Die Withuis

ʼn Mens sien dit dikwels in televisiereekse, op die nuus en in rolprente: groot, indrukwekkende geboue waar magtige wêreldleiers woon en regeringsamptenare werk. Dié geboue is nie om dowe neute so bekend nie, want baie besluite word hier geneem wat ʼn groot invloed op die geskiedenis het – van oorloë beplan en strategieë slyp, tot vrede sluit en vriendskapsbande tussen verskillende lande smee (vorm).

In sommige van dié geboue word nét gewerk, met ander woorde dit huisves die administratiewe kantore en raadsale van mense wat vir ʼn regering werk, soos ministers, terwyl ander die woonplek van die leier (byvoorbeeld die president of eerste minister) van daardie spesifieke land is. Sommige is egter woon- én werkplek, huis én kantoor van die magtigste mense op ons planeet.

Die Withuis in Washington D.C. in die Verenigde State van Amerika (VSA) is een van die wêreld se bekendste regeringsgeboue. Dit is ook die enigste privaat woning van ʼn staatshoof (leier van ’n land) wat gratis deur die publiek besoek mag word. Sekere dele is egter hoogs geheim en privaat, en talle mense bespiegel oor wat presies alles in én onder die Withuis skuil.

Hoewel rolprent- en televisiespanne nog nooit toegelaat is om binne die Withuis te verfilm (videomateriaal af te neem) nie, speel meer as 160 rolprente en tientalle televisiereekse in en om dié bekende gebou af. Dit is natuurlik danksy rekenaartegnologie (in Engels: “computer-generated imagery” of CGI) en dekorstelle (replikas) wat gebou is om presies soos die ware Jakob te lyk. Dink aan rolprente soos White House Down, Olympus Has Fallen en Independence Day, en televisiereekse soos 24, Scandal, Designated Survivor en The West Wing. 1

Die statige Withuis in Pennsylvanialaan 1600, wat op 7,3 hektaar (byna 73 000 m2) lowergroen grond staan, is die woon- en werkplek van die Amerikaanse president en sy familie. Dit is nie net ʼn museum propvol Amerikaanse geskiedenis nie, maar ʼn groot kompleks met pragtige tuine waar wêreldleiers ontmoet en onthaal word, en waar die geskiedenis daagliks ontvou. 2

Geskiedenis van die Withuis

George Washington, die heel eerste Amerikaanse president, het die terrein vir die Withuis reeds in 1791 gekies en die hoeksteen is op 13 Oktober 1792 gelê. Die aanvanklike gebou is deur die argitek James Hoban, wat in Ierland gebore is, ontwerp. 3

Konstruksie is deur slawe gedoen, het meer as agt jaar geneem en ongeveer $232 372 gekos. 4 In vandag se geldwaarde is dit meer as $7 miljoen of  sowat R125 miljoen. 5 Ofskoon die Withuis deur die Amerikaners as van onskatbare waarde geag word, meen sommige dit is sowat $397,9 miljoen (meer as R7 miljard) werd. 6

Hoewel George Washington opdrag gegee het vir die konstruksie van die Withuis, die terrein (plek waar dit gebou moet word) gekies het én die argitekplanne goedgekeur het, het hy nooit die voorreg gehad om daar te woon nie. Washington se ampstermyn het in 1797 geëindig, drie jaar voordat die Withuis in 1800 voltooi is. Hy is in 1799 oorlede, wat beteken dat hy nooit sy voete in die voltooide gebou gesit het nie. Hy is die enigste Amerikaanse president wat nie in die Withuis gewoon het nie. 7

Pres. John Adams (wat van 1797 tot 1801 president was) en sy vrou, Abigail, was die eerste om hul intrek hiér in 1800 te neem – al was die Withuis nog nie heeltemal voltooi nie. Sedertdien het nog 44 Amerikaanse presidente en hul families al hier gewoon en gewerk. 8

In 1814 het die Britte die “President se Huis” aan die brand gesteek nadat Amerikaanse soldate regeringsgeboue in Kanada afgebrand het. Argitek James Hoban is weer aangestel om dit te herbou. Pres. James Monroe het in 1817 ingetrek, en tydens sy administrasie is die suidelike deel, die South Portico, gebou. In 1829 het pres. Andrew Jackson weer gesorg vir die aanbou van die North Portico, die noordelike deel. Verskeie voorstelle is gedurende die laat 19de eeu voorgelê om die presidensiële woonplek aansienlik uit te brei óf om ʼn heeltemal nuwe woning te bou, maar hierdie planne is nooit verwesenlik nie. 9

Hoewel dit oor die jare verskeie name gehad het soos die President se Paleis, die President se Huis en die Uitvoerende Herehuis, was dit pres. Theodore Roosevelt, die 26ste en jongste Amerikaanse president ooit (van 1901-1909), wat in 1901 besluit het om dit die Withuis te noem. Daar word vandag ook dikwels na die Withuis as Die Mense/Burgers se Huis (in Engels: “The People’s House”) verwys. 10

Opknapping en verbouings

In 1902 het Roosevelt met groot restourasie aan die Withuis begin, onder meer die verskuiwing van die president se kantoor vanaf die tweede verdieping na die nuutgeboude uitvoerende kantoorgebou, oftewel die bekende West Wing. Die Roosevelt-opknappings is deur die bekende New Yorkse argitekfirma McKim, Mead and White beplan en gedoen. Roosevelt se opvolger, pres. William Howard Taft (vanaf 1909-1913), het die president se kantoor (die Oval Office) in ʼn vergrote kantoorvleuel laat bou. 11

Die Oval Office.

Die tweede keer dat die Withuis deur ʼn brand beskadig is, was op Oukersaand in 1929 tydens pres. Herbert Hoover se regering. ʼn Groot deel van die West Wing en Oval Office is dié aand in puin gelê. 12

Minder as vyftig jaar ná die Roosevelt-opknappings het die Withuis egter tekens van ernstige strukturele swakheid getoon (groot krake en barste wat kon veroorsaak dat die gebou inmekaartuimel). Pres. Harry S. Truman het alles behalwe die buitemure laat afbreek en in 1952 het die Truman-gesin na die Withuis teruggetrek. Dit is tot vandag toe nog die grootste opkappingswerk en veranderings wat op een slag aan dié ikoniese gebou aangebring is. 13

Die Withuis, wat ʼn nasionale erfenisterrein is en aan die Amerikaanse nasionale parkdienste behoort, is oor die jare verskeie kere opgeknap, waarvan die jongste verbeterings in 2017 teen ʼn koste van $3,4 miljoen (meer as R60 miljoen!) tydens pres. Donald Trump se ampstermyn aangebring is. 9 Trump het die Withuis eers as ʼn “dump” beskryf 14 en later sy deuntjie verander en gesê: “Dis een van die mooiste geboue (huise) wat ek al ooit gesien het”. 15

Meer as net ʼn huis

Die Withuis is in werklikheid ʼn kompleks van verskillende geboue en dele wat saam die Withuis genoem word. Dit bestaan uit drie hoofdele, naamlik die oostelike vleuel (East Wing – wat ook die presidentsvrou of “First Lady” se kantore huisves), die westelike vleuel (West Wing) en die presidensiële woning (Residence).

Die Withuis bestaan uit 132 kamers, 35 badkamers en 6 verdiepings. 16 Daar is 412 deure, 147 vensters, 28 kaggels, 8 trappe en 3 hysbakke. Die Withuis se kombuis kan aandete aan tot 140 gaste bedien en peuselhappies vir tot 1 000 mense voorberei. 17

Benewens sy eie tandartspraktyk, spog die Withuis met verskeie interessante vertrekke wat die volgende insluit:

Tandartspraktyk

Die tandheelkundige vertrek van die Withuis was dalk nie baie gesofistikeerd toe dit in die 1930’s in die kelderverdieping van die Withuis ingerig is nie, maar spog deesdae met die jongste toerusting in ’n ten volle funksionele werkplek. Wanneer ’n president of sy gesin die tandarts besoek, kan hulle behandeling ontvang, baie dieselfde as ek en jy. 17

Musiekkamer
Hillary Clinton het ʼn sitkamer in die woongedeelte van die Withuis in ʼn musiekkamer omskep waar haar man, pres. Bill Clinton (vanaf 1993-2001), die saksofoon kon speel. Langs die musiekkamer op die derde vloer is ʼn gimnasium waar die presidensiële gesin enige tyd van die dag of nag kan oefen. 18

Pres. Bill Clinton oefen met sy saksofoon in die musiekkamer.

Sjokoladewinkel
Die sjokoladewinkel (The Chocolate Shop) is een van verskeie kombuise in die Withuis. Dit is op die grondvloer geleë en hier kan sjefs nageregte en spesiale smulgeregteskeppings vir Withuis-geleenthede voorberei. Dit is ook hier waar sjefs sjokolade-eiers vir die jaarlikse Paaseierrol en ʼn gemmerbroodreplika van die Withuis maak wat elke Kersseisoen uitgestal word.

Rolbalbaan
Naby die sjokoladewinkel is die bekende Harry S. Truman-rolbalbaan. Die eerste Withuis-rolbalbaan is in 1947 vir pres. Truman gebou, en Richard Nixon het dit in 1969 na sy huidige ligging onder die ingang na die noordvleuel verskuif.

Rolprentteater
Rolprente is sedert Woodrow Wilson (vanaf 1913-1921) se presidentskap by die Withuis vertoon, maar dit was Franklin D. Roosevelt (vanaf 1933-1945) wat ʼn kleedkamer (in Engels: “cloak room”) in ʼn volwaardige rolprentteater met 42 sitplekke omskep het. Omdat die president nie sommer net kan besluit om te gaan fliek nie, stel rolprentateljees hul flieks op die president se versoek beskikbaar vir vertoning in dié teater.

Kalligrafiekantoor
Die kalligrafiekantoor huisves kunstenaars wat die uitnodigings en pleknaamkaartjies vir formele Withuis-geleenthede (funksies) met die hand skryf. Benewens gebeurtenisverwante ontwerpe, hanteer dié kantoor ook ander dokumente, soos presidensiële toekennings. As gevolg van die sensitiewe aard van hierdie dokumente, het die Withuis se hoofkalligraaf vanaf 2018 ʼn hoër sekuriteitsklaring as ander personeellede in die Withuis. 19

Kweekhuise
Die Withuis het tot in 1902 met kweekhuise gespog waarin al die blomme gekweek is wat by funksies of onthale gebruik is of as geskenke gestuur is. Vandag is die blommewinkel (The Flower Shop) net ʼn kamer in die kelder. Die Withuis koop blomme in grootmaat aan en hou dit verkoel totdat dit benodig word. 19

The China Room
The China Room is die eerste keer in 1918 deur pres. Woodrow Wilson se vrou, Edith Bolling Galt Wilson, gebruik om die verskeie stelle amptelike presidensiële breekware uit te stal. Sedertdien word die porselein-, glas-, kristal- en silwerware wat deur elke president laat maak, gekies of gebruik is, hier uitgestal. 20

Pres. Barack Obama in The China Room.

Presidensiële Operasionele Sentrum
Die Presidensiële Operasionele Sentrum (Presidential Emergency Operations Center) oftewel ondergrondse bunker is oorspronklik onder die oostelike vleuel gebou tydens Franklin D. Roosevelt se presidentskap in die nadraai van die Pearl Harbor-aanval tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dit is onder meer ook tydens die terreuraanvalle in die VSA op 11 September 2001 (9/11) gebruik. 21

John F. Kennedy-konferensiekamer
The Situation Room – amptelik bekend as die John F. Kennedy-konferensiekamer – is ʼn konferensielokaal en krisisbestuursentrum van 513,3 m2 waar die president en sy veiligheidsraadgewers belangrike gebeure kan dophou en krisisse bestuur. Dit is in 1961 deur pres. John F. Kennedy geskep en met veilige, gevorderde kommunikasietoerusting toegerus sodat die president bevel en beheer oor die Amerikaanse magte (soos die weermag en vloot) reg oor die wêreld kan handhaaf. Hier het lede van pres. Barack Obama (vanaf 2009-2017) se kabinet byvoorbeeld die missie om Osama bin Laden (die meesterbrein van al-Kaïda, wat aanspreeklikheid vir die 9/11-terreuraanval op die VSA aanvaar het) te vang, regstreeks gevolg. 22

Pres. Barack Obama hou sy eerste vergadering oor Irak in die Situation Room, oftewel John F. Kennedy-konferensiekamer.

The Queen’s Room
The Queen’s Room het aanvanklik as The Rose Guest Room bekendgestaan, maar is hernoem omdat so baie koninginne in dié kamer met sy pastelkleure en hemelbed tuisgegaan het, onder andere die koninginne van Nederland, Griekeland, Noorweë en Brittanje. Winston Churchill het ook hier geslaap met sy besoeke aan presidente Roosevelt en Truman. 23

Oval Office

Die president se kantoor, oftewel die Oval Office, het oor die jare die vernaamste vertrek in die Withuis én kantoor in die wêreld geword. Hoewel dit pres. William Howard Taft was wat die Oval Office die eerste keer in 1909 begin gebruik het sodat hy letterlik midde-in die aksie van die West Wing kon wees, was George Washington jare tevore al ʼn voorstander van dié vorm vir vertrekke. 24

Washington het twee ovaalvormige vertrekke by sy presidentswoning in Philadelphia gehad. Hy het gemeen vertrekke wat nie hoeke het nie (dus nie vierkantig, driehoekig óf reghoekig is nie), verseker dat mense in ʼn halfsirkel kan staan en daarom ewe ver van die president af kan wees.

Pres. Ronald Reagan (links) en Anthony R. Dolan (regs) vergader in die Oval Office.

Taft se Oval Office (wat soos die Withuis se Blue Room, Yellow Room en diplomatieke ontvangslokaal ovaalvormig is), het mettertyd die simbool van die Amerikaanse presidentskap geword. Amerikaners heg baie sentimentele waarde aan dié vertrek as simbool van krag (mag) en gerusstelling.

Elke president kan besluit watter mat, meubels, muurpapier, borsbeelde en kunswerke in dié kantoor moet wees. Die mat het gewoonlik die presidensiële seël of wapen op. Wat egter sedert die 1970’s grootliks onveranderd gebly het, is die lessenaar (die Resolute Desk) waar geskiedkundige telefoongesprekke gevoer word, presidensiële proklamasies en wetgewing (met spesiale presidensiële penne vir elke geleentheid!) onderteken word, en van waar die president die wêreld – veral in onseker tye – oor die televisie toespreek. 25

Die Resolute-lessenaar is gemaak van hout van die Britse skip HMS Resolute wat verlate deur die Amerikaanse vloot gevind en as ʼn welwillendheidsgebaar na die Verenigde Koninkryk (VK) teruggeneem is. Die lessenaar is in 1880 deur koningin Victoria aan pres. Rutherford B. Hayes geskenk. Daar is altesaam vier lessenaars van hierdie hout gemaak. Die ander drie is op verskeie plekke en museums in die VK. 26

Teen die vensters, agter die Resolute-lessenaar, staan die Amerikaanse vlag aan die een kant en die presidensiële vlag aan die ander kant. Dit dien as herinnering aan die enorme verantwoordelikheid wat op die Amerikaanse president se skouers rus. Die uitgaande president los tradisioneel op sy laaste dag ʼn briefie vir die inkomende president in die Resolute-lessenaar se laai. 27

Een van die veiligste geboue ter wêreld

Soos alle hoëprofielgeboue, het die Withuis glo ʼn versteekte ingang vir die president en geheime besoekers. Dit strek van H-straat in Washington D.C., deur twee tonnels en ʼn stegie en eindig in die Withuis se kelder. Hierdie geheime ingang asook die ondergrondse bomskuiling is ontwerp in reaksie op die Tweede Wêreldoorlog. 7

Die eeu oue gebou op die agterkant van die $20-geldnoot staan reg oor die wêreld bekend as die woon- en werkplek van die “leier van die vrye wêreld” en dit maak die Withuis én president kwesbaar vir aanvalle. Daar was tot dusver 33 pogings (waarvan ons weet) om sittende Amerikaanse presidente om die lewe te bring. 28

Altesaam vier Amerikaanse presidente is in sluipmoordaanvalle vermoor – Abraham Lincoln (14 April 1865), James A. Garfield (2 Julie 1881), William McKinley (6 September 1901) en John F. Kennedy (22 November 1963). 29 [Lees hier oor wêreldbekende sluipmoordaanvalle.]

Die Withuis word egter as een van die veiligste geboue ter wêreld beskou. Hoewel die presiese beskermingsmaatreëls geheim gehou word, sluit van die maatreëls (benewens honderde geheimediensagente,  polisielede asook skerpskutters) die volgende in: 28

  • Om op ʼn toer deur voorafbepaalde dele van die Withuis te kan gaan, moet jy minstens 21 dae voor jou beplande besoek ʼn aansoek indien. Só kan die veiligheidspersoneel getalle beheer en natuurlik eers ʼn agtergrondondersoek oor elke besoeker doen.
  • Die Withuis het koeëlvaste vensters. In November 2011 het ʼn aanvaller sewe skote met ʼn semi-outomatiese geweer na die Withuis gevuur, maar nie eens dié geweer se opeenvolgende skote kon ʼn venster breek nie.
  • Die hele Withuis-terrein is met infrarooi sensors toegerus – bo én onder die grond.
  • In die vroeë oggend van 12 September 1994 (tydens pres. Bill Clinton se administrasie) het ʼn Cessna 150L-vliegtuig op die suidelike grasperk (South Lawn) van die Withuis neergestort. Die vlieënier, die 38-jarige Frank Eugene Corder, is dood, maar niemand anders is beseer of groot skade aangerig nie. 30 Geen vliegtuig word vandag in die lugruim bo Washington D.C. toegelaat nie. Enige vliegtuig wat nie geskeduleer is of die spesifieke roete na die Ronald Reagan-lughawe streng volg nie, word eers gewaarsku. As die vliegtuig nie dadelik van koers verander nie, sal een van die verskeie grond-tot-lug-missiele wat reg deur die hoofstad geleë is, sy vlerke vinnig knip. Daar word beweer dat die Withuis ook met dié soort missiele op sy dak spog. Die Withuis is wel met lasertegnologie toegerus om enige bedreiging kilometers ver op te merk. 31
  • In Januarie 2015 het ʼn werknemer ʼn bietjie pret met sy hommeltuig (in Engels: “drone”) op die Withuis se grasperk gehad. Dit kon redelik maklik deur die opsporingstelsels vlieg totdat dit die grond getref, die alarms laat afgaan en die geheimediensagente in rep en roer gehad het. Dit het belangrike swakpunte in die sekuriteit blootgelê en sedertdien span die Withuis sy eie hommeltuie in om as vlieënde sekuriteitskameras te dien.
  • Ondanks al die tegnologies gevorderde sekuriteitsmaatreëls is die heining om die Withuis die eerste, belangrikste en doeltreffendste versperring. Die eerste heining is in 1801 deur pres. Thomas Jefferson (van 1801-1809) opgerig, maar dit was hoofsaaklik om die Withuis se diere binne te hou. Die heining is sedertdien aansienlik versterk, met druksensors toegerus en dié staalkonstruksie met skerp punte staan vandag sowat 4 m (13 voet) hoog. 32

Woordbank

administrasie Persone wat iets beheer/bestuur.
ampstermyn Tydperk waarin ʼn amp/posisie beklee word; regeer word.
amptenare Iemand in diens van die owerheid of groot instelling.
argitek Ontwerper van geboue en bestuurder van die uitvoering van die ontwerpe; boumeester.
bespiegel Verskillende moontlikhede oorweeg; gis; spekuleer.
bomskuiling Waar mense veilig kan skuil as bomme ontplof.
bunker Sterk verdedigingstelling in die grond of in ʼn berg.
Dankseggingsdag Dankseggingsdag val altyd op die vierde Donderdag in November en word in die VSA gevier. Dit staan in Engels as Thanksgiving bekend.
deuntjie verander Iets sê wat verskil van wat vroeër gesê is.
druksensors ʼn Toestel wat druk aanvoel en meet en dan reageer, soos om ʼn alarm te laat loei wanneer iemand oor ʼn heining wil klim.
enorme Geweldig groot.
erfenisterrein Plek waar voorwerpe/geboue/sake wat deel van ʼn mens se erfenis uitmaak, besigtig kan word.
gesofistikeerd Gevorderd, verfynd, baie ontwikkeld.
glo Na bewering; volgens wat die mense sê.
grondwet Wet wat onder alle omstandighede geldend is of waarop ander gegrond is.
hemelbed ’n Praalbed; groot outydse bed met vier lang pale – een in elke hoek – wat ʼn boonste raam/paneel ondersteun. Hierdie paneel het gewoonlik relings vir gordyne wat om die bed getrek kan word.
hoeksteen Netjies afgewerkte stuk natuursteen met ʼn inskripsie (inskrywing) wat op ʼn opvallende plek in die muur van ʼn gebou ingemessel word as ʼn soort gedenksteen.
ikoniese Iemand/iets wat merkwaardig/besonders/navolgingswaardig is.
indrukwekkende Iets besonders wat ʼn indruk maak; die gees/gemoed sterk tref.
infrarooi Sekuriteitskameras gebruik infrarooistrale (wat nie met die blote oog gesien kan word nie) om kwaliteitvideo’s gedurende die dag en veral snags op te neem.
inhuldiging ʼn Owerheidspersoon plegtig in sy/haar amp bevestig.
kabinet Gesamentlike ministers wat die regering van ʼn land uitmaak.
kalligrafie Skoonskrif; sierskrif.
kelder Ruimte/vertrek onder ʼn huis of gebou, bedoel as skuilplek of stoorplek.
kompleks Groep geboue of ʼn groot gebou met verskillende dele, wat vir ʼn bepaalde doel gebruik word.
konstruksie Bouwerk.
krisisse Situasie waarin daar ʼn ernstige probleem is wat vinnig hanteer/opgelos moet word, sodat die toestand nie verder versleg nie.
kweekhuis Verwarmde gebou met ʼn dak en kante van glas om plante in ʼn kouer klimaat of buitentyds te kweek en te beskerm.
kwesbaar Wat maklik beskadig/beseer/seergemaak kan word.
kwyt te skeld Onthef van ʼn plig of verpligting.
ligging Plek waar iets geleë is.
lokaal Vertrek of kamer.
meesterbrein Persoon wat agter die beplanning van iets sit.
missiele Torpedo, vuurpyl.
missie Belangrike opdrag of sending.
museum Gebou waar voorwerpe van kuns of wetenskap versamel en uitgestal word.
om dowe neute Iets word nie verniet gedoen nie; om goeie rede.
president Persoon wat staatshoof van ʼn republiek is.
proklamasies Amptelike bekendmaking/afkondiging van wette/regulasies/ens.
puin Bakstene/klippe/ens. wat rondlê nadat ʼn gebou afgebreek is/vergaan het; bouval; ruïne.
raadgewers Iemand wat raad gee; iemand by wie om raad aangeklop word; raadsman.
raadsale Groot vertrek waarin ʼn raad gereeld vergader.
(in) rep en roer Daar is onrus, ’n beroering, opskudding, gedoente,
petalje, geskarrel, lawaai, bohaai.
replikas Namaaksel van die oorspronklike; presiese kopie; duplikaat.
restourasie Die opknap/herstel/herbou van die hele of ʼn belangrike deel van ʼn ou gebou/kunswerk om dit so noukeurig moontlik terug te bring na die vorm wat dit oorspronklik of in ʼn vorige tyd gehad het.
sekuriteitsklaring Wat jou toegang gee tot vertroulike dokumente/inligting wat nie aan almal bekend is nie.
sentimentele Gekenmerk deur emosies soos liefde/simpatie/hartseer; wat verband hou met hoe iemand voel.
simbool Voorwerp/woord/teken as voorstelling van ʼn bepaalde begrip; sinnebeeld.
sittende Heersend.
sjefs Kok; iemand wat kos voorberei.
skerpskutters Uitmuntende skutter, wat veral in ʼn gevegsituasie die taak het om bepaalde teikens uit te skakel, dikwels oor ʼn afstand.
sluipmoordaanval Skielike/verraderlike moord op ʼn dikwels belangrike persoon, in die geheim beplan en dikwels in die openbaar uitgevoer.
stegie Nou/smal straatjie.
strategie Wyse waarop ʼn mens volgens beplanning beoog om ʼn doel te bereik.
tradisioneel Gebruiklik, volgens gewoonte;
veiligheidsmaatreëls Maatreëls wat toegepas moet word om veiligheid te verseker; iets/iemand te beskerm.
verdieping Enigeen van verskillende vlakke/vloere waarvan die een bokant die ander lê.
verhuis Na ʼn ander huis/tuiste trek.
vernaamste Wat hoë aansien geniet; hoog aangeskrewe; belangrik.
verwesenlik Uitvoer; iets ʼn werklikheid maak.
vlerke vinnig knip Stop; verhinder om iets te doen.
voorstander Iemand wat iets voorstaan; pleitbesorger; verdediger; beskermer; aanhanger.
Vrymesselaars Lid van ʼn geheime internasionale organisasie wat onder meer broederlikheid onderling, geestelike en sedelike verheffing, onderlinge waardering en hulpbetoon voorstaan.
welwillendheid Goedgesind; vriendelik; tegemoetkomend.

Lees meer oor dié wêreldbekende gebou

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

ʼn Grafiese voorstelling van die verskillende dele van die Withuis-kompleks

Van die veiligheidsmaatreëls om die Withuis te beskerm

Oudpresidente moet allerlei reëls nakom, onder meer dat hulle nooit self ʼn motor mag bestuur nie!

ʼn Insiggewende kykie na die Withuis toe Barack en Michelle Obama die presidentspaar was

Tien dinge wat jy nie van die Withuis geweet het nie