Die Statebond

Miskien het jy al gehoor van die Statebondspele? Dis ’n sportbyeenkoms, amper soos die Olimpiese Spele, waaraan mense van oor die hele wêreld deelneem. Maar party lande, soos die Verenigde State en Rusland, neem byvoorbeeld nie deel nie, want hulle is nie lede van die Statebond nie. Dus, wie of wat is die Statebond? En behalwe vir sportbyeenkomste, wat is hierdie organisasie se rol?

Oorsprong

Die Statebond is ’n internasionale organisasie – met ander woorde ’n organisasies waar daar meer as een land by betrokke is. ’n Ander bekende internasionale organisasie is die Verenigde Nasies (VN). Die verskil tussen dié twee organisasies is dat die VN geskep is volgens ’n bloudruk, en daar was ’n stigtingsvergadering. Die Statebond het nié so begin nie – dit is nie gestig nie, maar het ontwikkel. 1

Die eerste lidlande was voormalige Britse kolonies. Hulle het een vir een onafhanklik geword van Brittanje, maar hulle het gevoel gedeelde bande soos geskiedenis en taal het hulle aan mekaar verbind. Hulle het gehoop ’n organisasie sou hierdie bande met mekaar en ook Brittanje sterk hou. 1

Die eerste lidlande was dominiums. 2 ’n Dominium is ’n land met selfregering, maar wie se wette deur Brittanje goedgekeur moet word. 3

Die eerste dominium was Kanada, wat in 1867 daardie status gekry het, en is gevolg deur Australië in 1901, Nieu-Seeland in 1907, Suid-Afrika in 1910 en die Ierse Vrystaat in 1921. 1 Met die verloop van tyd het ander lande ook deel geword, soos Indië, Pakistan en Sri-Lanka. 4

Die Rykskonferensie van 1926 en die Statuut van Westminster (1930)

Ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het die opkoms van nasionalisme in die dominiums druk op daardie lande geplaas om vir méér as selfregering te vra. 3

By die Rykskonferensie van 1926 het onder andere generaal J.B.M. Hertzog, Suid-Afrika se eerste minister, die weg gebaan vir die aanvaarding van die Balfour-verklaring. Hierdie dokument het gelui: “Die dominiums is outonome gemeenskappe in die Britse Ryk. Hulle is gelyk in status, in geen opsig ondergeskik aan mekaar nie, maar verenig in ’n gemeenskaplike lojaliteit aan die Britse kroon en vrylik aan mekaar verbonde as lede van die Britse Statebond.” 5

In 1930 het die Britse regering die Statuut van Westminister aanvaar, wat die Balfour-verklaring ’n Britse wet gemaak het. Hiervolgens het die Britse parlement hul reg om dominiums se wette goed te keur, prysgegee. 6

Statebondkonferensies

Van 1887 af het afgevaardigdes van hierdie lande konferensies gehou om oor hul gedeelde belange te praat. 2

Van 1944 af was dit die Konferensie van Eerste Ministers genoem, omdat dit deur eerste ministers bygewoon is. Die eerste een is in Londen gehou. 6

In 1971 het die naam weer verander na die Statebond-beraad van Staats- en Regeringshoofde en die eerste vergadering is in Singapoer gehou. 2

Koningin Elizabeth II en Statebondleiers by die 1960 Statebondskonferensie, Windsor Castle

Die Moderne Statebond

Tot in die 1940’s het die dominiums, ten spyte van hul onafhanklikheid, steeds die Britse koningshuis as staatshoof aanvaar, wat beteken dat hulle die Britse vlag gehys en die Britse volkslied gesing het, en ’n goewerneur-generaal gehad het. 1 Dit het verander toe Indië en Pakistan in 1947 en Ceylon (vandag se Sri Lanka) in 1948 republieke geword het. Die republieke het nie Britse koningshuis as staatshoof aanvaar nie. 1

Die Statebond het daarom in 1949 die Londense-verklaring gemaak, wat lidmaatskap verander het sodat republieke lede mag bly, solank hulle die Britse koningshuis as hoof van die Statebond aanvaar het. 6 Hierna kon republieke en selfs lande met hul eie konings of koninginne lidlande word. 1

Teen 2006 het 37 van die 53 lidlande nie die Britse koningshuis gehad nie, maar tog vir koningin Elizabeth as Hoof van die Statebond aanvaar. 1

Elizabeth II

Die naam van die organisasie het ook in 1949 verander, en die woord “Britse” is verwyder, sodat dit verander het na ’n Statebond van Nasies (soms in Afrikaans ook genoem die Gemenebes van Nasies). 6

Doelstellings en verklarings

Die Statebond se hoofdoel is om internasionale samewerking tussen lidlande te bevorder. 7

Soos wat die wêreld verander het, het die doelstellings ook deur die jare verander. Die belangrikste doelstellings van vandag is uiteengesit in die Singapoer-verklaring van 1971 en die Harare-verklaring van 1991. Daarvolgens verbind die Statebond homself tot die bevordering van:

  • Persoonlike en individuele vryheid;
  • vryheid van rassisme;
  • vrede;
  • ekonomiese en sosiale ontwikkeling; 6
  • gelyke regte vir almal ongeag van ras, kleur, geloof of politieke idees;
  • demokrasie en nierassigheid;
  • ’n einde aan ongelykheid; en
  • internasionale samewerking om hierdie doelstellings te bereik. 2

In 2009 is die Handves vir die Statebond aanvaar, wat die lidlande verbind tot die waardes van demokrasie, gendergelykheid, volhoubare ontwikkeling en internasionale vrede en sekuriteit. 1

Betrokkenheid en funksies

Die Statebond was deur die jare betrokke by heelwat internasionale gebeure en kwessies.

In 1950 het daar ’n Statebond-afdeling, bestaande uit Australiaanse, Britse, Kanadese en Nieu-Seelandse troepe, in die Koreaanse Oorlog (1950-1953) geveg. 6

Politieke kwessies waaroor die Statebond homself uitgespreek het, sluit in Zimbabwe se politieke situasie sedert 1965, Suid-Afrika se apartheidsbeleid, en oorloë tussen lidlande, soos tussen Pakistan en Indië in 1965. 6

Die Statebond het strukture wat hom beywer vir spesifieke sake:

  • Commonwealth Foundation – bevorder mense se betrokkenheid in hul land se regering deur ondersteuning aan nieregeringsorganisasies
  • Commonwealth of Learning – bevorder opvoeding deur die deel van afstandsonderrigkennis en tegnologie. 1
  • Commonwealth Africa Fund – moedig belegging in Afrika aan. 8

Die Statebond help ook lidlande met ekonomiese ontwikkeling deur die bevordering van handel en belegging. 1

Lidmaatskap

Alle lande se lidmaatskap in die Statebond is vrywillig. 1

In 1949 was die lede van die Statebond van Nasies die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Indië, Pakistan, en Ceylon (Sri-Lanka). 2

Lidmaatskap het stadig gegroei soos wat meer lande onafhanklik geword het. Die eerste lidland van Afrika wat deur ’n meerderheidsregering regeer is, was Ghana, wat in 1957 onafhanklik en ’n lid van die Statebond geword het. 1

Daar is vandag ook lidlande van die Statebond wat nie deur Brittanje gekoloniseer is nie, soos Rwanda en Mosambiek. 4

Dan is daar lande wat wél deur Brittanje gekoloniseer was, maar gekies het om nie lid te word nie. Dit sluit in Mianmar (voorheen Burma), asook ’n paar lande in die Midde-Ooste. 1

Verskeie lande het op stadiums lidmaatskap opgegee of verloor, en soms teruggekry. Suid-Afrika het in 1961 die Statebond verlaat toe Suid-Afrika ’n republiek geword het en daar vanweë die apartheidsbeleid baie teenstand teen Suid-Afrika se lidmaatskap was. In 1994 het Suid-Afrika sy lidmaatskap hervat. 4

Pakistan se lidmaatskap is in 1972 ná ’n staatsgreep opgeskort, in 2004 herstel, en toe weer tussen 2007 en 2008 opgeskort. 4

Zimbabwe se lidmaatskap is in 2003 opgeskort weens verkiesingsbedrog, waarna hulle die Statebond verlaat het. Hulle het weer in 2019 heraansoek gedoen, maar ’n besluit oor hul lidmaatskap is nog nie gemaak nie. 4

Hoof van die Statebond

Die hoof van die Statebond is ʼn nie-oorerflike posisie, maar slegs lede van die Britse koningshuis het dit al beklee. 2

Die eerste hoof was koning George VI, 2 en met sy dood is hy opgevolg deur koningin Elizabeth II. 6 Haar opvolger is Koning Charles III.

Lede van die Britse koningshuis besoek gereeld Statebondlande, en woon geleenthede by wat betrekking het tot die Statebond. 2

Charles III

Die Statebondspele

Tot in 1954 het Brittanje ’n Britse Ryk Spele aangebied. Hierdie spele is in 1954 herbenoem na die “Britse Ryk en Statebondspele”, en die eerste een is gehou in Vancouver in Kanada. Die naam van die spele het in 1970 weer verander, hierdie keer na die Britse Statebondspele. In 1978 is die naam verander na die naam wat ons vandag ken, die Statebondspele. 6

Die eerste keer dat die Statebondspele buite ’n witmeerderheidland gehou is, was in 1966 in Kingston, Jamaika. 6

In 1986 is die Statebondspele in Edinburg, Skotland deur 32 lande geboikot omdat hulle gevoel het dat Brittanje Suid-Afrika se apartheidsbeleid meer aggressief moes verwerp. 6

Die Sekretariaat

In 1965 is die Sekretariaat gestig, wat optree as tussenganger tussen die verskillende regerings, én die lidlande ondersteun om die doelstellings van die Statebond te bereik. 9 Die sekretariaat is in Londen gebaseer. 2

Die hoof van die Sekretariaat is die sekretaris-generaal, en die lys van sekretaris-generaals is soos volg: 10

  • Arnold Smith van Kanada (1965-1975)
  • Shridath Ramphal van Guyana (1975-1990)
  • Emeka Anayaoku van Nigerië (1990-2000)
  • Don McKinnon van Nieu-Seeland (2000-2008)
  • Kamalesh Sharma van Indië (2008-2016)
  • Patricia Scotland van Dominica (2016-vandag)

Patricia Scotland

Kritiek

Baie mense is ontevrede met die Statebond omdat dit ontstaan het uit Britse kolonialisme. 2

Ander kritici noem die Statebond ’n “klub” wat nie regtig invloed of mag het nie. Boonop hou die Statebond nie altyd sy beloftes nie. Só byvoorbeeld is daar lidlande wat die Handves en Verklarings se doelstellings oortree deur byvoorbeeld nie vrye verkiesings toe te laat nie, soos Eswatini (voorheen Swaziland). En ongelukkig word daar nie teen hulle opgetree nie. 2

Groepfoto van die Statebondsvergadering van buitelandse ministers in Londen, 18 April 2018

Die Statebond in 2022

Die Statebond het tans 56 lede. 4

Amper ’n derde van die wêreld se bevolking bly in daardie lande. Die grootste statebondlande volgens populasie is Indië, Pakistan, Nigerië, Bangladesj en die Verenigde Koningkryk. 4

Dit beslaan ’n kwart van die wêreld se landmassa. Die grootste land in grootte is Kanada, die wêreld se tweede grootste land. Ander groot lande is Indië en Australië. Daar is ook baie klein lande, soos die eilande van Samoa, Vanuatu, Antigua en Barbuda en die Dominikaanse Republiek. 4

Woordbank

afgevaardigdes Iemand wat deur n groep gestuur is om hulle êrens te verteenwoordig. 
apartheidsbeleid Die beleid van die Suid-Afrikaanse regering tussen 1948 en 1991 waarvolgens mense van verskillende regte afsonderlik moes ontwikkel, en wat gelei het tot diskriminasie. 
belegging Uitlening van geld teen rente. 
beywer Om jou bes te doen vir ’n spesifieke doel. 
bloudruk Gedetailleerde plan aan die begin van ’n projek. 
die weg gebaan Om iets moontlik te maak. 
Eerste Wêreldoorlog Oorlog wat tussen 1939 en 1945 gewoed het tussen meeste van die lande in die wêreld. 
geboikot Weier om iets te koop of te gebruik, of aan ’n protes teen iets deelneem. 
goewerneur-generaal Verteenwoordiger van ’n koning/koningin as staatshoof van ’n dominium. 
handves Dokument waarin daar belangrike reëls of idees vasgelê word. 
kolonialisme Beleid waardeur kolonies verkry en behou word. 
kolonies Gebied wat n oorsese besitting van n ander land is. 
nasionalisme Die begeerte van n groep mense om hulle eie, onafhanklike land te vorm en hul eie belange te bevorder. 
onafhanklik Die reg om jouself te regeer. 
ondergeskik In n minder belangrike posisie as iemand anders. 
opgeskort Uitgestel. 
outonome Selfstandig. 
republieke ’n Land wat regeer word deur verteenwoordigers wat deur die mense verkies is met n president as hoof. 
staatsgreep Wanneer die regering van ‘n land met geweld oorgeneem word. 
status Die posisie wat ‘n land beklee. 
tegnologie Nuwe masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is. 
vanweë As gevolg van. 
verbind Onderneem om iets te doen. 
Verenigde Nasies ‘n Organisasie wat in 1945 gestig is om internasionale probleme op te los. 
voormalige Van vroeër. 
vrywillig Om iets te doen uit vrye wil uit, nie gedwing nie. 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Statebond

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Statebond

Wat is die Statebond?

Die Koningin se 54 lande: Verduideliking van die Statebond

Meer oor die Statebond