Vinnige feite
- Hy is in 1968, 1969 en 1971 as Sakeman van die Jaar deur onderskeidelik Sunday Times, Rapport en Financial Mail aangewys. 3
- Louis Luyt se sekretaresse, Susan Kruger, het dikwels gesorg dat die koerante nie onderhoude met hom kry nie. Hy het glad nie van onderhoude gehou nie. 3
- Hy het vir 15 jaar provinsiale rugby gespeel, vir die destydse Noord-Transvaal en vir die Oranje-Vrystaat. 15 Hy het in die posisie van slot gespeel. 13
- Die Springbokke se oorwinning in 1995 onder die presidentskap van Louis Luyt, is die tema van die Hollywood rolprent Invictus waarin die internasionaal bekende akteur Morgan Freeman die rol van oudpres. Nelson Mandela vertolk het. 16
Louis Luyt was voorwaar ’n man wat vele hoede gedra het! Dié Karooseun en sakeman het onder meer ’n kunsmisryk én ’n biermaatskappy opgebou, ’n koerant begin, en was die grootbaas van rugby in Suid-Afrika. En dan het hy hom boonop in die politiek begewe.
’n Eenvoudige begin
Louis Luyt is op 18 Junie 1932 in Britstown in die Karoo gebore. 1
Sy volle name was Oswald Louis Petrus Poley, maar hy het later sy stiefpa, Charles Luyt, se van aangeneem nadat sy ma met hom getrou het. 2
Louis het in eenvoudige omstandighede en in ’n arm gesin grootgeword. ‘n Mens moet onthou dat hy in die jare van die Groot Depressie in Suid-Afrika gebore is en mense het in daardie tyd bitter swaar gekry. 3
Hy was met Adri getroud en hulle het vier kinders gehad. 1
Skatryk sakeman
Beskeie vroeë loopbaan
In die 1940’s het Luyt as ’n klerk op die spoorweë gewerk. 1
Nadat hy onder meer in die myne by Welkom gewerk het en ’n verkoopsman vir Caltex was, het hy eers insekdoder en later kunsmis vir die destydse maatskappy Fisons verkoop. 4
Kunsmiskoning
Dit was in die 1960’s toe hy as ʼn kunsmisverkoopsman die inisiatief geneem het om sy eie kunsmismaatskappy op die been te bring en kunsmisfabrieke in Potchefstroom en Richardsbaai opgerig het. Hy het die destydse Triomf Kunsmis uitgebou tot een van die grootste maatskappye in die kunsmisbedryf, en het vir dekades lank as die “Kunsmiskoning van Suid-Afrika” bekendgestaan. 5
In die vroeë 1980’s het die bedryf agteruitgegaan en Triomf het ophou bestaan. 6
Met sy afsterwe het Marius Brand, wat toe president van die Misstofvereninging van Suid-Afrika (MVSA) was, gesê dat Louis Luyt lank onthou sal word vir die enorme bydrae wat hy tot die kunsmisbedryf in Suid-Afrika gelewer het. 5
Bierbrouer
In die laat 1990’s het Louis Luyt en Anton Rupert besluit om saam-saam in die wêreld van bier besigheid te begin doen, onder andere met die bier “Luyt Lager”. Die destydse SA Brouerye (Mpy.) Bpk. het daarvan gehoor en oorlog verklaar teen hul poging. Kort hierna het daar probleme tussen Luyt en Rupert ontstaan en laasgenoemde het Luyt uitgekoop. 7
Hulle het beheer oor sowat 13% van die mark gehad toe hy sy bierbelange verkoop het. 4
Louis Luyt sr. én Louis Luyt jr. het later weer hul Luyt Lager-bier in hul eie klein brouery in Ballito gebrou, maar die publiek het nie genoeg van die bier gekoop sodat hulle daarmee kon voortgaan nie. Dié brouery moes in 2021 sluit. 8
Lojaliteit was vir Luyt baie belangrik. Daar was op ’n dag ’n student wat in ’n kroeg ’n bohaai opgeskop het omdat daar nie Luyt Lager te koop was nie. Luyt het daarvan gehoor, die student opgespoor en toe sommer vir die res van sy studies betaal! 3
Op die rugbyveld
Louis was ʼn goeie rugbyspeler wat vir die destydse Oranje-Vrystaat uitgedraf het en in die 1950’s kaptein van dié span was. In 1989 het hy president van die destydse Transvaalse Rugbyunie geword 1 en in Maart 1994 is hy gekies as president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU). 9
Sy loopbaan as president van SARU was vol omstredenheid. Hy is daarvan beskuldig dat hy hom aan nepotisme skuldig gemaak het, dat hy boelietaktiek gebruik het en dat hy outokraties opgetree het. 1
Hy het sy skoonseun aangestel as trustee van die Transvaal Rugby Sporttrust asook as besturende direkteur van SARU. Sy seun, Louis Luyt jr., is aangestel as bestuurder van die Ellispark-stadion (vandag staan dit as Emirates Airline Park bekend) in Johannesburg. 10
In 1992 het hy sommer politieke moeilikheid óók gekry toe hy met die African National Congress (ANC) gebots het omdat hy slegs die Afrikaanse gedeelte van die volkslied laat speel het voor die Springbokke se rugbytoets teen die All Blacks op Ellispark in Johannesburg. Maar al het hy soveel moeilikheid veroorsaak, het hy ’n belangrike bydrae gelewer om Suid-Afrika se Springbokke weer tot internasionale rugby toegelaat te kry. Die hoogtepunt hiervan was natuurlik met die aanbied van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Suid-Afrika in 1995 wat die Springbokke boonop nog gewen het ook. 1
Suid-Afrika kon nie altyd internasionaal rugby speel of aan ander sportsoorte in die buiteland deelneem nie. Ons land is in 1984 verbied om teen ander lande se spanne deel te neem as gevolg van teenkanting deur die internasionale gemeenskap teen die Suid-Afrikaanse regering se politieke beleid. 11
Luyt het van baie mense vyande gemaak, selfs sy eie familie en ook mense met wie hy nou saamgewerk het. Toe hy begin dink het dat die destydse Springbok-rugbykaptein Francois Pienaar, met wie hy vir lank goed saamgewerk het, meer reggekry het met die spelers se kontrakte as wat hy wat Luyt is, wou toelaat, het hy probeer om Pienaar se rugbyloopbaan skade aan te doen. Volgens die joernalis Max du Preez het hy selfs op ’n keer die volgende vir Pienaar gesê: “Die grens tussen liefde en haat is baie dun, en ek haat jou.”
Toe sy skoonseun, Rian Oberholzer, hom op ’n dag kwaad gemaak het, het hy hom en sy eie dogter verbied om by haar ouerhuis te kom. 3
Kom ons kyk bietjie na Luyt se betrokkenheid by rugby.
Rugby in die ou Transvaal
In 1984 het hy beheer oor Ellispark oorgeneem namens die destydse Transvaalse Rugby Voetbalunie. 12
Louis Luyt het geweet hoe om met rugby geld te maak en hy het die Transvaalse Rugby-unie, wat eers finansieel gesukkel het, verander in die rykste rugby-unie in Suid-Afrika. In 1989 was die unie ryk genoeg om die Ellispark-rugbystadion te koop. 10
Luyt kry ’n rooikaart
In 1996 het die media, die regering en ook die publiek onrustig begin raak oor die geweldige groot mag wat Luyt oor rugby gehad het. Hy was president van die rugby-unie, lid van die uitvoerende komitee, die enigste lid van die finansiële komitee, verteenwoordiger van Suid-Afrika op die Internasionale Rugbyraad, president van die Transvaalse Rugby-unie en ook voorsitter van Ellispark Eiendoms Beperk! 10
In 1998 het Luyt die destydse president, Nelson Mandela, voor die hof gedaag omdat hy ’n kommissie van ondersoek aangestel het om beweerde rassisme in Suid-Afrikaanse rugby te ondersoek. Mandela se standpunt was dat die rol van rugby in nasiebou só belangrik was dat die regering die reg gehad het om die bewerings te ondersoek. Luyt het weer gesê dat SARU ’n privaat organisasie was wat nie deur die regering ondersoek behoort te word nie. Hierdie saak het veroorsaak dat mense teen Luyt begin draai het en dit het selfs sy voormalige skoonseun, Rian Oberholzer, ingesluit. Rian was in hierdie stadium die besturende direkteur van SARU.
Die uiteinde van hierdie hofsaak was dat Luyt in Mei 1998 as president van SARU afgedank is. 1
Skandes rondom The Citizen
In die 1970’s het eerste minister B.J. Vorster besluit dat daar drastiese stappe nodig is om die beeld van Suid-Afrika in die buiteland en ook onder wit mense in Suid-Afrika wat Engelssprekend was, te verbeter. Die regering het miljoene rand na ’n geheime fonds oorgeplaas en dit is onder meer gebruik om Luyt te help om ’n nuwe Engelse koerant te begin wat positiewe berigte oor die regering sou plaas. Luyt was vir 18 maande by hierdie koerant, The Citizen, betrokke en in daardie tyd het hy self meer as een miljoen eksemplare van die koerant gekoop sodat dit moes lyk asof die koerant baie gewild was. 13
Nadat alles op die lappe gekom het, het Luyt gesê dat hy nie geweet het waar die geld vandaan gekom het om die koerant te begin nie en dit eers uitgevind toe dit te laat was. 3
Luyt die politikus
Hy het van vroeg af reeds uitsprake oor politieke sake gemaak. In 1969 het hy gevra dat bruin mense en Indiërs stemreg moet kry. In 1974 het hy ’n eerste nierassige sportbyeenkoms geborg en in 1978 het hy P.W. Botha gekritiseer omdat hy nie aan swart mense stemreg gegee het nie. 3
Nadat hy as SARU-president afgedank is, het hy met ’n politieke loopbaan begin toe hy die Federale Alliansie (FA) gestig het. Hy het die party met sy eie geld aan die gang gehou. Volgens hom was die doel van die FA om die regte van Afrikaners te beskerm. 1
In 1999 het die FA aan die verkiesing deelgeneem, maar die party kon nie enige setel wen nie en is kort ná die verkiesing ontbind. 1
Luyt se ander kant
Die eiendomsagent Lew Geffen van Lew Geffen Sotheby’s International Realty het Louis Luyt se huis in Saxonwold, Johannesburg aan die einde van die 1990’s verkoop. Hy vertel hoe verbaas hy was oor hoe respekvol en goed gemanierd Luyt was die twee geleenthede waarop hulle mekaar ontmoet het.
Uit sy vertelling oor die gesprekke en ontmoetings tussen hom en Luyt, leer mens ’n Luyt ken wat nogal anders was as sy openbare beeld.
Omdat Geffen geweet het van Luyt se reputasie as ’n moeilike man, was hy eintlik huiwerig om die huis te bemark en hy was senuweeagtig toe hy die eerste keer na die huis moes gaan kyk. Luyt het hom egter verras toe hy baie beleefd en vriendelik was en nooit probleme veroorsaak het nie. Aan die einde van die eerste besoek het hy selfs vir Geffen ’n kas wyn as geskenk gegee.
Toe die huis ná ’n paar maande nog nie verkoop was nie, het Luyt se persoonlike assistent weer ’n afspraak met Geffen gemaak, hierdie keer by Ellispark. Hy het moeilikheid verwag omdat die huis nog nie verkoop is nie, maar al wat Luyt toe wou doen, was om raad te vra: Hy wou weet of Geffen dink dat hy teëls in die huis se badkamers moet sit. Dit was vir Geffen ’n baie onverwagse vraag omdat hy verwag het Luyt gaan sê dat hy ontevrede is omdat die huis nog nie verkoop is nie!
Ná ses maande is die huis wel verkoop en toe het Geffen nóg ’n kas wyn as geskenk gekry. 14
So is daar aan alle mense meer as een kant – niemand is net goed of net sleg nie, net vriendelik of net kwaai nie.
Einde van ’n omstrede lewe
Louis Luyt is op 1 Februarie 2013 in Ballito in KwaZulu-Natal oorlede. 1
Niemand kan ontken dat hy in sy lewe reggekry het wat min ander mense sou kon doen nie – om te vorder van iemand wat as kind en jongmens baie arm was tot iemand wat sommer op ’n jong ouderdom skatryk geword het omdat hy ’n goeie sakeman was.
Baie mense glo dat sy moeilike kleintyd en jeugjare hom juis gedryf het om dinge in sy lewe te doen soos hy dit wel gedoen het. Hy was sy hele lewe besig om daardie deel van sy lewe te probeer regstel en selfs te vergeet. 3
Woordbank
beeld van Suid-Afrika | Hoe mense in die buiteland oor Suid-Afrika gedink het. |
beskeie | Klein en nederige begin. |
boelietaktiek | Om só op te tree dat jy ander mense intimideer en dwing om dinge te doen soos jy dit gedoen wil hê. |
bohaai opgeskop | Ontevredenheid wys deur ’n lawaai te maak. |
brouery | Plek waar bier gemaak word. |
dekades | Een dekade is ʼn tydvak van tien jaar. |
drastiese | Ingrypend, hewig, radikaal, erg. |
enorme | Geweldig groot. |
gebrou | Die proses van biermaak. |
Groot Depressie | Tydperk waarin die ekonomie swak was met swak verkope, lae pryse, geringe inisiatief, werkloosheid en geldskaarste. |
inisiatief | Die vermoë om besluite te neem en dinge te doen sonder dat iemand vir jou hoef te sê wat om te doen. |
in die pad steek | Afdank. |
in die politiek begewe | Om in die politiek betrokke te raak. |
kunsmis | Kunsmatig vervaardigde plantvoedsel, misstof. |
lojaliteit | Om getrou te wees aan byvoorbeeld jou skool, ’n leier of jou land. |
nasiebou | Dinge wat mense saam doen om hulle as een nasie te verenig. |
nepotisme | Om te sorg dat familielede en vriende onder andere belangrike poste kry. |
nierassige | Byeenkoms waaraan mense van alle rasse op gelyke voet deelneem. |
omstredenheid | Iets waar mense van mening verskil en waaroor daar gestry kan word. |
om vele hoede te dra | Om meer as een ding of werk gelyktydig te kan doen. |
onrustig | Om bekommerd te wees. |
oorlog verklaar | Figuurlik gesproke: om teenkanting te bied. |
op die been te bring | Iets begin. |
op die lappe gekom | As iets (gewoonlik ʼn geheim) aan almal vertel word; as dit algemene kennis word. |
outokraties | Om alleen met onbeperkte mag te regeer. |
rassisme | Wanneer iemand glo dat ’n besondere ras/bevolkingsgroep meerderwaardig is en die reg het om ander rasse/groepe te oorheers. |
reputasie | Dit waarvoor iemand bekend is, hetsy goed of sleg. |
rooikaart | Om van die rugbyveld afgestuur te word ná ’n ernstige oortreding. |
stemreg | Die reg om te stem wat elke volwasse burger in die land het. |
voor die hof gedaag | Iemand aankla van iets om so te veroorsaak dat daardie persoon in die hof moet verskyn. |
Lees dié artikels om meer te leer
- ʼn Kort oorsig oor sy lewe
- Hier kan jy lees wat die Groot Depressie was
- Die herrie rondom The Citizen
- Kort geskiedenis oor SA rugby en die skorsing uit internasionale deelname (tydlyn)
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Wie was Louis Luyt?
Die storie agter die Luyt Lager-bier
Die dag toe rugbybaas Louis Luyt geweier het om te bedank
Louis Luyt jr. vertel oor sy pa se lewe kort ná sy dood