Myrtle Patricia Atteridge
Die township Atteridgeville het ’n baie interessante geskiedenis en dis te danke aan een vrou dat daar ’n township in Pretoria-Wes is. Die vrou se naam was Myrtle Patricia Atteridge (1900-1979).
Sy was ’n voorvegter vir vroueregte en gelyke regte. Sy het in 1933 ’n stadsraadslid en adjunkburgemeester geword. Atteridge was die eerste vrou wat dié posisie in Pretoria beklee het.
Die township Atteridgeville is in 1939 gestig en is na haar vernoem ter erkenning van haar bydrae.
Wie was sy?
Atteridge is as Myrtle Patricia Wood in Queenstown gebore en het by die Queenstown Girls’s High School skoolgegaan. Sy het onderwys by die Sacred Heart Convent op King Williamstown studeer, en het in 1920 ’n onderwyser onder die Transvaalse onderwysdepartement geword.
Sy het in 1921 met William Henry Atteridge getrou. Hy was ook ’n onderwyser en later die hoof van die Laerskool Hamilton in Pretoria. Hulle het twee seuns, Raymond en William, gehad.
Haar man, William, het in die politiek belanggestel en het vyf keer probeer om die wyksraadslid vir Sunnyside te word.
Dit was juis toe hy vir die vyfde keer aan die munisipale verkiesing wou deelneem, dat hy nie toestemming by die onderwysdepartement kon kry om daaraan deel te neem nie en het só die weg vir sy vrou gebaan. Hy moes noodgedwonge aan die verkiesing onttrek, en het voorgestel dat sy vrou in sy plek staan. 1 Sy het ook, en het groot sukses behaal, want sy het sommer met die eerste probeerslag die munisipale verkiesing gewen!
Atteridge is dus in 1933 tot die Sunnyside-wyk van die Pretoriase stadsraad verkies. Sy is in 1936 en 1939 tot die amp herverkies.
Atteridge was ook in 1937 die voorsitter van die stigting- en personeelkomitee en in 1939 het sy die adjunkburgemeester van Pretoria geword. Sy het op talle komitees gedien en die stadsraad op die staat se regeringsbiblioteek, die alkohollisensiëringsraad en die maatskaplike dienste van Suid-Afrika verteenwoordig. Daarby was sy ook die voorsitter van die komitee wat met “Bantoes en Asiate” gediend was. Daar is in daardie jare so na swart mense en Indiërs verwys. 2
Sy was ’n groot voorstander van vroueregte en was ook ’n lid van verskeie vroue-organisasies, soos die Guild of Loyal Women, die Pretoria-vroueklub en die Nasionale Raad vir Vroue.
Sy was bekend daarvoor dat sy geglo het dat almal gelyk en regverdig behandel moes word. Sy het geglo dat swart mense menswaardige lone moes kry, dat daar voedingskemas vir hulle moes wees, gratis mediese sorg, verpligte laerskoolonderwys, vrye toegang tot universiteite, eienaarskap van hul eie erwe in townships, en dat daar weggedoen moes word met die kleurgrens (in Engels: colour bar). 3
Sy het ’n hart gehad vir mense wat gesukkel het en het werklose en behoeftige mense probeer help. Sy het geglo dat die stad nie hoë tariewe vir dienste moes vra nie en dat mense se belasting verminder moes word.
Atteridge het gesien dat swart mense in daardie tyd onder haglike omstandighede gebly het. Sy het daarom sopkombuise vir swart skole in Pretoria gereël, wat toe ’n eerste van sy soort in Suid-Afrika was. Sy het haar lewe daaraan gewy om die lewe vir ander mense beter te maak, of dit nou op die komitees was waarop sy gedien het, vir die inwoners van Sunnyside of die swart mense in informele nedersettings.
Atteridge het ná haar man, William, se afsterwe weer getrou. Sy het op 68-jarige ouderdom op 23 April 1969 met dr. George von Welfling Eybers (toe 82) in die huwelik getree. Eybers was die onder-sekretaris vir onderwys in Pretoria en het ook verskeie boeke geskryf. 4
Atteridgeville kom tot stand
Dit was Atteridge se voorstel om ’n nuwe township in Pretoria-Wes tot stand te bring. Die stad se oorspronklike plan was om dit baie verder van die stad af te bou, maar sy het gemeen dat swart mense nader aan die winkels en hul werkgewers moes wees. Die township sou op die plaas Elandsfontein 352 JR gebou geword het, maar Atteridge het dit reggekry om die ligging te verander.
Daar was baie mense wat nie van hierdie idee gehou het nie, maar sy het deurgedruk en by haar standpunt gehou.
Nadat haar besluit aanvaar is, het sy haar ook beywer vir verpligte laerskoolonderwys, sportvelde, biblioteke en sosiale klubs vir die inwoners van Atteridgeville. Die inwoners daar het baksteenhuise, spoeltoilette en beligting gehad, wat ’n eerste vir informele nedersettings in daardie stadium was.
Die township sou Motse Mogolo genoem geword het, maar die inwoners het self besluit om dit eerder Atteridgeville te noem. Hulle het haar MaBatho genoem, wat “moeder van die mense” beteken. 5
Woordbank
amp | ’n Openbare werk wat iemand doen. |
beywer | Gewerk om iets te bereik. |
haglike | Baie swak. |
ligging | Waar ’n plek geleë is. |
lone | Die betaling wat jy kry vir werk wat jy gedoen het. |
nedersettings | Woonplek. |
noodgedwonge | Geen keuse om iets te doen nie. |
township | ’n Stedelike woongebied met laekostebehuising, vroeër was dit net vir swart mense. |
voorstander | ’n Mens wat iets voorstaan, ten gunste is van ’n kwessie. |
voorvegter | Iemand wat ’n kampvegter van ’n saak is en daarvoor opstaan. |
wyksraadslid | ’n Politieke verteenwoordiger wat die mense binne ’n gedeelte van ’n stad, distrik of gemeente verteenwoordig. |
Lees die volgende artikels om meer oor Atteridge te leer
Kyk na hierdie video’s om meer oor Atteridge te leer
Atteridgeville se ontstaan
Atteridgeville soos dit vandag lyk