C.R. Swart
As jy al in Roodepoort of in Middelburg gery het, het jy dalk al in C.R. Swartstraat afgery, of dalk is jy in Laerskool C.R. Swart of in Hoërskool Staatspresident C.R. Swart. Hoekom is soveel strate en geboue na dié man genoem? Charles Robberts Swart, oftewel C.R. Swart, was ʼn advokaat en politikus, die laaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Hy is op 31 Mei 1961 as staatspresident ingehuldig. 1
Beginjare
Charles Robberts Swart is op 5 Desember 1894 in die Vrystaat gebore. Sy ouers het ʼn plaas met die naam Morgenzon in die Winburg-omgewing gehad. Sy pa se naam was Hermanus Bernardus Swart, en sy ma se naam was Aletta Catharina Robberts. Sy ma het hom “Doempies” genoem, en hy was een van ses kinders.
Hy was net vyf jaar oud toe die Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog) uitgebreek het, en hy is saam met sy ma na die Winburg-konsentrasiekamp gestuur. Een van die kinders is tydens die oorlog dood. Sy pa het in die oorlog teen die Engelse geveg en is tydens een van die veldslae gewond en gevange geneem. 2
Hy het in 1902 op sewejarige ouderdom op Winburg begin skoolgaan. Hy was later ʼn leerder aan ʼn Christelike Nasionale Onderwys-skool wat gestig is in weerstand teen die beleid van verengelsing by staatskole. 2 Die woord “verengelsing” beteken dat kinders glad nie Afrikaans of Nederlands in skole mag gepraat het nie. Hulle mag net onderrig in Engels gekry het.
Swart was baie slim en het soms sommer twee standerds (vandag se grade) in een jaar afgelê. Hy was net 13 jaar oud toe hy matriek klaargemaak het. 1
Ná skool
Swart het ná matriek ʼn jaar lank in die landdroskantoor op Winburg gewerk. Hy het in 1910 aan die Grey-universiteitskollege gaan studeer en het in 1912 sy BA-graad behaal. Terwyl hy op Ficksburg skoolgehou het, het hy aanhou studeer en was daarna die sekretaris van die Raad van Eksaminatore van die Vrystaatse departement van onderwys. Hy het in 1918 sy LLB-graad behaal, en het weereens akademies uitgeblink met onderskeidings in vyf van sy ses vakke.
Swart is in 1919 as advokaat van die Vrystaatse Hooggeregshof toegelaat en het daarna in Bloemfontein as advokaat gepraktiseer.
Swart besluit om oorsee te studeer en is vir twee jaar na Engeland, Nederland en die Verenigde State van Amerika (VSA). Hy het byvoorbeeld van 1921 tot 1922 joernalistiek in die VSA studeer en daar ʼn interessante lewe gelei. 3
Hy het in 1923 na Suid-Afrika teruggekeer, is as volksraadslid (soos vandag se parlementslede) aangestel en het weer as advokaat gepraktiseer. Hy het ook in hierdie tyd deeltyds klas in landboureg aan die Glen-landboukollege buite Bloemfontein gegee. Dit was ook in hierdie tyd wat hy met ʼn mede-Vrystater getrou het. Hy en Cornelia Wilhelmina (Nellie) de Klerk is op 2 Desember 1924 in die eg verbind, en hulle het drie kinders gehad.
Sy lewe daarna was baie polities georiënteerd, maar eintlik was hy al sedert 1914 ʼn lid van die Nasionale Party (NP).
In 1932 is hy tot volksraadslid vir Ladybrand verkies, en in 1941 tot volksraadslid vir Winburg. Hy het die verskillende politiese trappe geklim en het later die leier van die NP in die Vrystaat geword.
Nadat die NP die nasionale verkiesing in 1948 gewen het, het Swart die nasionale minister van justisie geword en was daarna van 1949 tot 1950 ook die minister van onderwys, kuns en wetenskap. Hy was ook van 1954 tot 1959 die adjunk- eerste minister, so hy het omtrent baie portefeuljes hanteer. Hy is in 1959 tot goewerneur-generaal van die Unie verkies.
Kom ons loer net gou weer na waar die Unie vandaan kom. Ná die Anglo-Boereoorlog het die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand gekom het. Daaronder was die twee voormalige Boererepublieke (Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek) en die Britse kolonies van Natal en die Kaap. Suid-Afrika was egter steeds ʼn dominium van Brittanje, wat beteken dat dit steeds ʼn kolonie van Brittanje was, maar met volle eie bestuur.
Baie Afrikaanse mense was egter nog kwaad ná die oorlog en wou graag totale vryheid van Britse bewind hê. Hulle wou nie meer voel asof hulle ondergeskik is nie.
Die NP was ʼn groot voorstander daarvan om ʼn republiek te word en burgers is gevra om vír of téén republiekwording te stem. Daar is vir ʼn republiek gestem, en die amp van staatspresident het die amp van goewerneur-generaal vervang.
Interessant genoeg het die Grondwet van die nuwe republiek vir ʼn eerste minister (die hoof van die regering) en ʼn seremoniële staatshoof in die vorm van ’n staatspresident voorsiening gemaak. Die staatspresident is vir ʼn termyn van sewe jaar verkies. Daar was dus in daardie tyd ’n eerste minister (Hendrik Verwoerd van 1958 tot 1966) en ’n staatspresident. Dit het so gebly tot 1984 toe die poste van eerste minister en staatspresident saamgesmelt het.
Swart is op 31 Mei 1961 as staatspresident ingehuldig en het ná ses jaar afgetree. Hy was tot 11 Desember 1967 in dié pos en het daarna op sy plaas, De Aap, gaan bly.
Hy is op 16 Julie 1982 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.
Werd om te weet
Swart het ook sy stempel as joernalis en skrywer afgedruk. Hy het juis aan die toonaangewende Columbia-Universiteit in die VSA ʼn diploma in joernalistiek behaal. Hy het ʼn aantal artikels en kortverhale in Afrikaans en Engels vir koerante en joernale geskryf, asook gedigte, liedjies en selfs skoolliedere. Hy het ʼn besondere joernalistieke aanleg gehad en is daarom selfs poste as redakteur aangebied. Hy was op die direksie van die Nasionale Pers en die Voortrekkerpers. Hy het ook twee kinderboeke, Kinders van Suid-Afrika (1933) en Die agterryer (1939), geskryf.
Hy was ʼn kranige sportman en in ʼn stadium ʼn goeie rugbyspeler en skeidsregter. Hy het vir jare klubrugby gespeel en was ook sekretaris van die skeidsregtervereniging. Hy het selfs in die VSA ʼn Suid-Afrikaanse sokkerspan afgerig wat toe ʼn Chinese span in Wisconsin geklop het!
Kritiek teen Swart
Swart is gekritiseer as gevolg van die rol wat hy gespeel het om ANC-leiers uit die land te verban en die hoogverraadverhore wat tydens sy termyn as minister van justisie plaasgevind het. Hy is ook gekritiseer weens wetgewing wat hy deurgevoer het wat kommunisme onderdruk het. 3
Sy standbeeld by die Universiteit van die Vrystaat is al deur betogende studente beskadig.
Woordbank
burgers | Lid van ʼn stad of staat. |
dominium | ʼn Kolonie van ʼn moondheid, maar met volle verantwoordelike bestuur. |
goewerneur-generaal | Die verteenwoordiger van ʼn koning of koningin as staatshoof van ʼn gebied. |
kommunisme | Dis ʼn ekonomiese of politieke stelsel waarin die staat alle eiendom, industrieë en ekonomiese instellings besit en beheer en daar probeer word om alle mense gelyk te behandel. |
ondergeskik | Onder iemand se bevel, van ʼn laer rang of afhanklik wees van iemand. |
regering | Die bestuur van ʼn land. |
republiek | ʼn Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
unie | Die naam van ʼn verbond of vereniging. Suid-Afrika was van 1910 tot 1961 ʼn unie. |
veldslae | Geveg tussen vyandelike magte in die veld. 6 |
Lees dié artikels om meer te leer
- Wie was C.R. Swart?
- Meer inligting oor die Winburgkonsentrasiekamp en die begraafplaas
- Doodsberig oor Swart in die New York Times
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog
Ou beeldmateriaal uit die argiewe toe die republiek begin is
Ou beeldmateriaal uit die argiewe toe die Unie ontstaan het