Vinnige feite
- Terwyl Hani in 1964 in Tanzanië was, was hy verstom oor hoe ongeletterd die MK-vrywilligers was. Hy het dus buiten sy militêre verpligtinge ’n basiese volwasse geletterdheidsprogram in die MK-kampe begin. 4
- Hani was uiters gewild en baie mense reken dat hy vir wyle oudpres. Nelson Mandela as president van Suid-Afrika sou opvolg. Mandela is deur Thabo Mbeki opgevolg as die tweede president van ’n demokratiese Suid-Afrika. 1
- Daar word gereken dat ongeveer 1,5 miljoen mense ná Hani se dood aan protesaksies deelgeneem het. 6
- In 1997 is die Baragwanath-hospitaal na die Chris Hani Baragwanath Hospitaal hernoem. Dit is die derde grootste hospitaal in die wêreld. 4
- Hani is in 1974 met Limpho Sekamane getroud. Hulle het drie dogters gehad: Neo, Mokahwezi en Lindiwe. 2
Voor Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 was daar verskeie persone wat hulle lewe daaraan gewy het om ’n einde aan apartheid te bring. Dié bevrydingsbeweging is ook die struggle genoem. Een van die aktiviste wat ’n groot voorstander van gewapende verset was, was Chris Hani.
Kom ons leer meer oor dié man wat van veewagter as seuntjie tot soldaat en vername politieke rolspeler opgang gemaak het.
Grootwordjare
Martin Thembesile Hani is op 28 Junie 1942 op die plattelandse dorpie Sabalele, in vandag se Oos-Kaap, gebore. 1 Hani was die vyfde van ses kinders van Gilbert en Mary Hani. Net drie kinders het tot volwassenheid geleef. 2
Gilbert Hani was ’n halfgeletterde trekarbeider 1 wat sy familie moes verlaat om in die myne in Transvaal (vandag Gauteng) te gaan werk. 3 Chris het hom die eerste keer ontmoet toe hy 20 jaar oud was. 4 Mary Hani was ’n alleenma en bestaansboer. Hulle was bitter arm. 3
Soos die ander jong seuns, het Chris, soos wat hy later bekend sou staan, vee opgepas in die jare voordat hy skool toe is. 2
Die familie was diep godsdienstige Christene, en Hani was van jongs af ’n getroue kerkganger. Toe hy 8 was, het hy ’n alkoliet geword. 3 Die skool en die kerk was ongeveer 25 km van hulle huis af, ’n pad wat hulle ses keer per week gestap het. 3
Hani het sy skoolloopbaan by ‘n Katolieke skool begin. 2 Hy het skool baie geniet, veral tale soos Latyn. Hoewel hy aanvanklik graag ’n priester wou word, wou sy pa niks weet nie. Hy het hom na die Matanzima Secondary School, ’n niekerklike skool in Cala in die destydse Transkei (vandag die Oos-Kaap) gestuur. 2
In 1956 is Hani na die Lovedale-instituut in Alice, 4 waar hy in 1958 gematrikuleer het. 2 Lovedale was ’n bekende hoërskool wat ook deur ander bekende latere struggle-leiers soos Thabo Mbeki bygewoon is. 5 By Lovedale het Hani as hardekwasleier begin naam maak. 1
Universiteitsjare
Hani het tussen 1959 en 1961 Engelse, Griekse en Latynse letterkunde aan die Universiteit van Fort Hare in Alice studeer. 1 Fort Hare was ’n liberale universiteit en hy het hier vir die eerste keer met Marxistiese en kommunistiese idees kennis gemaak. 3
Hierna is hy na die Rhodes-Universiteit waar hy ’n graad in Latyn en Engels in 1962 voltooi het. 2 Hani het Kaapstad toe verhuis en tot in 1963 as klerk by die Schaeffer en Schaeffer-regsfirma gewerk. Hy het egter nooit sy leertyd as prokureur voltooi nie en kos dus nie regte praktiseer nie. 2
Hani se politieke idees
Hani se politieke idees is deur ’n paar gebeure gevorm. Toe Hani ’n hoërskoolleerder by Matanzima was, het die Nasionale Party (NP) “Bantoeonderwys” aangekondig. Toe sommige van sy onderwysers hierteen kapsie gemaak het, is hulle afgedank. Dit het hom diep onder die indruk van die onregverdigheid van apartheid gebring.
Sy pa, Gilbert Hani, was lid van die African National Congress (ANC). Hy was ’n politieke banneling in Lesotho. 2 Hani is deur sy pa se stryd besiel. 4 Die Hoogverraadsaak van 1956 het hom egter oortuig om aktief by die struggle betrokke te raak. 2
Die kommunistiese idees waarmee hy op universiteit in aanraking gekom het, het hom aangevuur om polities meer aktief te raak. Hy het hom teen die NP se rassistiese kapitalisme uitgespreek, nie rassigheid bepleit, en sterk teen politieke onderdrukking te velde getrek. 2
Vroeë politieke betrokkenheid
Hani het reeds op skool by die ANC se Jeugliga, 6 wat in 1944 gestig is, 7 aangesluit. Hy het op universiteit aan verskeie protesaksies deelgeneem. By Fort Hare het hulle betoog toe die universiteit deur die Departement van Bantoe Onderwys oorgeneem is. Kontak met die South African Congress of Trade Unions (Sactu) het hom ook bewus gemaak van gewone werkers se stryd teen rassediskriminasie. 2
In 1961 sluit hy by die ondergrondse Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) aan en in 1962 word hy een van umKhonto weSizwe (MK) se eerste vrywilligers. 4 Omdat hy goed opgevoed was én boonop ’n goeie leier, het hy vinnig opgang in die organisasie gemaak. Binne ’n paar maande word hy ’n lid van die Komitee van Sewe, die MK se Wes-Kaapse leierskap. 3
Inhegtenisname en ballingskap
Hani is in 1962 by ’n padblokkade in hegtenis geneem. 2 Hy het pamflette by hom gehad wat die regering se beleid veroordeel het. 4 Hy is aan kommunistiese aktiwiteite, wat teen die wet was, skuldig bevind en tronkstraf opgelê. 2
Terwyl hy op borgtog vrygelaat was, het hy probeer om teen sy skuldigbevinding te appelleer. Hy het gou besef dat daar nie vir hom hoop was nie en sy pa se bannelingskappad na Lesotho gevolg. 3 Hani was nou ondergronds doenig, eers in Kaapstad en toe Johannesburg. In Mei 1963 het die MK-leierskap hom beveel om Suid-Afrika te verlaat. 2
Buitelandse opleiding
Hani het saam met ander MK-kaders via vandag se Botswana en Zambië na die Sowjetunie (vandag Rusland) gereis. 4 In dié tyd het hy die naam Chris aangeneem om hom te help om die Suid-Afrikaanse regering te ontwyk. 6
Hy het militêre opleiding in die Sowjetunie ontvang. In 1964 is hy na Tanzanië, waar hy in Kongwa in die sentrale dele van die land ’n kamp opgerig waar MK-lede opgelei kon word. Teen 1966 het hy in Zambië saam met die Zimbabwe People’s Revolutionary Army (ZIPRA) geveg. 4 ZIPRA was in ’n stryd met Rhodesië (vandag se Zimbabwe) se wit minderheidsregering gewikkel. Hani was by drie slagte tydens die Wankie-veldtog betrokke. Dit was ’n militêre mislukking, maar was goeie propaganda vir hul stryd teen wit oorheersing.
Tydens die veldtog is hy en ander MK-soldate op die grens met Botswana in hegtenis geneem. Hy is skuldig bevind vir onwettige wapenbesit en tot twee jaar gevangenisskap gevonnis. 2 Ná sy vrylating het hy na Zambië teruggekeer en sy werk saam met ZIPRA voortgesit. 3
Die Hani-memorandum
Hani se tyd in die tronk het hom uiters krities oor die ANC se leierskap gemaak. Hy het gevoel dat hulle meer moes doen om hom en die ander aangehoudes te help. 2 Hani en sy bondgenote het die sogenaamde Hani-memorandum geskryf. Hierin is al hul aantygings teenoor die ANC-leierskap neergepen. 4 Hulle het ook aangedring dat ‘n konferensie vir al die ANC-leiers in bannelingskap belê word. 2
Die ANC-leiers het ’n konferensie by Morogoro in Tanzanië gereël, maar Hani en die ander se lidmaatskap opgeskort. By dié konferensie is hul lidmaatskap egter weer herstel. 4 Hani het ook lid van die nierassige Revolusionêre Raad geword. 8
Leierskap
Hani het ook in die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) opgang gemaak. In 1972 is hy as adjunk-sekretaris-generaal verkies, en was dus die SAKP se tweede in bevel. 4 Sy werk vir hierdie organisasies het hom dwarsoor die wêreld geneem. Hy was byvoorbeeld in 1972 in Swede, en in 1973 in Noorweë. In 1974 is hy na Oos-Duitsland om opleiding in guerilla-oorlogvoering te ontvang.
In 1974 is hy tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) bevorder. 4 Daarna het hy vir die eerste keer in jare na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het te voet van Botswana af gereis. Hani het vir MK ondergrondse eenhede geskep, asook roetes waarlangs die MK-soldate Suid-Afrika kon binnedring. 2
MK-werksaamhede
Hani het vir die volgende sewe jaar in Lesotho gewoon, en van daar af die MK se guerrilla-operasies in Suid-Afrika georganiseer. 2
Hani was deurlopend in die NP-regering en anti-ANC groepe se visier. In 1976 is hy in Maseru in hegtenis geneem en deur Lesotho se veiligheidsmagte gemartel. Oliver Tambo, toe die leier van die ANC, het gereël dat hy vrygelaat word. Hy was ook die teiken van verskeie sluipmoordpogings, insluitende ’n motorbom in 1981. 4
Ná die Soweto-opstande van 1976 het vrywilligers wat by die MK wou aansluit na Lesotho gestroom. Dit was Hani se werk om hulle te organiseer. 2 In 1982 is hy na Lusaka verplaas, waar die ANC se leierskap bymekaar was, en daarna na Maputo in Mosambiek. 4
Tussen 1983 en 1984 het hy as die MK se politieke kommissaris opgetree. Hy moes dissidente binne die organisasie in bedwang te hou. Toe MK-lede in kampe in Angola teen hul hardvogtige behandeling gemuit het, het Hani ‘n sleutelrol gespeel om dié opstande te onderdruk. Hy het later ontken dat hy by die marteling en moord van MK-lede betrokke was. 2
In 1984 het Hani Mosambiek verlaat. In die volgende paar jaar was hy werksaam in Zimbabwe, Botswana, Zambië, Uganda en Tanzanië. 4 Intussen het Hani se aansien gestyg. Teen 1983 was hy MK se stafhoof. 2
Hani het teen hierdie tyd vas in sy beleid van gewelddadige verset geglo. Volgens hom móés burgerlikes deur die geweld geraak word. Dit was die enigste manier hoe gewone wit mense kon besef hoe onsmaaklik apartheid was. Oor hierdie saak was hy in teenstand teen meer gematigde leiers soos Tambo en Nelson Mandela, wat geweld wou beperk. 6
Ontbanning van ANC
Ná die ontbanning van die ANC in Februarie 1990 kon Hani na Suid-Afrika teruggekeer. Hy was kort voor dit op ‘’n toer deur Kuba, en ook vlugtig in Londen. 4
Hani het vinnig gewild geword, veral in Suid-Afrika se townships. Hy was uiters charismaties en ’n uitstaande spreker. Hy was ’n goeie vriend van Joe Slovo, die sekretaris-generaal van die SAKP. Toe Slovo in 1991 siek geword het, het Hani by hom oorgeneem. 2 Teen hierdie tyd was hy naas Mandela waarskynlik die gewildste ANC-leier. 4
In 1992 het hy as stafhoof van die MK afgetree om al sy aandag aan die SAKP te wy. Hoewel SAKP-lede prominent in die ANC was, het die val van kommunisme in Europa die party onder verdenking geplaas. Hani het hard gewerk om die SAKP in ’n behoorlike politieke party te omskep.
Hani se sjarmante en geesdriftige leierskap het hom in ’n kultusfiguur begin verander. 2
Sluipmoord
Hani het ’n paar sluipmoordpogings in 1992 oorleef. 6 Op 10 April 1993 was hy saam met sy 15-jarige dogter, Mokahwezi, op pad na sy huis in Boksburg. Hy is in die straat deur ’n anti-kommunistiese, ekstremistiese Poolse vlugteling Januzs Walus doodgeskiet. 2
Clive-Derby Lewis, ’n prominente lid van die Konserwatiewe Party, was sy medepligtige. Albei mans is binne ses maande ná die moord skuldig bevind en die doodstraf opgelê. Dit is egter later deur die hof tot lewenslange tronkstraf versag. 2
Hani se sluipmoord, net ’n jaar voor die eerste demokratiese verkiesing, het groot skokgolwe veroorsaak en tot hewige opstande en onrus gelei. 8 Dit was ’n kritieke oomblik in die oorgang ná apartheid. Die SAKP was op die punt om ’n noemenswaardige politieke party te word en Hani se dood was vir hulle ’n groot terugslag. Die ANC kon nou sonder teenstand die sterkste politieke party bly.
Die sluipmoord het ook die onderhandelaars vir die nuwe regering, wat in daardie stadium gekibbel het, aangespoor om ’n datum vir die eerste demokratiese verkiesing vas te stel. 2
Woordbank
aansien | Hoë rang/stand. |
aantygings | Om iemand van iets te beskuldig. |
alkoliet | ’n Jong persoon wat ’n biskop in die kerk bystaan. |
appelleer | ’n Versoek dat ’n hoër hof weer oor ’n uitspraak moet besluit. |
banneling | Iemand wat uit sy/haar land verban is. |
Bantoeonderwys | ’n Beleid van die NP-regering wat onderwys gesegregeer het. Die gehalte van onderwys vir wit mense was baie hoër as die van swart mense. |
beleid | Plan/program/wet vir die bestuur van ʼn groep/onderneming/party/land. |
besiel | Iemand vol moed/geesdrif maak. |
bestaansboer | Boere wat op hul plase slegs kos vir hul eie gebruik produseer, en nie om te verkoop nie. |
betoog | As mense ’n betoging hou in opstand teen iets. |
burgerlikes | ’n Niemilitêre persoon; gewone mense. |
charismaties | Sterk en oortuigend. |
dissidente | ’n Persoon wat die beleid van hul eie politieke groep of regering teenstaan, veral wanneer die groep of regering outoritêr is. |
ekstremistiese | Mense met politieke idees wat deur die meeste mense as onredelik en onaanvaarbaar beskou word. Sulke mense sal tot die uiterste gaan om hul doelwitte te bereik. |
gekibbel | Om oor iets onbelangriks te stry. |
geletterdheidsprogram | Program om mense te leer lees en skryf. |
gemartel | Iemand moedswillig baie seer maak. |
gemuit | Wanneer soldate in opstand kom teen hul offisiere. |
gewy | Om al jou aandag op een ding te fokus. |
guerilla-oorlogvoering | Dis ʼn ongewone wyse waarop oorlog gevoer word. Tydens aanvalle val klein groepies soldate vinnig aan en beweeg dan weer vinnig terug na hul skuilings. |
halfgeletterde | Iemand wat net ’n klein bietjie kan lees en skryf. |
hardekwas | Om koppig of eiewys te wees. |
hardvogtige | Gevoelloos teenoor ander wees; geen genade betoon nie. |
Hoogverraadsaak | ’n Hofsaak waar 156 bekende versetleiers van verraad teen Suid-Afrika se regering aangekla is. |
in bedwang | Om iets onder beheer te hou. |
Jeugliga | Vleuel of deel van die ANC vir jongmense, gewoonlik tussen 14 en 35-jarige ouderdom. |
kaders | ’n Persoon in ’n kommunistiese organisasie wat opleiding ontvang het in oorlogvoering of aktivisme. |
kapitalisme | ’n Ekonomiese stelsel wat op private besit, belegging en mededinging gegrond is en waar die staat nie veel beheer het nie. Die geld en besittings is dus in private besit. |
kapsie | Om teen iets beswaar te maak. |
Katolieke | Christelike Kerk wat onder die gesag van die pous van Rome staan. |
klerk | Iemand wat in ’n kantoor of besigheid werk en eenvoudige take verrig. |
kommunistiese | ’n Regeringstelsel waarin die staat die eienaar van al die belangrike nywerhede is en die volk se ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe beheer. |
kultusfiguur | ’n Persoon wat oordrewe deur ander bewonder en vereer word. |
letterkunde | Kuns in geskrewe vorm, wat poësie, prosa en drama insluit. |
liberale | Vrydenkend. ’n Liberalis is iemand wat oop is vir ander/nuwe idees. |
marteling | Iemand moedswillig baie seer maak. |
Marxistiese | Leer van Karl Marx (1818-1883). Hierdie is ’n konsep vir ’n land waar private besit met gemeenskaplike besit vervang word en ’n klaslose maatskappy tot stand gebring word. |
medepligtige | Om saam met iemand anders skuld te hê aan iets. |
minderheidsregering | Wanneer ’n land regeer word deur ’n groep mense wie se rasse- of etniese groep in die minderheid is. |
onder verdenking | As jy verdink word dat jy iets gedoen het, gewoonlik iets verkeerd. |
onderdrukking | ʼn Groep mense onregverdig of wreed behandel en hulle nie dieselfde regte gun as wat ander mense in die gemeenskap het nie. |
ongeletterd | Kan nie lees nie. |
ondergrondse | Geheim; onwettig. |
ontbanning | ʼn Verbanning ophef; nie meer verban nie. |
ontwyk | Om iets vry te spring of te ontduik. |
opgang | Sukses behaal. |
opgeskort | Om iets tydelik uit te stel. |
pamflette | Brosjure, strooibiljet. |
politieke kommissaris | Lid van ’n politieke party of beweging, meestal kommuniste, wat seker maak dat almal anders die beleid van die party uitvoer. |
praktiseer | Jou beroep beoefen; werk. |
prokureur | Iemand wat (in die) regte gestudeer het en wie se werk dit is om aan mense wette te verduidelik, formele ooreenkomste op te stel en kliënte in die hof te verteenwoordig. |
propaganda | Inligting wat vals is of net een kant van die storie vertel, gebruik deur ’n regering of politieke groep om mense met hulle te laat saamstem. |
prominente | Belangrike. |
Revolusionêre Raad | Liggaam van die ANC wat oor operasies moes toesig hou om die NP regering omver te werp. |
skokgolwe | Kwaai opskudding wat ’n skokkende gebeurtenis volg. |
sleutelrol | Om ’n baie belangrike of selfs die belangrikste rol in ’n saak te speel. |
sluipmoord | ʼn Moord op ʼn (meestal belangrike) persoon, wat in die geheim beplan word en dikwels in die openbaar uitgevoer word. |
stafhoof | Die hoof van ’n weermag se offisiere. |
struggle | Die stryd om apartheid te beëindig. |
te velde getrek | Om sterk teen iets weerstand te bied. |
trekarbeider | Persoon wat nie naby sy/haar werksplek woon nie en net tydelik op ʼn plek naby sy/haar werk woon. Dit verwys veral na swart mense wat uit hul tradisionele gebiede na die myndorpe gegaan het om te werk. |
umKhonto weSizwe | Die ANC se militêre vleuel, wat deur sabotasie en guerilla-oorlogvoering die regering met geweld omver wou werp. |
veiligheidsmagte | Organisasie wat die veiligheid van ʼn land, die bevolking en eiendom moet verseker, soos die weermag en polisie. |
veroordeel | Wanneer jy erg krities oor iets is. |
verplaas | Om ’n persoon van een plek na ’n ander te skuif. |
visier | Iets teiken; in die oog het. |
vlugteling | Iemand wat gevaar ontwyk/vryspring en veiligheid soek deur te vlug. |
vrywilligers | Iemand wat iets doen omdat hy of sy graag wil en nie gedwing word om dit te doen nie. |
Wankie-veldtog | ’n Militere stryd tussen die magte van die regering van Rhodesië (vandag Zimbabwe) aan die een kant en stryders van ZIPRA en umKhonto weSizwe-vegters aan die ander kant. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Wat was apartheid?
- Meer oor Chris Hani
- Janusz Walus is op parool vrygelaat
- Die Chris Hani Baragwanath Hospitaal
Kyk dié videos om meer te wete te kom
Die lewe van Chris Hani
Die geveg teen apartheid in Suid-Afrika
Wat is die verskil tussen kapitalisme, kommunisme en sosialisme?