Vinnige feite
- Sobukwe kry minder erkenning vir sy bydrae tot die stryd teen apartheid as ander anti-apartheidsaktiviste. Navorsers meen dat sy breuk met die ANC daartoe gelei het dat hy nie dieselfde aandag kry as ANC-leiers soos Nelson Mandela en Oliver Tambo nie.
- Mense wat hom persoonlik geken het, beskryf hom as ‘n sagte, nederige en diep gelowige man.
- Robert Sobukwe is in 1950 getroud met Veronica Mathe, ‘n verpleegster by die Alice-hospitaal. Hulle het vier kinders gehad, ‘n dogter met die naam Miliswa, en drie seuns, Dinilesizwe, Dedanizizwe en Dalindyebo.
- Hy het vir sy honneursgraad by Wits ‘n skripsie geskryf oor raaisels in Xhosa.
- ‘n Biografie oor Robert Sobukwe deur Benjamin Pogrund, How can man die better, beskryf sy lewe volledig.
- Nog ‘n boek, Lie on your wounds: The prison correspondence of Robert Mangaliso Sobukwe, bevat ‘n versameling van sy skrywes terwyl hy in aanhouding was.
In 2012 het die stadsraad van Tshwane (Pretoria) besluit om ‘n klomp straatname in die middestad te verander. Dit stadsraad wou hierdeur van die leiers in die stryd teen apartheid vereer.
Een van die name wat verander het, was Esselenstraat in Sunnyside, wat na Robert Sobukwe-straat herdoop is. Robert Sobukwe was ‘n anti-apartheidsaktivis. Hy is veral bekend as ’n stigterslid en die eerste president van die Pan Africanist Congress (PAC).
Vroeë jare
Robert Mangaliso Sobukwe was die jongste seun van Hubert en Angelina Sobukwe. Hy is op 5 Desember 1924 op Graaff-Reinet in die destydse Kaapprovinsie gebore. Sy pa was ‘n munisipale werker en houtkapper. Sy ma het as ‘n huishulp en ‘n kok by die plaaslike hospitaal gewerk. 1
Hy het aanvanklik by ‘n plaaslike sendingskool opleiding gekry, en daarna is hy na die vooraanstaande Healdtown-kollege in Fort Beaufort. Daar is hy blootgestel aan letterkunde, en hy het onder die leiding van sy Engelsonderwyser, mev. Scott, ‘n blywende liefde vir drama en poësie ontwikkel. 2
Robert het vroeg reeds erkenning vir sy leierseienskappe gekry. Hy het eers ‘n senior prefek en later hoofseun geword. Nadat hy ‘n eersteklas (die beste uitslag) in sy matriekeksamen behaal het, is hy in 1947 vir verdere studie na Fort Hare – die bakermat (figuurlike geboorteplek) van swart studentepolitiek. Hy was ‘n gereelde spreker by studentebyeenkomste, en in 1949 word hy die president van Fort Hare se studenteraad. 2
Gedurende sy studentejare het Sobukwe reeds die aandag van akademiese en politieke leiers getrek. Een van sy dosente, Godfrey Pitje, wat ook ‘n politieke aktivis was, het hom beskryf as “iemand wat intellektueel bokant ons almal, selfs die personeel, uitgetroon het”. 2
By Fort Hare het Sobukwe ook met die ANC se Jeugliga kennis gemaak. Hy was skepties oor dié organisasie, want hy het geglo die ANC werk te nou met die bestaande apartheidsregeringstrukture saam. Aan die einde van 1949 het hy nietemin die sekretaris-generaal van die ANC-Jeugliga geword. 1
Ná sy studies het hy as ‘n onderwyser in Standerton begin werk, en vier jaar later is hy aangestel as taalinstrukteur by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Prof. Z.K. Matthews was sy referent en het vir hom ‘n skitterende verwysing geskryf. 2
Ideologiese verskille met die ANC
Sobukwe was op daardie stadium steeds ‘n lid van die ANC, maar het die organisasie toenemend gekritiseer oor wat hy genoem het “samewerking met voorstanders van liberale veelrassigheid”. Hy was ‘n voorstander van nierassigheid eerder as veelrassigheid. Hy het gesê ons behoort almal aan een ras, naamlik die menslike ras. Volgens hom is dit dus verkeerd om vir die woord ‘n meervoud te gee (“rasse”) om na wit, bruin en swart mense te verwys, want ons is eintlik almal dieselfde. 3
Hy was ook ‘n voorstander van afrikanisme. Dit is ‘n ideologie wat dit stel dat Afrikane hulle eie lot moet uitwerk. 4
Sy argument was dat swart mense in Suid-Afrika moet leer om op hulle eie voete te staan sodat hulle die wêreld se respek en respek vir hulleself kan verdien. 4
Stigting van die PAC
Toe die ANC in 1955 die Vryheidsmanifes by Kliptown aanvaar het, het Sobukwe gesê dat hy nie langer die ANC kon ondersteun nie.
Die Vryheidsmanifes begin naamlik met hierdie woorde:
Ons, die mense van Suid-Afrika, verklaar, sodat ons land en die wêreld kan kennis neem, dat Suid-Afrika aan almal behoort wat in die land woon, swart en wit, en dat geen regering se gesag geldig is tensy dit op die wil van al die mense berus nie. 5
Die ideaal van veelrassigheid was strydig met wat Sobukwe vir die toekoms van Suid-Afrika wou gehad het.
Hy was ook nie die enigste politieke leier wat hierdie opvatting gehuldig het nie. Baie lede van die ANC het gesê dat die insluiting van ander rasse in die toekomsvisie vir Suid-Afrika teen die beginsels en oogmerke van die struggle was. 6
Dié tweespalt het tydens die Transvaalse provinsiale kongres van die ANC in 1958 oorgekook toe ANC-lede met “afrikanistiese” opvattings uit die saal gesluit is. Dié groep het van die ANC weggebreek om op 6 April 1959 ‘n nuwe politieke party, die Pan Africanist Congress of Azania (PAC), te stig. 6
Die PAC se missie, soos dit op hulle webblad verskyn, is vandag nog die ideale wat Robert Sobukwe gestel het:
- Polities is die PAC ten gunste van regering van Afrikane, vir Afrikane, deur Afrikane. Die PAC definieer “Afrikane” as mense wat net aan Afrika lojaal is en wat demokratiese regering deur ‘n Afrika-meerderheid voorstaan. Die PAC waarborg nie die regte van minderhede nie, want dit sal beteken dat hierdie groepe eksklusief is, en dis presies waarteen die PAC gekant is.
- Ekonomies is die PAC sosialisties en staan hulle die gelyke verdeling van welvaart (besittings of rykdom) voor. Hulle haal Sobukwe direk aan waar hy gesê het dat “gelyke geleenthede waardeloos is as dit nie gelykheid in inkomste en welvaart as die beginpunt van alles beskou nie”.
- Sosiaal is hulle missie om omstandighede te skep waarin afsonderlike groepe in die land sal verdwyn. So kan daar ‘n verenigde Afrika ontstaan wat die land as ‘n geheel sal ontwikkel en ‘n eenvormige Afrikakultuur sal vestig.
- Filosofies staan die PAC pan-afrikanisme voor. Dit behels die samewerking van Afrikastate sodat alle Afrikane verenig kan word en die kontinent as ‘n geheel bestuur en beheer kan word. 7
Aktivisme en arres
Die PAC het besluit om hulle verset teen apartheid op die paswet toe te spits omdat hulle hierdie wet as die basis van apartheid beskou het.
Op 16 Maart 1960 het Sobukwe ‘n brief aan die destydse kommissaris-generaal van die polisie, generaal-majoor Rademeyer, geskryf waarin hy laat weet het dat die PAC beplan om ‘n vreedsame optog na die Orlando-polisiekantoor te hou. Die oogmerk met die optog was om gearresteer te word sodat hy daarmee aan die mense van Suid-Afrika kon demonstreer hoe onregverdig die paswette was. 3
Soos wat hy verwag het, is hy gearresteer. Wat hy egter nie verwag het nie, was dat hy die res van sy lewe in aanhouding sou deurbring. 3
Op dieselfde dag, 21 Maart 1960, het 5 000 mense aan ‘n vreedsame optog by Sharpeville, net buite Vereeniging, deelgeneem. Dié optog is ook deur die PAC gereël. Toe die optoggangers by die polisiekantoor aangekom het, het die polisie op hulle begin skiet. Altesaam 69 mense is doodgeskiet, baie van hulle in die rug soos wat hulle weggehardloop het, en meer as 200 mense is gewond. Dié gebeure sou later as die Sharpeville-slagting bekend staan.
Die Sharpeville-slagting was ‘n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die ANC en PAC het ‘n beleid van gewapende verset (geweld) aanvaar, en die internasionale gemeenskap het deur middel van die Verenigde Nasies se resolusie 134 hulle teenkanting teen apartheid uitgespreek. 3
Dit was ook vir Robert Sobukwe ‘n keerpunt in sy loopbaan.
Aanhouding
Die regering het Robert Sobukwe as die aanhitser tot al hierdie geweld beskou. Vir lank is hy as meer gevaarlik as ANC-leiers soos Nelson Mandela beskou. 3
Op 25 Maart 1960 is hy na Driefontein buite Vryburg verban, en op 4 Mei 1960 is hy vir drie jaar tronk toe gestuur vir die aanhitsing van mense om teen die paswette in opstand te kom.
Op 3 Mei 1963, ‘n dag voordat hy vrygelaat sou word, het die apartheidsregering die Algemene Regswysigingswet aanvaar. In hierdie wet was die sogenaamde “Sobukwe-klousule”. Die klousule het aan die minister van justisie die reg gegee om enige politieke gevangene onbepaald in die tronk te hou. 1
Sobukwe is na Robbeneiland gestuur waar hy ses jaar lank aangehou is. Die Sobukwe-klousule is elke jaar hernu, en niemand anders is onder hierdie klousule aangehou nie. 1
Verdere studie en oorsese geleenthede
Op Robbeneiland was hy in eensame aanhouding, maar hy het toegang gehad tot ‘n biblioteek. Tydens sy aanhouding het hy ‘n graad in ekonomie aan die Londen-Universiteit verwerf.
In 1964 het hy ‘n werksaanbod gekry van die National Association for the Advancement of Coloured People en die Montgomery Fellowship for Foreign Aid in die Verenigde State van Amerika (VSA), maar John Vorster, die minister van justisie op daardie tydstip, het geweier om hom vry te laat. 1
In Mei 1969 is hy van Robbeneiland na Galeshewe naby Kimberley oorgeplaas. In Galeshewe is hy onder huisarres geplaas. In 1970 het die Universiteit van Wisconsin in die VSA vir hom ‘n pos (werk) aangebied, maar die Suid-Afrikaanse regering het geweier om aan hom ‘n paspoort uit te reik. Hy het weer in 1971 aansoek gedoen om die land saam met sy gesin te verlaat, maar die aansoek is afgekeur. 1
Terwyl hy onder huisarres was, het hy ‘n regsgraad verwerf en in 1975 het hy sy eie regspraktyk in Kimberley geopen. Die apartheidsregering het hom aanvanklik verbied om te praktiseer of om in ‘n hof te verskyn, maar het later dié verbod opgehef. Die koerante is wel verbied om hom aan te haal. 1
Siekte en afsterwe
Kort nadat hy sy regspraktyk begin het, het hy siek geword. Longkanker is by hom gediagnoseer. Hy het eers in Johannesburg behandeling ontvang en is toe na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Dwarsdeur sy behandeling het die apartheidsregering dit vir hom moeilik gemaak om te reis, en daarop aangedring dat hy aan die voorwaardes van sy huisarres moes voldoen. Hy moes steeds by die polisiekantore in Kimberley en Kaapstad aanmeld, en net sy naaste familie is as besoekers in die hospitaal toegelaat. 1
Op 27 Februarie 1978 is hy in Kimberley aan kanker oorlede. Hy is op 11 Maart 1978 op sy geboortedorp, Graaff-Reinet, begrawe.
Woordbank
aangedring | Vereis. |
aanvanklik | Eers; aan die begin. |
afgekeur | Van die hand gewys; geweier. |
Afrikane | Mense van Afrika. |
bakermat | Geboorteplek, figuurlik bedoel. ‘n “Baker” is ‘n vrou wat tydens ‘n geboorte help, en die “bakermat” was die plek voor die vuurherd waar die pasgebore baba neergesit is terwyl die ma versorg is. |
beskou | Na gekyk. |
blywende | Wat bly bestaan. |
destydse | Soos wat dit toe was. |
eensame aanhouding | Alleenaanhouding; sonder kontak met enige ander gevangenes of selfs bewaarders. |
eksklusief is | Ander groepe uitsluit. |
huisarres | Aanhouding in ‘n huis in plaas van in ‘n tronk |
ideologie | ‘n Manier om die politieke werking van ‘n land of streek te beskou. |
keerpunt | ‘n Groot verandering. |
klousule | Paragraaf in ‘n wet. |
nierassigheid | Geen onderskeid tussen mense van verskillende kleur nie. |
onbepaald | Sonder ‘n einddatum. |
op hulle eie voete te staan | Na hulleself omsien; vir hulleself sorg. |
opvatting gehuldig | Mening hê. |
primêr | In die eerste plek. |
referent | Iemand by wie jy kan navraag doen oor ‘n persoon se karakter, bekwaamheid, kwalifikasies of integriteit. |
strydig met | In stryd met; teen. |
studenteraad | Raad wat deur studente verkies word wat hulle belange op die kampus en by die owerhede verteenwoordig. |
teenkanting | Teenstand. |
ten gunste van | Vir. |
toe te spits | Te konsentreer. |
toenemend | Al hoe meer. |
tweespalt | Hewige meningsverskil. |
uit te reik | Amptelik te gee. |
veelrassigheid | Erkenning van mense van verskillende kleur. |
verset | Teenstand. |
verwerf | Gekry. |
voldoen | Nakom. |
voorstander | Iemand wat ‘n bepaalde idee ondersteun en vir ander mense as ‘n goeie idee aanbied. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Die verhaal van Robert Sobukwe
’n Dokumentêre rolprent oor sy lewe en werk
Die aktivis wat min erkenning ontvang het