Vinnige feite

  • Leila Reitz is in 1933 as die eerste vroulike parlementslid in Suid-Afrika verkies. 3
  • Terwyl Deneys saam met Smuts op hulle tog in die Oos-Kaap was, het hulle in die Swartberg op die afgeleë dorpie Gamkaskloof, wat ook as “Die Hel” bekend staan, afgekom. 3
  • Hy het ʼn groot liefde vir die Laeveld gehad, en hy was een van die mense wat grond van boere moes aankoop waarop die Nasionale Krugerwildtuin later aangelê sou word. 3
  • Deneys se as is teen die hange van Mariepskop naby die Blyderivier begrawe. 3
  • Een van sy seuns – Claude Michael – is in ʼn vliegongeluk naby Barberton oorlede. 3
  • In Junie 2011 het Norton Rose met die Kanadese firma Ogilvy Renault en die Suid-Afrikaanse firma Deneys Reitz saamgesmelt met 38 kantore wêreldwyd. 7

In Suid-Afrika se geskiedenis is daar baie mense wat op talle verskillende terreine in die lewe uitgeblink en belangrike bydraes gelewer het. So ʼn persoon was Deneys Reitz – soldaat, politikus, skrywer en regsgeleerde. Iemand wat sy merk plaaslik en in die buiteland gemaak het en ook sy deel gedoen het in verskillende oorloë.

Statebondverteenwoordigers besoek Frankryk, November 1939
buite generaal Gamelin se hoofkwartier naby Parys. Links na regs: Peter Fraser, adjunk-premier van Nieu-Seeland; Anthony Eden, sekretaris van die Britse heerskappy; Generaal Gamelin, opperbevelvoerder van die geallieerde magte in Frankryk; T. A. Crerar, Kanadese minister vir mynbou; Sir Muhammed Zafrulla Khan, Indiese verteenwoordiger; Richard Casey, Australiese minister van voorsiening; en Denys Reitz, Suid-Afrikaanse Minister vir Naturellesake

Die bekende Reitzfamilie

Deneys is deel van die bekende Reitzfamilie wat reeds vanaf die 1800’s diep spore in Suid-Afrika se geskiedenis getrap het.

Die eerste voorvader van Deneys wat na Suid-Afrika gekom het, Jan Frederik Reitz, was ʼn Nederlandse skeepsoffisier en daarna ʼn Kaapse staatsamptenaar. Sy vrou was deel van die invloedryke Van Reenenfamilie, en hulle het vier seuns en een dogter gehad. Een van die seuns – Francis William – was ʼn boer in Swellendam en ook ʼn politikus. Hy was een van die jongste lede van die Kaapse parlement. Hy het 12 kinders gehad. 1

Een van hierdie 12 kinders was Francis William Reitz, wat hoofregter en later ook president van die Oranje-Vrystaat was – die dorp Reitz in die Vrystaat is na hom vernoem. Hy was ook Deneys se pa. Deneys het sy naam gekry vanaf sy ouma aan sy pa se kant – Cornelia Magdalena Deneys. Hy is op 2 April 1882 in Bloemfontein gebore en was die derde van vyf seuns. Sy ma was Blanka Thesen, wat van Noorweegse oorsprong is en wie se familie van Knysna afkomstig was. 2

Pres. F.W. Reitz

Deneys het vertel dat hy en sy broers se kinderjare vol avontuur was. Hulle het perdgery, geswem, visgevang en geleer om te skiet. Hulle het ook vir lang tye gaan kamp en gejag op vlaktes waar die wild volop was. Maar hulle het ook grootgeword met klassieke Engelse literatuur in die huis. Toe Deneys 12 jaar oud was, het die president se familie op ʼn toer na Europa gegaan en lande soos Nederland, België, Engeland en Skotland besoek. Hierdie jeugjare van hom en alles waarmee hy kennis gemaak het, het later in sy lewe ʼn groot invloed op hom gehad. 3

Deneys het in sy pa se spore gevolg en het deur sy hele lewe betekenisvol geleef in alles wat hy gedoen het. Ons gaan kyk na sy bydrae as soldaat, politikus en parlementslid, asook as skrywer.

Deneys die soldaat

Deneys het sy skoolloopbaan in Bloemfontein voltooi, maar voordat hy aan verdere studie kon dink, het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek. Hy was net 17 toe hy by die Boeremagte aangesluit het.

Anglo-Boereoorlog

Die jong Deneys was eintlik te jonk om te gaan oorlog maak, maar sy pa was op daardie stadium staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), en die jong Deneys het sommer self na president Paul Kruger toe gegaan en gesê dat hy oorlog toe wil gaan. Die president het onwillig toegestem dat hy mag gaan, maar gesê hy moet ten minste drie rooinekke (ʼn kwetsende term wat in hierdie tyd gebruik is om na Britse soldate te verwys) skiet, aangesien die Britte drie keer soveel soos die Boere was!

Eerste Volksraad, Pretoria in Suid-Afrika

Hy het by die ZAR se mag (weermag) aangesluit, en ʼn paar dae later het hy per trein saam met die Pretoriakommando na die Natalse grens vertrek.

Sy eerste ondervinding van ʼn geveg was naby Dundee waar die Boere Britse soldate gedwing het om oor te gee.

En wat was die jong tiener se eerste mening oor die oorlog? Hy was teleurgesteld dat die Boere se soldate vervelige kakieklere moes dra, terwyl die Britse soldate spoggerige rooi uniforms gedra het! Soos hy deur die res van die oorlog ook gedoen het, het hy elke keer wanneer hy die geleentheid gekry het, met van die Britse soldate wat deur die Boere gevang is, gesels.

Hy was betrokke by die beleg van Ladysmith en het ook aan die geveg by Spioenkop deelgeneem. Hoewel beide Mahatma Gandhi en Winston Churchill ook by Spioenkop betrokke was, het Deneys nie in sy latere boek oor die Anglo-Boereoorlog genoem dat hy een van hulle gesien het nie. Hy het wel vir Churchill twee maande voor die geveg by Spioenkop in Sunnyside, Pretoria, ontmoet. Deneys was toe met tuisverlof by die huis, en Churchill was vir ʼn kort rukkie ʼn gevangene van die Boere. Deneys se pa was toe daarvoor verantwoordelik om die berigte wat Churchill vir koerante in Engeland gestuur het, te sensor.

Spioenkop

Vir die res van die oorlog het Deneys oor groot dele van die land rondbeweeg totdat hy tydens die guerrillafase van die oorlog ook onder generaals De la Rey en De Wet diens gedoen het. 3

Koos de la Rey
Christiaan de Wet

In die middel van 1901 het Deneys in ʼn ou koerant gelees van planne van die Boere om die Kaapkolonie binne te val. Onthou dat die Kaap in hierdie tyd onder die Britse bewind was. Altyd lus vir rondreis, het hy besluit om by daardie soldate aan te sluit. Hy het naby die huidige Zastron oor die Oranjerivier gegaan en by ʼn kommando aangesluit wat onder bevel van generaal Jan Christiaan Smuts was. Deneys het hom as staatsprokureur van die ZAR en ʼn kollega van sy pa geken en het begin om saam met die kommando rond te beweeg.

Jan Smuts

Hierdie groep soldate het deur moeilike tye in die Kaapkolonie gegaan. Hulle eerste groot struikelblok was die Stormberg, waar hulle in pikdonkerte saam met hulle perde by ʼn byna loodregte berg moes afbeweeg terwyl hulle besig was om Britse soldate te ontduik. Teen hierdie tyd was hulle klere, kos, perde en wapens so min en in so ʼn slegte toestand dat Smuts besluit het om ʼn klein Britse kamp te oorval om nuwe voorrade te kry. Hierdie geveg is die Slag van Elandsrivier genoem en het naby die huidige Tarkastad in die Karoo gebeur. Deneys se goeie Engels en ook sy gewoonte om altyd na ʼn geveg vriendelik met die Britse soldate te gesels, was hier vir hom voordelig. Een van die gewonde Britse offisiere het vir hom gesê dat hy nie hoef te steel nie, maar dat hy enigiets wat hy nodig het, in die offisier se tent kan vat. Deneys het in die tent ingegaan met klere wat van ʼn graansak gemaak is, stukkende sandale en ʼn geroeste Mausergeweer, en hy het uitgestap met netjiese klere, stewels, ʼn nuwe Lee-Enfieldgeweer en twee bandeliere vol patrone. 3

Winston Churchill

Al was dit oorlog, was daar darem bietjie tyd vir pret ook. Iewers naby Clanwilliam het generaal Smuts al die soldate wat nog nie voorheen die see gesien het nie, beveel om by hom aan te meld. Ongeveer 60 soldate het aangemeld, en Smuts het hulle na die kus naby die mond van die Olifantsrivier geneem. Die soldate was verstom oor die groot stuk water voor hulle en het met hulle perde in die see ingejaag. Volgens Deneys het hy vir ʼn visserman wat daar naby was, gevra waar Engeland lê omdat hulle met die perde daarheen wil ry en Londen wil inneem. 3

Onthou dat dit in hierdie tyd nie soos vandag die gebruik was om vir vakansies see toe te gaan as mens in die binneland gebly het nie. Afstande was te groot vir die vervoer – perde of ossewaens – wat toe beskikbaar was. Dit was dus glad nie vreemd dat daar baie volwassenes was wat nog nie voorheen die see gesien het nie.

Generaal Jan Smuts en sy personeel by Concordia, Suid-Afrika, Mei 1902

In Mei 1902 het die oorlog vir Deneys geëindig toe hy saam met generaal Smuts na Vereeniging is waar die vredesooreenkoms onderteken sou word. Soos sy pa gedoen het, en moontlik uit lojaliteit teenoor sy pa, het Deneys geweier om die eed van getrouheid teenoor Engeland af te lê as deel van die vredesooreenkoms. Hy is na Madagaskar gedeporteer (weggestuur) waar hy sy geld as ʼn transportryer (iemand wat teen betaling vir mense goedere vervoer) moes verdien. Dit was ʼn slegte jaar in sy lewe, ook omdat hy vir ʼn lang tyd siek was aan onder meer malaria. Dit is in hierdie tyd dat hy sy boek Kommando oor sy ondervinding tydens die oorlog in Nederlands geskryf het.

Hy het kontak met generaal Smuts behou en toe hy gedurende 1903 in ʼn brief deur Smuts se vrou, Isie, gevra is om terug te kom en die nuwe bedeling te aanvaar, het hy ingestem. Hy was steeds siek en het selfs flou geword op die stasie in Pretoria tydens sy terugkeer. Daarna het hy vir drie jaar by die Smutse in hulle huis in Irene, Pretoria, gewoon. 3

Met die uitbreek van die Rebellie in 1914, was Deneys deel van die regeringsmagte wat die opstand van die Boere moes onderdruk. Hulle was gekant teen die regering se besluit om Engeland in die oorlog teen Duitsland te help. Dit was die eerste keer dat hy self in bevel van soldate was. 2

Eerste Wêreldoorlog

Deneys het onder bevel van generaal Smuts en saam met die Unietroepe Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) ingeval. Daarna is hy saam met Smuts na Oos-Afrika, waar hy nie aan gevegte deelgeneem het nie. In 1917 het hy aansoek gedoen om na Europa te gaan, waar hy in die laaste jaar deel van die vreeslike gevegte op die westelike front was. Hy het toe die rang van majoor gehad en het eers bevel gevoer oor ʼn eenheid van Shropshire en later ʼn eenheid van die Royal Irish Rifles.

Sy laaste deelname aan die oorlog was as kolonel in bevel van die Royal Scots Fusiliers. Hy kon baie van sy vorige ondervinding oor oorlog in die veld, asook oor lewe en slaap in die veld met die soldate onder sy bevel deel. Hy is ernstig gewond toe hy ʼn Duitse masjiengeweerstelling (die plek waar die masjiengeweer opgestel was en vanwaar die Duitsers op die Engelse soldate geskiet het) probeer opspoor het en is in die hospitaal opgeneem. Hy was deel van die oorlog tot met die sluiting van vrede in November 1918. 3

Deneys as regsgeleerde

Nadat hy na afloop van die Anglo-Boereoorlog na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy sy studie in die regte voltooi. Hy het vanaf 1908 in Heilbron in die Vrystaat as prokureur gepraktiseer (gewerk). 4

Nadat Deneys van die Eerste Wêreldoorlog af teruggekeer het, het hy sy regsloopbaan voortgesit. Dit het so goed gegaan dat hy in 1922 sy eie regspraktyk begin het – Deneys Reitz Geïnk. 3

Hierdie regsfirma was een van sy belangrike nalatenskappe. In 2011 het dit met ʼn internasionale firma saamgesmelt. 4

Besoek aan ‘n Skotse skeepswerf

Politikus en parlementslid

Nadat Deneys as lid van die Suid-Afrikaanse Party tot die politiek toegetree het (aan die politiek begin deelneem het), het hy eers in 1920 Bloemfontein-Suid verteenwoordig en daarna Port Elizabeth (vandag Gqeberha). In 1929 het hy die kiesafdeling van Barberton verteenwoordig. Nadat hy vir ʼn tyd nie by die politiek betrokke was nie, het hy in 1933 minister geword in die kabinet van generaal Hertzog. In 1935 het hy minister van landbou en bosbou geword en in 1943 minister van naturellesake (soos daar in daardie tyd na sake wat met swart Suid-Afrikaners verbandhou, verwys is). Hy was ook adjunkpremier in generaal Smuts se oorlogskabinet. 2

Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris, Reitz, besoek die vloot, 10 April 1943, Scapa Flow.

Gedurende die oorlogsjare was Smuts dikwels weg op oorsese besoeke, en dan moes Deneys as eerste minister waarneem – hierdie tyd kan as die hoogtepunt van sy politieke loopbaan beskou word.

In 1941 het hy ʼn vergadering met ʼn afvaardiging van die ANC, wat deur mnr. Jacob Zuma gelei is, gehad. Tydens hierdie vergadering het hulle ooreengekom oor twee sake – dat die paswette afgeskaf moet word en dat swart mense beter verteenwoordiging moes kry. Beide sake sou later in Suid-Afrika se geskiedenis weer heelwat aandag kry. 3

ANC se vlag

In 1943 het hy Suid-Afrika se hoë kommissaris in Londen geword. Hy was in hierdie pos tot met sy dood in 1944. 2

Deneys Reitz was ʼn goeie skrywer

Boeke wat uit sy pen verskyn het, was Commando: A Boer Journal of the Boer War, wat oorspronklik in Nederlands geskryf is (dit is die taal wat toe meestal veral as skryftaal in Suid-Afrika gebruik is) en in 1929 in Londen gepubliseer is. In 1933 verskyn Trekking On en in 1943 No Outspan. Die derde boek handel oor ʼn verskeidenheid onderwerpe, soos geskiedenis, politiek, reise en sport. 2

Commando: A Boer Journal of the Boer War word beskou as ʼn baie goeie dokument oor die Anglo-Boereoorlog, soos gesien deur die oë van ʼn soldaat wat alles waaroor hy skryf, eerstehands (self) beleef het. Dink so daaraan – dit was ʼn persoon wat net 17 jaar oud was toe die oorlog begin het en dus 20 jaar oud toe dit drie jaar later geëindig het. Hy skryf oor hoe dit was om ʼn guerrillavegter te wees en oor die tekort (om te min van iets te hê) aan ammunisie, kos, klere, perde. Hy skryf ook oor die manier waarop die Boere geveg het, die skrikwekkende kant van die oorlog, die Boere se gebrek aan dissipline en die karakter van sommige van die Boereleiers. Die boek is in eenvoudige taal geskryf, maar is baie realisties (dit beskryf die gebeure goed) en is een van die belangrike inligtingsbronne van die lewe as soldaat in die oorlog. 5

Leila Reitz

ʼn Mens kan nie na Deneys Reitz se geskiedenis kyk sonder om ook te kyk na wie sy vrou, Leila, was nie. Net soos haar man het sy ook belangrike bydraes op verskeie gebiede gelewer.

Leila Agnes Buissinné is op 13 Desember 1887 in Kaapstad gebore. Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy verder aan die Newham College in Cambridge, Engeland, studeer. Ná haar studies was sy ʼn dosent in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad totdat sy in 1920 met Deneys getroud is. Hy het op daardie stadium die rang van kolonel beklee.

Sy het haar man in sy politieke loopbaan ondersteun en was net soos hy, nou by die Suid-Afrikaanse Party betrokke. Sy was onder meer uitvoerende lid van die party se vroueafdeling, asook van die Witwatersrandse dagbestuur en die nasionale hoofkomitee. Sy was deel van die poging om daarvoor te sorg dat vroue in Suid-Afrika ook stemreg kan kry, en dit het in 1930 gebeur. In 1933 is sy tot die Volksraad verkies as lid van die Parktownkiesafdeling in Johannesburg. Hierdie setel het sy tot in 1943 behou toe sy bedank het om saam met haar man na Londen te gaan vir sy werk daar.

Sy was 72 toe sy op 27 Desember 1959 oorlede is. 6

Woordbank

afvaardiging Mense wat namens ʼn groep mense moet praat en besluite neem.
bandeliere ʼn Houer vir patrone wat skuins oor die skouer gedra word.
bedeling Reëling of stelsel.
beleg Wanneer mense deur ʼn vyand ingesluit of afgesluit word.
eed Baie ernstige en formele belofte.
guerrilla Oorlog wat meestal gevoer word deur klein groepies soldate wat strooptogte op die vyand se voorraad uitvoer, sabotasie pleeg of hinderlae opstel.
kommando Gewapende mag wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Boere op die been gebring is (bymekaar gebring is).
sensor Berigte wat na die buiteland gestuur is, moes deurgelees word om seker te maak dat daar nie inligting in is wat vir die Boeremagte skadelik kon wees nie.
struikelblok ʼn Belemmering of hindernis of beletsel. 8

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Deneys Reitz

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Deneys Reitz

Voorlesing van die voorwoord en hoofstuk 1 van die boek Commando: A Boer Journal of the Boer War

Uittreksel uit Commando: A Boer Journal of the Boer War. Hier kan jy ook kyk hoe ʼn bandelier lyk. 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Februarie 2023 | Bygewerk op 7 Maart 2024