Vinnige feite

  • Taliep het in die laat 1960’s aan ’n talentkompetisie in Kaapstad deelgeneem en daarin die titel “Mr Entertainment” gewen. 4
  • Taliep se eerste vrou, Madeegha, is as Velma Anders gebore. 5
  • Madeegha was 17 jaar oud toe sy vir Taliep ontmoet het en sy haar eerste rol gekry het in een van sy produksies – Carnival a la District 6. Sy het saam met die vertoning na Swaziland getoer. 5
  • Fairyland het die FNB Vita-toekenning vir beste musiekblyspel ontvang.
  • Taliep en David het in 1999 vir Kat and the Kings die Best New Musical Olivier Award ontvang.
  • Die hele geselskap van Kat and the Kings het die toekenning vir Beste Akteur ontvang. 1

Taliep het met die musiek wat hy saam met David Kramer gemaak het, baie bekend geword. Ongelukkig het die manier waarop hy oorlede is, amper net soveel aandag getrek soos al sy musiek.

Distrik Ses, 1983

Taliep se gesinne

Taliep Petersen is op 15 April 1950 in Distrik Ses, Kaapstad gebore. Hy was eers getroud met Madeegha Anders, en daarna was sy tweede huwelik met Najwa Dirk Petersen.

Sy en Madeegha se drie dogters se name is Jawaahier, Aeesha, Fatiema en hulle het ook ’n seun Ashur gehad. Hy en Najwa het een dogter met die naam Zaynab gehad. 1

Hy het ook ’n dogter, Natasha Vorster, uit ’n vorige verhouding gehad. 2

Sy loopbaan begin vroeg

Hy was net ses jaar oud toe hy by die jaarlikse Kaapse Klopse-karnaval gesing het. Sy eerste deelname aan ’n opvoering was in 1974 toe hy ’n rol gespeel het in die produksie Hair.

Taliep het klassieke kitaar bestudeer by die Fitznells School of Music in Engeland. Die eerste revue wat hy geskryf het, het hy genoem Carnival a la District Six en die tema daarvan was die jaarlikse Nuwejaarsvieringe in Kaapstad.

In die 1980’s het hy ’n groep met die naam Sapphyre gevorm wat hul weergawe van tradisionele Maleiermusiek gespeel het.

In 1986 het hy en David Kramer begin saamwerk toe hulle hul eerste gesamentlike musiekblyspel, District Six: The Musical in 1987 geskryf het. Hierin het hulle die geskiedenis van die bruin gemeenskap in Kaapstad vertel. Hulle het hierdie eerste sukses voortgesit en nog ’n aantal musiekblyspele saam geskryf, waaronder Poison (1992), Crooners (1992), Kat and the Kings (1995), Klop Klop (1996) en ook Ghoema (2006).

Met hierdie produksies wat hulle saam op die planke gebring het, het hulle nie alleen in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland aandag getrek. Kat and the Kings is ook in Londen se bekende Weseinde opgevoer asook in Duitsland, Nederland, Las Vegas en meer as 150 keer in New York se Broadway. Ghoema het kort voor Taliep se dood in die Tricycle Theatre (vandag bekend as die Kiln Theatre) in Londen met ’n speelvak begin. 1

Taliep was een van die beoordelaars in die eerste seisoen van Idols Afrikaans. Hy was deel van die reeks totdat dit in Augustus 2006 klaargemaak het.

Taliep het daarna ook na die wêreld van televisie beweeg. In 2001 het hy ’n televisiereeks geskep en aangebied met die titel O’se Distrik Ses. Hy het opgetree in ’n realiteitsreeks Joltyd waarin na nuwe talent gesoek is op kykNET en in 2002 het hy ’n situasiekomedie (oftewel sitkom) met die titel Alie Barber vir televisie vervaardig. In 2005 was daar ’n tweede seisoen van Alie Barber. In 2006 het Taliep liedjies uit dié reeks uitgegee op ’n album met die titel Dik en Dun. Hierdie was sy eerste Afrikaanse CD. 1

In die musiekblyspel, Pippin, 1974

Die storie van sy lewe

Paula Fourie het ’n biografie oor Taliep geskryf met die titel Mr Entertainment. The Story of Taliep Petersen. Vir hierdie biografie het sy vir 10 jaar lank navorsing gedoen deur meer as 50 onderhoude te voer met die mense wat hom die beste geken het – sy familie, vriende en die mense wat saam met hom gewerk het. Sy beskryf Taliep as ’n komplekse persoon wat vele kante aan sy persoonlikheid gehad het. Sy het ook die proefskrif vir haar doktorsgraad oor Taliep se lewe geskryf.

Die boek vertel nie net die storie van Taliep se lewe nie, maar vertel ook oor die musiek- en vermaaklikheidswêreld vanaf 1950 tot die 2000’s in Suid-Afrika, met al die verskeidenheid in kulturele gebruike. Deur die loop van die boek sien mens ook meer oor Suid-Afrika se ingewikkelde geskiedenis. 3

Die boek vertel van Taliep se lewe vanaf sy geboorte in Distrik Ses waar hy as ’n kind saam met ’n baie streng pa geleef het en die jare waarin hy daarna gestreef het om vir homself naam te maak in Kaapstad se musiekwêreld. Hy was in ’n stadium ’n skaam tiener wat deur die komediant Jerry Hector na ’n koerant geneem is om publisiteit vir sy werk te kry. Taliep het verander vanaf die onbekende tiener in ’n baie selfversekerde, soms oorversekerde kunstenaar wat homself na sukses gedryf het.

Sy skryf ook oor die tyd waarin hy ’n deurbraak gemaak het en ’n gewilde orkesleier was vir optredes by die vyfsterhotelle in die Kaap. Lesers lees ook van sy geloof, sy liefde vir die Kaapse Klopse en die Maleierkore en natuurlik van sy goue jare met die suksesvolle musiekblyspele tot en met sy dood.

Sy skram nie daarvan weg om ook te skryf oor onaangename gebeure tydens sy eerste huwelik met Madeegha wat nie algemeen goedkeuring sou wegdra nie. Sy gedrag was nie altyd dieselfde as die van die man wat deur sy gehore bewonder is nie. Die skryfster noem dat selfs Taliep se kinders bewus was van sy “komplekse” persoonlikheid.

In die boek word ook genoem dat Taliep nie rolle gehad het in Des en Dawn Lindberg se opvoerings Godspell en Jesus Christ Superstar soos hyself gesê het nie. Hy was wel deel van die Lindbergs se produksie Pippin. Ook oor van sy opvoedkundige kwalifikasies is daar twyfel omdat daar nie bewyse daarvan is nie.

Daar is ook bespreking in die boek oor wie van Taliep en David Kramer se bydrae werklik die meeste bygedra het tot die sukses van die baie musiekblyspele waaraan hulle saam gewerk het – David se teks of Taliep se lirieke. 4

Twee huwelike

Taliep het sy eerste vrou, Madeegha Anders, ontmoet toe sy in Kaapstad opgetree het en hy haar in daardie vertoning gesien het. Hulle het vir agt jaar uitgegaan voor hulle getroud is. Die jonggetroudes het saam op ’n pelgrimstog na Mekka gegaan. Hulle het vier kinders gehad, drie dogters – Jawaahier, Aeesha, Fatiema en ’n seun Ashur. 5

Met hierdie huwelik het dit later nie goed gegaan nie. Taliep se pa en sy skoondogter het blykbaar ook nie van mekaar gehou nie en hulle is uiteindelik geskei.

Taliep se tweede vrou, Najwa Dirk Petersen, was vriende met sy eerste vrou. Ná die egskeiding is sy en Taliep getroud en hulle het ’n dogter met die naam Zaynab gehad.

Taliep se pa, Mogamat Ladien, het aan die begin van sy nuwe skoondogter gehou omdat sy altyd vriendelik was. In April 2006 het dinge drasties verander toe Najwa vir Taliep in sy nek gesteek het terwyl hy geslaap het. Hierna was Taliep se vier oudste kinders so bang vir sy nuwe vrou dat hulle nie meer by hulle pa se huis wou kom nie. Selfs Taliep was bang vir sy vrou. Met hom en haar familie het dit ook nie so goed gegaan nie omdat hy altyd vir hulle geld moes gee wanneer hulle in die moeilikheid was.

Op Saterdag 16 Desember is Taliep in sy huis doodgeskiet. Hy is op 17 Desember in Athlone, Kaapstad begrawe. 5

Des en Dawn Lindberg saam met Taliep

Die skuldige

Op Maandag 18 Junie 2007 is Taliep se vrou by hul huis deur die polisie in hegtenis geneem vir die moord op haar man. Drie mans wat almal vir haar familie se sakeonderneming, Dirk Fruit Supply Oshakati CC, gewerk het, is ook in hegtenis geneem. Hierdie onderneming was in Namibië geleë en het in- en uitvoere hanteer. Getuienis het gewys dat Najwa die drie mans elkeen R50 000 betaal het om haar man te vermoor. Uiteindelik het sy self die sneller van die wapen getrek.

Sy is op 2 Desember 2008 in die Kaapstadse Hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Taliep en op 4 Februarie 2009 is sy tot 28 jaar gevangenisstraf gevonnis. 6

Taliep se kinders

Fatiema Petersen, Taliep se een dogter, het in 2018 nogal aandag getrek toe sy sommer vir die pret ’n video waarin sy sing opgeneem het waarmee haar broer, Ashur, haar gehelp het. Hierdie video is in daardie tyd meer as 600 keer per dag gekyk. Fatiema het ’n honneursgraad in maatskaplike werk en het, volgens haar, haar sangtalent van haar pa en haar ma Madeegha gekry.

Ashur is ’n sanger, liedjieskrywer en vervaardiger van musiekproduksies.

Taliep se ander kinders is ook besig om hul eie lewens te lei. Natasha is ’n prokureur, Jawaahier is ’n maatskaplike werker met ’n meestersgraad, Aeesha is streekbestuurder vir ’n mediese maatskappy en sy bemark ook haar eie klerereeks vir kinders. Die jongste, Zaynab, het in 2017 matriek geskryf. 7

Sy studeer tans onderwys in Kaapstad. 8

Taliep Petersen is op 16 Desember 2006 in Athlone oorlede.

Woordbank

biografie Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing.
deurbraak Iets wat gebeur wat dinge in ’n nuwe rigting stuur – dit het gewoonlik ’n positiewe betekenis.
Kaapse Klopse Die Kaapse Klopse is ’n karnaval eie aan Kaapstad en word ook amptelik die Cape Town Minstrel Carnival genoem. Dit vind elke jaar op 2 Januarie (Tweede Nuwejaar) plaas. Soms paradeer daar tot soveel as 13 000 liedjiesangers in “klopse” op, wat “klubs” in Kaapse Afrikaans is.
komplekse Ingewikkelde, gekompliseerde.
maatskaplike werker Iemand wat hulp en leiding gee aan gesinne in die gemeenskap wat ekonomiese/ geestelike/of ander probleme het.
op die planke Op die verhoog.
pelgrimstog Iemand wat na ’n heilige plek reis om daar te aanbid.
proefskrif Wetenskaplike verhandeling (skryfstuk/dokument/boek) wat mens indien om jou doktorale graad te verwerf (te kry).
revue Teateropvoering waarin daar musiek, danse en toneel aangebied word.
selfversekerd Om seker te wees dat jy sal kan doen wat jy graag wil doen.
situasiekomedie ʼn TV-reeks met dieselfde groep karakters in alledaagse situasies en deurlopende komiese gebeure; sitkom.
skram nie daarvan weg Is nie bang om alle feite te noem nie.
speelvak Die aantal opvoerings van ’n toneelstuk direk na mekaar.

Lees meer

Kyk hier

Taliep se kinders gesels oor huldekonsert 10 jaar ná Taliep se dood

Gepubliseer op: 3 Junie 2024 | Bygewerk op 26 Junie 2024