Vinnige feite
- Slovo sou nie in Suid-Afrika grootword het nie. Sy pa wou eintlik na Argentinië emigreer, maar het op die laaste oomblik besluit om na Suid-Afrika te kom. 3
- Slovo het eenmaal gesê: “Die mensdom kan nooit ware vryheid hê totdat ‘n samelewing gebou word waar geen mens die vryheid het om ‘n ander uit te buit nie.” 8
- Slovo het in die 1970’s vir die Sowjetunie (vandag is dit Rusland) gewerk. Hy moes die mense van Litaue oortuig dat hulle Rusland moes ondersteun en getrou aan kommunisme bly. 11
- Slovo se een dogter, Shawn, het ’n boek oor haar kinderjare getiteld A World Apart geskryf. Dit is ook in ‘n rolprent omskep. 1
Joe Slovo was ’n vryheidstryder, struggle-leier en aktivis wat hom reeds in sy tienerjare teen rassediskriminasie begin beywer het. Byna sestig jaar later kon hy Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 beleef. Maar wie was dié Europese boorling wat eintlik toevallig in Suid-Afrika beland en eindelik ’n groot rol in die land se geskiedenis gespeel het?
Van Europa tot Suid-Afrika
Joe Slovo is op 23 Mei 1926 in Obelai, ’n klein dorpie in Litaue in die noorde van Europa, gebore. 1 Sy volle name was Yossel Mashel Slovo. 2 Sy ouers was Woolf en Ann Slovo. 1
Slovo en sy familie was Jode. In 1934 het die anti-semitisme in hulle dorpie só erg geraak dat hulle besluit het om Litaue te verlaat. 1 Joe was agt jaar oud, en toe die gesin in Suid-Afrika aangekom het, kon hy slegs Jiddisj (’n Joodse taal) praat. 3 Sy pa het in Suid-Afrika as vrugteverkoper en bestuurder van ’n afleweringsvoertuig gewerk, maar die familie het gesukkel om kop bo water te hou. 4
Slovo het by die Joodse regeringskool ingeskryf. 1 Sy gunstelingvak was geskiedenis en hy het akademies goed presteer. Hy was ook ‘n goeie atleet en redenaar. 2 Hy moes in 1941 skool verlaat ná hy standerd ses (vandag se graad 8) voltooi het. 1
Vroeë werksjare en politieke betrokkenheid
Slove het eers as assistent en toe as voorman in ‘n pakhuis begin werk. 3 Later was hy ‘n versendingsbeampte vir ’n apteekgroep. 2
Hy het by van die vakbond National Union of Distributive Workers aangesluit en vinnig naam gemaak. Hy word aangestel om ‘n massa-aksie te organiseer 1 en lei het ‘n staking gelei vir beter werksomstandighede. Dit was suksesvol, maar tot sy skok het slegs wit, en nie swart, werkers daarby gebaat.
Slovo het in hierdie tyd sy eerste kontak met kommunistiese idees gehad, 4 en in die vroeë 1940’s, toe hy nog ‘n tiener was, ‘n lid van Kommuniste Party van Suid-Afrika (KPSA) geword. 3
Militêre diens en studies
As gevolg van sy liefde vir kommunisme, was Slovo ‘n ondersteuner van die Sowjetunie (vandag is dit Rusland). Ná die Sowjetunie en Brittanje (en gevolglik Suid-Afrika) bondgenote geword het in die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945), het hy besluit om as vrywilliger teen Duitsland te gaan veg. 1 Omdat hy nog minderjarig was, moes hy oor sy ouderdom jok. 3 Hy het in Italië en Egipte diens gedoen. 1 Gedurende en kort ná die oorlog was hy aktief in die Springbok Legioen, ’n radikale organisasie bestaande uit voormalige soldate, wat vir die regte van soldate geveg het. 4
Ná die oorlog studeer Slovo regte aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) 4 en voltooi in 1950 sy LLB-graad. Hy was ‘n aktiewe student en het al meer by die politiek betrokke geraak. 1
Politieke betrokkenheid
Ná sy studies het hy as advokaat in Johannesburg gepraktiseer. Hy het gou bekendheid verwerf as advokaat vir die verdediging in politieke hofsake. Dit is hofsake waar die aangeklaagdes beskuldig word van politieke aktiwiteite wat moontlik ’n gevaar vir die land kon inhou. 4
Slovo is in 1949 met Ruth First, die dogter van KPSA-tesourier Julius First, getroud. 4 Sy was ‘n joernalis en anti-apartheidaktivis. 2
In 1950 het die regering die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme aanvaar. Hiervolgens is die KPSA verbied. 5 Die KPSA het dit gesien kom, en het verkies om self te ontbind. 6 Slovo en First is ingevolge hierdie wet ingeperk. 4 Hulle is verban van enige publieke vergaderings en mag nie in koerante aangehaal word nie. 1 In 1953 besluit die party om sy naam van die KPSA na die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) te verander. 1 Hulle sou nou ‘n ondergrondse beweging wees. 6 Slovo is as lid van die sentrale komitee verkies. 1
Kongres-alliansie
In die vroeë jare vyftig het verskeie anti-apartheidsgroepe die Kongres-alliansie gestig. Die doel was om teen die Nasionale Party se apartheidsregering te verenig. 7 As deel hiervan is die South African Congress of Democrats (Sacod) in 1953 gestig. 8 Dit was ‘n party wat die wit vleuel (bestaande uit wit lede) van die Kongres-alliansie sou wees. 6 Slovo en First was stigterslede van Sacod. 8
Slovo het Sacod by die nasionale adviserende komitee van die Kongres-alliansie verteenwoordig. Hy was teenwoordig toe hulle besluit het om ‘n volkskongres te hou.
In 1954 is Slovo van alle politieke betrokkenheid verban. Hy moes dus al sy politieke aktiwiteite in die geheim doen. Slovo het gehelp om die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) te skryf. As gevolg van sy verbanning kon hy egter nie in 1955 die volkskongres, bekend as die Congress of the People, bywoon nie. Hy het die verrigtinge met ‘n verkyker vanaf ‘n nabygeleë dak dopgehou.4
Hoogverraadsaak en noodtoestand
In 1956 is Slovo en 155 ander aktiviste deur die Suid-Afrikaanse regering van hoogverraad aangekla. Slovo het as een van die advokate vir die verdediging opgetree. In die aanloop tot die hofsaak is hy aan minagting van die hof skuldig bevind. Hy het hierteen geappelleer en is vrygespreek. 4 Slovo is vir twee maande aangehou en toe vrygelaat. 2 Die aanklagte van hoogverraad teen hom is in 1958 laat vaar. 4
Ná die Sharpeville-tragedie van 1960 het die regering ‘n noodtoestand afgekondig. Gedurende die noodtoestand is Slovo vir vier maande sonder verhoor aangehou. 4
Ná die gebeure by Sharpeville het sommige struggle-leiers besluit dat vreedsame protes teen apartheid nie verandering teweeg sou bring nie. In 1961 het hulle uMkhonto weSizwe (MK) gestig. Dit was ‘n militêre organisasie wat die NP-regering met geweld omver wou werp. 4
Slovo en Nelson Mandela was die twee stigterslede van MK, 4 en het die organisasie se grondwet opgestel. 5 Hy was daarna lid van MK se opperbevel, 3 en het gereeld vergaderings by die hoofkwartier by Liliesleaf in Rivonia, Johannesburg, bygewoon. 4
Ballingskap en aktiwiteite buite SA
Slovo het Suid-Afrika in 1963 op ‘n buitelandse sending vir die SAKP en ANC verlaat. 1 Sy doel was om Oliver Tambo, die leier van die ANC wat in ballingskap was, te besoek. Hy moes hom inlig oor MK se Operasie Mayibuye (Operasie Teruggee), ‘n plan om ‘n volskaalse guerrillaveldtog te begin. 5
‘n Maand later het die polisie op Liliesleaf toegeslaan en MK-leiers soos Walter Sisulu en Govan Mbeki in hegtenis geneem. Nog ‘n maand later is Ruth First ook in hegtenis geneem en vir bykans vier maande aangehou. Ná sy vrygelaat is, het sy die land met hulle drie dogters verlaat. 4
Dit was te gevaarlik vir Slovo om na Suid-Afrika terug te keer. Hy sou vir die volgende 27 jaar in ballingskap woon. Hy het in hierdie tyd in onder andere Londen, Maputo (Mosambiek) en Lusaka (Zambië) gewoon. 1
Slovo het eers in Londen gaan woon, waar First en hulle kinders by hom aangesluit het. 2 Daar het hy die Londen School of Economics bygewoon en sy LLM (meestersgraad in regte) voltooi. 1 Hy het die stryd teen apartheid voortgesit en kommunisme probeer versterk, maar die bevrydingsbeweging het nie juis hond haaraf gemaak nie.
In 1969 het die ANC ‘n konferensie in Morogoro, Tanzanië, gehou. 9 Hier is die alliansie tussen die kommuniste en die ANC versterk. Slovo is as enigste wit lid van ‘n nuwe liggaam, 3 die Revolusionêre Raad, verkies. Dié organisasie se doel was om mense te mobiliseer om teen apartheid te veg. Slovo was die hoofteoretikus, en het gehelp om die organisasie se doelstellings en plan van aksie op te stel. 1 Hy het deel van die Revolusionêre Raad gebly tot dit in 1983 ontbind is. 4
Slovo het in 1977 na Maputo in Mosambiek getrek. Hy het van daar af MK-operasies in Suid-Afrika georganiseer. In Maputo het Slovo vir Helena Dolny en haar man, Ed Wethli, gewerf om spioenasietogte na Suid-Afrika te onderneem. 1
Ruth First is in 1982 deur ‘n pakketbom (’n bom wat in ’n pakkie versteek is) vermoor. Die Suid-Afrikaanse koerant The Star het vaslik berig dat Slovo vir haar dood verantwoordelik was en Slovo het die koerant gedagvaar. In Januarie 1986 het ‘n Britse hof aansienlike skadevergoeding aan hom toegeken. 4
In 1984 is Slovo met Helena Dolny getroud, ná haar huwelik met Ed Wethli geëindig het. 1
In dieselfde jaar het die Suid-Afrikaanse regering die Nkomati-akkoord (ooreenkoms) met die regering van Mosambiek onderteken. Ingevolge dié ooreenkoms moes die ANC Mosambiek verlaat. Slovo het toe na Lusaka in Zambië verhuis.
In 1985 word hy die eerste wit lid van die ANC se nasionale uitvoerende raad. Hy het in dieselfde jaar die stafhoof van MK geword, ‘n pos wat hy tot in 1987 sou beklee. 4
Einde van apartheid
In 1986 het Moses Mabhida, die sekretaris-generaal van die SAKP, gesterf. Slovo het hom opgevolg. Dié pos het baie werk geverg, en Slovo bedank as stafhoof van MK. Hy was egter steeds ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende raad.
Die SAKP het in Junie 1989 ‘n nuwe beleid aanvaar ingevolge waarvan die SAKP gewapende stryd as beleid verwerp het, en oop was vir onderhandeling met die NP-regering. In Januarie 1990 het Slovo ‘n pamflet getiteld Has Socialism Failed? geskryf. Hierin het hy aangedui dat die SAKP homself verbind tot ‘n multiparty-, een-mens-een-stem demokrasie, vryheid van spraak, beweging en godsdiens, die reg om aan ‘n vakbond te behoort en die reg om te staak. 4
In Februarie 1990 het F.W. de Klerk, toe die president van Suid-Afrika, aangekondig dat hy die ANC en SAKP gaan ontban. Hy het ook aangekondig dat daar onderhandelings vir ‘n nuwe Grondwet sou wees. 9 Slovo was ‘n sleutelfiguur in die onderhandelings tussen die NP-regering en die verskillende anti-apartheidsgroepe. 1
Sy belangrikste bydrae was waarskynlik sy voorstel vir ‘n regering van nasionale eenheid (RNE). 1 Hiervolgens het die ANC aanvaar dat ‘n vorm van gesamentlike regering (‘n regering bestaande uit ANC- én NP-lede), nodig was voor daar ‘n meerderheidsregering (‘n regering met die ANC aan die stuur) kon wees. Die RNE sou vir vyf jaar regeer. 10
Interessant genoeg het Suid-Afrika ná die 2024- nasionale verkiesing weer ’n RNE gevorm omdat die ANC nie ’n volstrekte meerderheid (minstens 50% van die stemme) in die verkiesing behaal het nie. Die RNE bestaan nou uit ’n klomp verskillende politieke partye en nie net ’n handjie vol soos ná die 1994-verkiesing nie.
Dood en nalatenskap
Slovo se gesondheid het intussen agteruitgegaan. Dit het hom genoodsaak om as sekretaris-generaal van die SAKP te bedank. Hy is as voorsitter verkies, maar dit was bloot ‘n seremoniële posisie.
Hy het lid gebly van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, en is ook gekies as lid van die nasionale werkkomitee. By Kodesa (Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika) in Desember 1991 was hy lid van die groep wat aan ‘n nuwe Grondwet vir Suid-Afrika gewerk het. 4
Ná die 1994-verkiesing het hy die minister van behuising in die kabinet geword. 4 Hy het onder meer programme wat huise en dienste aan mense moes lewer, van stapel gestuur. 2
Slovo het op 6 Januarie 1995 aan leukemie gesterf. By sy begrafnis het wyle oudpres. Nelson Mandela ‘n lofrede gehou waarin hy hom vir sy bydrae tot die struggle geprys het. Slovo is deur sy drie dogters, Shawn, Gillian, Robyn, oorleef. 1
Pallo Jordan, ‘n struggle-aktivis en later minister in verskeie portefeuljes, het die volgende oor Slovo gesê: “Ná Oliver Tambo was hy waarskynlik die mees geliefde leier van die ANC, binne en buite Suid-Afrika. In die uMkhonto weSizwe-kamp was hy ‘n legende wie se naam in marsliedere en dreunsang gebruik is.” 8
Woordbank
adviserende | Om raad te gee. |
advokaat | ‘n Regsgeleerde wat regsadvies aan kliënte gee en namens ’n beskuldigde, eiser of die staat sake in ’n (hoër) hof bepleit. |
aktivis | Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering teweeg te bring. |
alliansie | Vereniging/verbond tussen mense/volke. |
anti-semitisme | Om Joodse mense te haat. |
assistent | Iemand wat iemand anders bystaan. |
beleid | Plan/program vir die bestuur van ʼn groep/onderneming/party/land. |
bondgenote | Iemand wat hom verbind om ‘n ander te help. |
buitelandse sending | ’n Opdrag of taak wat in ’n ander land verrig moet word. ’n Mens word dus op ’n sending gestuur om werk iewers anders te gaan doen. |
dreunsang | ’n Ritmiese sang wat dikwels saam met liggaamsbewegings gepaardgaan. |
geappeleer | ’n Versoek dat ’n hoër hof weer oor ’n uitspraak moet besluit. |
gebaat | Voordeel kry. |
gedagvaar | Iemand beveel om in die hof te verskyn. |
gepraktiseer | Jou beroep beoefen; werk. |
grondwet | Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. Suid-Afrika het in 1996 amptelik ’n nuwe Grondwet gekry. |
guerrillaveldtog | Om oorlog op ’n onkonvensionele of ongewone manier te maak deur klein groepies soldate wat vinnig rondbeweeg, wat infrastruktuur (soos brûe, spoorlyne, ens.) van die vyand te vernietig. |
hoofkwartier | Basis of die plek van waar jy iets reël. |
hoogverraad | Misdadige optrede om die regering van die staat waaraan die persoon trou verskuldig is, omver te werp. |
ingeperk | Iemand se vryheid (in ʼn mate) ontneem. |
joernalis | Iemand wat vir ʼn koerant/tydskrif/radiostasie/TV-kanaal/webblad nuusverslae skryf; verslaggewer. |
kommunistiese | ’n Regeringstelsel waar die regering alles in die land besit en beheer. |
kop bo water | Dit is wanneer iets of iemand staande of net-net aan die lewe bly. |
leukemie | ’n Tipe bloedkanker. |
lofrede | Toespraak waarin iemand geprys word. |
meestersgraad | Dit is die graad wat ʼn mens ná ʼn baccalaureus- of honneursgraad doen. |
minagting | Geen respek vir iemand hê nie; op iemand neersien. |
minderjarig | Nog nie oud genoeg om volgens die reg selfstandig besluite te neem nie. |
minister | ʼn Politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering. |
mobiliseer | Aan die gang sit, in werking stel of aanwakker. |
multiparty | Land waar meer as een politieke party toegelaat word. |
nasionale uitvoerende raad | Die uitvoerende raad wat vir die party se dag tot dag besluite verantwoordelik is. |
nasionale werkkomitee | Dit is die organisasie wat die besluite van die nasionale uitvoerende raad moet uitvoer. |
hond haaraf gemaak nie | Om niks uit te rig nie en nie jou doel te bereik nie. |
noodtoestand | ’n Situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hul hulp kan verleen. |
ondergrondse | Geheim; onwettig. |
ontbind | Ophou om te bestaan. |
opperbevel | Die hoof van iets. |
pakketbom | ’n Pakket of pakkie wat ’n bom bevat en wat ontplof wanneer dit oopgemaak word. |
pamflet | Brosjure, strooibiljet. |
radikale | Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal. |
redenaar | Iemand wat ʼn rede/toespraak hou/lewer; begaafde spreker. |
regte | Die wet. |
sentrale komitee | Die komitee wat in die middelpunt van ’n organisasie staan en hulle sake reël. |
seremoniële posisie | ’n Pos wat iemand vervul waar hulle nie enige werk hoef te doen nie. |
Sharpeville-tragedie | ’n Botsing tussen polisie en betogers waarin 69 mense gesterf het, waarvan meeste deur die polisie in die rug geskiet is. |
skadevergoeding | Vergoeding in geld (of goed) van skade wat gely is. |
sleutelfiguur | Iemand wat baie belangrik is. |
sonder verhoor | Wanneer jy nie die regkry om in die hof ondervra te word nie, maar slegs aangehou word deur die polisie. |
spioenasietogte | Die daad om in ’n ander land geheime te probeer uitvind. |
stafhoof | Die hoof van ’n weermag se offisiere. |
staking | Die weiering van werkers om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry. |
stigterslede | Mense wat met iets nuuts begin. |
struggle | Die vryheidstryd of weerstandsbeweging om apartheid te beëindig. |
teoretikus | Die persoon wat opkom met ’n organisasie se idees. |
tesourier | Dit is iemand wat die geld van byvoorbeeld ’n vereniging beheer. |
vakbond | Vereniging van persone wat dieselfde vak/beroep beoefen om die belange van die lede te behartig. |
van stapel gestuur | Om met iets te begin. |
verban | Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf. |
versendingsbeampte | Die persoon in beheer daarvan om dokumente of produkte rond te stuur. |
volkskongres | ’n Byeenkoms waar verskillende verteenwoordigers bymekaarkom, in hierdie geval verteenwoordigers van verskillende groepe in ’n samelewing. |
volskaalse | Op groot skaal. |
voorman | Iemand wat oor ander werkers toesig hou. |
Vryheidsmanifes | Dokument wat die grondbeginsels van die Kongres-alliansie uitgestippel het. |
vryheidstryder | Iemand wat vir sy mense se vryheid van onderdrukking veg. |
vrywilliger | Iemand wat iets doen omdat hy of sy graag wil en nie gedwing word om dit te doen nie. |
wandade | Om iets onmenslik te doen. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Profiel van Joe Slovo
Apartheid: 46 jaar in 90 sekondes
Lokprent van die fliek A World Apart