Vinnige feite
- Hendrik Verwoerd-rylaan se naam is na Johan Heyns-rylaan verander.
- Daar is ’n Johan Heyns-hospitaal in Vanderbijlpark. 8
- In 1988 is die Dekorasie vir Voortreflike Diens (goud) deur pres. P.W. Botha aan hom toegeken. 3
- Die Universiteit van Pretoria het postuum ’n eredoktersgraad aan Heyns toegeken. 1
- Twee van Johan Heyns se vriende op Bloemkraal was Windvoël en Toet, twee kinders van die plaaswerkers. 9
- Twee bekendes in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was saam met Heyns op universiteit – Nico Smith en Carel Boshoff.
Prof. Johan Heyns was ’n invloedryke teoloog in Suid-Afrika en hy was tot in die buiteland bekend. Dit is veral die besluite oor apartheid en afsonderlike ontwikkeling wat deur die algemene sinode van die NG Kerk (NGK) geneem is terwyl hy voorsitter van die sinode was, wat ’n groot invloed op sy bekendheid gehad het. Sommige mense het hom hieroor veroordeel, terwyl ander hom geprys het. 1
Familie en kinderdae
Johan Adam Heyns is op 27 Mei 1928 op Tweeling in die Noordoos-Vrystaat gebore. Hy het op die plaas Bloemkraal in die distrik grootgeword.
Die Heyns-voorvader wat in 1693 vanaf Leipzig in Duitsland na Suid-Afrika gekom het, was Paul Heyns. Hy was ’n sersant in die Verenigde Oos-Indiese kompanjie (VOC).
Johan se ouers was Flip en Maria Heyns. Flip was een van 13 kinders en hy wou graag ’n sendeling word, maar omdat daar nie geld was daarvoor nie, kon hy dit nie doen nie. Hy het daarom saam met sy pa geboer. Maria was die dogter van Gert Beukes. Hy het ná die Anglo-Boereoorlog (AB) as banneling van St. Helena af na Suid-Afrika teruggekeer. Die plaashuis waarin Flip en Maria Heyns gewoon het, was ’n huis wat tydens die ABO bestaan het en nog brandmerke van die oorlog gehad het. Flip en Maria het ook twee dogters gehad, Christina Heyns (later Veldsman) en Ria Heyns (later Bosman). 1
Heyns het vertel dat hulle arm grootgeword het en dat hy in die wintermaande – wat in daardie deel van ons land baie koud kan word – met ’n “treppie” skool toe gery het. Dit is ’n waentjie wat deur een perd getrek is. 1
Johan se roeping
Toe sy en Flip getroud is, het Maria aan die Here ’n belofte gemaak. As Hy vir haar ’n seun sou gee, sou sy die seun in diens van die Here grootmaak. Sy hét toe ’n seun gekry – Johan Heyns. Eers nadat hy ’n predikant geword het, het sy hom van haar belofte aan die Here vertel.
Johan het self vertel dat hy altyd graag ’n predikant wou word. Hy wou nie ’n onderwyser word of saam met sy pa op die plaas boer nie. Later in sy lewe het hy besef dat sy ma se optrede baie met sy roeping en dit waarin hy geglo het, te doen gehad het. Sy geaardheid was ook baie dieselfde as dié van sy ma. Albei van hulle kon sterk en besliste standpunte inneem. 1
Heyns se ouers was albei diep gelowige mense. Flip het onder meer vir sy kinders geleer dat ’n mens nooit moet ophou glo dat God ’n doel met jou lewe het nie. Op Heyns se twaalfde verjaarsdag het sy ouers vir hom ’n Bybel gegee. Voor in die Bybel is sy naam, die datum en ook die teksvers Prediker 12:1 geskryf. Hy het hierdie Bybel tot in sy studentedae gebruik. Hy het inskrywings daarin gemaak en ook teksverse onderstreep. 1
Hoërskool en studentedae
Heyns het in 1945 matriek (vandag se araad 12) aan Potchefstroom Gimnasium voltooi. Daarna studeer hy vir drie jaar aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) wat vandag die Noordwes-Universiteit (NWU) genoem word. 2
Hy slaag sy BA-graad cum laude (met lof) en begin daarna met sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) begin. Hier behaal hy in 1951 sy BD en MA (meestersgraad) met lof. Hy vertrek hierna na Amsterdam vir verdere studies in dogmatiek onder G.C. Berkouwer. In 1953 behaal hy sy doktorsgraad. In 1962 het hy ’n tweede doktorsgraad in wysbegeerte behaal. 3
Akademiese loopbaan en predikant
Heyns was vanaf 1954 tot 1960 predikant by die Ysterplaat-gemeente, van 1960 tot 1966 by die Rondebosch-gemeente en in April 1966 het hy sy intreepreek in die Moederkerk in Stellenbosch gelewer. In die Rondebosch-gemeente was politici soos dr. H.F. Verwoerd, adv. John Vorster en P.W. Botha van sy gemeentelede. 1
In 1966 het hy ’n senior dosent in dogmatiese vakke by die kweekskool (’n instelling waar ’n mens teologie studeer om ’n dominee of predikant te word) in Stellenbosch geword. Daarna was hy vanaf 1971 hoof van die department dogmatiek en etiek van Tukkies se fakulteit teologie. 3 Heyns was ’n gerekende teoloog (mense het baie van hom gedink). Hy was moderator van die Noord-Transvaalse streeksinode en ook van die NGK se algemene sinode van 1986. 4
As moderator was hy betrokke by ’n hele aantal navorsingsverslae wat veroorsaak het dat die kerk se standpunt teenoor die beleid van apartheid begin verander het. Een van hierdie verslae was Kerk en Samelewing (1986 en 1990). 3
Aan die einde van 1993 het Heyns die diens van Tukkies verlaat ná 23 jaar by die teologiese fakulteit. Op hierdie stadium het hy reeds vir 39 jaar ’n loopbaan in die kerk gevolg, Heyns se laaste preek was op 30 Oktober 1994 in Middelburg. 1
Johan Heyns as skrywer
Daar het baie teologiese werke uit sy pen verskyn. Hy was ’n buitengewoon goeie skrywer en omdat hy intelligent en ook goed belese was, is van sy teologiese werke ook aan buitelandse universiteite voorgeskryf. Drie van sy boeke – Dogmatiek (1981), Christelike Etiek (1985) en Christelike Etiek (1988) – het die Andrew Murray-prys gewen. 3
Heyns het ’n magdom (vreeslik baie) artikels, refrate, preke, toesprake en ander publikasies in sy lewe geskryf. Min ander teoloë en akademici het soveel soos hy geskryf. 1 Hier is ’n paar voorbeelde van sy skryfwerk:
- Karl Barth. Wie is hy en wat wil hy? (1955).
- Die Evangelie in krisis (1966).
- Denkers deur die eeue (1967).
- Die nuwe mens onderweg (1970).
- Heyns se intreerede aan die Universiteit van Pretoria is in 1971 gepubliseer onder die titel: Die huidige stand van die Gereformeerde Teologie in Nederland en ons verantwoordelikheid.
- Teologie van die rewolusie. (1975)
- Die Kerk. (1977)
- Dogmatiek (1978).
- NG Kerk en apartheid (1987).
- Teologiese etiek deel 2/2 (1989).
- Inleiding tot die Dogmatiek (1992). 5
Heyns se laaste boek, wat hy nie voltooi het nie, se voorlopige titel was Die Koninkryk van God – Grondplan van die Bybel. Hy het reeds 149 bladsye van die boek getik voordat hy dood is. 1
Liefde vir kerk en kultuur
Heyns was ook in Afrikaanse kultuurkringe betrokke. Hy was in ’n stadium voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en ondervoorsitter van die Afrikaner-Broederbond. 3
Hy het ’n vurige (baie groot) liefde vir die kerk, die Koninkryk en die teologie gehad. Voor en tydens die politieke oorgang in Suid-Afrika (voor en ná 1994) was daar baie spanning en konflik tussen mense, groepe en politieke partye in die land. In hierdie tyd het Heyns probeer om mense met mekaar te versoen (om hulle in vrede te laat saamleef). Aan die einde van sy lewe het hy bekend gestaan as iemand wat ’n brugbouer tussen mense was, iemand wat probeer het dat mense met mekaar saamwerk. 3
Heyns het ook ’n groot invloed op sy studente gehad. Hy het daarvan gehou dat studente hul eie standpunte moes hê en onafhanklik moes dink. Hy het gedink dis wonderlik as studente goeie argumente gehad het. 1
Verandering in standpunt
Hoewel Heyns vroeër in sy lewe die Nasionale Party-regering se beleid van afsonderlike ontwikkeling gesteun het, het hy later in sy lewe van standpunt verander. Hy het begin glo dat dié beleid die oorsaak was van die kloof tussen mense in Suid-Afrika en dat dit ’n onreg teenoor swart mense in die land was.
Sy nuwe standpunt het natuurlik hewige kritiek ontlok (gekry) vanaf die regse of konserwatiewe kant van die politieke spektrum (die verskillende politieke partye). Daar was ook mense wat geglo het dat hy verdeeldheid in die NG Kerk veroorsaak het omdat hy die ideologie van apartheid verwerp het (dit nie meer gesteun het nie). 3
Terwyl hy steeds aan die NG Kerk verbonde was, het hy stadigaan die standpunt binne die kerk verander. Sy 1986-artikel Kerk en Samelewing het ’n belangrike rol gespeel om die kerk se standpunt te verander. Hierdie artikel het uiteindelik daartoe gelei dat ongeveer 30 000 lidmate die NG Kerk verlaat en die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) gestig het. 4
Die stigting van die APK was vir Heyns ’n laagtepunt in sy loopbaan. Omdat hy in daardie stadium moderator van die NGK was, het hy persoonlik vir die skeuring in die kerk veranwoordelik gevoel. 1
Die verandering van standpunt in die NG Kerk het ’n hoogtepunt bereik met die “Sinode van versoening” in Oktober 1994 toe Beyers Naudé na die sinode genooi is en die kerk hom om verskoning gevra het dat hulle nie vroeër na sy standpunte oor die beleid van afsonderlike ontwikkeling wou luister nie. 4
Op 2 Februarie 1990 het pres. F.W. de Klerk in sy historiese toespraak in die Parlement die besluit bekend gemaak dat organisasies soos die ANC en die PAC ontban gaan word. Hy het ook aangekondig dat Nelson Mandela, wat toe reeds 27 jaar in die tronk was, vrygelaat gaan word. Heyns is een van die eerste mense wat kommentaar gelewer het. Hy het in die radioprogram Spitstyd gesê dat hy baie opgewonde is oor De Klerk se toespraak en dit as die begin van ’n nuwe Suid-Afrika beskou. 1
Sluipmoord
Saterdag 5 November 1994 was soos elke jaar ’n somersaand in Pretoria. Dit was ook Guy Fawkes-dag. Soos mense veral jare gelede (meer as vandag) gedoen het, is daar oral klappers en vuurwerke geskiet.
Waar kom Guy Fawkes vandaan? In 1605 was daar lede van die Katolieke Kerk wat beplan het om die Britse parlement op te blaas omdat hulle nie tevrede was met die regering se wette ten opsigte van die Katolieke Kerk nie. Die polisie het van die planne gehoor en die aand voor dit sou plaasvind, is een van die planmakers, Guy Fawkes, in hegtenis geneem in ’n kelder waar die plofstof wat hulle wou gebruik ook versteek was. Daar is toe besluit om 5 November elke jaar te vier dat die ontploffings nie gebeur het nie. Hierdie dag word in Brittanje en in ander lande wat onder Britse beheer was, gevier deur die afskiet van klappers. 6
Terug by daardie aand in November. Johan en sy vrou, Reneé, het die aand in hul huis in Waterkloofrif in Pretoria saam met twee van hulle kleinseuns gekuier. Twee van die drie seuns van Johan en Reneé se seun, Dirk Heyns, was saam met hulle ouma en oupa in die woonkamer besig om kaart te speel. Terwyl almal saam in die vertrek was, is Heyns met ’n enkele skoot van buite deur die venster van die vertrek doodgeskiet. 7
Heyns is op Vrydag 11 November 1994 in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria begrawe. Daarna is ’n roudiens in die Universiteitsoordkerk in Pretoria gehou. Huldeblyke het van oral in die land en ook die buiteland ingestroom. Wyle oudpres. Nelson Mandela het in sy boodskap aan die gesin gesê dat hy dankbaar is vir die bydrae wat Heyns gemaak het om ’n nierassige Suid-Afrika te help skep en dat Afrikaners ’n groot bemiddelaar verloor het. 1
Omdat die moordenaar tot vandag toe nog nie gevang is nie, is die motief vir die moord nie bekend nie. Een van die moontlike redes vir die sluipmoord is Heyns se kritiek teen apartheid. Daar was moontlik vanuit regse groepe ’n sameswering om hom uit die weg te ruim (hom dood te maak). Hy het reeds in die tyd toe hy moderator van die algemene sinode was, verskeie dreigoproepe ontvang. 7
Woordbank
belese | ’n Persoon word belese genoem wanneer hy of sy baie gelees het en sinvol oor enige onderwerp kan gesels. |
dogmatiese | Dogmatiek is die wetenskaplike geloofsleer en dogmaties beteken om iets presies volgens voorskrifte te doen, asof daar geen twyfel kan bestaan dat dit presies reg is om dit so te doen. |
geaardheid | Die kombinasie van eienskappe wat iemand ’n sekere soort mens maak. |
intreepreek | Die eerste preek wat ’n predikant lewer wanneer hy by ’n nuwe gemeente begin werk. |
invloedryke | Iemand wat baie invloed het. |
laagtepunt | ’n Toestand wat baie sleg is. |
moderator | Voorsitter van ’n sinode. |
roeping | ’n Drang binne ’n mens om iets te doen of om ’n sekere beroep te beoefen. |
teologiese studies | Studies wat met godsdiens en verskillende gelowe te doen het. 10 |
Lees dié artikels om meer te leer
- ’n Proefskrif oor die lewe van Johan Heyns
- Johan Heyns is ook die verdrywer (“exorcist”) van apartheid genoem
- Heyns was in warm water oor hy sy standpunt oor apartheid verander het
Kyk dié video om meer te wete te kom
’n Dokumentêre kortfilm wat deur Johan Adam Heyns jnr, Heyns se kleinseun, uit ou video-opnames gemaak is