Verna Vels

“Haai, oe, Blommie!” As jy hierdie woorde ken, beteken dit dat jy een van die duisende kinders (of grootmense!) is, wat al die Liewe Heksie-boeke gelees of na die TV-programme gekyk het. Liewe Heksie is een van die bekendste en gewildste boekkarakters wat nog in Afrikaans geskep is. Dié karakter was die geesteskind van Verna Vels (1933-2014). Sy het die bekende Liewe Heksie-boeke geskryf.

Vels se kinderdae

Sy is as Verna Barbara Robertson Vels op 13 Junie 1933 op Reitz in die Oos-Vrystaat gebore. Haar pa se naam was Vernon en hy was die bestuurder van die Bethlehem-romery op Reitz. Haar ma, Minnie, was ’n tuisteskepper.

Vels het dit geniet om op Reitz groot te word en was baie lief vir musiek. Haar ouers het Engels in die huis gepraat, en sy het eers op vyfjarige ouderdom geleer om Afrikaans te praat. Daar is egter besluit om meer Afrikaans te praat omdat sy na ’n skool toe gegaan het wat merendeels Afrikaans was. Teen die tyd dat sy elf jaar oud was, het hulle omtrent net Afrikaans in die huis gepraat.

Vels was van kleins af lief vir lees en het vroeg al begin lees. Haar ouers het ook aan ’n boekklub behoort en sy het al op 12-jarige ouderdom hul boekklubboeke begin lees. Reitz het later ’n biblioteek gekry en dit het haar ook aan nuwe boeke bekendgestel. 1

Dit was ook haar ouers wat by haar ’n liefde vir reis aangewakker het, want hulle het haar van ontdekkingsreisigers vertel en sy was mal oor die stories oor vreemde plekke.

Vels was lief vir skool en het veral tale en geskiedenis geniet. Sy het reeds in standerd ses en sewe (vandag graad 8 en 9) beriggies vir die dorpskoerant, Reitz-nuus, geskryf en selfs ’n vervolgverhaal ook.

Sy het aan die Hoërskool Reitz gematrikuleer en het in 1952 aan die Universiteit van Pretoria begin studeer. Sy het in 1954 haar BA-graad met die hoofvakke Afrikaans-Nederlands, Engels en kunsgeskiedenis behaal.

Verna Vels het in 1954 ‘n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal.

Haar vroeë loopbaan

Haar kop het in die joernalistiekrigting gestaan en ’n studentemaat het haar aangemoedig om vir ’n stemtoets by die destydse SAUK (vandag die SABC) te gaan. Sy slaag die toets en word as programassistent-plateprogramopsteller aangestel.

Sy het op 1 Desember 1954 by die SAUK in Durban begin werk was van meet af aan in kinderprogramme geïnteresseerd.

Sy het ná ’n week daar kans gekry om die laaste weervoorspelling van die dag op die radio te lees.

Sy het later vertel dat die omroeper die weervoorspelling se papier aan die brand gesteek het en sy moes vinnig lees om voor die vlamme te bly!

Dit was ook vir haar ’n groot lekkerte om grammofoonplate vir musiekprogramme te kry.

Vels het in daardie tyd begin om haar eerste kinderverhale te skryf en uit te saai. Sy is daarna genader om ’n ook ’n paar stories vir die gewilde kinderradioprogram Siembamba te skryf. 1

Sy is in 1963 na Johannesburg verplaas en het vyf jaar lank die daaglikse program Vrouerubriek aangebied. Sy was ook vir die kunsprogramme verantwoordelik.

Oorsee en terug

Verna is in 1968 na Hilversum in Nederland om by Radio Nederland Wêreldomroep te werk. Sy het daar aan die Afrikaanse program gewerk wat hulle elke middag uitgesaai het. Sy het ook verskeie onderhoude met bekende Nederlanders gevoer.

Dit was egter in daardie tyd apartheid in Suid-Afrika en daarom is die land uit die organisasie Universitè Radio Television International (Urti) geskop en moes Vels na Suid-Afrika terugkeer.

Terug in die land, het sy weer by die SAUK begin werk en was weer eens vir die kinder-, jeug- en kunsprogramme verantwoordelik.

Vels het in 1973 ’n toppos by die SAUK aanvaar en is bevorder tot die organiseerder van die Afrikaanse Programdiens in Natal (vandag KwaZulu-Natal). Sy het só die eerste vrou geword wat as organiseerder in ’n streek aangestel is. Sy het in 1974 weer na Johannesburg teruggekeer en was die organiseerder van die Afrikaanse joernaalprogramme. Dit het kinder- en jeugprogramme ingesluit. Bekende programme soos Kraaines en Wielie-Walie het ook onder haar leiding ontstaan en sy was vir lank die stem van Bennie Boekwurm asook baie van die karakters in Liewe Heksie, insluitend dié van Levinia (Heksie), Blommie-kabouter en Matewis die kat.

Suid-Afrika het op 5 Januarie 1976 amptelik televisie gekry en Vels het ’n groot rol daarin gespeel. Sy was reeds twee jaar voor die tyd betrokke by die vervaardiging en beplanning van programme vir televisie. 1

Liewe Heksie word gebore

Vels het reeds in 1961 die eerste Liewe Heksie-verhaal op die radioprogram Siembamba uitgesaai. Die reeks is in 1963 uitgebrei en die heksie het die bekendste heksie in Suid-Afrika geword.

Dit was uit die staanspoor gewild en daar is sedertdien talle reekse uitgesaai.

Heksie was nie altyd die hoofkarakter nie, maar wel Blommie die kabouter. Daarom was die naam van die stories ook eers Blommie Kabouter en die heks wat vergeet het. Vels sê sy was as kind bang vir die heks in die Sneeuwitjiesprokie en het daarom lank met die idee gespeel om ’n storie te skryf oor ’n oulike heksie wat nie kinders sal bangmaak nie.

Sy het die idee van Blommeland en die silwer roos van Richard Strauss se opera Der Rosenkavalier gekry.

Die bekende klassieke komponis Richard Strauss.

Die eerste Liewe Heksie-boeke het in 1965 by Human & Rousseau verskyn en dit is gevolg deur talle ander boeke, omnibusse, plate en CD’s.

Heksie het ook deur die jare ontwikkel en Liewe Heksie en die rekenaar het in 1999 verskyn.

Liewe Heksie het in 1978 die eerste keer op televisie verskyn en die eerste reeks is met ’n tweede een in 1981 opgevolg. Verna het nes op radio, ook die stemme van Liewe Heksie en Blommie Kabouter in die TV-reeks gedoen. Liewe Heksie is ook telkemale op die verhoog opgevoer. 1

’n Bedrywige lewe en loopbaan

Vels se werk by die SAUK het haar baie besig gehou, maar sy het ook buiten die talle Liewe Heksie-verhale ’n jeugverhaal in 1965 geskryf. Die verhaal Alet is vir radio geskryf en dit het tot 1977 vier uitsendings beleef. Die boek is in 1978 deur Perskor uitgegee.

Vels was ook verantwoordelik vir vele verwerkings van radiodramas vir volwassenes. Van die bekendstes was Nou reisiger, Terug in Warskou en In die skadu van Vermeer. Sy is in 1983 aangestel as die programdirekteur van TV1 (Afrikaans). Dit was ’n baie belangrike aanstelling en die hoogste pos wat ’n vrou nog by die SAUK beklee het. Vels het in 1993 uitgetree en só amper 39 jaar vir die uitsaaidiens gewerk. 1

Die oorspronklike Liewe Heksie-marionet wat in die heel eerste Liewe Heksie TV-reeks op televisie gebruik is. Die marionette is gemaak deur Antoinette Snyman, marionettemeester van Johannesburg.

Sy het beslis nie ná haar aftrede stilgesit nie. Vels het ook ander kinderverhale vir ’n stel CD’s geskryf en was die toesighoudende regisseur van die Afrikaanse sepie 7de Laan.

Vels het op 21 Augustus 2014 ná ’n kankerstryd in Johannesburg gesterf. 2

Toekennings

Vels het heelwat toekennings in haar leeftyd ontvang:

1985 – ’n Literatuurprys van die Federasie van Rapportryerskorpse vir die Liewe Heksie-reeks.

1990 – Toekenning van die ATKV-Dames vir haar vertolking van verskeie kinderstories se karakters en as skrywer van jeug- en kinderverhale.

1994 – ’n Artes-toekenning van die SAUK vir haar bydrae tot die uitsaaiwese.

1995 –   ’n Erepenning van Dames Aktueel vir kultuurbevordering.

1996  –  ’n Toekenning van die FAK vir die bevordering van die uitvoerende kunste.

2000  – Die Tienie Holloway-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir kinderliteratuur.

2000 – ’n Laureaat-toekenning van Universiteit van Pretoria.

2001 –’n Oorkonde van die ATKV as erkenning van haar buitengewone bydrae tot die Afrikaanse kinderlektuur.

2002 – Die C.P. Hoogenhout-toekenning vir kinderliteratuur van Unisa.

2011 –  ’n kykNET Fiësta-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot die woordkuns.

Woordbank

geesteskind Iemand se idee/uitvindsel.
grammofoonplate Musiek is eens op ’n tyd op hierdie plate vasgelê. Dit was voor kassette, CD’s en nou digitale musiek gekom het.
joernalistiek Joernaliste is mense wat berigte/artikels vir koerante, tydskrifte, radio of TV opstel of skryf en die joernalistiek is die werk of vak wat daarmee te make het.
omnibusse Lywige (groot) boek wat verskillende boekdele van ʼn skrywer/oor ʼn onderwerp bevat.
oorkonde Dokument of sertifikaat wat saam met ’n toekenning oorhandig word.
ontdekkingsreisigers Mense wat vreemde lande en seë verken het en belangrike ontdekkings gemaak het.
merendeels Meestal.
van meet af aan Van die begin af.
regisseur Spelleier. Iemand wat toneelspelers afrig.
romery Room word by só ’n plek geskei en verwerk en produkte soos botter en kaas word gemaak.
sprokie ’n Storie wat dikwels van geslag tot geslag vir kinders oorvertel word. Denkbeeldige wesens soos drake, kabouters, feetjies en dies meer speel dikwels ’n rol. 4
tuisteskepper Iemand, gewoonlik die ma, wat van ’n huis ’n aangename plek vir die huismense maak.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Toe Liewe Heksie 50 jaar oud geword het (en Verna 80!)

Sandra Prinsloo gesels met Verna Vels 

Wie was Verna Vels se gunstelingkarakter?

Kyk na ’n episode van Liewe Heksie