Vinnige feite

  • Die Gillooly’s-wisselaar is vernoem na James Gillooly, wat die eienaar van Gillooly’s Farm was.
  • Die brug wat deel vorm van die Gillooly’s-wisselaar is op 1 Junie 2010 vir verkeer geopen. 8
  • Gillooly’s Farm is ’n stuk grond in Bedfordview, oos van Johannesburg, wat oorspronklik aan James Gillooly behoort het en wat hy in 1944 aan die stadsraad verkoop het. Daar is toe besluit om ’n park daarvan te maak. 9
  • Sedert 2020 was daar kommer omdat die toestand van die park agteruitgegaan het omdat algemene instandhouding nie gedoen word nie. 10
  • Die Gillooly’s-wisselaar is ongeveer 8 km vanaf die Johannesburgse middestad geleë. 11
  • Die Gillooly’s-wisselaar is die grootste van sy soort in Suid-Afrika asook in die hele Afrika.

Verbeel jou jy kyk van bo af na ’n groot tuimeltrein (in Engels: roller coaster) met bane wat van verskillende kante af bo-oor mekaar loop. Dit is hoe verkeerswisselaars lyk – ’n klomp paaie wat uit verskillende rigtings kom en op een plek weer in verskillende ander rigtings vertak (loop).

Kyk hier vir ’n foto om mooi te sien hoe die Gillooly’s-wisselaar lyk.

Definisie van ’n verkeerswisselaar

Oral waar daar paaie is waarop voertuie ry, is daar plekke waar paaie mekaar kruis. Om die verkeer te beheer, is daar ’n paar verskillende dinge by so ’n kruising. Daar kan stopstrate, sirkels (in Engels: traffic roundabouts) of verkeersligte gebruik word om seker te maak dat voertuie nie in mekaar vasry en ongelukke veroorsaak nie.  Maar soms is daar soveel voertuie wat op die paaie wat kruis moet ry, dat dit nie moontlik is om die verkeer sinvol daarmee te beheer nie. Daarom moet ander planne gemaak word om te sorg dat die verkeer op ʼn veilige manier kan vloei. So ’n plan is om verkeerswisselaars te bou. 1

’n Verkeerswisselaar is ’n stelsel van ’n hele paar paaie wat op een punt bymekaar uitkom en dan op verskillende vlakke oor- en onder mekaar deurloop om seker te maak dat daar nie ’n groot opeenhoping van verkeer plaasvind nie. 2

Soms is hierdie wisselaars so ingewikkeld met soveel paaie wat mekaar op een punt moet kruis, bo-oor en onderdeur, dat dit sommer ’n “spaghetti-kruising” genoem word. 1

Waarom is ’n verkeerswisselaar nodig?

Kom ons kyk bietjie nader na die rede waarom so ’n verkeerswisselaar in ʼn groot stad soos Johannesburg nodig is.

Omdat Johannesburg en al die woongebiede rondom die stad nie naby water geleë is sodat voorraad ook deur skepe daarheen geneem kan word nie, moet alles wat in die stad nodig is en ook uit die stad vervoer moet word, op paaie daarheen vervoer word. Dit klink heel logies en ook maklik, maar as mens dink hoeveel voorraad in so ’n groot stad nodig is, dan besef mens dat die netwerk van paaie wat hiervoor nodig is, baie goed beplan moet word.

Johannesburg is ook die stad in Suid-Afrika met die meeste snelweë wat daarheen loop, naamlik die N1, N3, N12, N13, N17, R24 en R59! Dan is daar ook nog die M1- en M2-snelweë wat gebou is om die verkeer na die middestad van Johannesburg te neem.

Een van Afrika se grootste en belangrikste padnetwerke of sirkelpaaie, is die Johannesburg-sirkelpad. Dit bestaan uit drie groot snelweë wat oor ’n afstand van 80 km rondom die stad loop.

Hierdie drie snelweë is:

  • Die N3 oostelike verbypad (pad wat aan die oostekant verby die stad loop), wat die verbinding tussen Johannesburg en Durban is.
  • Die N1 westelike verbypad, wat Johannesburg met Pretoria en Kaapstad verbind.
  • Die N12 suidelike verbypad, wat Johannesburg met eMalahleni (vroeër Witbank) en Kimberley verbind.

Die N1 en N12 is met beton gebou wat ’n ligter kleur het as die gewone teer van ander paaie, daarom noem mense dit sommer die “sementpad”.

Al het hierdie groot padnetwerk op sommige plekke soveel as 12 bane, is dit meeste van die tyd baie besig omdat dit vreeslik baie verkeer dra. Nou kan mens dink dat, as soveel besige paaie bymekaar kom, dit op daardie plek nóg besiger gaan wees en dat daar baie slim planne gemaak moet word sodat die verkeer onder beheer gehou kan word. En dit is presies wat die Gillooly’s-wisselaar doen. Dit is presies op hierdie plek waar die N3 oostelike verbypad en die R24-snelweg wat na die Oliver Tambo-lughawe lei, mekaar kruis. 3

N1-snelweg

Verandering van die naam

Daar is reeds sedert 2019 pogings om die naam van die Gillooly’s-wisselaar te verander en dit te vernoem na advokaat George Bizos. Hierdie verandering is aangevra deur onder andere die Departement van Kuns en Kultuur. 5 Volgens plaaslike koerante in die gebied het die Stadsraad van Ekurhuleni in 2019 reeds besluit om hierdie naam te verander. Hulle wou in totaal tussen 35 en 42 name van strate, verkeerswisselaars en landmerke verander. 4

George Bizos

Daar was tot dusver egter nie eenstemmigheid oor hierdie versoek nie. Hier kan jy luister na ’n gesprek tydens ’n eNCA-nuusbulletin gedurende 2022 met die burgemeesterskomiteelid vir vervoer van Ekurhuleni, Alco Ngobese. Ngobese was in daardie stadium van mening dat die naamsverandering nie prioriteit behoort te geniet nie (dat dit nie op daardie tydstip belangrik is nie).

Hy het gesê dat daar ander sake is wat belangriker is, soos armoede, werkloosheid, die gebrek aan behuising, asook die Eskom-krisis.

Van ander amptenare wat ook betrokke was, was daar positiewe asook negatiewe kommentaar op die planne om die naam te verander.

Mens moet onthou dat so ’n naamsverandering baie geld kos. Dit is nie slegs die groot klomp naamborde wat verander moet word nie – daar is baie ander dinge betreffende so ’n naamsverandering wat geld kos. Daar is onder meer die padkaarte waarop die naam moet verander – sowel gedrukte kaarte as die kaarte wat op plekke soos Google Maps verskyn. Daarom kan mens verstaan dat Ngobese en ander mense nie ten gunste was van die verandering nie.

Meer oor George Bizos

George Bizos is in 1927 in Griekeland gebore en in 2020 in Suid-Afrika oorlede. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy en sy pa in 1941 uit Griekeland na Suid-Afrika gevlug en later, in 1950, het die res van die gesin by hulle aangesluit.

Bizos het regte studeer aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg en hy het bekendheid verwerf toe hy Nelson Mandela (later ook Madiba genoem), Walter Sisulu en hulle medebeskuldigdes in die Rivonia-hofsaak van 1963 verdedig het. Hy en Madiba het vriende gebly dwarsdeur Madiba se tyd in die gevangenis asook daarna, tot en met Madiba se dood in 2013.

Bizos het ook later voor die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) getuig.

Hy word algemeen beskou as ’n regsgeleerde wat baie beteken het vir mense en organisasies wat teen die vorige regering gekant was (voordat die African National Congress [ANC] in 1994 die regering oorgeneem het). 6

Die 10 grootste verkeerswisselaars in die wêreld

Die Gillooly’s-wisselaar is die grootste in Afrika, maar as mens werklik baie groot verkeerswisselaars wil sien, is daar van hulle in die wêreld wat mens se asem wegslaan. Dit is ongelooflik om te sien hoeveel paaie kruis en dwars oor mekaar loop en hoeveel derduisende voertuie gelyktydig deur so ’n wisselaar beweeg.

Hier is ’n lys van die 10 grootste verkeerswisselaars in die wêreld:

Puxi Viaduct – Shanghai, China
Die grootste en besigste wisselaar ter wêreld. Hier is ses vlakke en duisende voertuie ry binne ’n uur deur hierdie wisselaar. 1

Puxi Viaduct

Gravelly Hill Interchange – Birmingham, Engeland
Hierdie wisselaar is die eerste een wat ’n spaghetti-wisselaar genoem is toe die bouwerk daaraan in 1965 begin is. Dit het vyf verskillende vlakke! 1
Daar is nie minder nie as 18 paaie wat hier bymekaarkom en daar is meer as 500 betonpilare. Meer as 200 000 voertuie ry elke dag hierdeur en die wisselaar het selfs sy eie weerstasie! 7

Gravelly Hill Interchange

Tom Moreland Interchange – Atlanta, Georgië
Dit is in 1978 gebou om die verkeersdrukte in Atlanta, Georgië te verminder.

Tom Moreland Interchange

Judge Harry Pregerson Interchange – Los Angeles, Kalifornië
Hierdie wisselaar is meer as 60 meter hoog en voertuie kan vanuit ’n groot aantal verskillende rigtings in- of uitbeweeg.

Judge Harry Pregerson Interchange

Kennedy Interchange – Louisville, Kentucky
Dit is in 1964 gebou en vernoem na die John F. Kennedy-brug net noord van die wisselaar.

Kennedy Interchange

Interchange of 1-695 en 1-95 – Maryland
Hierdie wisselaar is in Baltimore, Maryland geleë en verbind ’n groot aantal belangrike snelweë wat hier kruis.

Interchange of 1-695 en 1-95

Higashi-Osaka Loop – Japan
Die bouwerk het in 1967 begin en het 9 jaar geneem om te voltooi. Die wisselaar is byna 13 km lank.

Higashi-Osaka

Xinzhuang Interchange – Shanghai, China
Hierdie wisselaar met sy verstommende ontwerp en argitektuur is in 2003 gebou.

Xinzhuang Interchange

A4/E70 Motorway – Italië
Hierdie wisselaar loop deur die stede Milaan en Venesië en motorryers kry van hier af ’n pragtige blik op die twee stede.

A4/E70 Motorway

South Bay Interchange – Boston, Massachusetts
Die wisselaar is in 1990 gebou en in Boston geleë. 1

South Bay Interchange

Woordbank

eenstemmigheid Waar almal wat betrokke is, met mekaar saamstem.
gekant Om vyandiggesind te wees teen iets, of jou teen iets te verset.
logies Sinvol, verstaanbaar.
opeenhoping Groot hoeveelheid bymekaar.
regsgeleerde Iemand wat die regte bestudeer het en daarna ’n prokureur, advokaat of regter word.
sinvol Volgens ’n slim plan. 12
ten gunste was van ’n Voorstel/plan/beleid, ens. steun; daarmee saamstem.
vertak   Afdraai, uiteenloop; verdeel; in een of meer dele splits.

Lees meer

Kyk hier

Verskillende ontwerpe van wisselaars

Die 10 grootste wisselaars in die wêreld

Die top-10-lande met die grootste padnetwerke

Interessante en verstommende wisselaars

Klawervormige wisselaars

Debat oor die voorgestelde naamsverandering van Gillooly’s

Foto: iStock
Gepubliseer op: 4 Julie 2023 | Bygewerk op 8 Mei 2024