Vinnige feite

  • Die Sophie de Bruyn-straat in Pretoria is ongeveer 1,64 km lank. 7
  • Vrouedag word jaarliks op 9 Augustus in Suid-Afrika herdenk.
  • Ongeveer 20 000 vroue het aan die 1956-optog deelgeneem, en dit het vroue van verskillende rasse saamgesnoer. Die optog het daartoe gelei dat die hooforganiseerder Lilian Ngoyi tot die ANC se uitvoerende komitee verkies is. In daardie tyd was vroue nooit deel van die uitvoerende komitee nie.
  • Die woorde “slaan ʼn vrou, slaan ʼn rots” is by die 1956-optog
  • Williams-de Bruyn was die eerste ontvanger van die Suid-Afrikaanse vrouetoekenning vir uitstaande nasionale diens.
  • Sy is al met verskeie toekennings beloon, soos die Ida Mntwana-toekenning in Silwer. Sy het ook die Mahatma Gandhi-toekenning ontvang.
  • Williams-de Bruyn was in 1980 een van die stigters van die ANC se onderwysraad in Lusaka en was verantwoordelik vir die opleiding en onderrig van ANC-lede. Sy was ook betrokke by die program om ANC-lede op te lei en vir hul regeringsposte te ontwikkel.
  • Sy was ook ʼn lid van die nasionale uitvoerende komitee van die ANC se Vroueliga.

In die jaar 2012 het die Tshwane-metroraad besluit om 27 straatname te verander. Een van die strate wat hernoem is, is Schubart-straat wat nou Sophie de Bruyn-straat heet. 1

Schubart-straat is aanvanklik na die Nederlander Anton Schubart genoem, wat eens op ʼn tyd ʼn staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek was … 2

Dit is ʼn groot eer as ʼn straat na jou genoem is, en die eer het Sophie de Bruyn te beurt geval omdat sy ʼn anti-apartheidsaktivis was en ook een van die organiseerders van die bekende vroue-optog op 9 Augustus 1956. Ons vier nou jaarliks Nasionale Vrouedag op 9 Augustus ter herinnering aan daardie dag.

Agtergrond

Sy is as Sophia Theresa Williams in 1938 in Villageboard in Port Elizabeth gebore. Dit was ʼn buurt waar klomp mense van verskillende rasse gebly het, maar die buurt bestaan nie meer vandag nie. Dit is nou ʼn industriële gebied. Die Williams se gesin moes later ook weens die Groepsgebiedewet se bepalings na ʼn omgewing vir uitsluitlik bruin mense verhuis het. Dit is Schauder genoem. 3

Sophie Williams-de Bruyn se ouers se name was Henry Ernest en Frances Elizabeth Williams, en sy het ʼn broer en ʼn suster gehad. Sy het as kind die Saint Patrick- en Saint James- Katolieke Skole bygewoon. Sy het in ʼn huis grootgeword waar daar ʼn politieke bewustheid was, en sy was van jongs af bewus van ongeregtighede in die samelewing.

Daar was groot ongeletterdheid in haar gemeenskap, en haar pa was ʼn gemeenskapsleier wat dikwels mense moes help en namens hulle briewe aan die regering oor hul pensioen skryf. Dit het haar gepla dat mense so magteloos onder apartheid was. 4

Sy was nog in die skool toe sy naweke en vakansies by die Van Lane-tekstielefabriek vir sakgeld begin werk het. Sy het toe haar pa se rol oorgeneem deur werkers te help om hul griewe by die bestuur van die fabriek te lug. Sy het toenemend betrokke geraak en het besluit om skool te laat vaar sodat sy voltyds kon werk en by die vakbond betrokke wees. Sy was die werkers se verteenwoordiger by die vakbond en is tot die uitvoerende raad van die Tekstielwerkersvakbond verkies. [Lees oor vakbondwese.] Sy het daar saam met bekende aktiviste soos Raymond Mhlaba, Vuyisile Mini en Govan Mbeki gewerk. Dit was vir haar belangrik om teen apartheid te veg, en sy was ook ʼn stigterslid van die Suid-Afrikaanse Kongres van Vakbonde (SACTU). Dit was die voorganger van die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakbonde (COSATU).

Sy het later na Johannesburg getrek, en sy het daar as organiseerder van die Coloured People’s Congress (CPC) gewerk. Hulle het die ANC gehelp om teen diskriminerende apartheidswetgewing te veg. 5

Sy het vir ʼn ruk in Johannesburg gewerk, maar soos meer en meer aktiviste in hegtenis geneem is, het sy weer na Port Elizabeth teruggekeer. Sy het weer ʼn werk by ʼn tekstielfabriek gekry en is in 1959 met Henry de Bruyn getroud. Hy was ook ʼn aktivis en deel van die ANC se eenheid, Umkhonto we Sizwe. Die paartjie het dikwels anti-apartheidsaktiviste gehelp om vir die polisie weg te kruip. Hulle was self ook in die spervuur en is dikwels deur die polisie ondervra. Haar man is ook gemartel. Hulle moes later uit die land vlug, en hulle het die ANC se werk in Lusaka, Zambië, voortgesit. Hulle het daar saam met die ANC-leier Oliver Tambo gewerk.

Oliver Tambo

Die De Bruyns het drie kinders daar grootgemaak, en sy het ook besluit om haar skoolloopbaan te voltooi en verder te studeer. Sy het in die dag vir die ANC gewerk en in die aand klas geloop. Sy het gevolglik haar hoërskoolloopbaan en ʼn onderwysdiploma voltooi.

Williams-de Bruyn het ʼn pos as dosent by die Verenigde Nasies se Instituut van Namibië (UNIN) gekry. Sy het daar vir aktiviste klas gegee om hulle vir bestuursposisies in Namibië gereed te maak.

Sy en haar man het mekaar in daardie tyd min gesien omdat hy in Rome gewerk het. Sy het haar tyd tussen werk vir die ANC, pligte as deel van die vroueliga en UNIN verdeel. Sy is ook in 1988 tot hoof van haar departement bevorder.

Die verbod op die ANC en sy lede is in 1990 gelig, en die De Bruyns kon na Suid-Afrika terugkeer. Sy het weer vir die ANC begin werk en het saam met mense soos Hermanus Loots, Joe Jele, Valli Moosa en Ahmed Kathrada gewerk. Sy was gemoeid met die ANC se strukture, riglyne, leierskap en die optrek en implementering van beleide. Sy het die ANC se personeelhoof geword, en toe haar man ʼn ambassadeurspos in Jordanië gekry het, het sy saam met hom gegaan en daar gewerk. Hy is in Junie van 1999 oorlede.

Sy het ook op die Kommissie vir Geslagsgelykheid gedien voor sy in 2004 by die Gautengse wetgewer aangesluit het. Sy was van 2005 tot 2009 die adjunkspeaker voordat sy ʼn lid van die nasionale parlement geword het. Sy is steeds ʼn lid van die ANC en was tot onlangs toe betrokke by die ANC se Integriteitskommissie en die Ahmed Kathrada-stigting. 6

Die vroue-optog

Sophie Williams-de Bruyn was aan die voorpunt van die 1956-optog na die Uniegeboue. Die ander vroueleiers was Lilian Ngoyi, Helen Joseph en Rahima Moosa. Williams-de Bruyn was slegs 18 jaar oud ten tyde van die optog, en sy is vandag die enigste oorblywende leier van die historiese gebeurtenis.

Ongeveer 20 000 vroue het aan die vreedsame protes deelgeneem. Die vroue het hul misnoeë met die apartheidsregering se destydse paswette getoon. Swart vroue is toe by die paswette ingesluit en moes ook ʼn pasboek gedra het.

Hoewel dit ʼn vreedsame optog van vroue was, het hulle inhegtenisnemings gevrees omdat vroue van ander rasse nie in daardie stadium die Uniegeboue mag besoek het nie.

Hulle wou petisies aan die eerste minister J.G. Strijdom oorhandig het, maar hy het geweier om hulle te sien.

J.G. Strijdom

Woordbank

apartheid Die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948-1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is.
aktiviste Dit is iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale of politieke verandering teweeg te bring.
diskriminerende Onderskeid word tussen mense of groepe getref, en een mens of groep word anders as die ander behandel.
magteloos Sonder mag of krag.
ongeletterdheid Iemand wat nie geleerd is nie.
ongeregtighede Onregverdigheid.
optog ʼn Groep mense wat iewers heen beweeg.
protes Dit is iets wat jy doen om vir almal te wys dat iets verkeerd en onregverdig is.
vakbond ʼn Vereniging van mense wat dieselfde vak beoefen om die belange van die lede te behartig. 8

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Sophie de Bruyn

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Sophie de Bruyn

Wie is Sophie Williams-de Bruyn?

Die vroue-optog

Sophie Williams-de Bruyn besoek die grafte van ander vroue-leiers

Gepubliseer op: 20 Februarie 2023 | Bygewerk op 7 Mei 2024