Vinnige feite

  • In Suid-Afrika is Voortrekker-straat ’n baie gewilde naam. Dorpe en stede waar daar so ’n straat is of was, is onder meer Benoni, Bloemfontein, Ceres, Durban, Ermelo, Goodwood, Griekwastad, Johannesburg, Kaapstad, Kakamas, Pretoria, Springbok, Vanrhynsdorp, Vereeniging, Vredendal en Walkerville.
  • Die meeste strate in Wesselsbron (in die Vrystaat) wat vertikaal loop, is vernoem na volksleiers of -helde uit die verlede. Die strate wat horisontaal loop, is vernoem na persone en families wat ’n belangrike rol gespeel het gedurende die stigtingsjare van die dorp. 6
  • In Kalifornië is daar ’n straat met die naam Broderick-straat. Dit is vernoem na ’n Amerikaanse senator wat in ’n tweegeveg met ’n voormalige hoofregter van die hooggeregshof in Kalifornië dood is! 14
  • Ook in Amerika is daar ’n straat met die naam “Guerrero”, wat vernoem is na ’n bekende grondeienaar en ook burgermeester wat na bewering deur ’n Fransman op ’n perd met ’n slingervel vermoor is! 15
  • Volgens die Groepsgebiedewet van 1950 is verskillende dele van woongebiede en van sakegebiede in dorpe en stede vir die uitsluitlike gebruik van spesifieke rasse toegeken. Die toepassing van hierdie wet het daartoe gelei dat groot getalle bruin en swart mense gedwing is om te verskuif. ’n Paar voorbeelde hiervan is die verskuiwings in Distrik Ses in Kaapstad, Sophiatown in Johannesburg, Marabastad in Pretoria en Cato Maner in Durban. 16
  • In Australië is daar nie minder nie as 19 organisasies wat deur hierdie dorpsraad in kennis gestel moet word wanneer ’n staat se naam verander word. 17

Die meeste straatname is eintlik ’n soort geskiedenisles oor die dorp of stad waarin hulle voorkom. Strate se name bly egter nie noodwendig vir altyd dieselfde nie, en die verandering van straatname gebeur van tyd tot tyd regoor die wêreld. Daar is baie redes daarvoor, en elke land het sy eie redes vir sulke veranderinge.

Waar kom straatname vandaan?

Voor ons kyk na waarom strate se name verander word, kom ons kyk net eers ’n bietjie na waar strate hulle name kry. Dink net watter groot werk dit moet wees om vir ’n dorp of vir ’n hele stad se strate name uit te dink! Stap of ry gerus saam met jou ouers rond in jou eie woonbuurt, en kyk na die straatname. Jy sal sommer gou interessante dinge kan raaksien. Daar kan dalk ’n klompie strate wees wat dierename dra, of boomname, of name van bekende klassieke komponiste of name van bekende mense uit die geskiedenis. Dit kan ’n lekker speletjie word om te kyk hoeveel sulke temas jy kan identifiseer.

Plek- en straatname in Suid-Afrika word gewoonlik gekies op grond van dinge soos historiese figure, gebeure, tradisies, fauna en flora van die spesifieke omgewing of straat wat ‘n naam moet kry, of waarvan die naam moet verander.

Redes vir die verandering van straatname

In Suid-Afrika word straat- en plekname meestal verander wanneer ʼn nuwe politieke bedeling (wanneer die regering deur ’n volgende politieke party oorgeneem word) begin. Byvoorbeeld, toe die Engelse in Suid-Afrika aan bewind was (regeer het), was die naam van die plek waar die Suid-Afrikaanse Leerkollege in 1905 begin is, Roberts Heights. Dit is vernoem na lord Roberts of veldmaarskalk Frederick Roberts, wat die aanvoerder van die Britse magte tydens die Anglo-Boereoorlog was.

Slagveld by Vlakfontein na die geveg (Anglo-Boereoorlog)

Die naam is daarna verander na Voortrekkerhoogte om die Groot Trek te herdenk. Die nuwe naam was ook ʼn teken van Afrikaner-nasionalisme en ʼn manier om ontslae te raak van die naam van ʼn persoon wat Afrikaners herinner het aan die swaarkry van die oorlog en die vernietiging van die land deur die Britse magte.

Op dieselfde manier is die naam op 19 Mei 1998 deur die ANC-regering, wat toe aan bewind was, verander. Die ANC het dit Thaba Tshwane genoem om, soos hulle dit noem, ontslae te raak van die koloniale verlede van die naam en die land. Hoewel daar twyfel bestaan oor of die persoon wel bestaan het, was Tshwane die seun van kaptein Musi, ʼn Ndebele-leier wat volgens oorlewering naby die Apiesrivier in Pretoria gebly het. 1

Pretoria

In Suid-Afrika is daar in die jare nadat die ANC aan bewind gekom het, talle straatname verander. Die ANC se standpunt was dat hy alle tekens van apartheid wou verwyder en simbole en name wat daarna verwys wou verander na nuwe name wat volgens hom nasionale trots sou aanwakker. Een naam wat hierna in talle stede en dorpe vir ’n straatnaam gebruik is, is dié van Nelson Mandela, die eerste president van Suid-Afrika na die bewindsoorname (om ’n regering oor te neem) deur die ANC. 2

In die Ekurhuleni-raad se gebied is daar in 2019 besluit om 44 strate se name te verander. Die nuwe name moes erkenning gee aan mense wat teen die apartheidsregering geveg het. 3

Die stadsraad van Johannesburg het teen die einde van 2008 besluit om nie minder nie as 18 strate in verskillende woonbuurte na een van die ANC se sogenaamde Struggleikone, Albertina Sisulu, te vernoem. Strate waarvan die name verander is na Albertina Sisulu, was onder meer Markstraat, Kitchener-laan, Maraisburg-straat, Delville-straat, Hamberg-weg en Hoofdstraat. Die naam van D.F. Malan-rylaan is in 2001 na Beyers Naudé-rylaan verander. 4

Hierdie geval is ’n goeie voorbeeld van ’n straatnaamverandering as gevolg van politieke redes – dr. D.F. Malan was ’n voorstander van die stelsel van apartheid, en dr. Beyers Naudé was ’n Afrikaner wat sterk teen apartheid gekant was.

Een van die eerste straatname wat in Durban verander is, was toe ’n straat na Soofie Saheb vernoem is, wat ’n belangrike persoon vir die Indiër-gemeenskap was. Dit is beskou as ’n belangrike stap om erkenning te gee aan die Indiërs wat in 1986 as gevolg van die bepalings van die Groepsgebiedewet uit die Riverside-woongebied verwyder is. Toe die ANC ander straatname in die stad wou verander, het hulle sterk teenkanting gekry vanaf die Zoeloe-gemeenskap omdat van die voorgestelde name nie aanvaarbaar was vir hulle nie. 4

In Port Elizabeth is daar in 1999 begin om straatname te verander toe ’n straat in New Brighton die naam gekry het van die Sweedse eerste minister van daardie tyd, Olaf Palme. Dit is gedoen uit erkenning vir die ondersteuning wat Swede gegee het aan mense wat teen apartheid gestry het. Nog ’n straat is hernoem na Joe Slovo. Hy was ’n advokaat wat senior ANC-leiers in die hof verdedig het, onder meer tydens die Rivonia-hofsaak van 1963. In 2007 is strate wat die name van die destydse eerste ministers Hendrik Verwoerd en J.G. Strijdom gedra het, herbenoem (die ou name deur nuwe name vervang) na Bram Fischer-weg en Malibongwe-weg. 4

Hoe werk naamsveranderinge in Suid-Afrika

Die ANC-regering het die Wet op die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name (wet 118 van 1998) ingestel met die doel om ‘n permanente adviesliggaam, bekend as die Suid-Afrikaanse Raad vir Geografiese Name (SAGNC), te stig om die minister wat verantwoordelik is vir kuns en kultuur raad te gee oor hoe om al die plekname in ons land, ook die straatname, te verander.

Die missie van die SAGNC is “om geografiese name in Suid-Afrika te standaardiseer; om die geografiese naamstelsel in Suid-Afrika reg te stel en te transformeer”. Hiervolgens is provinsiale geografiese naamkomitees vir elke provinsie op die been gebring. Die SAGNC verskaf riglyne vir die provinsiale komitees met die doel om Suid-Afrika se namelandskap te transformeer. Voorstelle vir nuwe name word dan by die SAGNC ingedien, hulle oorweeg dit en gee dan vir die minister die finale voorstelle vir nuwe plek- of straatname. Die minister besluit op die ou end watter nuwe name gebruik word.

Nathi Mthethwa, voormalige minister van sport, kuns en kultuur, het in Junie 2021 benadruk dat een van die hoofdoele van die Wet op die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name (wet 118 van 1998) is om Suid-Afrika se naamlandskap te transformeer en te verseker dat die name van plekke in Suid-Afrika die tale, kultuur en erfenis van die meerderheid van die mense van die land weerspieël, in plaas daarvan om die land se koloniale en apartheidsverlede te weerspieël.

Nathi Mthethwa (regs)

Teenkanting teen die verandering van straatname

Straatname is so deel van mense se lewens dat dit vanselfsprekend ontwrigting veroorsaak wanneer name verander word. Straatnaamveranderinge kan natuurlik ook finansiële implikasies hê, aangesien sakeondernemings wat in so ’n straat geleë is, al hulle naamborde, briefhoofde en besigheidskaartjies moet verander. Straatnaamborde en so meer moet ook verander word.

Veral waar straatname geskiedkundige name dra, kan dit ontevredenheid veroorsaak wanneer dit verander word. Toe ’n groot aantal strate in Pretoria ander name gekry het, was daar baie groepe en organisasies wat daarteen gekant was (dit nie so wou hê nie). Die Vryheidsfront Plus het byvoorbeeld gevra dat almal in die land se geskiedenis gerespekteer moet word. Hulle wou gehad het dat die ou name saam met die nuwe name op die straatnaamborde moes wees, soos dit wel vir ’n tyd gedoen is. 5

In die Vrystaat het die eerste straatnaamveranderinge tot vurige debat (waar mense sterk van mekaar verskil) gelei. In Bloemfontein is hierdie veranderinge selfs as ’n “strooptog op die verlede” bestempel. Toe voorgestel is dat Voortrekker-straat se naam moes verander, is beswaar gemaak teen die baie geld wat dit sou kos omdat daar baie sakeondernemings in die straat was en die naamborde, stadskaarte en besigheidsadresse verander sou moes word. 4

Die interessante herkoms van ’n paar straatname in Suid-Afrika

Pretoria

Jacob Maré-straat (vandag is die straat se naam Jeff Masemola)

Jacob Maré was een van drie broers wat as Voortrekkers van Natal na Transvaal verhuis het. Jacob het aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem en het ook lid van die uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse Republiek geword. Hy is ook Jors Voeter genoem omdat hy so vasberade was om dit wat hy wou doen, te laat gebeur. Volgens oorlewering was sy dogter die Sarie Marais oor wie in die bekende lied gesing word. 6

Margaretha-straat

Daar is twee teorieë oor waar die naam van hierdie straat naby die Pretoriase dieretuin vandaan kom. Dit is óf vernoem na Margaretha van Tulleken, óf dit is vernoem na Margaretha de Waal. Die De Waal-familie het net oorkant die dieretuin in Boomstraat gewoon. 2

Margaretha-straat was ook later in Pretoria bekend aangesien dit die adres van die huis van Jannie du Toit was waar daar gedurende 1981 en 1982 elke Vrydagaand musiek gemaak is in Afrikaans. Hierdie musiekaande was die voorloper van die latere Kerslig, Vers en Musiek-konserte wat deur die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) in die Staatsteater in Pretoria aangebied is. Die sangeres Anneli van Rooyen was die aanbieder van hierdie reeks konserte.

Staatsteater, Pretoria

Boomstraat

Boomstraat het sy naam gekry in die dae kort nadat Pretoria ontstaan het van ’n digte laning bome wat die noordelike grens van die dorp gevorm het. Hierdie laning bome het die dorp afgeskei van die boswêreld waar daar toe nog roofdiere soos leeus was. 2

Pierneefstraat

Pierneefstraat is genoem na die baie bekende skilder J.H. Pierneef se pa. Hy was ’n timmerman (iemand wat met hout werk en voorwerpe daaruit maak), en hy het onder meer die preekstoel vir die Gereformeerde kerk in Bosmanstraat in die Pretoriase middestad gemaak. Die Pierneefs het blykbaar op ’n stadium ook naby die dieretuin in Boomstraat gewoon, en hulle woning se naam was Prinshof. 2

J.H. Pierneef

Bloemfontein

In die woonbuurt Universitas in Bloemfontein is baie van die strate vernoem na akademici wat aan die huidige Universiteit van die Vrystaat (UVS) verbonde is, maar ook akademici wat aan die Universiteit se twee voorlopers – Grey Universiteitskollege en die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat klasgegee het. ’n Paar sulke mense waarna daar strate vernoem is, is D.F. Malherbe, H. van der Merwe Scholtz en Wynand Mouton. Van die 94 strate is 47 na akademici vernoem, 22 na geologiese verskynsels (soos gips en turkoois), drie na politieke figure, ses na onderwysers en vyf na ander begrippe soos Diensstraat en Universiteitweg. 7

Bloemfontein

Potchefstroom

Zeederberg-straat in Grimbeekpark is vernoem na die Zeederberg-koetsdiens wat vanaf Pretoria (via Johannesburg) na Kimberley gereis het om mense te vervoer. Hierdie koetsdiens is deur C.F. Zeederberg begin nadat goud in 1886 aan die Witwatersrand ontdek is. Hierdie koetse is vanaf Amerika ingevoer. 4

Aletta-straat is vernoem na die eerste vroulike burgermeester van Potchefstroom, Aletta J.E. Nel. Sy was van 1930 tot 1931, van 1936 tot 1938 en weer van 1948 tot 1949 burgermeester van die destydse dorp wat vandag ’n stad is. 5

Hoofgebou van die Universiteit van Noordwes

Wesselsbron

Kyk watter plan in hierdie Vrystaatse dorp gemaak is. Die meeste strate van Wesselsbron wat vertikaal loop, is vernoem na volksleiers of -helde uit die verlede. Die strate wat horisontaal loop, is vernoem na persone en families wat ’n belangrik rol gedurende die stigtingsjare van die dorp gespeel het. 8

Straatname in ander lande

In Amerika

In Amerika is daar ʼn beweging om straatname te verander om daardeur die geskiedenis van die swart bevolking van die land te erken. Op dié manier word strate na belangrike persone uit die swart bevolking vernoem. So is die hoofroete langs die meer in Chicago in 2021 vernoem na Jean Baptiste Pointe DuSable. Hy was ʼn swart pionier en handelaar uit Haïti. 9

In University City, Missouri, word oorweeg om 200 straatname te verander. Van hierdie strate gebruik byvoorbeeld woorde wat aan inheemse Amerikaners (vroeër Amerikaanse Indiane genoem) aanstoot mag gee (mense beledig kan laat voel). In Minneapolis is ’n gedeelte van Chicago-laan na George Floyd vernoem om vir Floyd, wat in 2020 deur polisie vermoor is, te herdenk. 10

In Brittanje

In Brittanje word strate se name soms ook om ander redes as politieke redes verander. Daar word sommige strate moderne name gegee, soos Karma Way, Safety Drive en Euro Close.

Dr. David Green, ʼn geograaf van King’s College in Londen, het vir die Sunday Telegraph gesê dat straatname ʼn aanduiding van moderne kultuur, moderne gemeenskappe en dit waarmee mense hulself besig hou, is. Die stadsraad van Poole het sommer ʼn straat met die naam Salamander Road se naam verander na Safety Drive nadat ʼn nuwe brandweerstasie daar gebou is!

ʼn Interessante nuwe verwikkeling in Brittanje is die baie strate wat nou die woorde “plaza”, “heights” of “boulevard” as deel van hulle name het. Volgens die Sunday Telegraph is hierdie nuwe name ʼn bewys van die invloed van die Amerikaanse kultuur op Brittanje. 11

In Nederland

Daar het in die laaste paar jaar in Nederland ʼn debat ontstaan rondom die name van strate wat na die land se koloniale verlede verwys. Daar is al hoe meer mense wat wil hê dat straatname en skoolname wat die name van mense uit die koloniale era (tydperk) dra, moet verander. 12

In Pole

In 2013 het Pole se senaat besluit om alle straatname wat steeds bestaan het en wat verband hou met mense uit die land se vorige kommunistiese regering, te verwyder. Die meeste van hierdie name is reeds verander, maar daar was in 2013 steeds 1 400 sulke name oor – meestal in klein dorpies. 13

Daar is dikwels ook praktiese redes vir die verandering van strate se name. Soos dorpe en stede groter word, kan dit gebeur dat strate opgedeel word en langer gemaak moet word, en dan raak dit soms nodig om die straat in verskillende dele met verskillende name te begin gebruik. Dit kan ook gedoen word om dit makliker te maak vir mense wat nooddienste lewer om vinnig by die regte adresse uit te kom. 10

Woordbank

aanwakker Om iets te laat gebeur of groei.
akademici Persoon wat akademies gesind is, dikwels iemand wat klas gee aan ’n universiteit.
benadruk Beklemtoon.
geografiese Geografie kyk na die ruimtelike verband tussen mense, plekke en die aarde. Dit sluit in hoe geboue, strate en stede georden word.
ikone Iemand wat belangrik is en van wie mense baie dink.
koetsdiens Rytuig met vier wiele wat deur perde getrek is en jare gelede vir die vervoer van passasiers en pos gebruik is.
koloniale Dit wat betrekking het op ’n kolonie of wat aan ’n kolonie behoort.
nostalgie Heimwee of verlange na tye wat verby is.
ontwrigting Wanneer omstandighede so verander dat ’n persoon of ’n groep nie normaal kan funksioneer nie.
simbool ’n Voorwerp, woord of teken wat gebruik word om ’n begrip voor te stel, soos die kruis as simbool van die Christendom dien.
standaardiseer Iets met ‘n bepaalde standaard laat ooreenstem, veral om eenvormigheid, gehalte en reëlmatigheid te verseker.
strooptog Wanneer ’n groep besittings van ’n ander groep steel, gewoonlik wanneer hulle oor ’n grens gaan. In hierdie geval is dit nie noodwendig fisiese besittings nie, maar besittings wat met kultuur of geskiedenis te doen het.
transformeer Om iets te verander of van gedaante te laat verwissel. 18

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor straatname en die verandering daarvan

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: PixabayFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 September 2023 | Bygewerk op 19 April 2024