Vinnige feite
- Toe sy in 1940 in die Johannesburg Algemene Hospitaal begin werk het, het sy saam met Nelson Mandela se vrou Evelyn gewerk. 6
- Lindiwe Sisulu is Albertina en Walter Sisulu se vierde kind en hulle oudste dogter. Kliek op die skakel om meer oor haar te lees. 2
- By die Universiteit van Kaapstad is daar ’n Albertina en Walter Sisulu Instituut vir Veroudering in Afrika. 8
- Sy was altesaam 18 jaar ingeperk – die langste tydperk wat enige persoon in Suid-Afrika ingeperk was. 9
Albertina Sisulu is nie sonder rede die “Mother of the Nation” (Moeder van die Nasie) of “Ma Sisulu” genoem nie. Sy was bekend vir haar leierskapeienskappe en hoe sy talle leiers gedurende die bevrydingstryd met raad en daad bygestaan het om uiteindelik hulle plek in ’n demokratiese Suid-Afrika vol te staan.
Sy was nie net die eggenoot van die anti-apartheidsaktivis Walter Sisulu nie, maar ’n leier in eie reg – ’n vrou wat deur haar tydgenote as ’n rots van krag beskryf is.
Geboorte en kinderjare
Nontsikelelo Thethiwe is op 21 Oktober 1918 in die dorpie Xolobe in die Tsomo-distrik van Transkei (vandag is dit die Oos-Kaap) gebore.
Haar ouers het ’n klein plasie naby Xolobe gehad. Haar pa is oorlede toe sy net 11 jaar oud was en omdat haar ma nooit ten volle herstel het van die 1918-griep (ook genoem die Spaanse of Groot Griep) wat sy opgedoen het nie, het Albertina as die oudste dogter van vyf kinders die rol van versorger van haar broers en susters oorgeneem. 1
In 1926 het sy met haar laerskoolopleiding in Xolobe begin en was ’n baie flukse leerder.
Dit was die gebruik dat swart leerders ’n Christelike naam moes kies uit ’n lys wat deur die sendelinge aan hulle verskaf is. Sy het die naam Albertina gekies. 2
Die jong Albertina het op sport- en kultuurgebied uitgeblink en van kleins af leierseienskappe getoon. In standerd 5 (vandag se graad 7) is sy as hoofmeisie verkies. 2
Sy het só goed op skool gevaar dat sy ’n beurs ontvang het om haar hoërskoolopleiding aan die hoog aangeskrewe Mariazell-kollege in Matatiele te begin. 3 Haar beurs het haar skoolgeld en losies (verblyf) betaal, maar in ruil daarvoor moes sy help om die lande te ploeg en in die wasgoedkamer werk. Sy kon net gedurende die Desembervakansie huis toe gaan. 2
Terwyl sy hier skoolgegaan het, het sy die Katolieke geloof aangeneem en selfs oorweeg om ’n non te word. Maar Vader Bernard Huss van Mariazell het haar aangeraai om verpleging te gaan studeer. Volgens hom sou sy nie haar familie in Xolobe kon onderhou (finansieel kon versorg) nie omdat nonne nie ’n salaris verdien nie. Sy het toe in 1940 by die Johannesburg Algemene Hospitaal verpleging begin studeer. Die hospitaal se naam is nou die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal. In 1946 het sy ’n werk as vroedvrou gekry. 1
Albertina trou met Walter Sisulu
In 1941 ontmoet sy vir Walter Sisulu, ’n prokureur en anti-apartheidsaktivis wat deel van die African National Congress (ANC) was. Hulle is op 15 Julie 1944 in Johannesburg getroud. Wyle oudpres. Nelson Mandela en sy vrou van daardie tyd, Evelyn, was die strooijonker en strooimeisie by hulle troue.
Hulle het ná hulle troue in Orlando, Soweto, gaan woon waar hulle eerste seun, Max Vuyisile, in 1945 gebore is. Hulle het uiteindelik vyf kinders gehad en het nog vier kinders aangeneem. 1
Politieke bewustheid ontwaak
Albertina se politieke bewustheid het in die 1940’s ontwaak toe sy as ’n leerlingverpleegster in die Johannesburg Algemene Hospitaal gewerk het. Hier het sy vir die eerste keer rassisme ervaar. 3
Sy was geskok om te sien hoe wit junior verpleegsters aan swart senior susters bevele gee. Toe daar ’n ernstige ongeluk by die Johannesburg Parkstasie was en baie beseerdes na die hospitaal gebring is, wou die hospitaal nie swart pasiënte uit die oorvol swart gedeelte van die hospitaal na die wit gedeelte skuif nie. Dit was vir haar moeilik om te aanvaar. In daardie jare is na swart mense as nieblankes en na wit mense as blankes verwys. 2
In 1980 is sy in ’n klein hospitaal in Orlando, Soweto, as senior verpleegster aangestel. Sy het hier verpleeg totdat sy in 1983 met pensioen gegaan (afgetree) het. Hierna het sy vir dr. Abu Baker Asvat, ’n privaat dokter in Soweto, gewerk. Hy het haar toegelaat om met haar politieke bedrywighede voort te gaan terwyl sy by hom gewerk het. Sy het vir hom gewerk totdat hy in 1989 vermoor is. 4
Politieke betrokkenheid
Haar politieke bewustheid en teenkanting teen die regering van daardie tyd het toegeneem toe sy vir Walter in 1941 ontmoet het.
Walter het in 1947 besluit om sy werk te bedank en voltyds vir die ANC te werk. Albertina was toe die enigste broodwinner (die persoon in die gesin wat geld of ’n salaris verdien). In 1949 word Walter die eerste voltydse sekretaris-generaal van die ANC. 2
Nadat Albertina in 1948 by die ANC-Vroueliga (die African National Congress Women’s League of ANCWL) aangesluit het, het sy leiding in die ANC asook in die Federation of South African Women (FEDSAW) begin neem. Sy het ook aan die bekendstelling van die Freedom Charter (Vryheidsmanifes) deelgeneem. 2
In 1955 was FEDSAW betrokke by die ANC se boikot (verset) teen die destydse Bantoeonderwys. FEDSAW het alternatiewe skole as protes teen Bantoeonderwys begin, en Albertina se huis is vir een van dié skole gebruik. 2
Inperking en geheime boodskappe
In 1964 het die regering haar vir vyf jaar as verbode persoon verklaar en ingeperk. Sy kon byvoorbeeld nie enige woongebiede of dorpe besoek waar swart mense gewoon het nie. Sy mag ook nie fabrieke, plekke waar koerante gedruk word, universiteite of skole besoek nie. Sy kon nie vergaderings bywoon nie en is ook nie toegelaat om by die druk van enige publikasies betrokke te wees nie. Sy moes voorts elke Woensdag by die Orlando-polisiekantoor aanmeld.
In Julie 1969, vyf jaar nadat sy deur die regering verban is, is die bevel vir nog vyf jaar verleng. 2
Gedurende hierdie jare was sy betrokke by die ANC se ondergrondse netwerk. Dit beteken dat alles in die geheim gedoen is sodat die polisie nie daarvan uitvind nie. Sy het byvoorbeeld kodeboodskappe in haar briewe aan Walter, wat op Robbeneiland gevange gehou is, gebruik om hom te laat weet hoe dit met die ANC se bevrydingstryd gaan. 2
Hoewel sy nie vergaderings kon bywoon of in die teenwoordigheid van meer as drie mense op ’n slag mag wees nie, het sy op verskillende maniere met FEDSAW se lede in verbinding gebly. Sy het byvoorbeeld deur haar toilet se muur met mense in die bure se huis gepraat. Haar huis se een muur was ook die muur van haar bure se huis. Die FEDSAW-lede het gemaak of hulle by die bure kom kuier, maar het dan deur die toilet se dun muur met Albertina gesels terwyl die buurvrou buite wag gehou het. 2
In 1984 het Albertina mede-president van die United Democratic Front (UDF) geword. In 1989 was sy die leier van ’n afvaardiging van die UDF wat na die buiteland gereis het. Sy het tydens dié besoek onder andere vir Margaret Thatcher, destyds die Britse eerste minister, en George H.W. Bush, ’n voormalige president van die Verenigde State van Amerika (VSA), ontmoet.
In 1994 is sy tot die eerste demokratiese kabinet van Suid-Afrika verkies – ’n pos wat sy vir vier jaar beklee het. 1
Tyd in gevangenis
In 1956 is sy in hegtenis geneem en vir drie weke lank aangehou vir haar deelname aan ’n optog van 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria waarin hulle protes teen die regering se paswette aangeteken het.
In 1963 is sy weer in hegtenis geneem en vir drie maande aangehou. Sy is vir meer as die helfte van dié drie maande in eensame opsluiting (afgesonder) aangehou voordat sy vrygelaat is.
In Junie 1964 is Walter aan verraad en sabotasie skuldig bevind. Hy is tot Oktober 1989 saam met Nelson Mandela op Robbeneiland aangehou. 1
Albertine het haar dwarsdeur haar lewe beywer vir ’n vry en regverdige land. Wyle aartsbiskop Desmond Tutu het oor haar gesê: “Try as they might, they could not break her spirit, they could not make her bitter, they could not defeat her love”. 5
Kinders en die politiek
Walter en Albertina se dogter Nkuli Sisulu, hulle jongste kind, het aan die Morris Isaacson-hoërskool skoolgegaan. Hierdie skool was betrokke by die 1976-studenteonrus in Suid-Afrika. Dié onrus het gedurende Junie en Julie plaasgevind en Nkuli het dikwels met kneusplekke of met brandende oë weens traangas huis toe gekom.
Hulle dogter Lindiwe was ook by die oproer betrokke en is op 14 Junie 1976 in hegtenis geneem. Sy is vir ’n jaar lank aangehou. In Junie 1977 het sy die land verlaat en na Mosambiek gegaan omdat sy bang was dat sy weer deur die polisie gevang sou word. Albertina het baie jongmense in hierdie tyd gehelp om die land te verlaat. 2
Lindiwe was van 1994 tot 2023 ’n lid van die parlement en minister van verskeie portefeuljes, insluitend behuising, verdediging, staatsdiens en administrasie, toerisme, en internasionale samewerking en betrekkinge. Pres. Cyril Ramaphosa het haar in Maart 2023 uit sy kabinet afgedank, wat tot haar bedanking uit die Nasionale Vergadering aanleiding gegee het.
Die jare ná Walter se vrylating
Walter Sisulu is in 1989 vrygelaat en die egpaar was ná jare weer bymekaar (verenig).
In 1991 het die ANCWL ’n kongres gehou waartydens Albertina as president van die Vroueliga genomineer is. Sy het dit egter van die hand gewys. In dieselfde jaar word sy tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee verkies en Walter word die visepresident van die ANC. In Augustus 1991 het Walter en Albertina na Singapoer, Australië en Mauritius gereis en later dieselfde jaar ’n besoek aan Noord-Amerika en Kanada gebring.
In April 1994 het albei parlementslede geword en op 17 Julie 1994 het die egpaar hul 50ste huweliksherdenking gevier. Hulle het by die politiek betrokke gebly en fondsinsamelings plaaslik en oorsee gehou. Terwyl sy ’n parlementslid was, het sy haar op die welstand van vroue en kinders toegespits. Aan die einde van 1999 het albei uit die politiek getree. Walter is in 2003 oorlede. 2
Gemeenskapswerk
Vanaf 1993 tot 1996 was Albertina president van die Wêreldvredesraad (World Peace Council) in Switserland, waar sy onder meer verpleegsters gewerf het om in Tanzanië te gaan werk.
Terug in Suid-Afrika het sy gemeenskapswerk saam met wyle oudpres. Nelson Mandela en die Albertina Sisulu-stigting gedoen. Deur haar stigting het sy vir meer as 50 jaar gewerk om die lewe van kinders en bejaardes te verbeter. 6
In 2003 open sy die Walter Sisulu Pediatriese Hartsentrum (Walter Sisulu Paediatric Cardiac Centre) in Johannesburg. 1 Sy het ook die Albertina Sisulu Meerdoelige Hulpbronsentrum (ASC) in Orlando-Wes geopen. Dié sentrum bestuur onder meer ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, ’n voedingskema, asook ’n afdeling vir jeugdiges met gestremdheid waar hulle vaardighede kan aanleer.
Dood en nalatenskap
Albertina Sisulu is op 2 Junie 2011 onverwags in haar huis in Linden, Johannesburg, in die ouderdom van 92 jaar oorlede. Jacob Zuma, toe die president van Suid-Afrika, het aangekondig dat sy ’n staatsbegrafnis sou kry en dat al die landsvlae op die dag van haar begrafnis halfstok moes hang. 1
Albertina is tydens haar lewe en ná haar dood vereer. Hier is ’n paar voorbeelde:
- In 1999 het sy ’n ere-doktorsgraad van die Universiteit van die Witwatersrand ontvang uit erkenning vir haar toewyding aan demokrasie en geregtigheid in Suid-Afrika. 7
- In 2003 is sy vereer vir haar jarelange toewyding aan die maatskaplike opheffing van Suid-Afrikaners toe ’n sentrum in Soweto vir kinders met spesiale behoeftes na haar vernoem is. 7
- In 2013 is die R24-snelweg in Johannesburg na haar vernoem. 1
- Marketstraat in Johannesburg se naam is na Albertina Sisulustraat verander. 7
- In 2014 het die stad Gent in Vlaandere, België, ’n brug oor die Schelderivier na haar vernoem. 1
Woordbank
Bantoeonderwys | Swart en wit kinders het nie in dieselfde skole skoolgegaan nie en die onderrig wat swart kinders in hulle skole ontvang het, is as minderwaardig beskou. |
eensame opsluiting | Soms word gevangenes alleen aangehou sonder dat hulle toegelaat word om of hulle familie of ander gevangenes te sien. |
halfstok | Op die helfte van die hoogte waarop die vlag gewoonlik hang, as teken van eerbied teenoor ‘n dode. |
kode | In hierdie geval is die taal wat in die brief gebruik is, taal en woorde wat buiten die gewone betekenis ook ander betekenis gehad het wat net aan die skrywer en die leser bekend is sodat ’n geheime boodskap daardeur oorgedra kon word. Briewe is deur die bewaarders of ander amptenare gelees om te kyk wat gevangenes en hulle familie skryf juis om te keer dat vertroulike inligting in briewe oorgedra is. |
leier in eie reg | Wanneer iemand as ’n leier erken word vanweë die persoon se eie vermoëns. |
paswette | Wet wat swart mense verplig het om ’n pas (soos ’n identiteitsdokument) permanent by hulle te dra sodat hulle dit kon wys wanneer hulle deur die polisie voorgekeer is. 10 |
vol te staan | Om iemand te wees op wie mense kan staatmaak en iemand wat sy of haar plig doen. |
verraad | Wanneer jy deur jou optrede nie getrou bly aan jou land of teenoor iemand wat jou vertrou nie, veral as jy deur jou optrede jou land of jou vriend se vyande help. |
vroedvrou | Persoon wat help wanneer ’n baba gebore moet word. Hoewel daar vandag steeds vroedvroue is, was dit veral die gebruik in die dae toe daar nie soveel hospitale was nie en baie mense ver van dokters en hospitale af gewoon het. |
welstand | Voorspoedige omstandighede of ’n toestand van voorspoed. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Lewe en geskiedenis van Albertina Sisulu
- Die Vryheidsmanifes
- Paswette
- Federation of South African Women (FEDSAW)
Kyk dié om meer te wete te kom
Tydlyn en foto’s oor haar lewe
Albertina Sisulu onthou
’n Huldeblyk aan Sisulu