Vinnige feite
- Van Heerden was ’n groot aktivis vir gelyke regte vir vroue en mans. Sy het die skrywer Olive Schreiner en die Britse aktivis Emily Hobhouse geken en bewonder. Emily Hobhouse het vir haar die boek The Subjection of Women deur John Stuart Mill gegee wat as groot inspirasie vir haar gedien het. 2
- Van Heerden het eens ’n kongres van die Nasionale Party se vrouetak op Malmesbury bygewoon en oor stemreg gepraat. Sy het daar glo baie vroue wat nie ten gunste van stemreg vir vroue was nie, se mening verander.
- Wit vroue in Suid-Afrika het stemreg op 19 Mei 1930 gekry. Vroue van ander rasse kon eers in 1994 in die eerste demokratiese verkiesing stem.
- Van Heerden het reeds as kind dit verpes om rokke te dra en het as volwassene rybroeke verkies.
- Sy was een van die eerste groepie vrouestudente aan die Victoria-kollege wat vandag as die Universiteit Stellenbosch bekend staan. Lydia van Niekerk was deel van die groepie en het later die eerste vroulike professor aan die universiteit geword. Die Victoria-kollege het op 2 April 1918 ’n universiteit geword. 5
Ons is gelukkig om in ’n tyd te bly waar daar nie meer teen mense se geslag gediskrimineer word nie. Dit was egter nie altyd so nie. Daar was ’n tyd toe dit nie maklik was om ’n meisie of ’n vrou te wees nie. Vandag word vroueregte erken en gevier, maar eens op ’n tyd moes vroue byvoorbeeld net rokke gedra het, hulle kon skaars hul skoolloopbaan voltooi het en hulle mag nie eens gestem het nie! Dit was in so ’n tyd dat daar ’n baie interessante vrou in Suid-Afrika gebly het.
Ons kan dié vrou ’n baanbreker noem. ’n Baanbreker is iemand wat nuwe terreine ontsluit. So iemand word ook ’n voorloper of ’n pionier genoem. Dr. Petronella van Heerden (1887-1975) was beslis ’n pionier, want sy was die eerste Afrikaanssprekende vrou wat as ’n mediese dokter gekwalifiseer het en die eerste mens om ’n mediese dissertasie in Afrikaans te skryf. Dr. Van Heerden is ook Nan of Nell genoem en word as een van die eerste Afrikaanse feministe beskou. ’n Feminis is iemand wat strewe na gelyke regte vir vroue en mans.
Dr. Petronella van Heerden het baie dinge gedoen wat ongehoord vir vroue van daardie eeu was, soos om broeke te dra, as ’n dokter te praktiseer, nie te trou nie en ook om te boer. Kom ons vind meer oor haar uit.
Geboorte en gesin
Sy is as Anna Petronella van Heerden op 16 April 1887 op Bethlehem in die destydse Oranje-Vrystaat gebore. Haar pa was ’n belese man en het as landdros op verskeie plattelandse dorpe gedien. Hy was ’n lid van die Vrystaatse regering (deel van die Boererepublieke) en die gesin moes tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) verskeie kere verhuis om Britse vervolging te ontsnap. Haar ma se naam was Josephine Ryneva Beck Horak en ’n tuisteskepper. Haar oudste broer, Alexander Charles (Alec), was drie jaar ouer as sy en haar jongste broer, Frankie, was nege jaar jonger as sy. 1
Grootwordjare
Petronella van Heerden was van kleins af baie nuuskierig en het nie graag stilgesit nie. Sy was uitgesproke en was dikwels in die moeilikheid oor die dinge wat sy kwytgeraak het. Sy is dikwels as ’n “stout en wilde kind” bestempel omdat sy geweier het om te doen wat ander meisies van haar ouderdom gedoen het. Sy het byvoorbeeld geweier om huistakies te doen wat haar broer nie hoef te gedoen het nie en het baie kwaad geword omdat daar verskillende reëls vir haar ouer broer en vir haar was. Sy het later in haar memoires genoem dat die broer op die dak kon klim, maar sy mag dit nie gedoen nie. Hy kon gaan swem het as hy wou, maar sy nie. Sy is verplig om klavier te speel, terwyl haar broer ’n keuse gehad het. Haar ma het haar ook aangesê om haar kouse en dié van haar broer te stop, maar sy het geweier. Daar was baie konflik tussen haar en haar ma omdat haar ma baie tradisioneel en konserwatief was. Sy het geglo dat ’n vrou se plek in die huis is en dat sy moet trou en kinders kry. 1
Van Heerden het later genoem dat hierdie konflik haar baie angstig gemaak het, want dit het gevoel asof sy alles verkeerd doen.
Sy was van kleins af slim en ’n ywerige leser. Sy het groot bewondering vir haar pa gekoester en het later jare vertel hoe hy in die aande vir hulle verhale voorgelees het.
In daardie tyd het meisies nie sommer tot ná standerd ses op skool gevorder nie en toe sy besluit om dit wel te doen, was haar ma daarteen gekant. Van Heerden het later geskryf dat haar ma se weerstand haar juis gemotiveer het om haar skoolloopbaan te voltooi en later ’n dokter te word.
Sy het uiteindelik haar skoolloopbaan voltooi en wou toe aan die Victoria-kollege op Stellenbosch verder studeer het. Haar ouers het hulle daarteen verset en sy het ’n plan beraam om dit vir hulle “onmoontlik” te maak om saam met haar te bly. Sy het glad nie meer met hulle gepraat nie en slegs droë rys geëet.
Haar ouers het uiteindelik ingewillig en sy is na die Victoria-kollege op Stellenbosch toe. 2
Studies
Van Heerden was een van die eerste studente aan die Victoria-kollege op Stellenbosch (vandag die Universiteit Stellenbosch genoem). Sy het twee jaar daar studeer en het toe besluit om medies in Nederland te studeer. Weer eens het dit groot konflik tussen haar en haar ouers veroorsaak, maar sy het besluit om deur te druk. Sy het vir ’n beurs aansoek gedoen en was baie kwaad toe sy hoor dat daar nog steeds teen vroue gediskrimineer word. Mans kon makliker beurse kry en daar was geen regulasies ten opsigte van terugbetaling nie. Vroue moes aan die einde van hul studies dadelik hul skuld teen ’n rentekoers van 6% terugbetaal. 2
Sy het per skip na eers Engeland en toe na Nederland gereis. Sy het haar studies in Amsterdam geniet en ook daar by ’n vrouestudentegroep aangesluit. Sy was as student ’n vurige kampvegter vir vroueregte. Nadat sy haar mediese graad verwerf het, het sy na Suid-Afrika teruggekeer. 3
Loopbaan en verdere studies
Sy het in 1916 haar loopbaan as ’n intern by die Volkshospitaal in Bloemfontein begin. Sy het daarna haar eie praktyk op Harrismith begin en dikwels pasiënte per perd besoek. Sy het nooit meer rokke gedra nie en inwoners het dit glo aan die begin vreemd gevind, maar gou gewoond geraak aan haar manier van doen. 2
Sy het later besluit om na Nederland terug te keer om in ginekologie te spesialiseer. Sy het in 1923 ’n tesis “Die sogenaamde adenoma van die ovarium” by die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam ingedien. Dit was die eerste mediese tesis in Afrikaans en sy het daardeur ’n groot bydrae tot die mediese vaktaal gemaak. Sy het met haar terugkeer na Suid-Afrika in Kaapstad as ginekoloog gespesialiseer. 4
Politiek
Petronella het baie in die politiek belanggestel en het met haar verblyf in Kaapstad by die Nasionale Party betrokke geraak. Sy het in 1924 op die hoofkomitee van die Kaapse Nasionale Party gedien. Sy het egter later besef dat sy nie hou van die party se diskriminerende beleid nie.
Sy het ’n groot rol gespeel in die stryd vir vroue se stemreg in Suid-Afrika en het ook as dokter in die Suid-Afrikaanse mediese korps tydens die Tweede Wêreldoorlog gedien. 1
Verdere belangstellings
Van Heerden was baie in argeologie geïnteresseerd en deur haar kontakte in die Britse vereniging vir die bevordering van wetenskap het sy toegang tot uitgrawings gekry. Sy het voorts in 1929 uitgrawings in Groot-Zimbabwe bygewoon. Daarna het sy in 1931 in Israel met uitgrawings gehelp. Die uitgrawings is deur die bekende argeoloog Dorothy Garrod by Wadi-el Maghara gelei. 3
Aftrede en afsterwe
Sy het in 1942 as ginekoloog afgetree en het haar op ’n plaas in die Harrismith-omgewing gevestig. Sy het daar ’n bekende gesig by veilings geword en weer gewys dat ’n vrou suksesvol in ’n tradisioneel manlike veld kan wees.
Sy is in 1975 in Kaapstad oorlede. 2
Skryfwerk
Van Heerden was ook ’n talentvolle skrywer en het twee memoires geskryf wat ons vandag iets van haar lewe vertel. ʼn Memoire is ’n geskrif waarin iemand sy of haar belewenisse opteken sodat dit nie vergeet kan word nie.
Die bundels se name was Kerssnuitsels (1962) en Die 16e koppie (1965). Kerssnuitsels het herinneringe uit haar jeug bevat en Die 16e koppie was oor haar ervaring as mediese student in Nederland en as die eerste Afrikaanssprekende vroulike dokter in Suid-Afrika. Die boeke is gepubliseer toe sy onderskeidelik 75 en 78 was.
Sy het ook twee artikels gepubliseer: “Waarom ek ’n Sosialis is” (1938) en ’n boek Fascisme – Italië! Duitsland! Suid-Afrika? (1938). Sy het ook ’n grootse taak met die Geslagsregister van die Familie Van Heerden, 1701-1968 (1969) aangepak. 2
Woordbank
aktivis | ’n Persoon wat hom aktief vir die bevordering van ’n saak beywer. |
argeologie | Die studie van die oorblyfsels van die kulture van vroeëre tye. |
baanbreker | ’n Baanbreker is iemand wat nuwe terreine ontsluit |
belese | Dit is iemand wat baie gelees en sodoende kennis opgedoen het. |
gediskrimineer | Dit is onbillike onderskeid by behandeling. Verskillende mense of groepe word anders as ander hanteer op grond van iets soos ras, geslag of geloof. |
dissertasie | Dis ’n wetenskaplike verhandeling soos ’n proefskrif ter verkryging van ’n doktorale graad. |
feministe | Dis iemand wat strewe na gelyke regte vir vroue en mans. |
ginekologie | Mediese wetenskap wat te make het met die siektes van vroue asook bystand gedurende swangerskap en met die geboorte van ʼn baba. |
intern | ʼn Medies gegradueerde wat as afronding van sy/haar studies eers in ’n hospitaal diens moet doen om meer ervaring te verkry. |
kampvegter | Dis iemand wat die voortou neem in of stry vir ’n saak waarvoor hy hom of sy haar beywer. |
landdros | Dis ’n regsgeleerde wat in ’n plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee. |
memoires | Dit is ’n geskrif waarin iemand sy of haar belewenisse opteken sodat dit nie vergeet kan word nie. |
praktyk | Beroepswerksaamheid van onder meer ’n geneesheer, regsgeleerde of rekenmeester. |
uitgrawings | Dit is ’n plek of handeling waar grond verwyder word om dit wat jare gelede begrawe is, te ontdek. |
verset | Dit is weerstand of opstand teen iets. |
weerstand | Dit is wanneer teenkanting teen iets gebied word. 6 |
Lees hierdie artikels om meer te leer
- Vind meer uit oor vroueregte
- Lees meer oor stemreg
- Stemreg vir vroue in Suid-Afrika
- Luister hier na ’n argiefopname oor Petronella van Heerden. (Insetsel begin by 25:30.)
- Tydlyn van stemreg vir vroue wêreldwyd
Kyk na hierdie video en verbreed jou kennis
Wat is feminisme?