Vinnige feite
- Elias en Caroline Motsoaledi het ses kinders gehad.
- Caroline Motsoaledi was self ’n anti-apartheidsaktivis en is ook twee keer in hegtenis geneem. Sy was ook deel van die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue (FEDSAW) en was deel van die bekende vroue-optog in 1956 na die Uniegebou in Pretoria. Sy is op 23 Desember 2014 in die ouderdom van 87 oorlede. 5
- Die Suid-Afrikaanse minister en ANC-politikus Aaron Motsoaledi is aan Elias Motsoaledi verwant. Elias was sy oom.
- Daar is ’n gesondheidskliniek in Soweto na Elias Motsoaledi vernoem. Dit is die Elias Motsoaledi-kliniek in Soweto.
Elias Motsoaledi-straat kan ’n mens (en ’n GPS!) nogal verwar as jy nie weet waarheen om te gaan nie, want daar is nie net een straat wat na dié anti-apartheidsaktivis vernoem is nie.
Daar is ’n Elias Motsoaledi-straat in Langenhovenpark, Bloemfontein, asook in Soweto en in Pretoria (deel van die ou Kerkstraat). Die ou Kerkstraatpad van die R511 na die weste word nou Elias Motsoaledi-straat genoem, en die straat is in 2012 na hom vernoem. Die Groblersdal-munisipaliteit is ook in 2000 na die Elias Motsoaledi-munisipaliteit herdoop. 1
Motsoaledi was ’n anti-apartheidsaktivis (1924-1994) en een van agt mense wat in die Rivonia-verhoor skuldig bevind is en tot lewenslange gevangenisstraf op Robbeneiland gevonnis is. 2
Meer oor Motsoaledi
Elias Mathope Motsoaledi is op 26 Julie 1924 in Phokoane in die Nebo-distrik van Sekhukhuneland, Noord-Transvaal, gebore. Noord-Transvaal staan vandag as Limpopo bekend. Hy was die derde van agt kinders.
Daar was nie baie werk in daardie omgewing vir jong mans nie, en hy het reeds op 17-jarige ouderdom besluit om na beter werksgeleenthede te soek. Hy het na Johannesburg gereis en daar werk in ’n fabriek gekry, maar het gou besef dat daar ongeregtigheid bestaan en dat swart mense en ander rasse swak behandel word. Hy is ook in hegtenis geneem omdat hy nie ’n pasboek getoon het nie. Hy is tot werk op ’n konstruksieterrein gevonnis en het daarna by ’n leerfabriek begin werk.
Hy het by die politiek en vakbondwese betrokke geraak en het in 1945 ’n lid van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA) geword. In 1948 het hy ’n lid van die African National Congress (ANC) geword. Hy het ook in 1949 by die Leerwerkersvakbond aangesluit, maar is by sy werk afgedank as gevolg van sy vakbondaktwiteite.
Opgang in die politiek
Motsoaledi is later tot die ANC se Transvaalse uitvoerende raad verkies en was ook deel van die Raad van Nie-Europese Vakbonde (CNETU) wat in 1941 gestig is. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog was 150 000 mense lede van dié vakbondvereniging.
Hy is in 1953 as voorsitter van die CNETU verkies. Die staat het intussen die KPSA tot niet gemaak, en dit is in 1953 deur die ondergrondse Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) vervang. In die jare vyftig het die alliansie van die ANC, die bruin mense se South African Coloured People’s Organisation (SACPO), die wit mense se Congress of Democrats (COD), en die Suid-Afrikaanse Indiese Kongres (SAIC) verskeie burgerweerstandsveldtogte van stapel gestuur. Motsoaledi het aktief daaraan deelgeneem, asook aan die 1952-weerstandsveldtog.
In 1955 is die Suid-Afrikaanse Kongres van Vakbonde (SACTI) gestig, met Motsoaledi wat ’n sleutelrol gespeel het. Hy is in die jare vyftig verbied om enige posisie in ’n vakbond te hê ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme (1950). 3 [Lees hier oor kommunisme.]
Hy was ’n lewenslange lid van die ANC en die SAKP en het ’n groot rol in baie veldtogte teen apartheid gespeel.
Sharpeville se nadraai
Die Sharpeville-menseslagting het op 21 Maart 1960 in Sharpeville, naby Vereeniging, plaasgevind. Daar was ’n landwye betoging teen paswette. Ongeveer 20 000 swart mense het naby die Sharpeville-polisiestasie bymekaar gekom om hul misnoeë met die paswette te toon. Die polisie het op die groep begin skiet, en 69 mense is doodgeskiet terwyl meer as 180 mense gewond is.
Die mense was baie ontsteld daaroor, en landwye betogings het plaasgevind. Die regering het op 30 Maart 1960 ’n noodtoestand afgekondig. ’n Noodtoestand is ’n situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hulle hulp kan verleen.
Die ANC en die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) is op 8 April daardie jaar verban, en die ANC het daarna besluit dat vreedsame protesaksies hulle niks in die sak bring nie. Hulle het besluit om die gewapende stryd op te neem. In Junie 1961 is hul militêre vleuel Umkhonto we Sizwe gestig om die regering te saboteer (te belemmer). Motsoaledi was ook deel van die Johannesburgse tak van Umkhonto we Sizwe.
Motsoaledi is net ná Sharpeville vir vier maande aangehou, en in 1963 is hy wéér vir 90 dae aangehou.
Die Rivonia-verhoor
Tien beskuldigdes het op 30 Oktober 1963 in die Pretoriase hooggeregshof op twee aanklagte van sabotasie verskyn. Elias Motsoaledi was deel van die groep, asook groot name soos Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki en Ahmed Kathrada. Bram Fischer was die advokaat wat hulle verdedig het, en die verhoor het van 1963 tot 1964 geduur. Die staat wou die mans doodstraf oplê, maar van hulle is uiteindelik skuldig bevind en lewenslange gevangenisstraf opgelê. Hulle is na Robbeneiland gestuur.
Daar was groot veranderings in die jare tagtig in Suid-Afrika, en Motsoaledi is uiteindelik in 1989 vrygelaat. Hy was 26 jaar in die tronk. Die verbod op die ANC is in 1990 gelig, en Motsoaledi is in 1991 tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee verkies.
Elias Motsoaledi is op 10 Mei 1994 in Soweto dood. Hy was 69 jaar oud en het aan keelkanker gesterf. Wyle oudpresident Nelson Mandela het op sy begrafnis gepraat en gesê hy was ’n waardige vryheidsvegter. 4
Woordbank
aktivis | Iemand wat hom of haar aktief vir die bevordering van ’n saak beywer. |
alliansie | Vereniging of verbond tussen mense. |
apartheid | Die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948-1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is. |
betoging | ’n Optog of demonstrasie om ontevredenheid oor ’n aangeleentheid te toon. |
kommunisme | Die sosiale en politieke leer wat op die beginsels van Karl Marx gegrond is. |
ongeregtigheid | Onregverdigheid. |
militêre vleuel | Wat met die krygswese te doen het; ’n leërmag. |
misnoeë | Ontevredenheid. |
noodtoestand | ’n Situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hulle hulp kan verleen. |
sabotasie | Die opsetlike ontwrigting, vernieling, vernietiging, verwoesting, beskadiging of uitwissing van dienste of eiendom. |
vakbondwese | ’n Vereniging van mense wat dieselfde vak beoefen om die belange van die lede te behartig. |
verban | Verdryf; uitsmyt; verbied; belet. 6 |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Elias Motsoaledi
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Elias Motsoaledi
’n Onderhoud met Nelson Mandela in 1961
Die Sharpeville-menseslagting
Meer oor die Rivonia-verhoor