Vinnige feite

‘n Koerantknipsel in verkiesingstyd
  • Atteridge het geglo dat dit noodsaaklik was dat daar minstens een of twee vroue op die stadsraad moes wees. Sy het gevoel dat kwessies oor openbare gesondheid en kinderwelsyn dikwels deur mans afgeskeep word.
  • Atteridge het ook gesê dat vroue vir die huis, geluk, vrede en gesondheid veg en dat mans en vroue, net soos in die huisgesin, ook saam in stedelike sake moet regeer.
  • Sy het baie gedoen om tussen 1933 en 1945 die Nu-Muckleneuk-buurt in Pretoria te ontwikkel. Sy was verantwoordelik vir die aanlê van strate, die oprigting van ’n kinderparkie, die aanlê van ’n rioolstelsel en die opvulling van gate in die buurt.
  • Atteridge was bekommerd oor die lot van soldate wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het, en het gevra vir ’n behuisingskema vir beseerde soldate. 5
  • Die gemeenskap van Atteridgeville in Pretoria het in 2015 eer aan Atteridge en haar man, William Henry, betoon vir die ontwikkeling van hul township.
  • Atteridge was bekend as MaBatho (moeder van die mense) en Mmadisopo (die sopmoeder).
  • Atteridgeville is in drie gedeeltes verdeel: Phomolong, Concerned en Jeffville.
  • Die nedersetting het ontstaan toe 50 gesinne in 1940 vanaf Marabastad na Atteridgeville getrek het. Daar is tussen 1940 en 1949 1 533 huise gebou om die mense wat uit ander gebiede verskuif is, te huisves.
  • Die totale bevolking van Atteridgeville is vandag ongeveer 200 000 en hulle praat verskeie tale. Die algemeenste tale is Sesotho, IsiZulu en Tsotsitaal (’n mengsel van tale).
  • Bekendes wat in Atteridgeville gebore is, is die radio-aanbieder Bob Mabena, die adjunkhoofregter van Suid-Afrika Dikgang Moseneke, die adjunkminister van gesondheid, Gwen Malegwale Ramokgopa, die akteur Sello Maake-ka-Ncube, die sokkerster Thomas Madigage, atleet Sydney Maree, sokkerster Lucas “Masterpieces” Moripe en die voormalige Tshwane-burgemeester Kgosientso Ramokgopa, wat tans die minister van elektrisiteit is. 6
Foto: Shutterstock

Die township Atteridgeville het ’n baie interessante geskiedenis en dis te danke aan een vrou dat daar ’n township in Pretoria-Wes is. Die vrou se naam was Myrtle Patricia Atteridge (1900-1979).

Sy was ’n voorvegter vir vroueregte en gelyke regte. Sy het in 1933 ’n stadsraadslid en adjunkburgemeester geword. Atteridge was die eerste vrou wat dié posisie in Pretoria beklee het.

Die township Atteridgeville is in 1939 gestig en is na haar vernoem ter erkenning van haar bydrae.

‘n Stadsraadsfoto

Wie was sy?

Atteridge is as Myrtle Patricia Wood in Queenstown gebore en het by die Queenstown Girls’s High School skoolgegaan. Sy het onderwys by die Sacred Heart Convent op King Williamstown studeer, en het in 1920 ’n onderwyser onder die Transvaalse onderwysdepartement geword.

Sy het in 1921 met William Henry Atteridge getrou. Hy was ook ’n onderwyser en later die hoof van die Laerskool Hamilton in Pretoria. Hulle het twee seuns, Raymond en William, gehad.

Haar man, William, het in die politiek belanggestel en het vyf keer probeer om die wyksraadslid vir Sunnyside te word.

Dit was juis toe hy vir die vyfde keer aan die munisipale verkiesing wou deelneem, dat hy nie toestemming by die onderwysdepartement kon kry om daaraan deel te neem nie en het só die weg vir sy vrou gebaan. Hy moes noodgedwonge aan die verkiesing onttrek, en het voorgestel dat sy vrou in sy plek staan. 1 Sy het ook, en het groot sukses behaal, want sy het sommer met die eerste probeerslag die munisipale verkiesing gewen!

Atteridge is dus in 1933 tot die Sunnyside-wyk van die Pretoriase stadsraad verkies. Sy is in 1936 en 1939 tot die amp herverkies.

Haar aanstelling as stadsraadslid

Atteridge was ook in 1937 die voorsitter van die stigting- en personeelkomitee en in 1939 het sy die adjunkburgemeester van Pretoria geword. Sy het op talle komitees gedien en die stadsraad op die staat se regeringsbiblioteek, die alkohollisensiëringsraad en die maatskaplike dienste van Suid-Afrika verteenwoordig. Daarby was sy ook die voorsitter van die komitee wat met “Bantoes en Asiate” gediend was. Daar is in daardie jare so na swart mense en Indiërs verwys. 2

Sy was ’n groot voorstander van vroueregte en was ook ’n lid van verskeie vroue-organisasies, soos die Guild of Loyal Women, die Pretoria-vroueklub en die Nasionale Raad vir Vroue.

Sy was bekend daarvoor dat sy geglo het dat almal gelyk en regverdig behandel moes word. Sy het geglo dat swart mense menswaardige lone moes kry, dat daar voedingskemas vir hulle moes wees, gratis mediese sorg, verpligte laerskoolonderwys, vrye toegang tot universiteite, eienaarskap van hul eie erwe in townships, en dat daar weggedoen moes word met die kleurgrens (in Engels: colour bar). 3

Sy het ’n hart gehad vir mense wat gesukkel het en het werklose en behoeftige mense probeer help. Sy het geglo dat die stad nie hoë tariewe vir dienste moes vra nie en dat mense se belasting verminder moes word.

Atteridge het gesien dat swart mense in daardie tyd onder haglike omstandighede gebly het. Sy het daarom sopkombuise vir swart skole in Pretoria gereël, wat toe ’n eerste van sy soort in Suid-Afrika was. Sy het haar lewe daaraan gewy om die lewe vir ander mense beter te maak, of dit nou op die komitees was waarop sy gedien het, vir die inwoners van Sunnyside of die swart mense in informele nedersettings.

Atteridge het ná haar man, William, se afsterwe weer getrou. Sy het op 68-jarige ouderdom op 23 April 1969 met dr. George von Welfling Eybers (toe 82) in die huwelik getree. Eybers was die onder-sekretaris vir onderwys in Pretoria en het ook verskeie boeke geskryf. 4

Die ouer Myrtle

Atteridgeville kom tot stand

Dit was Atteridge se voorstel om ’n nuwe township in Pretoria-Wes tot stand te bring. Die stad se oorspronklike plan was om dit baie verder van die stad af te bou, maar sy het gemeen dat swart mense nader aan die winkels en hul werkgewers moes wees. Die township sou op die plaas Elandsfontein 352 JR gebou geword het, maar Atteridge het dit reggekry om die ligging te verander.

Daar was baie mense wat nie van hierdie idee gehou het nie, maar sy het deurgedruk en by haar standpunt gehou.

Nadat haar besluit aanvaar is, het sy haar ook beywer vir verpligte laerskoolonderwys, sportvelde, biblioteke en sosiale klubs vir die inwoners van Atteridgeville. Die inwoners daar het baksteenhuise, spoeltoilette en beligting gehad, wat ’n eerste vir informele nedersettings in daardie stadium was.

Die township sou Motse Mogolo genoem geword het, maar die inwoners het self besluit om dit eerder Atteridgeville te noem. Hulle het haar MaBatho genoem, wat “moeder van die mense” beteken. 5

Atteridgeville, 1940

Woordbank

amp ’n Openbare werk wat iemand doen.
beywer Gewerk om iets te bereik.
haglike Baie swak.
ligging Waar ’n plek geleë is.
lone Die betaling wat jy kry vir werk wat jy gedoen het.
nedersettings Woonplek.
noodgedwonge Geen keuse om iets te doen nie.
township ’n Stedelike woongebied met laekostebehuising, vroeër was dit net vir swart mense.
voorstander ’n Mens wat iets voorstaan, ten gunste is van ’n kwessie.
voorvegter Iemand wat ’n kampvegter van ’n saak is en daarvoor opstaan.
wyksraadslid ’n Politieke verteenwoordiger wat die mense binne ’n gedeelte van ’n stad, distrik of gemeente verteenwoordig.

Lees die volgende artikels om meer oor Atteridge te leer

Kyk na hierdie video’s om meer oor Atteridge te leer

Atteridgeville se ontstaan

Atteridgeville soos dit vandag lyk

Foto: Shutterstock
Gepubliseer op: 27 September 2023 | Bygewerk op 4 Desember 2023