Vinnige feite
- Helen Joseph het een broer, Frank, gehad.
- Sy het op 26 Junie 1955 die bekende Vryheidsmanifes by die Congress of the People in Kliptown, Johannesburg, voorgelees.
- Joseph was goeie vriende met wyle oudpresident Nelson Mandela, en hy het ook by haar begrafnis gepraat. Hy het gesê dat sy ’n deel van Suid-Afrika se geskiedenis vorm en dat sy gehelp het om ’n toekoms vir Suid-Afrikaners te skep.
- Joseph is met die ANC se hoogste toekenning, die Isitwalandwe/Seaparankoe-medalje, vereer. Hierdie medalje word toegeken aan mense wat ’n uitmuntende bydrae en opoffering gemaak het vir die bevrydingstryd. Sy het ook die Anglikaanse Kerk se Orde van Simon van Sirene-toekenning ontvang.
- Joseph het glo jaarliks vriende op Kersdag na haar huis genooi, en hulle het dan ’n glasie geklink ter viering van al die ander anti-apartheidsvegters. Baie van die aktiviste was toe in aanhouding op Robbeneiland.
As jy ’n prentjie in jou kop het van hoe ’n anti-apartheidsaktivis lyk, sal ’n foto van Helen Joseph jou dalk verras, want sy het soos ’n doodgewone tannie gelyk. Dié tannie het egter diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis getrap en daarom is daar strate na haar vernoem en haar naam pryk selfs op een van die grootste hospitale in die land.
Die Helen Joseph-hospitaal is in Johannesburg geleë en was eers die J.G. Strijdom-hospitaal. Dié hospitaal se naam is in 1997 verander. 1 Daar is ’n Helen Joseph-straat in die Johannesburgse én Pretoriase middestad. Die straat in Pretoria is in 2012 hernoem en beslaan ’n stuk van die destydse Kerkstraat en strek van Nelson Mandela-rylaan tot by Kerkplein. 2 Helen Joseph-straat in Johannesburg was voorheen Presidentstraat en is in 2015 herdoop. 3
Van onderwyser tot maatskaplike werker
Helen Beatrice May Fennell is op 8 April 1905 in Midhurst, Sussex, in Engeland gebore. Sy het in Londen grootgeword en in 1927 aan King’s College ’n graad in Engels verwerf. 4
Ná haar studies besluit Helen om Engels in Indië te gaan gee en vertrek op 22-jarige ouderdom per skip na Indië. Sy het vir drie jaar by die Mahbubia Girls School in Hyderabad klasgegee. Helen was lief vir Indiese kos en dié land se kultuur
In 1930 vertrek sy na Suid-Afrika om hier te kom skoolhou. Sy vestig haar in Durban en trou met die tandarts Billie Joseph. Dié huwelik het egter nie lank gebou nie.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) sluit Helen by die Women’s Auxiliary Air Force (WAAF) aan en doen diens in Pretoria. Deel van haar werk was om vroue oor regeringsake op te lei. Sy besef in dié tyd hoe onregverdig die regering opgetree het, en die mense se swak omstandighede motiveer haar om ’n maatskaplike werker te word. 5
Van vakbondlid tot vryheidstryd
Joseph het by die vakbond Garment Workers’ Union betrokke geraak en vakbondlede soos Johanna Cornelius en Anna Scheepers het ’n groot invloed op haar gehad. Sy maak in dié tyd ook kennis met Solly Sachs, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die ANC se grondwetlike prokureur. Hy het haar baie oor apartheid geleer en vir haar gewys en vertel watter invloed apartheid op mense se lewens gehad het. 6
Sy het besef dat sy iets moes doen om die lewe van mense te verbeter en sluit by die ANC aan. Sy was ook een van die stigterslede van die Kongres van Demokrate. Dié organisasie het as die ANC se wit bondgenoot bekendgestaan. Sy was in die 1950’s ook ’n sleutelfiguur in die totstandkoming van die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue, oftewel die Federation of South African Women (FEDSAW) in Engels.
Die apartheidsregering het in die jare vyftig besluit om die land se omstrede paswette ook na swart vroue uit te brei. Joseph en Lillian Ngoyi het in 1956 ’n protesoptog gelei en dié optog sou een van die bekendstes in die land se geskiedenis word. Meer as 20 000 vroue van verskillende rasse het na die Uniegebou in Pretoria opgeruk. 4
Vrouedag word jaarliks op 9 Augustus in Suid-Afrika gevier om hulde te bring aan die vroue wat op 9 Augustus 1956 aan die protesoptog deelgeneem het. Die woorde: “You strike a woman, you strike a rock” het op dié dag bekend geword. Joseph het ’n baie hegte band met talle bekende vroue in die ANC gehad. Wyle Winnie Madikizela-Mandela was glo vir haar soos ’n dogter.
Hoogverraad en huisarres
Dit was ’n onstuimige tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis en Joseph is vir haar anti-apartheidsdade aangekla. Sy was ’n beskuldigde in die bekende hoogverraadverhoor waar mense soos Nelson Mandela ook aangekla is. Die hoogverraadverhoor was die regering se reaksie op die aanvaarding van die Vryheidsmanifes. Al die beskuldigdes is onskuldig op die aanklagte bevind. Joseph was die enigste wit vrou wat aangekla was. 7 Die regering het haar later verban, wat beteken het dat sy nie aan enige politieke aktiwiteite kon deelneem nie. 6
Joseph word in 1962 die eerste persoon om onder die destydse Sabotasiewet onder huisarres geplaas te word. Dit het beteken dat sy nie haar huis in Norwood, Johannesburg, mag verlaat het nie, en die veiligheidspolisie het haar bewaak.
Joseph het baie dreigemente oor haar aktivisme ontvang, ’n bom is aan haar voorhekkie vasgemaak, en daar is selfs op haar huis geskiet.
Die regering het haar huisarres in 1971 beëindig toe sy met kanker gediagnoseer is. Sy is egter weer vanaf 1980 vir twee jaar tot haar huis beperk. Joseph is op 25 Desember 1992 in Johannesburg oorlede, slegs twee jaar voordat Suid-Afrika ’n demokrasie geword het. 6
Haar nalatenskap sluit drie boeke in: If this be treason; Tomorrow’s sun: the smuggled journal from South Africa en Side by side: the autobiography of Helen Joseph.
Woordbank
anti-apartheidsaktivis | Dit is iemand wat teen apartheid gekant was en wat hom of haar aktief vir die teenkanting van apartheid beywer het. |
apartheid | Dit is die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was vanaf 1948-1994 die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering, en dit het Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei |
bondgenoot | ’n Groep mense wat mekaar bystaan. |
onstuimige | Stormagtig. |
protesoptog | Iets wat jy doen om vir almal te wys dat iets verkeerd en onregverdig is. |
Sabotasiewet | Sabotasie is die opsetlike ontwrigting, vernieling, vernietiging, verwoesting, beskadiging of uitwissing van dienste of eiendom. Die Sabotasiewet was ’n wetgewing wat in 1962 deur die apartheidsregering ingestel is om politieke opposisie te onderdruk. Dit het die regering in staat gestel om mense, veral anti-apartheidsaktiviste, vir lang tydperke sonder verhoor aan te hou, en was ’n belangrike instrument in die onderdrukking van politieke verset en vryheidstryders. |
vakbond | Dis ’n vereniging van mense wat dieselfde vak beoefen om die belange van die lede te behartig. |
verban | Verdryf, uitsmyt, verbied, belet. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Helen Joseph
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Helen Joseph
’n Biografie van Helen Joseph
Helen Joseph praat oor huisarres
’n Biografie oor haar merkwaardige lewe