Vinnige feite

  • Chabani Manganyi het ’n biografie oor Mphahlele geskryf, Exiles and Homecomings. Dit is in 1983 gepubliseer.
  • Hy het onder andere by die Universiteit van Ibadan in Nigerië gewerk, waar hy vriende met bekende literêre figure soos Wole Soyinka, Chinua Achebe en Christopher Okigbo was.
  • Unisa het in 2009 met die Es’kia Mphalele-gedenklesings begin. Dit vind jaarliks plaas.
  • Hy was een van die skrywers wat tot ’n 1990-biografie oor Nelson Mandela bygedra het.
  • Die Es’kia-instituut in Johannesburg is in 2002 tot stand gebring en op sy onderwyswaardes gegrond. 6

Talle strate in Pretoria strate het in 2012 nuwe name gekry. Een hiervan is D.F. Malan-rylaan wat sedertdien as Es’kia Mphahlele bekendstaan. Dr. D.F. Malan was in ’n stadium die eerste minister van Suid-Afrika. Dr. Es’kia Mphalele (1919-2008) was op sy beurt ’n Suid-Afrikaanse onderwyser, skrywer, akademikus, kunste-aktivis en humanis. Dié man was ook die skrywer van twee outobiografieë, meer as 30 kortverhale, twee versdramas en verskeie gedigte en essays. Kom ons leer ken hom van naderby.

Geboorte en studiejare

Ezekiel Mphahlele is op 17 Desember 1919 in Marabastad, Pretoria, gebore. Sy pa se naam was Moses, ’n boodskapper, en sy ma se naam was Eva Mogale,’n huishulp. Sy ouers het hom na sy ouma (aan vaderskant) in Maupaneng, naby Pietersburg (vandag Polokwane), gestuur sodat sy na hom kon omsien. Hy het egter later na Marabastad teruggekeer, daar skoolgegaan en is danksy sy uitstekende punte na die St. Peter’s College gestuur.

Sy ma moes baie hard werk om die beste moontlike opvoeding vir hom te gee. Mphahlele verwerf in 1940 ’n onderwyssertifikaant aan die Adams Teachers Training College in vandag se KwaZulu-Natal. Mphahlele was ’n harde werker en het nie net twee beroepe beoefen nie, maar terselfdertyd verder deur Unisa studeer. Hy was ’n onderwyser én ’n snelskriftikker by die Ezenzeleni-instituut vir die blindes in Roodepoort. 1

Mphahlele verwerf in 1949 ’n BA-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en volg dit op met ’n honneursgraad in 1956 en ’n meestersgraad in 1957. In 1968 behaal hy ’n doktorsgraad in filosofie aan die Universiteit van Denver in die Verenigde State van Amerika (VSA). Hy het reeds as student ’n passie vir skryf ontwikkel.

Universiteit van Suid-Afrika

Vroeë loopbaan

Skoolhou was Mphahlele se passie en hy het Engels en Afrikaans by die Orlando High School gegee. Hy het ook aktief by die Transvaal African Teachers Associaion (TATA) betrokke geraak. Die apartheidsregering het egter in daardie tyd ’n nuwe onderwysstelsel vir swart mense voorgestel en TATA het dié stelsel saam met ander onderwysorganisasies teengestaan.

Dié stelsel was die Wet op Bantoeonderwys. Mphahlele het aan betogings deelgeneem en hy is in hegtenis geneem en later weer vrygelaat. Mphahlele en twee kollegas is gevolglik in Desember 1952 uit hul poste ontslaan omdat hulle deel van die protesaksie was. Hy is verbied om weer by staatskole te werk.

Hy het intussen weer by die Ezenzeleni-instituut gewerk, maar in 1954 na Basoetoeland (vandag is dit Lesotho) gereis om in Maseru skool te gee. Hy het ’n jaar later na Suid-Afrika teruggekeer en by die tydskrif Drum begin werk. Hy was onder meer ’n politieke verslaggewer, ’n verhale- en ’n teksredakteur.

Mphahlele is in 1957 na Nigerië, want hy het geweet dat hy nie in Suid-Afrika ’n toekoms as skrywer gehad het nie. Dit was sy droom om ’n boek te publiseer. Hy was toe reeds met Rebecca Mochadibane, ’n maatskaplike werker, getroud en sy gesin het saam met hom gegaan. Dit het uiteindelik vir Mphalele tot 20 jaar in ballingskap gelei waar hy onder andere in Nigerië, Frankryk, Kenia, Zambië en die VSA gewoon het. 1

Mphahlele het ’n aantal akademiese en kulturele posisies in Afrika, Europa en die VSA beklee. Hy was onder meer direkteur van die Afrikaprogram by die Congress for Cultural Freedom in Parys; die mederedakteur van die invloedryke literêre tydskrif Black Orpheus (1960–1964); stigter en direkteur van Chemchemi, ’n kultuursentrum in Nairobi vir kunstenaars en skrywers (1963–65); en redakteur van die Africa Today-tydskrif (1967).

Passievolle skrywer

Sy eerste boek was die kortverhaalbundel Man Must Live in 1946. Dit was die tweede kortverhaalbundel in Engels deur ’n swart skrywer. Die eerste een was Peter Abrahams se Dark Testament.

Mphahlele het in die jare vyftig verskeie verhale geskryf wat in Drum gepubliseer is. Sy Lesane-stories het gehelp om die kortverhaaltradisie in die Suid-Afrikaanse letterkunde te vestig.

Die outobiografiese Down Second Avenue (1957) het hom bekend gemaak en het groot opspraak verwek omdat hy daarin vertel hoe dit was om as ’n swart man in ’n onderdrukkende stelsel te leef.  Dit is in verskeie tale vertaal, maar nie in daardie stadium in een inheemse taal in Suid-Afrika nie. Die Suid-Afrikaanse regering het sy boeke verban. Die storie gaan oor ’n jongman se groei met sosiale kritiek oor die toestande waaronder swart Suid-Afrikaners onder apartheid moes leef. 2

Sy kritieke skryfwerk sluit twee boeke met essays in: The African Image (1962) en Voices in the Whirlwind (1972), met temas wat wissel van die Afrika-persoonlikheid, nasionalisme, die swart Afrikaskrywer en die literêre beeld van Afrika. Hy was mederedakteur van die bundel Modern African Stories (1964), en het ook tot die boek African Writing Today (1967) bygedra.

Sy kortverhale verskyn in In Corner B (1967), The Unbroken Song (1981), en Renewal Time (1988). Sy latere werk sluit die romans The Wanderers (1971) en Chirundu (1979) in. Hy het ook in 1984 ’n opvolg vir sy outobiografie, Afrika My Music, uitgegee. Dieselfde jaar het ’n roman vir jong lesers, Father Come Home, die lig gesien, asook ’n versameling van sy briewe onder redakteurskap van prof. Chabani Manganyi, Bury Me at the Marketplace. Es’kia (2002) en Es’kia Continued (2005) is versamelings van essays en ander skrywes. 3

Dosent en navorser

Mphahlele het in die jare sewentig besluit om na Suid-Afrika terug te keer, al het apartheid nog gegeld. Hy het nooit in enige van die ander lande tuisgevoel nie en het daarom in 1977 op die ouderdom van 57 na Suid-Afrika teruggekeer. Hoewel die Universiteit van die Noorde (Universiteit van Limpopo) vir hom ’n pos aangebied het, het die apartheidsregering dit in die wiele gery. Hy was toe vir ’n ruk ’n onderwysinspekteur in Lebowa waar hy die uitwerking van die Bantoe-onderwyswet op die skoolstelsel eerstehands beleef het.

In 1979 het die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) vir hom ’n pos as dosent en navorser aangebied. As gevolg van segregasie was dit aanvanklik onmoontlik vir hom om die pos te kry, maar die universiteit het sy invloed gebruik. In die jare tagtig het die regering ook stadigaan die verbod op sy boeke begin lig. Mphahlele was vanaf 1983 tot en met sy aftrede in 1989 die hoof van die departement Afrika-letterkunde by Wits. Mphahlele, wat as “Uncle Zeke” by Wits bekend gestaan het, was nie net die stigter van dié departement nie, maar ook die universiteit se eerste swart professor. 4

Universiteit van Witwatersrand

Eerbewyse

Mphahlele het verskeie internasionale toekennings ontvang. Daar was eredoktersgrade van universiteite reg oor die wêreld. Die Franse regering het aan hom die Les Palmes Academiques-medalje toegeken vir sy bydrae tot die Franse taal en kultuur. Hy was ook in 1968 vir die Nobelprys in letterkunde benoem. Hy het in 1998 die World Economic Forum Crystal Award gewen en in dieselfde jaar het wyle oudpres. Nelson Mandela die Orde van die Suiderkruis aan hom toegeken.

Persoonlike lewe

Mphahlele was baie lief vir musiek – van jazz tot klassieke musiek. Hy is in 1945 met Rebecca Mochadibane, ’n maatskaplike werker, getroud. Hulle het vyf kinders gehad en sy is in 2004 oorlede. Es’kia Mphalele is op 27 Oktober 2008 in die ouderdom van 88 in Lebowakgomo, Limpopo, oorlede. Hy is deur vier kinders oorleef. 5

Woordbank

aktivis Dit is iemand wat hom of haar aktief vir die bevordering van ’n saak beywer.
apartheid Dis die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was  die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948-1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is.
ballingskap Dit is wanneer iemand verban word en elders moet gaan bly.
betoging Dis ’n groot optog om een of ander saak prominent onder die aandag te bring.
biografie Dis ’n lewensbeskrywing.
eredoktersgrade ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
essays Dis ’n kunsopstel of prosastuk waarin ’n onderwerp op subjektiewe, artistieke wyse behandel word.
humanis Dis is iemand wat die menslike natuur bestudeer en iemand wat in die gelykheid van alle mense glo.
outobiografie Die outeur van die boek skryf oor sy eie lewe.
segregasie Dis die maatskaplike of politieke bestel waarvolgens rasse, klasse of etniese groepe geskei is.
verban Verdryf, uitsmyt, verbied, belet.
versdramas Dis ’n drama wat in versvorm geskryf is.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Vind meer uit oor Es’kia Mphalele: Episode 1

Es’kia Mphalele: Episode 2

Kort opsomming oor sy lewe

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Augustus 2024 | Bygewerk op 3 Oktober 2024