Vinnige feite

  • Bopape is oorleef deur albei sy ouers en ’n broer. Sy pa is in 1996 oorlede, agt jaar ná sy seun. 3
  • Stanza Bopape se liggaam is nooit gevind nie. 13

Die afgelope twee dekades is heelwat straatname in Suid-Afrika verander om hulde te bring aan mense wat ’n bydrae gelewer tot die totstandkoming van ’n demokratiese land in 1994. Dit is nie ’n verskynsel wat net tot Suid-Afrika beperk is nie. Wêreldwyd word strate se name verander of nuwe straatname bygevoeg.

In September 2007 het die Stadsraad van Tshwane (Pretoria) ’n resolusie aanvaar om die name van ’n aantal strate te verander. Khorombi Dau, wat destyds die speaker van die stadsraad was, het gesê die nuwe name is van mense wat aan die vryheidstryd deelgeneem het, kulturele aktiviste of mense wat hulle vir geslagsgelykheid beywer het. 1

Stanza Bopape-straat, Pretoria

Een groot verandering was toe die bekende Kerkstraat, waar die bekende standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein staan, in vier dele verdeel is wat elk sy eie naam gekry het. Dié vier dele is:

  • Vanaf Nelson Mandelastraat in ’n oostelike rigting is die straat se naam nou Stanza Bopape.
  • Vanaf Nelson Mandelastraat in ’n westelike rigting tot by Kerkplein is die naam nou Helen Joseph.
  • Vanaf Kerkplein in ’n westelike rigting is die naam W.F. Nkomo.
  • Vanaf die R511 in ’n westelike rigting is die naam Elias Motsoaledi. 2

In hierdie artikel kyk ons na Stanza Bopape, ’n aktivis wat deel van die bevrydingstryd teen apartheid was.

Die jong Stanza Bopape

Johannes Maisha (Stanza) Bopape is op 26 April 1961 in Mamelodi-Oos in Pretoria gebore. Hy het eers die Rebalelaka Seconday School bygewoon en het later die Mamelodi High School. 3

Bopape het by die South African Students’ Organisation (SASO) en die plaaslike tak van die African National Congress Youth League (ANCYL) aangesluit terwyl hy nog in die hoërskool was. Nadat hy matriek voltooi het, het hy al meer in die gemeenskap betrokke geraak. In 1987 word hy as hoofsekretaris van die South African National Civic Organisation (SANCO) in Mamelodi verkies. 3

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Bopape as ’n bedreiging vir die land se veiligheid beskou en gemeen dat hy ’n gevaarlike invloed in die gemeenskap het. Terwyl hy van die polisie gevlug het, het hy mense teen apartheid georganiseer en gemobiliseer.

Op 10 Junie 1988 is hy in Hillbrow deur die polisie gearresteer. Hy is na die John Vorsterplein- polisiekantoor geneem. Hy is saam met Murphy Morobe, ’n jong aktivis van Soweto, aangehou en volgens inligting is hulle gemartel. Hy is op 12 Junie 1988 oorlede terwyl hy in aanhouding was. Die polisie het op 4 Julie 1988 vir sy familie gesê dat hy uit die gevangenis ontsnap het. 3

Die polisie het Bopape daarvan verdink dat hy betrokke was by bomaanvalle by ’n kleuterskool in Proesstraat, asook by ’n tak van die Juicy Luicy-restaurant in Vermeulenstraat (albei in Pretoria). 4 Hy is ook van die aanval op die Sterland-rolprentteater in Pretoria op 15 April 1988 verdink. 5

’n Vriend wat saam met hom aangehou is, het ná sy dood in ’n video-opname gesê dat Bopape ’n senior lid van umKhonto weSizwe (MK), die militêre vleuel van die ANC (amper soos ’n weermag), was. 6

Stanza Bopape se dood

Die hoof van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) se ondersoekeenheid het in Maart 1997 gesê dat tien polisielede om amnestie aansoek gedoen het vir aanklagte rondom die dood van Stanza Bopape. 7

Die WVK is ná die eerste demokratiese verkiesing op die been gebring om menseregteskendings deur ondersteuners én teenstanders van apartheid te ondersoek. Wyle aartsbiskop Desmond Tutu was die voorsitter van die WVK en hy het talle keer tydens die WVK-verhore in trane uitgebars. 8

Luitenant Charles Zeelie het voor die WVK erken dat Bopape deur die polisie met elektriese skokke gemartel is. Hy het ook gesê hy dink dat Bopape aan ’n hartaanval gesterf het. Vyf polisielede het om amnestie aansoek gedoen omdat hulle hom gemartel het en hulle het amnestie gevra vir sy dood. Twee polisielede het om amnestie aansoek gedoen vir hul betrokkenheid om van sy liggaam ontslae te raak.

Generaal Johan van der Merwe, destydse nasionale kommissaris van die polisie, en twee ander generaals in die polisie het amnestie gevra omdat hulle die werklike redes vir sy dood probeer toesmeer het (dit probeer wegsteek het). 9

Só word Stanza Bopape onthou

Benewens die deel van Kerkstraat wat na Stanza Bopape vernoem is, is daar ook ’n kliniek in Mamelodi buite Pretoria na hom vernoem. 3

In Mamelodi is daar ’n hoërskool met die naam Stanza Bopape Secondary School, 10 en jy sal die Stanza Bopape Community Centre in dieselfde woongebied aantref. 11

Die Stanza Bopape Development Centre of gemeenskapsentrum is ’n veeldoelige sentrum wat ’n reeks dienste lewer. Dit is in 1994 as ’n organisasie sonder winsoogmerk geregistreer. Die doel van die sentrum is om aandag te gee aan die sosio-ekonomiese probleme in Mamelodi-Oos. 12 Projekte wat deur die sentrum hanteer word, sluit in stedelike landbou, ’n vaardigheidsentrum, ’n voedingsentrum, ’n adviessentrum asook ’n sentrum vir weeskinders en kwesbare kinders. 13 Daar is ook ’n monument en ’n sportsentrum in Mamelodi wat sy naam dra. 14

Stanza Bopape se monument in Mamelodi

Woordbank

aktivis  Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale of politieke verandering te laat gebeur.
kwesbare Iets of iemand wat maklik beskadig of seergemaak kan word.
resolusie Beslissing of besluit.
speaker Voorsitter, dit word meesal gebruik vir die voorsitter van ’n volksraad.
vaardigheid Die vermoë om iets goed te kan doen.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video om meer te wete te kom

Die SAUK berig oor die WVK-verhoor oor Bopape

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Augustus 2024 | Bygewerk op 3 Oktober 2024