Ingrid Jonker
Soms word daar ʼn mens gebore vir wie dit net te moeilik is om by die lewe en die wêreld aan te pas. As ‘n mens na Ingrid Jonker se lewe kyk, lyk dit asof sy só ʼn mens was. Sy het baie intens geleef en dinge, mense en die lewe ewe intens beleef. Omdat sy so aan mense vasgegroei het, was dit vir haar baie moeilik wanneer hulle haar teleurgestel het of wanneer ander mense nie opgetree het soos sy verwag het nie.
Sy is een van Suid-Afrika se bekendste digters, maar ‘n mens kan haar ook ʼn tragiese figuur noem.
Gesin en kinderjare
Ingrid Jonker is op 19 September 1933 in Douglas in die Noord-Kaap gebore. Haar ma se naam was Beatrice en haar pa was Abraham Jonker. Hy was ʼn koerantredakteur en vir baie jare lid van die parlement. Haar oupa en ouma aan haar ma se kant – Fanie en Annie Cilliers – het ʼn groot rol in die jong Ingrid se lewe gespeel. Ingrid het een suster gehad – Anna. Ingrid het een kind gehad, ʼn dogter met die naam Simone.
Anna en Ingrid het heerlike verbeeldingspeletjies gespeel oral waar hulle gewoon het. By hul huis in Durbanville het hulle ʼn boomhuis gehad, en daar het hul ma en ouma altyd by die twee meisies “gaan tee drink”. Dan was hul teekoppies akkerdoppe, en hul ouma het altyd iets te ete saamgebring en haar deftige tjalie om haar skouers gedra vir dié kuier.
Volgens Anna het Ingrid toe sy vier of vyf jaar oud was, op ʼn dag besluit dat hulle haar “Gousblom” moet begin noem, want sy was baie lief vir gousblomme. 1
Die twee sussies het in die natuur baie dinge gekry om hul verbeeldingswêreld mee te ontwikkel. Hulle het veldvrugte soos appelliefies en brame gepluk, hulle het diertjies wat beseer is, gesond gedokter, paddavisse gevang en allerhande dinge soos skulpe versamel. Hulle het ook baie gespeel met allerlei optelgoed – soos vere, krale en klippies – wat hulle oral in die veld versamel het. Dit het hulle dan hul “secrets” genoem en dit begrawe. Anna sou hare later weer gaan opgrawe, maar Ingrid het gesê hare moet vir altyd in die grond bly omdat “’n mens nie net kan vat nie, jy moet terugsit ook”. 1
Beginjare in haar eie woorde
“Die lewe soos ek hom ken, het vir my begin op ʼn afgeleë plasie in die distrik Douglas aan die Oranjerivier.
“My vader was nie destyds saam met die klein gesin nie, en my oupa Fanie Cilliers – ʼn uithalergrapverteller en 15 jaar lank verlam op sy bed, maar die geestigste mens wat ek nog ooit geken het – het die huis regeer op sy eie uitbundige wyse.
“Dan was daar my ouma, klein en aandoenlike Annie Cilliers (née Retief), my moeder Beatrice en my suster Anna. Ons het op verskeie plase gewoon waarvan ek nog net sulke welluidende name onthou soos Klein Olyfboom.
“Die datum van my geboorte, wat ook nie ooreenstem met die doopsertifikaat nie, is sover ons weet 19 September 1933.” 1
Belangrike gebeure en datums
Baie dinge het in Ingrid se kinderlewe en ook jongmenslewe gebeur wat ʼn invloed op haar latere lewe as ʼn volwassene gehad het. Uit die gebeure hier onder sien ʼn mens dat byna haar hele lewe gevul was met gebeure wat emosioneel vir haar moeilik sou wees om te hanteer.
1929
Abraham Jonker (Ingrid se pa) trou met haar ma, Beatrice Cilliers. In 1931 word hul eerste dogter, Anna, gebore, en in 1933 word Ingrid gebore.
Ingrid se ouers was voor haar geboorte deel van ʼn vriendekring in Kaapstad wat baie bekende mense ingesluit het. Dit het onder andere mense ingesluit soos die digters N.P. van Wyk Louw en sy broer W.E.G. Louw, asook die bekende aktrise Anna Neethling-Pohl en haar man, Chris.
In hierdie tyd was daar reeds onmin tussen Ingrid se ouers, en kort voor haar geboorte het haar ma een nag die huis verlaat en by vriende gaan skuil. Sy het daarna na haar ouers in Douglas gegaan waar Ingrid gebore is.
1937
Ingrid se ma, Beatrice, haar ouma Annie, oupa Fanie, en die twee sussies verhuis na Durbanville in Kaapstad. Op hierdie stadium was Ingrid se ma en pa reeds van mekaar geskei.
1938
Ingrid se oupa, “Swart Fanie”, sterf.
1940
Ingrid se ma, ouma, suster en sy self verhuis na die Strand. Hier gaan sy na’n laerskool in die Strand en begin in hierdie jaar kinderverse skryf.
In dieselfde jaar verhuis die groepie weer, hierdie keer na Gordonsbaai.
Ingrid se ma, Beatrice, kry ʼn senu-ineenstorting.
1941
Ingrid se pa trou weer met Lulu Brewis.
Ingrid se ma word in ʼn hospitaal in Somerset-Wes opgeneem.
Ingrid, haar ouma en haar suster verhuis weer na die Strand. In dié jaar verhuis hulle nog ʼn paar keer.
1942
Ingrid begin met st. 1 (vandag graad 3) by die laerskool in die Strand.
1944
Ingrid se ma sterf. Ingrid se pa neem haar en Anna na Kaapstad waar hulle loseer.
1945
Ingrid en haar suster gaan in Januarie na die Laerskool en Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.
Ingrid se pa verhuis met sy tweede vrou en hul twee kinders (Koos en Suzanne) saam met Ingrid en Anna na Plumstead.
1946
Ingrid slaag st. 5 (graad 7), en haar gedig “Die baba” verskyn in die Wynberg Girls’ High School Magazine.
1947
Daar verskyn twee van Ingrid se kortverhale in Die Jongspan, en Ingrid slaag st. 6 (graad 8).
1949
Ingrid is 16 jaar oud. Sy stuur ʼn bundel van haar gedigte met die titel Ná die somer in vir publikasie. Dit word nie goedgekeur nie, maar sy ontmoet die keurder en digter D.J. Opperman.
1951
Ingrid stuur weer gedigte vir D.J. Opperman, en sy slaag haar matriekjaar.
1952-1955
Ingrid trek uit haar pa se huis uit, en sy werk vir die volgende vier jaar by die uitgewery Kennis in Kaapstad, by Citadel Press, by HAUM (Hollandse Uitgewersmaatskappy), die Uitgewery Culemborg en ook by Nasionale Boekhandel.
Verskeie van haar gedigte verskyn in publikasies soos Naweekpos en Die Huisgenoot.
1956
Ingrid ontmoet verskeie skrywers en ander kunstenaars, waaronder Jan Rabie, Marjorie Wallace, Uys Krige, Jack Cope en Ernst Eloff.
Op 15 Desember trou sy met Piet Venter. Sy was 23, en Piet was 38 jaar oud. In 1957 word hul dogter, Simone, gebore.
Ingrid se eerste digbundel – Ontvlugting – verskyn. Sy dra dit aan haar pa op, maar hy reageer negatief toe sy dit vir hom gee.
1959
Ingrid en Piet verhuis na Johannesburg, waar hulle ʼn paar keer verhuis en waar Ingrid ook kunstenaars soos Breyten Breytenbach, Kita Redelinghuys en Siegfried Mynhardt ontmoet.
1960
Ingrid verlaat Piet en verhuis terug na Kaapstad. Sy skryf steeds gedigte en lê weer ʼn bundel aan D.J. Opperman voor. Hy raai haar aan om nog daaraan te werk.
1961
Ingrid se tweede digbundel – Rook en oker – word vir publikasie goedgekeur.
Sy is in ʼn verhouding met Jack Cope. In dieselfde jaar word sy in ʼn psigiatriese hospitaal in Kaapstad opgeneem.
1962
Ingrid skei van Piet Venter en word in die psigiatriese hospitaal Valkenburg vir depressie behandel.
Haar gedig “Vir Simone” verskyn in Die Huisgenoot, en sy doen ook vryskutwerk vir Uys Krige.
1963
Ingrid ontmoet André P. Brink, en hulle begin ʼn verhouding.
Sy bots met haar pa oor sensuurwetgewing – haar pa was ʼn parlementslid.
Haar tweede bundel – Rook en oker – verskyn.
1964
Ingrid besoek Engeland en Europa, waar sy ook tyd saam met André P. Brink deurbring.
In Junie word sy in die St. Anne-kliniek in Parys opgeneem.
1965
In hierdie jaar gebeur daar baie dinge met en rondom Ingrid. Sy word gedurende Januarie vir angs in ʼn verpleeginrigting behandel. André P. Brink beëindig sy verhouding met Ingrid in April, sy breek haar been in Mei, en sy kry weer met Jack Cope – vir wie sy in Junie ook ʼn selfdoodbrief skryf – te doen.
Op 19 Julie neem Ingrid haar eie lewe toe sy by Gordonsbaai in die see inloop. 1
Ingrid Jonker se dood
Jonker het twee keer in haar kinderjare byna verdrink: In 1938 het sy amper in die Bergrivier verdrink, en in 1940 het sy weer amper verdrink, hierdie keer in ʼn plaasdam.
Uiteindelik sou Ingrid ʼn waterdood sterf toe sy op 19 Julie 1965 by Gordonsbaai in die see ingeloop het. Haar dogter, Simone, was toe sewe jaar oud. 1
Skryfwerk
Ingrid het reeds as baie jong meisie begin skryf. Haar eerste gedigte is reeds geskryf toe sy ses jaar oud was. Van hierdie gedigte is in die tydskrif Die Jongspan gepubliseer. 2
Digbundels
Ingrid se eerste amptelike digbundel met die titel Ontvlugting het in 1956 verskyn.
Haar tweede bundel verskyn in 1963 onder die titel Rook en oker. Hierdie bundel het baie aandag getrek onder lesers en ook in die skrywerswêreld. Van die gedigte in die bundel is in Engels, Duits, Frans, Zoeloe, Xhosa, Persies en Hindi vertaal. Sy ontvang hiervoor die Afrikaanse Pers se toekenning vir beste boek van die jaar. Met die prysgeld, asook ʼn studiebeurs van Anglo American, kon sy oorsee gaan reis.
Ná Ingrid se dood het nog twee bundels met haar gedigte verskyn: Kantelson in 1966 en haar Versamelde werke in 1975. Laasgenoemde bundel is in 1983 en weer in 1994 heruitgereik.
Ingrid was deel van ʼn groep skrywers wat as die “Sestigers” bekend gestaan het. Ander skrywers wat deel van hierdie groep was, is onder andere André P. Brink, Jan Rabie, Etienne Leroux, Dolf van Niekerk, Abraham de Vries en Chris Barnard. 3
Prosa
Ingrid is hoofsaaklik as ʼn digter bekend, maar sy het ook prosa geskryf. Sy het ʼn paar outobiografiese sketse, ʼn kortverhaal (Die bok) en ʼn eenbedryf (ʼn Seun na my hart) geskryf. 3
In Ingrid se Daad van geloof gee sy ʼn beskrywing van haar herinneringe uit haar kinderdae en die groot rol wat haar geliefde ouma Annie in haar lewe gespeel het. Hierdie wonderlike skets is slegs ʼn paar dae voor haar dood geskryf. 1
Beskrywende beelde en die natuur in Ingrid se skryfwerk
Ingrid Jonker se skryfwerk is propvol wonderlike beelde, dikwels oor die natuur. Gaan lees gerus van haar gedigte, en kyk na die pragtige beskrywings soos mens in hierdie twee voorbeelde sien.
Opdrag
Wees jy die pad waarlangs ek weer
kaalvoet oor die dubbeldorings loop
na waar die varing en die varkblom bloei
– die gousblom kranse oor die velde knoop …
Ladybird
ʼn Herinnering aan my moeder
Glans oker
en ʼn lig breek
uit die see.
In die agterplaas
êrens tussen die wasgoed
en ʼn boom vol granate
jou lag en die oggend
skielik en klein
soos ʼn liewenheersbesie
geval op my hand. 1
Roem en bekendheid ná haar dood
Ingrid se werk leef ná haar dood sterk voort. Haar derde digbundel – Kantelson – het in 1966 verskyn. In 1968 het daar ʼn bundel verskyn met haar gedigte in Engels vertaal onder die titel Selected poems by Ingrid Jonker, translated from the Afrikaans by Jack Cope en William Plomer.
Jonker het van vooraf bekend geraak toe pres. Nelson Mandela in 1994 haar gedig “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga” tydens die opening van die nuwe parlement voorgelees het.
Talle sangers het van Ingrid se gedigte getoonset en gesing. Enkele voorbeelde is Laurika Rauch, Anneli van Rooyen en Chris Chameleon. Chameleon het ʼn hele CD opgeneem met gedigte van Ingrid wat hy getoonset het met die titel Ek herhaal jou.
Talle ander digters, soos Hennie Aucamp, het ook deur die jare gedigte oor Ingrid geskryf. 1
Briewe
In die tyd toe Jonker geleef het, was dit nog die gewoonte van mense om baie briewe te skryf. Onthou dat dit lank voor die tyd van rekenaars, e-pos en selfone was. Mense moes dus met mekaar in verbinding bly deur briewe te skryf. Baie van wat mense van Ingrid weet, het hulle in haar briewe gevind. Ook mense wat ná haar dood oor Ingrid geskryf het, het baie van hul inligting uit haar briewe gekry.
Woordbank
bundel | Versamelde gedigte. |
depressie | Swartgalligheid, terneergedruktheid, swaarmoedigheid; durende sieklike emosionele neerslagtigheid. |
geestige | Wat van ʼn lewendige gees getuig. 4 |
intens | Iets wat baie sterk gevoel of ervaar word. |
loseer | Om teen betaling huisvesting te kry in ʼn losieshuis of by mense in hul huis. |
outobiografie | Eielewensbeskrywing. |
prosa | Skryfgenre; soort skryftaal, soort taalgebruik. |
psigiatriese | Sielgeneeskundig. |
senu-ineenstorting | Verlies van senubeheer. |
toonset | Komponeer, ’n gedig op musiek plaas. |
tragiese | Wat met ʼn tragedie verbandhou. |
uitbundige | Opgewonde, lawaaierig, uitgelate, luidrugtig. |
welluidende | Welklinkend; klankryk, klankvol. |
Kyk en luister dié om meer te leer
Luister na gedigte van Ingrid Jonker wat getoonset is
Disselblom sing Ingrid Jonker se “Valkenburg”.
Ingrid Jonker lees haar bekende gedig “Bitterbessie dagbreek” voor
Anneli van Rooyen sing haar toonsetting van Ingrid Jonker se “Bitterbessie dagbreek”