Vinnige feite
- Die Jakes Gerwel-beurs is in 2017 ingestel en word aan onderwysstudente toegeken om die gehalte van onderwys in Suid-Afrika te verbeter. 5
- Die titel van Gerwel se PhD-proefskrif was Literatuur en Apartheid. 2
- Op 28 November 1990 het Gerwel die seremonie hanteer waartydens ’n eredoktorsgraad in regte deur die UWK aan Mandela toegeken is. 2
Jakes Gerwel was ’n skrywer, dosent, leidende persoon in die intellektuele wêreld, lid van die ANC, asook direkteur-generaal in die kantoor van wyle oudpres. Nelson Mandela. Kom ons leer ken dié Karookind en liefhebber van N.P. van Wyk Louw se gedigte van naderby.
Geboorte, skool en studies
Gert Johannes Gerwel is op 18 Januarie 1946 in Kommadagga (vandag die Oos-Kaap) gebore. 1 Jakes, soos hy genoem is, was die sewende van tien kinders. Sy ouers was plaaswerkers op ’n skaapplaas naby Somerset-Oos. 2
Gerwel het ’n plaasskool bygewoon en daarna ’n hoërskool van die London Missionary Society Institution bygewoon. Hy het uiteindelik matriek aan die Paterson Hoërskool in Port Elizabeth (vandag Gqeberha) voltooi.
Ná skool studeer Gerwel Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) waar hy in 1967 ’n BA-graad met lof (onderskeiding) behaal. 2 Hy is as ’n baie goeie student beskou en het sy honneursgraad in 1968 verwerf.
Ná sy studies het Gerwel ’n dosent aan die Hewat Opleidingskollege in Kaapstad geword en later by die UWK begin klasgee. Gerwel was in daardie stadium een van slegs twee swart dosente aan dié universiteit. 2 Vanaf 1972 was hy ’n dosent in die departement Afrikaans en Nederlands. Danksy ’n beurs om in België te gaan studeer, kon hy in 1979 sy PhD (doktorsgraad) in literatuur en filosofie aan die Universiteit van Brussels behaal. 2
In 1980 word hy aangestel as dekaan van die UWK se kunsdepartement en in 1987 word hy die rektor en visekanselier van dié universiteit. 3 Hy het dié posisie tot in 1994 beklee.
Politieke betrokkenheid
Gerwel was een van die akademici aan die UWK wat studente se stryd vir demokrasie openlik ondersteun het. As gevolg van sy politieke betrokkenheid is hy in 1980 deur die polisie in hegtenis geneem.
Hy het dit op homself geneem om die universiteit te laat wegbeweeg van die onderwysmodel wat volgens apartheidsriglyne gefunksioneer het. Nadat die ANC in 1994 aan bewind gekom het, het hy die akademie verlaat en wyle oudpres. Nelson Mandela se personeelhoof geword. Hy was ook die kabinet se sekretaris.
In 1999 het hy daarin geslaag om die Libiese regering te oorreed om twee vermeende terroriste – wat daarvan beskuldig is dat hulle die Lockerbie-vliegtuigramp in 1988 veroorsaak het – te oorhandig sodat hulle in die hof kon verskyn. Altesaam 270 mense is in dié ramp dood. Van die mense wat gesterf het, was 259 passasiers en bemanningslede van 21 lande aan boord Pan Am-vlug 103 en nog 11 mense is dood toe wrakstukke in die Skotse dorp Lockerbie geval het. 4
Nadat Gerwel uit die diens van die regering getree het, het hy op talle kommissies gedien. Hy het ook op die bestuursliggame van private en openbare organisasies asook nieregeringsorganisasies gedien. 2
Hy het altyd ’n kind van die Karoo en van die Kaapse Vlakte gebly, en het gereeld tussen Somerset-Oos (in die Oos-Kaap) en Belhar (waar hy gewerk het) gereis. Hy het vanaf 1970 tot met sy dood in Belhar gewoon. 5
Toe iemand hom op ’n dag gevra het wat hy in sy briewetas ronddra, het hy geantwoord: “Baie dinge, afhangend van die omstandighede, maar altyd ’n atlas van die wêreld en ’n kopie van N.P. van Wyk Louw se Versamelde Gedigte, want daar is genoeg in Van Wyk Louw se werk om ’n mens vir ’n leeftyd besig te hou”. 6
Gerwel is op 28 November 2012 in die Netcare Kuilsrivier Hospitaal naby Kaapstad oorlede.
Só word Gerwel onthou
In 2022 het prof. Tyrone Pretorius hulde aan Jakes Gerwel gebring toe die hoofsaal op die kampus van die UWK na hom vernoem is. Pretorius het gesê dat die UWK onder Gerwel se leiding ’n heeltemal ander rigting ingeslaan het – op politieke én intellektuele gebied.
By dieselfde geleentheid het prof. Brian Figaji, ’n vriend van Gerwel en voormalige rektor van die Skiereilandse Technikon, die UWK met sy besluit gelukgewens. Figaji het gesê dat meer instellings leiers op dié manier behoort te vereer. 3
Onder Gerwel se leiding is daar tussen 1987 en 1994 ’n hele geslag professionele mense opgelei en baie van hulle het onder sy invloed in die krag van die menslike gees en die gemeenskap geglo. Gerwel het die gemeenskap waarbinne hy geleef het, goed geken. Hy het ’n passie vir Afrikaans gehad en geglo dat Afrikaanse mense moet verenig. 3
Gerwel is op verskeie maniere vereer. Jakes Gerwel-rylaan in Kaapstad se naam was eers Vanguard Drive. Dié straat is ’n verlenging van die N7 vanaf die N1 in die rigting van Valsbaai en is een van die besigste strate in die Kaap. Daar is ook ’n Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool in Bonnievale in die Wes-Kaap. 3
Woordbank
akademici | Geleerde mense wat by universiteite werk. |
demokrasie | Regeringsvorm met verteenwoordigers wat deur die hele bevolking van die land verkies is. |
gemeenskap | Aantal mense wat ’n groep vorm wat saamhoort. |
geslag | ’n Bepaalde tydperk, ongeveer die leeftyd van een mens. |
intellektuele | Om oor ernstige idees en onderwerpe soos die wetenskap en letterkunde te dink en te praat. |
passie | Wanneer iemand iets baie graag wil doen, sê mens hy het ’n passie daarvoor – soos byvoorbeeld ’n passie om ’n dokter of onderwyser te word. |
plaasskool | Vroeër jare was daar baie skole op plase vir die kinders wat in die omgewing gewoon het. Dié skole was gewoonlik klein, met min kinders per skool. |
terroriste | Mense wat geweld gebruik om politieke doelwitte te bereik. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Meer oor die Jakes Gerwel-stigting
- Gerwel het 13 eredoktorsgrade van universiteite dwarsoor die wêreld ontvang
- Die besluit om ’n belangrike straat na hom te vernoem
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Huldeblyke ná sy dood
Meer oor die Jakes Gerwel-stigting