Vinnige feite

  • Die idee dat “almal dit doen”, maak ʼn mens soms deurmekaar, en mens vergeet dan om jou gesonde verstand te gebruik.
  • As ʼn mens jaloers is omdat iemand iets beter as jy kan doen, en jy probeer só hard om soos daardie persoon te wees, is dit negatief en sleg vir ʼn mens se selfbeeld.
  • Groepsdruk gebeur egter nie slegs as mens jonger is nie, dit kom selfs onder volwassenes in die werkplek voor, byvoorbeeld wanneer die baas of ʼn kollega (ʼn persoon wat saam met jou werk) ʼn spoggerige motor ry of sakke vol geld verdien en die ander kollegas dit ook wil hê.
Foto: iStock

Kan jy nog onthou toe jy klein was en jy wou ʼn sekere speletjie speel, maar jou maatjies wou ʼn ander speletjie speel? Baie keer het jou maatjies jou dan omgepraat of oortuig om hul speletjie saam met hulle te speel. Dit is ʼn voorbeeld van groepsdruk. 1

Groepsdruk verwys na daardie aksie om soos ander te probeer wees, deur soos hulle aan te trek of te doen wat hulle doen, dikwels om binne ʼn spesifieke portuurgroep in te pas.

Dit is, met ander woorde, die druk wat ʼn portuurgroep (mense wat dieselfde ouderdom as jy is) op ʼn individu of kleiner groep uitoefen om hul gedrag te verander sodat dit met dié van die portuurgroep ooreenstem. Die teenoorgestelde – dat jy jou maats of portuurgroep kan beïnvloed om sekere goed te doen – kan egter ook gebeur.

Groepsdruk gebeur egter nie slegs as mens jonger is nie, dit kom selfs onder volwassenes in die werkplek voor, byvoorbeeld wanneer die baas of ʼn kollega (ʼn persoon wat saam met jou werk) ʼn spoggerige motor ry of sakke vol geld verdien en die ander kollegas dit ook wil hê. Dit is egter belangrik om jouself altyd af te vra: Is die groepsdruk positief of negatief? 2

Positiewe groepsdruk

As jy graag beter rugby wil speel en ʼn maat help jou om jou skoppe pale toe te oefen, is dit positief en opbouend, want jy wil graag iets leer, en iemand help jou daarmee. Dit verbeter jou vaardighede, laat jou goed voel oor jouself as jy dit regkry, en jou maat voel ook goed oor hom-/haarself omdat hulle jou help.

Dalk raak jou maats só opgewonde oor die boek wat jy lees of die fliek wat jy onlangs gekyk het, dat almal dit nou lees of kyk. ʼn Mens luister vir en leer graag by maats wat dieselfde ouderdom as jy is, en dit is positiewe groepsdruk. Dink net as jou hele vriendekring saamstaan teen ʼn boelie in die skool! 3

Nog voorbeelde van positiewe groepsdruk

  • As jy aangemoedig word om by die debatspan aan te sluit of redenaars te doen, sal jou selfvertroue en jou luister- en denkvaardighede verbeter. 4
  • As jy betyds by die skool opdaag en by die reëls hou, leer jy dissipline en stel jy ʼn voorbeeld vir ander.
  • As jy ander respekteer, sal ander jou ook goed behandel.
  • As jy eerlik is, sal mense jou vertrou.
  • Oefening is goed vir stres, en fiksheid help jou om op goeie en positiewe goed te fokus (en nie dinge te doen soos om te rook nie).
  • Begin ʼn studie- of huiswerkgroep waar jy en jou maats mekaar met skoolwerk help.
  • Staan saam teen kinders wat ander boelie of wat oor ander skinder. As julle sommer ʼn hele groep is wat saamstaan, staan geen boelie ʼn kans nie.

Negatiewe groepsdruk

As ʼn mens jaloers is omdat iemand iets beter as jy kan doen, en jy probeer só hard om soos daardie persoon te wees, is dit negatief en sleg vir ʼn mens se selfbeeld. Onthou ons is almal anders geskape en het verskillende talente ontvang. Soms is ons baie goed in iets waarin ander nie so goed is nie, en partykeer is ander weer beter in iets as ons. (Dink net hoe vervelig sou dit wees as ons almal dieselfde gelyk het en van presies dieselfde dinge gehou het!)

Maats kan baie keer veroorsaak dat ʼn mens dinge doen net om deel van die groep te wees. As ander van jou verwag om dinge te doen wat jou ongemaklik laat voel, wat lelik is teenoor ander, of snaaks is met jou omdat jy nie sekere klere dra of die nuutste selfoon of speletjie het nie, is dit negatiewe groepsdruk. ʼn Mens wil nie en moenie sulke vriende hê nie.

Sê nee!

Dit is baie moeilik om teen groepsdruk op te staan, maar dit is moontlik. Jy weet wat die regte ding is om te doen, en dit is belangrik om by jou beginsels en waardes te staan. Hier onder is ʼn paar wenke om “nee” te sê vir negatiewe groepsdruk. 5

  • Kies vriende wat dieselfde oor dinge voel as jy (dieselfde waardes het), sodat hulle saam met jou “nee” kan sê in situasies waarin jy voel jy word gedwing om iets te doen wat jy nie wil doen nie.
  • As jy vriende kies wat nie rook nie, nie sonder rede van die skool af wegbly nie en nie vir hulle ouers en onderwysers jok nie, sal jy dit ook nie doen nie, al doen ander dit dalk.
  • Probeer om ʼn vriend te help wat sukkel om groepsdruk te weerstaan. Dit sal baie vir dié maat beteken as jy sê: “Ek stem saam met jou, kom ons loop eerder.”
  • As jy voel dat daar groepsdruk van jou maats af kom (al sê hulle nie iets nie, maar jy voel in jou hart “gedruk” om iets te doen of wees wat jy nie is nie), praat met iemand wat jy vertrou en sê hoe jy daaroor voel.
  • Sê eerder “nee” as jy onseker voel, as om iets te doen waaroor jy later spyt gaan wees. 5

Hoekom swig ons voor groepsdruk?

Sommige kinders gee in onder groepsdruk omdat hulle graag gewild wil wees, wil inpas of omdat hulle bekommerd is dat ander kinders hulle gaan spot as hulle nie doen wat die groep doen nie. Ander doen weer iets omdat hulle nuuskierig is om iets nuuts te probeer. Die idee dat “almal dit doen”, maak ʼn mens soms deurmekaar, en mens vergeet dan om jou gesonde verstand te gebruik.

As daar ʼn stemmetjie binne jou is wat sê jy moenie iets doen nie, al doen almal om jou dit, moet jy na dié stem luister, selfs al beteken dit jy verloor maats omdat jy nie sekere goed wil doen nie. Dit help nie jy doen iets omdat jy bang is iemand gaan nie meer van jou hou nie, want jy doen dalk juis iets wat jou in baie groot moeilikheid kan laat beland. 6

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk die onderstaande video’s om meer te leer oor groepsdruk

Groepsdruk: hoe om goeie besluite te maak

Groepsdruk 101

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023