in die gemeenskap te handhaaf. 2

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor federalisme

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor federalisme

Wat is federalisme?

Federalisme in Amerika

Verskille tussen regeringstelsels

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Maart 2023 | Bygewerk op 23 Januarie 2024