Vinnige feite

  • Die PAC het in 2017 ’n herdenkingsoptog gehou om Shoba te vereer. Die Shoba-familie is so groot dat hulle vyf busse vir almal benodig het. 5
  • Jan Shoba was glo ’n goeie kommunikeerder en het gevangenisowerhede oortuig om vir hom ’n Zimbabwiese koerant na Robbeneiland te bring. Hy kon só sy makkers op hoogte van verwikkelinge hou.
  • Duncan-straat was aanvanklik na sir Patrick Duncan vernoem. Hy het in 1901 saam met sir Alfred Milner as sy persoonlike sekretaris na Suid-Afrika gekom. Hy was onder meer die sesde goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika. Duncan het op 17 Julie 1943 gesterf. 7
  • Robbeneiland is omtrent 10 km noord van Kaapstad. Dit het vanaf die jare sestig tot 1991 as ’n tronk gedien, hoofsaaklik vir politieke gevangenes. Die laaste gevangenes is in 1991 vrygelaat. Die eiland is vandag ’n museum, ’n nasionale monument en selfs ’n wêrelderfenisgebied! 8
Foto: iStock

In die jaar 2012 is daar ’n swetterjoel straatname in Pretoria verander, en dit was seker omtrent ’n konsternasie vir padgebruikers. Jy ry nog die een dag in Duncan-straat, en die volgende dag is dit Jan Shoba-straat. 1

In 1905 is die straat Duncan-straat gedoop, en dit is na sir Patric Duncan vernoem. Hy was in daardie tyd die koloniale sekretaris van die Transvaal-provinsie en was later ’n goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika. Eens op ’n tyd was net die stuk tussen die ou Kerk- en Suidstraat Duncan-straat genoem, terwyl die ander gedeeltes van die straat onder meer as Nixon-, Lunnon- en James-straat bekendgestaan het. Die Pretoriase stadsraad het egter in 1930 besluit om die hele straat Duncan-straat te noem. 2

Die Tshwane-metroraad wou egter in 2012 straatname hê wat meer verteenwoordigend van die bevolking is, en daarom is daar met ’n klompie ou name weggedoen. Duncan-straat is dus vandag Jan Shoba-straat.

Wie was Jan Shoba?

Jan Mandlenkosi Shoba is op 29 Junie 1959 in Pretoria gebore en het by die Makgatho Primary School en die Dr. Nkomo Secondary School (beide in Pretoria) skoolgegaan. Hy het in 1977 sy junior sertifikaat (vandag graad 10) voltooi.

Die PAC

Hy wou graag deel van die stryd teen apartheid wees en het in 1977 by die politieke party Pan Africanist Congress of Azania (PAC) aangesluit. Hy is in 1978 op ’n sending na Swaziland (vandag Eswatini) gestuur en het glo daar onder baie moeilike omstandighede gebly. Hy is vandaar na Tanzanië en was glo een van die eerste inwoners van die PAC se sentrum waar hulle allerlei planne teen die apartheidsowerhede beraam het.

Dit was ’n sentrum waar daar opleiding gegee is en waar die organisasie se administrasie hanteer is. Shoba was twee jaar lank ’n senior lid van die sentrum se administrasie en het daarna sy militêre loopbaan afgeskop. Hy is na China waar hy opleiding as soldaat ondergaan het. Hy het ná die opleiding ’n groot rol in die PAC se politieke en militêre strukture gespeel. Shoba was in die PAC as ’n goeie soldaat bekend.

Stigterslede van die Pan African Congress of Azania, 1957

APLA

Die PAC se militêre vleuel het as die Azanian People’s Liberation Army (APLA) bekendgestaan. APLA is in die jare sestig gevorm nadat die Nasionale Party- (NP-)regering tydens die apartheidsjare politieke organisasies – soos die African National Congress (ANC), die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die PAC – verban het. 1

Shoba het glo ander APLA-lede opgelei en hulle onder meer geleer hoe om wapens te hanteer. Sy kamerade het hom “Goebbels” genoem en hy was ’n bevelvoerder in die politieke party Pan Africanist Congress of Azania (PAC) se militêre vleuel. Mens kan net raai dat hy so genoem is ter verwysing na Joseph Goebbels, die minister van propaganda in Adolf Hitler se Nazi-party in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945).

Joseph Goebbels

Shoba het 15 jaar in APLA gedien en was onder meer ’n bevelvoerder by ’n PAC- militêre kamp en ’n adjunk- operasionele direkteur van APLA.

Sy inhegtenisname en dood

Drie PAC-aktiviste het tydens die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) se verhore getuig dat Shoba hulle opgelei het as deel van ’n operasie genaamd “Groot Storm”. Die doel van die operasie was om die wit boeregemeenskap op hul plase aan te val om grond “terug te neem”. Die drie aktiviste het gevolglik ’n boer doodgeskiet. 3

Shoba is in 1984 deur die regering in hegtenis geneem, na Robbeneiland gestuur en in 1990 vrygelaat. Shoba het ná sy vrylating weer sy posisie as ’n senior lid van die party se sekuriteit ingeneem. 4

Robbeneiland

Hy is in 1992 in Atteridgeville, Pretoria, doodgeskiet, en daar is wyd gespekuleer of die moord polities gemotiveerd was. Die moordenaar(s) is nooit geïdentifiseer nie. 5

Meer oor die PAC

Die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) het sy wortels in die ANC. In die was daar ’n groep binne die ANC – Anton Lembede, Potlako Leballo, A.P. Mda en Robert Sobukwe – wat nie met die ANC se ideologie saamgestem het nie. Hulle het teenstrydig met die ANC geglo dat Suid-Afrika aan sy inheemse inwoners teruggegee moes word en wou nie gelyke regte vir alle rasse gehad het nie.

Die groep het toe van die ANC weggebreek, en die PAC is in 1959 gestig. Robert Sobukwe was die eerste leier van die PAC. Die party het aanvanklik ook stakings en protesoptogte gehou, en hulle het onder meer op 21 Maart 1960 ’n protes teen paswette van stapel gestuur.

Dit is dieselfde dag toe die Sharpeville-menseslagting plaasgevind het en baie mense deur die polisie doodgeskiet is. Die regering het gevolglik die PAC en die ANC verban. Albei partye het toe ondergronds met hul bedrywighede gegaan. Die PAC het ’n basis in Tanzanië gevestig. Die party se militêre vleuel, APLA, was tussen 1991 en 1994 betrokke by skietaanvalle, onder meer by ’n kroeg en ’n kerk (St. James-kerk in Kenilworth, Kaapstad). 6

Tydens skietery, Sharpeville

Woordbank

apartheid Dit is die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948–1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is.
betoging ʼn Optog of demonstrasie om ontevredenheid oor ʼn kwessie te toon.
ideologie Die idees en sienings wat die basis van ’n politieke en ekonomiese bestel vorm. 9
konsternasie     Ontsteltenis.
militêre vleuel Wat met die krygswese te doen het; ’n leërmag.
ondergronds In die geheim.
protes Iets wat jy doen om vir almal te wys dat iets verkeerd en onregverdig is.
verban Verdryf; uitsmyt; verbied; belet.
verteenwoordigend Voorstellend. Stel almal voor.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer Jan Shoba, die WVK en PAC

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Pretoria, die WVK en PAC

’n Kort geskiedenis van Pretoria

Die PAC se geskiedenis

Wat het die WVK gedoen?

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 September 2023 | Bygewerk op 4 Desember 2023