Maggie Laubser

Wie sou kon dink dat ’n dogtertjie wat op ’n plaas in Suid-Afrika gebore is, se skilderye aanvanklik erg gekritiseer sou word en later vir honderdduisende rande sou verkoop?

Dit is presies wat met Maggie Laubser (1886-1973) gebeur het. Laubser was ’n bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar en van haar bekendste werke is Indiese meisie met poinsettias en Die oesters. Laubser is ook bekend daarvoor dat sy, saam met die kunstenaar Irma Stern, die Suid-Afrikaanse kunstoneel aan ekspressionisme bekendgestel het. 1

Agtergrond

Maggie is as Maria Magdalena Laubser op 14 April 1886 op ’n plaas in die Malmesbury-distrik gebore. Malmesbury is in die Wes-Kaap in Suid-Afrika geleë. Haar ouers se name was Gerhardus Petrus Christiaan Laubser en Johanna Catharina Laubser (née Holm) en sy was die oudste van ses kinders.

Hul plaas se naam was Bloublommetjieskloof en sy het by die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch skoolgegaan. Die skool was in daardie jare Bloemhof Girls’ Seminary genoem en sy het tot die ouderdom van 15 daar skoolgegaan. Sy was lief vir die plaas en die plaaslewe. Die lewe op die plaas, die platteland en die natuur sou later jare ’n groot invloed op haar werk hê. 1

Bloublommetjieskloof, die plaas waar Maggie Laubser gebore is.

Blootstelling aan kuns en musiek

Laubser het ná skool sanglesse in Kaapstad geneem en het daar met verskeie kunstenaars en musici kennis gemaak. Dit was ook daar waar vriende haar kunstalent raakgesien en haar oorreed het om ’n kunstenaar te word.

Sy het twee maande lank skilderklasse by die kunstenaar Edward Roworth geneem en het in 1907 ’n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kunstenaars geword. Sy het tot 1912 haar eie ateljee in Kaapstad gehad. Tog het sy besef dat sy nie genoeg geld uit haar kuns kon maak nie, en het besluit om die pos as ’n privaat onderwyseres op ’n plaas naby Ermelo te aanvaar.

Sy het daar gewerk en was in Durban met vakansie toe sy ’n Nederlander ontmoet het wat ’n groot invloed op haar toekoms sou hê. Hy was ’n sakeman en die voormalige konsul vir Nederland. Sy naam was Jan Hendrik Balwé en hy het haar talent raakgesien en aangebied om vir haar en haar suster, Hannah, se studies in Europa te betaal. Hy het haar ouers oorreed om hulle te laat gaan en só het Laubser en haar suster in 1913 na Europa vertrek. 2

Ervaring in die buiteland

Hulle het eerstens na Laren in Noord-Holland gereis. Dit was ’n pragtige dorpie met ’n groot kunstenaarsgemeenskap en sy is só aan verskillende kunsstyle blootgestel. Haar verblyf daar het haar horisonne verbreed en sy het van nuwe kunsneigings bewus geword.

Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het Laubser na Londen in Engeland gegaan en van 1914 tot 1919 kuns aan die Slade School of Art studeer. Sy het egter nie van die klasse gehou nie en het gevoel dat hulle haar nie waarlik die vryheid gee om te skilder soos wat sy wou nie. Sy het toe slegs die tekenklasse bygewoon. Sy het ook in hierdie tyd na ander plekke in Brittanje gereis en het daar natuurtonele geskilder.

Laubser het in 1919 na België vertrek, maar het vir net langer as ’n jaar daar gebly en tekenklasse geneem. Dit is nie seker of haar suster toe nog saam met haar gereis het en of sy weer na Suid-Afrika teruggekeer het nie.

Portrait of a Man in Berlin, 1923.

In België het Laubser ’n medekunstenaar en die seun van haar vriend, Jan Hendrik, ontmoet. Sy naam was Arnold Balwé en hy het kuns aan die Koninklike Akademie vir Beeldende Kunste in Antwerpen studeer. Sy het in daardie tyd met die bekende kunstenaar Vincent van Gogh se werk kennis gemaak. Net soos Van Gogh, het sy ook daarvan gehou om landelike tonele te skilder.

Laubser het in 1920 saam met die jong Balwé na die Garda-meer in noordelike Italië gereis. Hulle het ’n jaar lank daar gewoon en geskilder. Dit was gelukkige tye vir Laubser, want sy kon heeldag skilder en het meer van kuns geleer. Sy het later na daardie tyd as die “gelukkigste tyd van haar lewe” verwys. Dit het egter tot ’n einde gekom toe Jan Hendrik Balwé in 1921 gesterf het.

Ekspressionisme

Maggie het aan die einde van 1921 vir omtrent ’n jaar na Suid-Afrika teruggekeer en het toe na Duitsland gereis. Sy het van 1922 tot 1924 in Berlyn, Duitsland, gebly. Sy het in daardie tyd ook die Suid-Afrikaanse kunstenaar Irma Stern ontmoet en hulle het saam na die Baltiese See gegaan om daar te skilder.

Laubser het in Berlyn met die Duitse ekspressionisme kennis gemaak en dit het die manier hoe sy geteken en geskilder het, totaal verander. Voor sy Duitsland toe gegaan het, was haar kuns baie meer realisties. Dit beteken dat sy dinge geskilder het soos wat dit werklik lyk.

Ekspressionistiese skilderye wys nie vir ons hoe dinge en mense regtig lyk nie, maar eerder hoe daardie mense en voorwerpe vir die kunstenaar lyk. Hoe die kunstenaar dit sien en watter emosies die kunstenaar ervaar, word in die kuns weerspieël.

Laubser het in Duitsland kunstenaars soos Karl Schmidt-Rottluff, Max Pechstein en Emil Nolde ontmoet en hulle het ook ’n invloed op haar werk gehad. Sy het ook vir prof. Jäckles, ’n moderne portretskilder, ontmoet en vir ’n ruk saam met hom geskilder. Dit het daartoe gelei dat sy ’n reeks portrette van mans en vroue in haar ekspressionistiese styl geskilder het. 3

Annie of the Royal Bafokeng, 1945.

Terug na Suid-Afrika

Laubser het in 1924 na Suid-Afrika teruggekeer en haar eerste solo-uitstalling by die Argus-galery in Kaapstad gehou. Dit was ongelukkig ’n ramp, want haar kuns is hewig gekritiseer. Mense het nie van haar ekspressionistiese styl of haar gebruik van kleur of vorms gehou nie. Haar styl is as kinderlik en naïef beskryf.

Laubser het haar egter nie daaraan gesteur nie en aangehou om te skilder soos wat sy wou.

Sy het die volgende paar jaar op hul nuwe familieplaas Oortmanspost naby Klipheuwel in die Malmesbury-distrik deurgebring. Sy het weer plaastonele geskilder en blomme, die natuur, diere en plaaswerkers en hul kinders het gereeld in haar werk opgeduik. Sy het ook graag Bolandse tonele en berge geskilder, en visserstonele wanneer sy die see en kusdorpe besoek het.

Daar is ook baie van haar werk wat die gevolg van vakansies in ander provinsies was. Sy het byvoorbeeld treffende skilderye van Indiese vroue in die destydse Natal (vandag word dit KwaZulu-Natal genoem) geskilder. 2

Erkenning vir haar werk

Soos die jare aangestap het, het mense meer waardering vir Laubser se werk gekry en besef dat haar kuns ’n weerspieëling was van haar liefde en respek vir die natuur en mense. Sy het in 1929 ’n uitstalling gehou wat goed ondersteun is en die destydse regering het selfs skilderye vir hul ambassades by haar gekoop. Sy het ook in 1931 ’n uitstalling in Transvaal (nou Gauteng) gehou, wat goed ontvang is.

Sy is in die jare dertig gevra om die kuns vir die Britse Koninkryk-uitstalling in Johannesburg uit te soek, wat ’n groot pluimpie vir haar was.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, die Johannesburgse Kunsgalery en die Pretoriase Kunsmuseum het in 1969 ’n groot uitstalling van haar werk gehou. Die Nasionale Galery het ook in 1987 ’n groot uitstalling van haar vroeë werk aangebied. 2

Pink Blossoming Tree, 1920–1921.

Toekennings

1946: Erepenning vir skilderkuns toegeken deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap – die eerste vrou om hierdie toekenning te ontvang.
1947: Oscar-toekenning vir skilderkuns van Die Vaderland.
1959: Verkies as ’n erelid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
1968: Erepenning, Suid-Afrikaanse Kunsvereniging (SAKV) se Wes-Kaapse tak. 4

Stillewe: Blomme in ‘n vaas, 1909–1913.

Laaste jare

Laubser het in 1953 na ’n huis naby Strand in die Wes-Kaap getrek en dit “Altyd lig” gedoop. Sy het tot haar afsterwe daar gewoon en baie kunswerke geskep. Haar werk is in baie kunsgalerye in Suid-Afrika en om die wêreld heen uitgestal.

Sy is op 17 Mei 1973 oorlede. Sy het die grootste deel van haar boedel aan ’n fonds vir hulpbehoewende kunsstudente bemaak. Haar skilderye is aan die Universiteit Stellenbosch bemaak.

Hoofgebou van die Universiteit Stellenbosch.

Woordbank

ambassades Die amptelike wonings of kantore van ambassadeurs (gesante wat hul land verteenwoordig).
ateljee Die plek waaruit ’n kunstenaar werk.
beurs Geld wat geskenk word vir studies.
boedel Iemand se besittings wat ná sy of haar afsterwe nagelaat word.
ekspressionisme ’n Kunsrigting waar die kunstenaar emosionele ervarings probeer weergee, eerder as indrukke van die vorms van dinge.
Fauvisme Die kunsstyl van ’n groep moderne kunstenaars in die 1900’s waar kleur die sterkste oorweging was.
hulpbehoewende Minderbevoorregte mense wat hulp nodig het.
horisonne verbreed Om jou kennis uit te brei, nuwe dinge te ontdek, jou begrip te vergroot, ens.
konsul Iemand wat sy land in ’n ander land verteenwoordig en wat probeer om handel tussen die lande te bevorder.
musici Mense wat musiekinstrumente bespeel (meervoud van musikant).
naïef Onkundig, oningelig, onwetend.
pluimpie Kompliment.
portretskilder Iemand wat skilderye van spesifieke mense maak.
realisties Dit wys die werklikheid.

Lees dié artikels om meer te leer

Video’s oor Laubser se unieke styl

12 van Laubser se skilderye bespreek

Om ekspressionisme te verstaan, is nie moeilik nie

Van konvensionele styl tot Duitse ekspressionisme

Onderhoud met Maggie Laubser toe sy reeds 82 was