Vinnige feite

  • Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is ’n prosedure waardeur daar op ’n pasiënt se bors gedruk word om die bloedvloei te stimuleer deur die hart te pomp en dit met mond-tot-mond-asemhaling af te wissel om suurstof te gee. Dit word gewoonlik gedoen as iemand se hart gaan staan. 7
  • Die Heimlich-maneuver is in die jare sewentig deur die Amerikaanse dokter Henry J. Heimlich uitgevind. 8
  • Eerstegraadse brandwonde is nie so ernstig nie en is meer oppervlakkig van aard. Tweedegraadse brandwonde is ernstiger en kan die vellae beskadig en blasies vorm. Derdegraadse brandwonde is die ernstigste, lyk droog en kan dieperliggende skade aan die vel berokken. Vierdegraadse brandwonde is baie ernstig en dit is as daar skade aan die spiere en been is. 2
  • Dis ’n mite dat botter vir brandwonde help. Moenie dit aansmeer nie.
  • Koue help om swelling te verlig. Onthou dit as jy iets stamp of dalk jou enkel seermaak. Die pak bevrore ertjies in jul vrieskas kan goed vir ’n enkel werk.
  • As ’n mens se neus bloei, moet jy nie jou kop agtertoe hou nie, want die bloed vloei in die keel af na die maag wat jou naar kan maak. Hou liewer jou kop vorentoe en knyp  jou neusgate vir so 10 minute toe. 9
  • Volgens ’n opname deur die organisasie, St John Ambulance, het sewe uit tien kinders gesê dat hulle nie weet hoe om iemand te help wat seergekry het nie. 10
Foto: iStock

Daar is min van ons wat nog nie in ons lewe só seergekry het dat dit baie gebloei het nie. Dalk het jy al ’n been of arm gebreek of dalk het jy al gesien hoe iemand ernstig seergekry het. Dit is aaklig om so iets te sien, maar dit kan help as jy weet wat om te doen as iemand seerkry. Jy en jou maat sit dalk pouse en gesels en hy begin aan sy broodjie verstik. Wat maak ’n mens dan?

As jy kennis van basiese noodhulp het, kan jy iemand help en selfs sy of haar lewe red.

Wat is noodhulp presies? Dit is die voorlopige mediese versorging tydens ’n noodgeval of ongeluk totdat professionele hulp opdaag. 1

Kom ons kyk na ’n paar situasies waar dit goed is om te weet wat om te doen, selfs al is dit nie ernstig nie en net ’n insekbyt wat jou pla.

Wat jy moet weet

As jy iemand wil help, moet jy eers seker maak dat dit veilig vir jou is om dit te doen. As die situasie onveilig voorkom, moet jy eerder dadelik hulp soek.

As iemand ernstig seergekry het, moet jy dadelik die nooddienste bel. (Noodnommers onder)

As jy met wonde werk, moet jy altyd handskoene dra, want daar is allerlei siektes wat deur bloed oorgedra kan word, soos MIV/Vigs. As jy nie handskoene byderhand het nie, kan jy ook in ’n noodgeval plastieksakke oor jou hande trek. 2

Bloeding

As iemand ernstig bloei, moet daar direkte druk op die wond geplaas word. Vat ’n skoon verband of lap, sit dit oor die bloeding en druk met die palm van jou hand af. As die bloeding aanhou, moet jy ’n bietjie meer druk toepas. Die beseerde gedeelte moet hoër as die hart gehou word om die bloeding te stop. As iemand ’n kopwond het wat bloei, sal dit byvoorbeeld minder bloei as hy regop sit as wat hy lê. As iemand baie bloed verloor, dan neem die liggaamstemperatuur af en in noodhulp is dit baie belangrik om die liggaamstemperatuur konstant te hou. 2 Dis ook belangrik om te weet dat as daar ’n voorwerp in ’n diep wond insteek, moet jy dit liewer nie uithaal nie, want dit kan die bloeding net vererger.

Snye en skraapplekke

Maak snye en skrape eers goed met water skoon. Ontsmet dit dan met ’n ontsmettingsmiddel as jy kan. Jy sal dit heel moontlik in jou ma se noodhulpkissie vind, soos Dettol en Savlon. Die geheim is dat daar geen vuiligheid in die sny moet agterbly nie.

’n Mens hoef nie ’n pleister op klein skrapies te plak nie, maar groot snye moet liewer met ’n pleister toegeplak word. 3

As jy bloed deur die pleister sien sypel, plaas direkte druk daarop vir 15 minute en lig die beseerde gedeelte op om die bloeding te stop. Onthou dat dit altyd hoër as die hart gehou moet word om die bloeding te stop.

Brandwonde

As die brandwond nie ernstig is nie, kan ’n mens dit vir 10-15 minute onder koue lopende water hou. Volg dit op met ’n antibiotiese salf en pynstroop of -pille om jou beter te laat voel.

As die wond blase vorm, moet dit nie oopdruk nie. As dit self oopbars, kan jy ’n skoon verband en antibiotiese salf opsit. 2

As die brandwond ernstig is, moet jy seker maak dat die persoon nie verder kan seerkry nie. Kyk of sy asemhaal en haal enigiets wat styf sit, soos ’n gordel of juwele af, want die vel kan gou swel. Lig die beseerde ledemaat weer hoër as die hart en wees op die uitkyk vir tekens van skok soos ’n koel, klam vel, ’n swak pols en vlak asemhaling. 4 Dis belangrik dat ’n brandslagoffer se liggaamstemperatuur gereguleer word en dus kan jy hom met ’n skoon kombers bedek.

Sonbrand

Ons warm Afrikason kan ’n mens seer brand en jy het seker al daarmee kennisgemaak! Die vel is rooi, pynlik en voel warm. Dit klink dalk vir jou vreemd om te dink aan noodhulp vir sonbrand, maar sonbrand kan ’n mens baie siek laat voel en jou selfs in die hospitaal laat beland. Vel kan swel, blasies kan vorm, oë kan seer wees en jy kan hoofpyn, koors en naarheid ervaar.

Mediese sorg is nodig as daar baie blase vorm, erge swelling is en of daar tekens van infeksie is. As jou koors hoog is, jy ontwater is en duiselig voel, is dit belangrik om liewer ’n dokter te sien. Vir die gewone sonbrand wat ’n mens by die huis kan behandel, werk pynmedikasie, ’n koel bad met koeksoda (60 g in die bad) en ’n vogroom- of jel met aloe vera (aalwyn). Die beste wenk teen sonbrand is egter voorkoming. Gebruik altyd ’n sonskermroom as jy buite is en bly liefs op die warmste tye van die dag uit die son. 5

Steek- en bytplekke

Maak die seerplek eers goed skoon met seep en water. Sit ’n koel kompres op die byt- of steekplek vir 15 minute elke uur en sit ys in ’n lappie en hou dit daarop. Die koue sal help om die pyn en swelling te verlig. As dit jeuk, kan jy ’n antihistamien drink of ’n antihistamienroom gebruik. As die byt- of seerplek seerder of rooier word, is dit tyd om die dokter te besoek. Daar is baie mense wat allergies vir insekbyte is en dit kan baie gevaarlik wees, want asemhalingsprobleme kan voorkom en mense kan sterf.

As enige allergiese reaksie voorkom, is dringende mediese hulp nodig. Mense met ’n ernstige allergiese reaksie sukkel om asem te haal, hul tong en keel kan swel, hul oë kan swel en jeuk, hul vel kan irritasie toon en hulle kan paniekerig raak. 6

Verstikking

As iemand verstik en nie huil of hoes nie, kan jy in sy mond of keelgat kyk of daar iets is wat vassit.

As jy niks sien wat jy kan uithaal nie en die persoon raak blou en kan nie asem kry nie, is dit tyd om die Heimlich-maneuver uit te voer. Staan agter die persoon en hou jou arms om sy middel en hou jou hande voor hom vas. Maak ’n vuis teen die maag (net onder die ribbekas). Gryp nou jou vuis met jou ander hand en druk vinnig en opwaarts. Herhaal tot die voorwerp uit is. As die persoon bewusteloos is en sy lê op haar rug, kan jy oor haar hurk en kragtige opwaartse houe op haar borsbeen gee. Gebruik weer die palm van jou hand. As ’n baba of kleuter verstik, kan jy die kind op sy magie laat lê en ferm houe met jou palm tussen die skouerblaaie gee om die voorwerp te laat uitkom.

Vergiftiging

Mense kan vergiftig word as hulle iets giftigs insluk, inasem of aan iets giftigs vat. Soms kry kinders skoonmaakmiddels in die hande en dan neem hulle dit in. Dit kan baie gevaarlik wees. Tekens en simptome van vergiftiging is naarheid, asemhalingsprobleme, lomerigheid, verwarring, branderigheid of rooiheid om die mond en lippe en asem wat soos chemikalieë ruik. Bel dadelik die nooddienste en probeer uitvind wat die persoon ingeneem het. As ’n mens iemand help wat iets ingesluk of ingeasem het en jy vind die bottel of houer waarin dit was, moet jy dit vir die nooddienste gee as hulle kom.

Wat móét in ’n noodhulpkissie wees?

  • Alkohollappies
  • Antibiotiese salf
  • Mediese handskoene
  • Steriele watte en gaas
  • Pleisters
  • Jel vir brandwonde
  • Skêr en haartangetjie
  • Verbande in verskeie groottes
  • KPR-mondstuk (word gebruik vir kardiopulmonêre resussitasie)

Suid-Afrika se noodnommers

Polisie: 10111
Noodnommer as jy van ’n selfoon af bel: 112
Ambulans: 10177
Gifinligtingsentrum: 086 155 5777

Woordbank

aalwyn ’n Plant met dik blare wat skerp punte het en ’n bitter sap bevat. Die aalwyn se sap word vir medisyne gebruik. 11
allergies Mediese toestand waartydens jy siek word deur iets te eet, aan iets te vat of iets in te asem wat normaalweg nie alle ander mense siek maak nie. 10
antibiotiese Antibiotikum is ’n geneesmiddel wat die groei van lewende organismes, veral bakterieë, keer.10 Antibiotiese salf bevat antibiotikum.
antihistamien ’n Geneesmiddel wat ’n allergiese reaksie voorkom of teenwerk. 10
bewussyn Die vermoë om te weet wat om jou aangaan.
bewusteloos Sonder bewussyn wees en nie weet wat om jou aangaan nie. 12
ferm Gee indruk van krag.
infeksie Ontsteking wat ’n deel van die liggaam aantas. 10
kompres Nat omslag as heelmiddel. 11
klam As die vel koud en nat voel.
lighoofdigheid Iemand voel duiselig (dronk in die kop). 11
lomerig As jy slaperig voel.
ontwater Nie genoeg vloeistof in die liggaam nie. 7
skok ’n Ernstige toestand wanneer daar nie genoeg suurstof in die weefsels en brein is nie en wat lei tot ‘n verlaging in bloeddruk. Dit kan dodelik wees as dit nie behandel word nie. 7
skraapplek Gewoonlik ’n geringe besering wat in die boonste laag van die vel voorkom. 7
vergiftiging Mens of dier kan skade kry deur gif in te neem. 11

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Meer oor noodhulp

Basiese noodhulp

Noodhulp-foute

Hierdie kind kon iemand red!

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Maart 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024