Vinnige feite

  • umKhonto weSizwe beteken in Afrikaans “Die spies van die nasie”. 2
  • MK-soldate is ook kaders genoem. 2
  • Die twee lede van die publiek wat deur Mondi Motloung doodgeskiet is, was Rupert Kessner en Kenneth Wolfendale. 3
Foto: iStock

As jy al ooit op die snelweg verby Pretoria gery het, het jy al sekerlik die afrit na Solomon Mahlangu-weg gesien. Dié pad, wat voorheen Hans Strijdom-weg was, is ongeveer 12 km lank. Dit loop in ’n noordoostelike rigting vanaf Centurion tot by Mamelodi, verby die Waterkloof-lugmagbasis en woongebiede soos Lyttelton, Waterkloof, Wierdapark, Elarduspark, Moreletapark en Constantiapark. 1

Nou wonder jy seker wie Solomon Mahlangu was. Mahlangu was ’n aktivis wat in die gewapende stryd teen die regering se destydse apartheidsbeleid geveg het. Hy is eindelik ter dood veroordeel. Kom ons leer meer oor hom.

Geboorte en skooljare

Solomon Kalushi Mahlangu is op 10 Julie 1956 in Pretoria gebore. Sommige bronne sê egter dat hy in Doornkop in Middelburg, Mpumalanga, gebore is. Sy ma was Martha Mahlangu wat as ’n huishulp gewerk het. Sy pa het die gesin in 1962 verlaat en het sy seun net nou en dan gesien. Sy ma moes Solomon toe op eie houtjie (alleen) saam met sy vier broers en susters grootmaak. 2

Mahlangu het net tot in die destydse standerd agt (vandag graad 10) by die Mamelodi High School skoolgegaan, maar omdat die skool as gevolg van onluste gesluit het, het hy nie sy skoolopleiding voltooi nie. Dié skole- en studente-onrus of protesaksies het op 16 Junie 1976 begin. Dit staan as die Soweto-onluste bekend en het deur die hele land versprei. Mahlangu is deur Thomas Masuku gewerf om aan die protesoptrede deel te neem. 2

Mahlangu het in September 1976 by die African National Congress (ANC) aangesluit en Suid-Afrika verlaat om militêre opleiding as ’n soldaat van umKhonto weSizwe (MK), die militêre vleuel van die ANC (amper soos ’n weermag), te kry.

Hy het nie vooraf vir sy familie gesê van sy planne om die land te verlaat nie. Hy het glo net ’n briefie onder sy broer se kussing gelos waarin hy geskryf het dat hulle nie na hom moet soek nie. Eers later het Temba Nkosi, ’n jong man saam met wie Mahlangu die land verlaat het, se pa vir die familie gesê dat Mahlangu die land verlaat het om by die ANC aan te sluit. 2

Militêre opleiding in die buiteland

Mahlangu, Masuku, Nkosi en Richard Chauke het na Mosambiek gereis. Hier het hulle vir ses maande in die Xai Xai-vlugtelingkamp deurgebring. Van hier is hulle na die ANC se opleidingsinstansie genaamd Engineering in Angola geneem.

Mahlangu het vir die eerste ruk aan verskeie selle behoort (dit is soos kleiner afdelings genoem is), maar later by ’n eenheid van tien mans aangesluit. Hierdie groep was onder leiding van Julius Mokoena, wat aan die hoofkommandant, Joe Modise, gerapporteer het. Dié eenheid is by die Fundakamp opgelei en het blitskursusse in onder meer sabotasie, militêre gevegskuns, verkenning en politieke sake ontvang. 2

Mahlangu gevange geneem

Mahlangu en sy MK-eenheid het Angola teen die middel van 1977 verlaat. Hulle opdrag was om in Suid-Afrika te kom help met die studenteprotes waarmee die Soweto-opstand van 1976 herdenk sou word.

Hulle het deur Mosambiek tot by Namatswa op die grens van Swaziland (vandag Eswatini) gereis. Hier is hulle deur Collin Ramusi ontmoet en na ’n plek van veiligheid in Mbabane geneem. Generaal Siphiwe Nyanda het hulle voorberei en elkeen het ’n tas gekry met ’n vals bodem waarin daar pamflette, wapens en handgranate was. Dit was die gebruik dat eenhede van MK in kleiner selle van drie persone opgedeel word. Mahlangu was in só ’n sel saam met George Lucky Mahlangu en Mondy/Monty Motloung. 2

Op 11 Junie 1977 het hulle die grens by Piet Retief in Mpumalanga (die destydse Oos-Transvaal) oorgesteek. Hulle was swaar gewapen, het die heeltyd rondbeweeg en by familie of kontakte se huise gebly. Hulle het orals wapens vir ander kaders agtergelaat. 2

Hierdie bewegings van MK se soldate in en uit Suid-Afrika was onwettig in daardie tyd. Hulle het die land binne- en buitegesluip en ten alle koste probeer om nie deur die polisie gevang te word nie.

Op 13 Junie was hulle op pad na die minibustaxistaanplek in Diagonalstraat in Johannesburg vanwaar hulle ’n taxi na Soweto wou kry. Omdat dit net drie dae voor die herdenking van die Soweto-opstand was, was polisielede oral te siene. ’n Swart polisielid het die drie mans gewaar wat met groot sakke in ’n taxi wou klim en wou weet wat in die sakke is. Toe hy na een van die sakke gryp, het daar ’n handgranaat en ’n AK47-geweer uitgeval. Die drie mans het geskrik en weggehardloop. Lucky het in die riging van Parkstasie gehardloop en weggekom. 2

Mahlangu en Motloung het met Jeppestraat af gehardloop. Op pad het hulle met ’n polisielid gestoei. Hulle het weggekom, maar die polisielid het op hulle geskiet en Mahlangu in die enkel gewond. Hulle het aangehou hardloop en in Gochstraat ingedraai. Mahlangu het by John Orr (’n winkel) ingehardloop en daar weggekruip. Motloung het ook by die winkel inhardloop, skote afgevuur en twee van die winkel se werknemers doodgeskiet. Twee ander lede van die publiek is ook gewond. 2

Intussen het polisie die hele gebied omsingel (omring) en die twee kon nie ontsnap nie. Hulle is deur die omstanders (mense wat gesien het wat gebeur het) en die polisie aangerand. Daarna is hulle in hegtenis geneem en by die John Vorsterplein-polisiekantoor aangehou. Die koerante het gou van die inhegtenisneming gehoor. Berigte met opskrifte soos “Terroriste in die land” het verskyn. 2

Die hofsaak

Terwyl hulle deur die polisie aangehou is, is Mahlangu en Motloung glo verder aangerand. Motloung het breinskade opgedoen en uiteindelik het Annah Venter, ’n kliniese sielkundige, gesê dat hy nie geskik is (nie in staat is nie) om verhoor te word nie. 2

Mahlangu se hofsaak het vanaf 7 November 1977 tot 1 Maart 1978 geduur. Hy is aangekla op twee aanklagte van moord en verskeie aanklagte wat met die Wet op Terrorisme verband gehou het. Hy het onskuldig gepleit. Die regter het bevind dat Motloung die persoon was wat die twee lede van die publiek doodgeskiet het, maar dat Mahlangu deel van die groep was en dat hy dus aandadig was (ook skuldig was daaraan).

Hy is skuldig bevind aan die twee moorde asook aan drie aanklagte ingevolge die Wet op Terrorisme. Hy is op 2 Maart 1978 ter dood veroordeel. 2

Mahlangu se vonnis is nie dadelik voltrek (uitgevoer) nie. Sy saak het baie aandag getrek, ook vanuit die buiteland. Daar was baie druk op die Suid-Afrikaanse regering om sy vonnis tersyde te stel (om die vonnis te kanselleer) en om vryheidsvegters as politieke gevangenes en nie as terroriste te beskou.

Die regering het egter nie sy vonnis verander nie en Mahlangu is twee jaar later, op 6 April 1979, opgehang (destyds is misdadigers aan ’n galg tereggestel). Mahlangu was 23 jaar oud.

Volgens inligting was sy laaste woorde: “My blood will nourish the tree that will bear the fruits of freedom. Tell my people that I love them. They must continue the fight.” (My bloed sal die boom voed wat die vrugte van vryheid dra. Sê vir my mense dat ek lief is vir hulle. Hulle moet die stryd voortsit). 3

Omdat die polisie bekommerd was oor openbare reaksie vanaf die publiek in sy tuisdorp, is Mahlangu eers in Atteridgeville begrawe. Op 6 April 1993 is hy in die Mamelodi-begraafplaas herbegrawe. 2

Só word Mahlangu onthou

In 1979 is die Solomon Mahlangu Freedom College (SOMAFCO) in Tanzanië ter ere van hom opgerig. Die kollege in Mazimbu is deur die Tanzaniese regering aan die ANC geskenk. 2

In 1993 is die Solomon Mahlangu-plein in Mamelodi aan sy herinnering opgedra. 2

Die Orde van Mendi vir Dapperheid (goud) is in 2005 postuum (ná iemand se dood) aan hom toegeken. 3

In 2005 is ’n standbeeld van Mahlangu in Mamelodi opgerig en op 6 April 2009 het die Poskantoor ’n seël met sy gesig uitgereik om die 30ste herdenking van sy dood te gedenk. 2

In Durban is daar ook ’n straat met die naam Solomon Mahlangu. 4

Woordbank

blitskursusse ’n Kort kursus waarin studente die basiese dinge oor ’n onderwerp geleer word.
kaders Kerngroep in ’n weermag of gevegsorganisasie wat uitgebrei kan word indien nodig.
onluste Burgerlike onrus en oproer.
terroriste ’n Persoon, dikwels lid van ’n militante organisasie, wat onverwags en met geweld toeslaan op lede van die publiek of op ’n openbare teiken wat met die staat geassosieer word met die doel om die belange van sy organisasie deur vrees en intimidasie te bevorder.
vryheidsvegters Iemand wat die wapens opneem, met wapens begin veg teen ’n regering wat die mense onderdruk.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

’n Nuusberig wat Mahlangu se lewe gedenk

Lokprent van die rolprent Kalushi wat oor Solomon Mahlangu se lewe handel

Meer oor Mahlangu se lewe

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Augustus 2024 | Bygewerk op 12 September 2024