Vinnige feite
- Patrick Mynhardt se van is afkomstig van die oorspronklike Duitse van – Meinhard. In Nederlands was die spelling “Mijnhardt” en dit is soos sy familie se van gespel is. Die van is in die vroeë 1800’s deur sommige van sy voorouers ook “Mÿnhardt” gespel, met die deelteken op die “y” soos dit dikwels in Duits aangetref word. Hy het later sy van so begin spel wanneer hy sy handtekening gebruik. Hy was egter deurgaans as “Mynhardt” bekend. 1
- Patrick het ewe gemaklik in Afrikaans en in Engels opgetree. Hy het ook in al vier die bekende mediums gewerk – radio, televisie, film en teater. 2
- In die dorp Groot-Marico word sedert 1993 elke jaar ’n Bosman-naweek aangebied om Herman Charles Bosman te vereer – die skrywer wat soveel stories geskryf het oor karakters wat in die Groot-Marico gewoon het. 7
- Verskeie klankopnames is gemaak van Patrick se Bosmanstories en op kassette en CD’s verkoop. 11
- Daar is sowel video- as DVD-opnames van sy Bosmanstories, asook van Boy van Bethulie gemaak.
- Patrick Mynhardt is langs Herman Charles Bosman in die Wespark-begraafplaas in Johannesburg begrawe. Toestemming daarvoor is gegee deur Jonathan Lake, die seun van Helena Lake wat die derde vrou van Bosman was. Hoewel die graf vir Helena aangekoop is, is sy ná Bosman se dood weer getroud en die graf sou nie meer vir haar gebruik word nie.
- In 1959 moes hy Sean Connery vervang in ’n opvoering by die Edinburgh Festival omdat Connery ’n rol gekry het in ’n ander opvoering. 13
Hierdie seuntjie van Bethulie het nie as kind geweet dat dit juis sý geboortedorp sou wees wat hom deur die land heen en ook in die buiteland op verhoë sou laat optree nie. En dit is presies soos dit vir hom gebeur het – al sy verbeeldingspeletjies as jong kind het hom op die paadjie laat loop wat hom na die verhoog geneem het.
Gesin en familie
Patrick se pa, Johannes Tobias Mijnhardt, is op 17 Mei 1893 in die distrik van Smithfield in die Oranje-Vrystaat (vandag Vrystaat) gebore. Hy wou graag ’n dokter word, maar omdat daar nie in daardie jare ’n plek in Suid-Afrika was waar mense medies kon studeer nie, het hy na Ierland gegaan vir sy studies. Terwyl hy aan die Trinity College in Dublin studeer het, het hy Elizabeth Mary Beattie ontmoet. Hulle wou trou, maar omdat sy in die Katolieke geloof grootgeword het en huwelike tussen Katolieke en nie-Katolieke mense nie in Ierland toegelaat is nie, moes hulle in Wallis gaan trou. Hulle is toe op 24 Junie 1919 in Holyhead getroud. Ná die huwelik het hulle na Bethulie in die Vrystaat teruggekeer en daar kom woon.
Die eerste drie van die vier Mynhardt-kinders is in ’n Katolieke doopseremonie gedoop: Katherine Joan Theresa (noemnaam Kathleen), Daniel Petrus Johannes en Michael Rudolph. Kyk by vinnige feite na ’n verduideliking van die verskillende spellings van sy naam.
Die jongste van die vier – Patrick – is op 12 Junie 1932 gebore. Sy volle name was Patrick Beattie Mynardt. 1
Patrick is in 1971 getroud met Marysia Matulewicz, ’n Poolse vrou. 2 Hulle het een seun, Johann, gehad asook twee kleinseuns, Liam Patrick en Euan Frederick gehad. 3
Die jong Patrick
Patrick het van kleinsaf saam met sy pa rondgery wanneer hy pasiënte in die distrik gaan besoek het. Hy vertel dat hy die hekke op die plaaspaaie moes oopmaak – tussen Bethulie en die naaste dorp, Springfontein, was daar 25 hekke! Terwyl hulle so op pad was, het sy pa voorgedra uit onder andere Shakespeare, en by die plaashuise het die jong Patrick weer geluister na die grootmense se stories oor die Anglo-Boereoorlog, die konsentrasiekampe, die runderpes en groot droogtes. Hy het altyd gevra vir nog en nog stories. 1
Omdat sy pa ook burgemeester was, moes hy baie funksies bywoon en mense onthaal. Hulle het natuurlik ook biddae vir reën bygewoon, waar Patrick geluister het na ernstige preke waarin die predikante vir reën gebid het. By die huis het Patrick dan sy eie dienste en begrafnisse gehou wanneer ’n troeteldier doodgaan, of sommer wanneer hy lus was vir “preek”. Soms, wanneer belangrike besoekers aan die dorp funksies bygewoon het, het klein Patrick van agter die gordyne uitgespring en daar en dan vir die gaste begin preek!
Besoekers aan sy ouers se huis het mense soos generaal J.B.M. Hertzog, generaal Jan Smuts, ministers, asook dr. J.S. Moroka ingesluit. Laasgenoemde was ’n mediese dokter van Thaba ’Nchu en ook president van die ANC (African National Congress), ʼn politieke party.
In sy eie woorde beskryf Patrick homself as klein seuntjie so: “…before I was four I was the biggest drama queen Bethulie has ever seen.” 1
Patrick het sy skooljare in Bethulie deurgebring, waar hy op laerskool was. Daarna het hy die De La Salle Holy Cross College in Oos-Londen bygewoon het. Hy was vir drie jaar by die Rhodes-Universiteit in Grahamstad (vandag Makhanda).
Sy universiteitsjare was nie baie suksesvol nie. 4 Hy het begin met ’n BA-graad en in sy eerste jaar onder meer Afrikaans, Engels en chemie as vakke geneem. Volgens hom was chemie ’n ramp. 5 Hy het van kursus verander en regte probeer, maar dit was vir hom nog erger. In sy derde jaar het hy regte gelos en teruggekeer na kunsvakke. Teen hierdie tyd het van sy vriende hom oorreed om na drama oor te skakel. 4
’n Leeftyd op die verhoog
Patrick was 20 toe hy ’n telegram kry vanaf dr. P.P.B. Breytenbach, direkteur van die NTO (Nasionale Toneel Organisasie) uit Pretoria, waarin hy hom ’n werk aangebied het. Sy eerste werkdag was op 5 Januarie 1953, toe hy onder andere deur Hermien Dommisse, toe senior bestuurslid van die NTO, ontmoet is.
Sy heel eerste toneelstuk vir die NTO was Die Iepekonders, waarin hy saam met onder andere André Huguenet, Louw Verwey en Jannie Gildenhuys gespeel het. Hulle het op 2 Februarie 1953 in Johannesburg met ’n landwye toer van hierdie toneelstuk begin en eers op 28 November geëindig. 1
In 1954 het hy na Londen vertrek, waar hy by die Central School of Drama studeer het. In daardie tyd het hy ook allerlei ander soorte werk gedoen om aan die lewe te bly – onder meer as skottelgoedwasser en kroegman.
Hier het hy sy deurbraak gemaak toe hy in twee toneelstukke in Weseinde, Londen (in Engels bekend as West End) opgetree het. Weseinde is ʼn lewendige kulturele sentrum wat die tuiste is van skouspelagtige winkelstrate, uitstaande restaurante en die wêreldberoemde teaterdistrik in Londen. Die meeste van Londen se groot teaters is hier geleë, onder meer die Koninklike Operahuis. 2
Hy het ook in 1959 by die Edinburgh-fees in Skotland opgetree. 2
Hy het hier beide op die verhoog en ook vir die BBC (British Broadcasting Corporation) in verskeie televisiereekse en toneelproduksies opgetree. Hy het bekende internasionale spelers ontmoet en ook saam met hulle gewerk. Hulle was Peter Sellers, Judi Dench, Michael Caine, Peter O’Toole, Burt Lancaster, Anthony Quinn en Richard Harris. 7 In 1960 het hy teruggekeer na Suid-Afrika en hom in Johannesburg gevestig. 6
Rolprente
Patrick het in ongeveer 100 plaaslike en internasionale rolprente opgetree. Hier is enkeles daarvan soos dit op die British Film Institute se lys verskyn.
- Diamond Walkers (1961)
- Seven against the Sun (1964
- Die Kavaliers (1965)
- In 1969 speel hy sommer in drie films in net een jaar!
Jannie Totsiens (1969), Vrolike Vrydag (1969), en Scotty Smith (1969) - Tigers Don’t Cry (1975)
- Zulu Dawn (1979)
- Skollie (1983)
- Broer Matie (1984)
- Eendag Vir Altyd (1987)
- Cold Stone Jug (1998)
- Die Binnekring (1989)
- The Gospel According to Matthew Volume One Chapters 1:1-9:1 (1994) 3
Toneelopvoerings
Hoewel Patrick in meer as 150 toneelstukke in Suid-Afrika en ook in Londen te sien was, sal die meeste mense hom waarskynlik die beste onthou vir sy eenmanvertonings van Herman Charles Bosman se Oom Schalk Lourens-stories.
Hy het begin met A Sip of Jerepigo wat op 4 November 1969 in die Johannesburgse stadskouburg (in Engels: Civic Theatre) geopen het onder regie van Michal Grobbelaar. Daarna het More Jerepigo gedurende 1973 gevolg. Die twee ander optredes in die Jerepigo-reeks was Another Sip of Jerepigo en Just Jerepigo. 5 Later was daar ook Tjeerio Jerepigo. 7
Hoewel die Jerepigo-reeks met die Oom Schalk Lourens-stories waarskynlik die heel gewildste was, het Patrick nóg ’n Bosman-storie verhoog toe geneem met Cold Stone Jug, Bosman se outobiografiese verhaal oor die tyd toe hy in die gevangenis was op aanklag van moord en ’n tyd in die dodesel deurgebring het.
Patrick se verdere optredes met sy eie outobiografie A Boy from Bethulie het vir hom ewe groot aanhang en bekendheid gebring. Hy het dit sedert 1990 in verskeie teaters opgevoer, soos onder andere by die Markteater in Johannesburg, die Teaterhuisie in Pretoria, Theatre on the Square in Sandton, Johannesburg en Pierneefteater in Pretoria. 5
Hierdie is van die toneelstukke waarin hy opgetree het:
Iepekonders (1953), The King of Diamonds (1961), A Touch of the Poet (1961), Jonkvrou Edelwater (1962), Guilty Party (1962), Policy for Murder (1963), Christie, Montserrat (1963), The Playboy of the Western World (1963), The Cherry Orchard (1963), Rashomon (1965), The Deputy (1965), Twelve Angry Men (1965), The Devils (1966), The Beaux’ Stratagem (as Fiogard, 1966), War and Peace (as Napoleon, 1966), Staircase (1967, as Harry), Dodedans (as Edgar, 1967), Die Spel van Liefde en Toeval (as Pasqual, 1967), Staircase (the Langford-Inglis Company, 1967 as Harry), Fanny (1968), The Crucible (1975), Conspiracy (1976, Die Verminktes (1977), Die Vader (1978), Rosencrantz and Guildenstern are Dead (1978), Sly Fox (1979), The Siege of Nugget Street (1979), The Royal Hunt of the Sun (1981), The Taming of the Shrew (1981), Karoo Grand (1983), Translations (1985), Long Day’s Journey into Night (1989), Nemesis (1989), Houd-den-Bek (1990, Die Sakeman van Venesië (1991) en Mirakel (1992). 5
Tussen 1983 en 1990 het Patrick in onder meer Brussel, Londen, New York, Israel en Washington opgetree met verskeie van sy toneelstukke, soos The Best of Bosman and Bethulie. 5
Twee rolle wat vir Patrick baie gewild op Suid-Afrikaanse televisie gemaak het, was die rol van Pappa in die TV-drama Vyfster asook die rol van die oupa, Hempies, in die sepie Suburban Bliss. 5
Sy spel in hierdie twee rolle wat soveel van mekaar verskil het, wys weer eens hoe veelsydig hy in sy toneelspel en vertolkings was.
Mynhardt en Bosman
Hierdie twee vanne het oor baie jare sinoniem geword met mekaar. Dis te danke aan Patrick Mynhardt dat duisende Suid-Afrikaners deur die jare groot aanhangers van die skrywer Herman Charles Bosman geword het en steeds is.
Volgens Stephen Gray, akademikus, skrywer en letterkunde-kritikus, was Patrick ’n dapper kunstenaar wat begin het met eenmanvertonings en sy hele lewe daaraan gewy het. Volgens Gray het Patrick ’n omwenteling in Suid-Afrikaanse letterkunde veroorsaak deurdat hy Herman Charles Bosman uit die verlede opgediep het en hom verander het in een van Suid-Afrika se bekendste skrywers van die 20ste eeu. 8
Kom ons kyk nader na hierdie skrywer wat vir Patrick so aangegryp het dat hy ’n groot deel van sy loopbaan daaraan gewy het om sy stories op die verhoog op te voer.
Herman Charles Bosman is in 1905 in Kuilsrivier naby Kaapstad gebore. Sy gesin het kort ná sy geboorte na Johannesburg verhuis en daar het hy skoolgegaan. Nadat hy sy graad behaal het, het hy by ’n skool in die Groot-Marico-distrik gaan skoolhou. Groot-Marico is ʼn dorpie in die Noordwes-provinsie. Hier het hy die karakters en omgewing leer ken waaroor hy later stories sou skryf en bekendheid sou verwerf. 4
Dis interessant om te kyk hoe Patrick se pad met Bosman begin het. Hy het reeds tydens sy studiejare op Rhodes-Universiteit van die skrywer gehoor, maar hom toe nie juis aan Bosman se werk gesteur nie – volgens hom omdat hy nie gehou het van die persoon wat vir hom van Bosman vertel het nie!
In 1986 is hy gevra om op te tree in ’n produksie waar verskillende mense almal voorlesings sou doen en hy moes Bosman se Willem Prinsloo’s Peach Brandy voorlees. Hy wou nie omdat hy gesê het hy is ’n akteur wat wil toneelspeel en nie wil voorlees nie. Uiteindelik het hy wel ingestem en dit was ’n reusesukses. Ná hierdie optrede is hy Durban toe, maar het eers ál Bosman se boeke gekoop om saam te neem en te lees.
Met sy terugkeer na Johannesburg het hy begin met voorbereidings om ’n vertoning met Bosman se werk saam te stel. A Sip of Jerepigo is op 4 November 1969 op die planke gebring en is in hierdie eerste reeks opvoerings tot in April 1971 aangebied – in uitverkoopte vertonings! 8 Na hierdie eerste reeks, het Patrick voortgegaan met opvoerings van hierdie stuk.
Patrick en Groot-Marico
In Groot-Marico word daar reeds vir 30 jaar lank – sedert 1993 – in die derde naweek van Oktober ’n Bosman-naweek gehou. Hierdie naweek word van die begin af georganiseer deur die Herman Charles Bosman Literêre Vereniging onder leiding van Egbert en Santa van Bart, wat op hierdie manier die nagedagtenis van Herman Charles Bosman lewendig hou. Mense kom van heinde en ver om die naweek by te woon en deel te hê aan alles wat aangebied word.
Reeds sedert die heel eerste naweek het Patrick Mynhardt opgetree. Hy het daarna elke jaar daar opgetree tot en met 2006. In 2007 kon hy vir die heel eerste keer nie sy afspraak met Groot-Marico en die Bosman-naweek nakom nie omdat hy uitgenooi was om in Weseinde in Londen op te tree – ’n droom wat hy vir baie jare gehad het.
Die Herman Charles Bosman Literêre Vereniging is in 1993 gestig en Patrick was die erepresident van die vereniging tot en met sy dood.
Patrick het deur die jare ’n geweldige groot bydrae gemaak om die jaarlikse Bosman-viering bekend te maak en te laat voortleef.
By geleentheid in die vroeë negentigs is daar in dieselfde skooltjie waarin Bosman op die plaas Heimweëberg skoolgehou het, ’n geldinsamelingskonsert gehou waarin Patrick opgetree het. Hierdie enkele konsert met peperduur kaartjies – R1 000 per persoon – het genoeg geld ingesamel sodat die Bosman Vereniging twee erwe in Groot-Marico daarmee kon koop.
Op hierdie grond is die Bosman Museum in 2005 gebou – ’n lewende museum waarin daar allerlei aktiwiteite plaasvind. Daar is onder andere ’n replika opgerig van die skooltjie waarin Bosman skoolgehou het, ’n buitebakoond waarin honderde brode reeds gebak is, ’n klei-silo soos dié waarin graan vroeër bewaar is, asook ’n hartbeeshuisie, ’n tradisionele Tswana-tuiste en ’n lekgotla.
Toekennings
- In 1967 het hy die Anton de Waal-trofee ontvang vir die beste Afrikaanse vertolking vir sy spel in Dodedans.
- In 1991 het hy weer die Anton de Waal-trofee ontvang vir sy spel in Die sakeman van Venesië.
- In 2002 het hy ’n toekenning ontvang vir lewenslange bydrae tot die toneelberoep. 5
Sy liefde vir Johannesburg
Patrick het tot en met sy dood, vir ongeveer 46 jaar, op ’n paar plekke in Johannesburg gewoon. Sy eerste woonplek was Hillbrow in die vroeë 1960’s. Hy het daarvan gehou om na die koffiewinkels in winkels soos John Orr en Stuttafords te gaan, waar hy na mense gesit en kyk het – omdat hy van mense gehou het! Daarna het hy na Northcliff getrek en ook sy ma in die Vrystaat gaan haal om by hom te woon. Twee jaar later het hy na Orchards verhuis waar hy ’n huis met sy broer en suster gedeel het. Toe hy in 1971 getroud is, het hy weer na Hillbrow getrek, waar hy en sy vrou in ’n woonstel gebly het. Daarna het hy na Norwood verhuis, waar hy vir meer as 30 jaar gewoon het, tot en met sy dood.
Oor Johannesburg het hy gesê dat dit altyd sy hart raak wanneer hy ná afloop van ’n optrede buite Johannesburg in die aand terugry en die ligte van die stad begin sien. 9
Persoonlikheid
Mense wat Patrick geken het of selfs net een keer ontmoet het, sal vir jou sê dat hy eintlik altyd “op die verhoog” was, al was hy elders. Of hy gekuier het, koffie gedrink het saam met mense – hy was altyd besig om op te tree en stories en staaltjies te vertel en almal wat wou luister, te vermaak.
Hy het ’n ruim hart gehad en baie mense kan daarvan getuig. Hy het nie geskroom om te gee nie, of dit van sy tyd was of meer tasbare dinge. Die Van Barts van Groot-Marico vertel hoe groot sy bydrae was en hoeveel moeite hy altyd gedoen het om die Bosman-tradisie by hulle te laat voortleef. In die Pierneefteater in Pretoria hang verhoogligte wat hy aan die teater geskenk het.
Patrick word ook onthou as iemand wat die goeie maniere gehad het om mense met ’n oproep of ’n briefie te bedank nadat hy by hulle gekuier het. Philip de Vos (bekende digter) is een van die mense wat dit vertel. 6
Patrick Mynhardt sterf in Londen
Sy groot droom was om genooi te word om weer in Weseinde in Londen te gaan optree nadat hy laas in die 1950’s daar opgetree het. In 2007 het hierdie droom waar geword toe hy genooi is om in die Jermyn Street-teater te gaan optree.
Op Woensdag 24 Oktober het Patrick reeds drie van sy Boy van Bethulie-optredes aangebied sedert die speelvak daarvan op 22 Oktober geopen het. Volgens die teaterbestuurder, Penny Horner, het Patrick die Woensdagaand ná sy optrede op die verhoog foto’s geneem saam met ondersteuners en was dit ’n groot vrolikheid soos gewoonlik waar hy teenwoordig was. Daar was geen teken dat hy siek was of sleg gevoel het nie. Dit was egter sy laaste optrede.
Hy is op Donderdag 25 Oktober oorlede. Hy was 75 jaar oud. 10
Hy het tot met sy dood gedoen waarvoor hy so lief was – om toneel te speel.
Woordbank
aangegryp | Wanneer iets mens diep raak. |
aanhangers | Volgeling of ondersteuner. |
akademikus | Word dikwels gebruik om te verwys na iemand wat klas gee aan ’n universiteit. |
allerlei | Allerhande soorte. |
Anglo-Boereoorlog | Die oorlog wat tussen 1899 en 1902 tussen die Boere en die Britte gevoer is. |
deurbraak | Iets wat gebeur wat dinge in ’n nuwe rigting stuur – dit het gewoonlik ’n positiewe betekenis. |
dodesel | Tronksel vir ’n gevangene wat ter dood veroordeel is. |
hartbeeshuisie | ’n Eenvoudige huis wat gewoonlik bestaan het uit ’n raamwerk van pale wat oorgetrek is met klei of riete of strooi of gras. |
iepekonders | Siekte wat hoofsaaklik in iemand se verbeelding bestaan. |
konsentrasiekampe | ‘n Plek waar politieke gevangenes en ander mense wat nie soldate is nie, gedurende ‘n oorlog aangehou word om te verhoed dat hulle vir die soldate wat besig is om oorlog te maak, enige hulp kan gee. |
kritikus | Iemand wat na ’n toneelopvoering gaan kyk en dit dan beoordeel deur in die koerant daaroor te skryf. |
kulturele | ’n Beskrywing van iets wat te doen het met kultuur, soos teaters en kunsgalerye. |
lekgotla | Die Tswana-woord vir vergaderplek. |
nagedagtenis | Herinnering aan iemand ná sy of haar dood. |
omwenteling | Groot verandering. |
op die planke gebring | Om iets op die verhoog op te voer. |
opgediep | Wanneer mens aandag gee aan iets waarvan meeste ander mense reeds vergeet het. |
peperduur | Iets wat baie duur is. |
regie | Afrigting van toneelspelers. |
replika | Namaaksel van die oorspronklike. |
ruim hart | Iemand wat graag vir ander mense iets gee. |
runderpes | Hoogs aansteeklike koorssiekte veral by beeste, maar dit kan ook by skape, bokke en wild voorkom. |
sinoniem | Iets wat dieselfde betekenis het as iets anders. |
skouspelagtige | Iets wat baie mooi en baie indrukwekkend is. |
tasbare dinge | Tasbaar, voelbaar; stoflik. |
telegram | Kort berig wat gewoonlik dringend is en wat telegrafies gestuur word; kabelgram; ʼn manier van kommunikasie wat nie meer gebruik word nie. |
tradisie | Daardie gewoontes en gebruike wat mense na hul kinders oordra en hulle weer na hul kinders. |
veelsydig | Iemand wat baie (verskillende) dinge goed kan doen. |
vertolkings | Die manier waarop ’n akteur of aktrise iemand anders op die verhoog vertolk of speel. |
verwerf | Om iets te behaal of te kry, soos om ’n graad op universiteit te kry. 12 |
Lees hier
Luister hier
Bruce Miller, medeakteur en radiopersoonlikheid, het hierdie program saamgestel om hulde te bring aan sy vriend, Patric Mynhardt. Dit sluit onderhoude en uittreksels uit Patrick se lang en merkwaardige loopbaan in.
Video’s
Patrick Mynhardt se eenmanvertoning as Herman Charles Bosman in ‘Cold Stone Jug’
Uittreksels uit Mynhardt se rolprente
Suburban Bliss (TV-reeks) Volle episode
Trek jou warm aan en stap saam deur die strate van die wêreldbekende Weseinde