Lucas Maree
’n Ware woordsmid is wat mens Lucas sou kon noem. Hy het die vermoë gehad om dinge so ráák te kon sien en dit dan in woorde oor te dra. Dit wat hy vir Afrikaans nagelaat het, sal vir so lank as wat Afrikaans bestaan, luisteraars en ook ander liedjieskrywers inspireer en aan hulle vreugde verskaf.
Sy jong jare
Lucas Lodewyk Maree is op 22 Julie 1952 in Johannesburg gebore. Sy pa, Jack, was ’n polisieman en sy ma se naam was Maggie. Nadat die gesin vir ’n tyd in Johannesburg gewoon het, het hulle Springs toe getrek. 1
Van sy kleuterjare onthou Lucas dat hy baie graag ’n treinstel vir Kersfees wou hê. Hy onthou ook die geur van dennenaalde en die geluid van die wind wanneer dit oor die blomme buite hul huis gewaai het. Toe hy ongeveer vier was, het die gesin na Pretoria verhuis waar Lucas vir die volgende 38 jaar van sy lewe sou woon. Hulle het aanvanklik oorkant die Pretoria Dieretuin gewoon en die gesin het ’n seisoenkaartjie gehad sodat hulle soveel keer as wat hulle wou, die Dieretuin kon besoek! Dink net hoe lekker dit moes wees. 2
Hy het in Pretoria skoolgegaan aan die Laerskool Danie Malan en die Hoërskool Langenhoven. 3
Lucas het mondfluitjie gespeel toe hy nog jonk was en hy het ook in die skoolkoor gesing. 1
Lucas en die kunstewêreld
Lucas het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en sy BA-graad in drama daar behaal. Hy het ook ’n nasionale diploma in filmproduksie aan die destydse Pretoria Technikon behaal. Hy het onder meer vir ’n tyd by die Nasionale Filmraad gewerk en saans het hy in restaurante gesing. 1
Lucas het sy dramaopleiding by bekende mense in die teaterwêreld gekry, soos Anna Neethling-Pohl en Carel Trichardt. 2
Na afloop van sy studies het hy sy militêre diensplig gedoen, waar hy ook ’n lid van die Kanaries was – die lugmag se musiek- en sanggroep. Ná sy diensplig, het hy voortgegaan om in kroeë en restaurante te sing.
In 1975 het hy vir ’n tyd by die Nasionale Filmraad gewerk, sy eerste “regte” werk. Sy pa was toe gerus oor sy seun omdat hy dit as ’n goeie werk beskou het – hy was bekommerd oor sy seun se liefde vir musiek en omdat hy dit as ’n loopbaan wou volg. Sy pa het gesê: “Jong kunstenaars is mense wat eers beroemd raak nadat hulle dood is…”. 2
Lucas kon dit nooit regkry om sy kitaar vir langer as ’n week uit te los nie. Nadat hy en Jannie du Toit mekaar in 1970 ontmoet het toe hulle albei met hul diensplig besig was, het hy vir Jannie in die tagtigerjare weer raakgeloop. Hierdie herontmoeting het daartoe gelei dat Lucas vir Coenie de Villiers ontmoet het. So beskryf Lucas sy lewe van daar af: “Hierna het ek nooit weer aan myself gedink as iets anders as ’n liedjieskrywer en musikant nie. Dit was my job, selfs al was daar nie altyd werk nie.” 2
Vandag pluk die luisteraars die vrugte van die ryk liedjieskat wat Lucas Maree nagelaat het. Hy word algemeen beskou as een van die heel beste liedjieskrywers ooit in Afrikaans.
Lucas en liedjies
Lucas het aanvanklik net Engelse liedjies geskryf. Dit was in die tyd toe hy aan ’n groep met die naam Detail behoort het.
Hy het saam met Koos du Plessis by die Oggendblad in Pretoria gewerk en dit was deur Koos se aansporing dat hy vir die eerste keer een van die liedjie-aande by die huis van Jannie du Toit in Margaretastraat 28 bygewoon het. Dit is hier waar hy vir onder andere vir Coenie de Villiers ontmoet het en waar hy besluit het om liedjies in Afrikaans te begin skryf. 4
Lucas se eerste Afrikaanse album, dit was in daardie jare nog ’n plaat, het in 1984 verskyn onder die titel Kiekies. Hierdie album is uitgereik in minder as ’n jaar nadat Koos du Plessis in Januarie 1984 oorlede is. Een van Lucas se trefferliedjies – “Victoriabaai” – het op hierdie album verskyn. Dit is een van sy liedjies wat vandag steeds baie gehoor word. Hy het dit geskryf om sy ma te herdenk. Hy het ook sy ma se as by Victoriabaai gaan strooi. 3
In 1987 het Lucas, Jannie du Toit en Nick Taylor die plaat – Koos se plaat – opgeneem om met Koos se eie liedjies hulde aan hom te bring. Lucas het die titel van hierdie plaat voorgestel en hy was ook die klankingenieur van die opnames. Die drie sangers het op die plaat slegs liedjies opgeneem wat deur Koos geskryf is, maar nooit deur homself opgeneem is nie. 5
In 1988 het Lucas deelgeneem aan ’n huldigingsprogram vir Koos wat in die Staatsteater in Pretoria aangebied is as deel van die Kerslig Vers en Melodie-reeks. Kunstenaars wat saam met hom opgetree het, was onder andere Marié du Toit, Christa Steyn en Jannie du Toit. 5
Lucas was in 1989 vir ’n rukkie deel van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek wat die CD Winde van Verandering opgeneem het en waarop Lucas se lied “Jerigo se mure” ingesluit was. 3
Lucas die gesinsman en goeie vriend
Almal wat Lucas geken het, getuig van sy groot liefde vir sy gesin: sy vrou Ilse en sy drie dogters – Monica, Linda en Carla. Heather Liebenberg, wie vir baie jare Lucas se klankpersoon was en saam met hom agter konserte aangery het, vertel dat dit altyd vir Lucas moeilik was om sy gesin agter te laat om op ver dorpe te gaan konsert hou. Lucas self het dikwels ligweg gespot met hom as man alleen tussen al die vroue in sy huis – selfs hul vier honde was almal tefies.
Lucas was baie betrokke by die grootmaak van sy drie dogters en omdat hy saans gewerk het, was hy bedags meesal by die kinders. Hy vertel: “Ek het selfs ’n doekvou-kompetisie gewen, daardie jare was daar net Glodina-lapdoeke en nie sprake van Pampers nie!” 6
Hy het van sy dogters se drukkies gehou en by geleentheid gesê: “ ’n Pa survive mos op drukkies”. Die huis het altyd vir hom lekker geruik met soveel vroue om hom. Volgens hom het sy dogters se eerste soentjies na vanielje geruik. 7
Jannie du Toit vertel hoe Lucas op ’n dag vir hom een van sy nuwe liedjies gesing het waaraan hy nog gewerk het en waarvan Jannie baie gehou het. Toe stuur Lucas uit die bloute kort daarna vir Jannie ’n faks met die liedjie se liriek en musiek en sê omdat Jannie so baie daarvan hou, kan hy dit maar opneem. Hierdie liedjie – Die windpomp – verskyn dan ook op Jannie se CD Volgende Winter wat in 1996 uitgereik is. 8
Mathys vertel hoe Lucas hom ondersteun het toe hy met sy sangloopbaan begin het. En toe Mathys in April 2009 in ’n ernstige motorfietsongeluk was en vir lank in Bloemfontein in die hospitaal was, was Lucas byna elke dag langs sy bed om hom moed in te praat en hom deur ’n baie moeilike tyd te help. 9
Nadat kanker by hom gediagnoseer is, het Lucas self vertel hoeveel sy gesin en sy vriendskappe vir hom beteken – en dat hy daarsonder nie sal kan voortgaan nie. 6
Dagboek van ’n klompie belangrike datums
In 1981 trou Lucas en Ilse. 10
In dieselfde jaar (1981) skryf Lucas sy eerste Afrikaanse liedjies. Sy ma sterf ook in hierdie jaar. Hy sou jare later die liedjie Victoriabaai vir sy ma skryf. 2
In 1983 word hul eerste dogter, Monica, gebore. In dieselfde jaar is Lucas vir die eerste keer een van die aanbieders van die ATKV (Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging) se jaarlikse ligte liedjies-slypskool en daarmee sou hy uiteindelik vir 21 jaar lank volhou. 10
In 1987 trek Lucas en sy gesin na ’n plot buite Pretoria en hul tweede dogter, Linda, word gebore. Lucas leer ook hoe om mampoer te stook en likeur te maak. Hy het onder meer moerbeilikeur gemaak.
In 1988 trek die gesin na Sunnyside in Pretoria en in 1989 word die derde dogter, Carla, gebore.
Vanaf 1989 was Lucas vir vyf jaar assistent-teaterbestuurder by die Aula op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Hier het hy baie geleer oor klank en beligting en steeds landwyd konserte gehou.
In 1993 het hy sy eerste CD met die titel Miljoen opgeneem (die vorige albums was nog plate) en in hierdie jaar gaan hy ook vir die eerste keer op ’n konserttoer na Nederland en België saam met Coenie de Villiers.
In 1996 het hy sy album Die Kiekies Konsert – Weer ’n keer opgeneem tydens ’n regstreekse konsert, dit was dus nie ’n CD wat in ’n ateljee opgeneem is nie. 10
In die 1990’s het Lucas verder bekend geword met sy deelname aan televisieprogramme soos Spies en Plessie en Noot vir Noot. Hy het ook verskyn in Leon Schuster se rolprent You Must Be Joking waarin Leon hom ’n lelike streep getrek het. 1
In 1994 verhuis die gesin na Bloemfontein. 10
Ook in 1994 toer Lucas saam met Coenie de Villiers in Nederland. 5
In 1995 het Lucas saam met Carel Trichardt en Petru Wessels in hul kersprogram – Kersklanke – opgetree. Hulle het dit in daardie jaar in die Maskerteater op die kampus van die Universiteit van Pretoria aangebied. In die daaropvolgende jaar het die drie kunstenaars die program weer aangebied, hierdie keer in die Lierteater op dieselfde kampus.
In 2000 het hy die CD Blouberg opgeneem. Dit was ’n album met nuwe verwerkings van bekende Afrikaanse volksliedjies. Daar was gemengde reaksie op hierdie album. Sommige mense het nie daarvan gehou dat bekende volksliedjies verwerk word nie.
In 2001 tree Lucas weer in die buiteland op by die eerste UKkasie kunstefees – dit was ’n Afrikaanse kunstefees wat in Londen gehou is. Tydens hierdie fees word sy eerste Engelse CD – Things – bekendgestel. In dieselfde jaar het hy ook in Nieu-Seeland opgetree.
In 2002 maak hy die album Lucas & Kie. Hy tree weer by UKkasie op asook in Nederland. Ook in 2003 en 2004 het hy ’n paar keer in die buiteland opgetree asook baie konserte in Suid-Afrika gehou.
In 2005 het hy ’n klankateljee by sy huis gebou waar hy self CD’s kon opneem en in 2007 hy het vir die eerste keer in ’n rolprent gespeel – Ouma se slim kind. 10
Kanker is in 2008 by Lucas gediagnoseer. Hy is op 18 Februarie 2011 in ’n hospitaal in Bloemfontein oorlede.
Lucas se plate en CD’S
- 1985: Kiekies (Plaat)
- 1986: Koos se plaat (Huldeblyk aan Koos du Plessis saam met Jannie du Toit en Coenie de Villiers
- 1993: Miljoen (CD)
- 1997: Kiekies (CD)
- 1996: Die Kiekies Konsert – Weer ’n keer (konsertopname)
- 1998: Mot om die kers (CD)
- 2000: Blouberg (CD)
- 2001: Things (Lucas se dogter Monica sing ook op hierdie CD)
- 2003: Lucas en Kie. (Lucas se dogters Monica [sang] en Linda [viool] was deel van hierdie CD-opname)
- 2008: Folk Buddies (saam met Mathys Roets en André Swiegers)
- 2008: Lucas en Vriende (DVD)
- 2009: Lankverwag (CD)
CD’s wat na sy dood uitgereik is
- Een uit ’n miljoen – vir Lucas Maree (2010)
- Plakboek (2011)
- Met liefde van Lucas (2012)
Op die derde CD is Lucas se eie liedjies opgeneem deur sy musiekvriende wat hom wou ondersteun en geld vir fondse vir hom wou insamel tydens sy siekte. Die CD is terselfdertyd ’n viering van sy 30 jaar as kunstenaar. Daar was ten minste 18 bekende sangers, Lucas se drie dogters, van die beste musikante en klankingenieurs in die land asook van die beste musiekverwerkers wat aan die projek deelgeneem het. 11
Woordbank
doekvou | Voor daar weggooidoeke was, is gewone lapdoeke vir kinders gebruik en hierdie doeke moes op ’n sekere manier gevou word voor dit gebruik kon word. |
faks | In die dae voor daar iets soos e-pos was, het mense briewe en dokumente met ’n faksmasjien vir mekaar gestuur. Hierdie masjien word aan ’n telefoonlyn gekoppel en die boodskap word dan op ’n baie dun soort papier gedruk. |
herdenk | Om aan iemand te dink en hulde te bring aan die persoon nadat hy of sy oorlede is. |
huldigingsprogram | Om iemand te vereer vir wat hulle bereik het. |
langspeelplate | Voor CD’s was daar verskillende soorte plate – die bekendste was die kortspeelplaat wat gewoonlik net een of twee liedjies aan ’n kant gehad het, of die langspeelplaat wat ongeveer 10 tot 12 liedjies aan ’n kant gehad het. |
mampoer | Sterk, alkoholiese drank uit ‘n mengsel van vrugtesoorte; sterk tuisgestookte brandewyn. |
likeur | Fyn, sterk drank bestaande uit gekruide wyn of brandewyn. |
militêre diensplig | Alle jong mans moes in die tyd toe Lucas jonk was, na afloop van hul skoolloopbaan verpligte militêre diens in die weermag verrig. |
plaat | Voor daar iets was soos CD’s, is musiek op plate opgeneem – sulke plat ronde skywe wat van viniel gemaak is en wat mens op ’n platespeler gespeel het. |
pluk die luisteraars die vrugte | Die gevolge van iets ondergaan, in hierdie geval is dit voordeel/sukses. |
skets | Kort stukkie prosa wat nie ’n verhaal is nie, maar eerder ’n beskrywing. |
lelike streep getrek | ʼn Poets bak; iemand vir die gek hou. |
uit die bloute | Onverwags. |
vaardig | Om iets goed te kan doen. |
woordsmid | ʼn Smid is ʼn bewerker van metaal, veral yster. ʼn Woordsmid is iemand wat baie goed kan skryf, dus woorde baie goed kan gebruik om iets moois te skep. |
Luister hier
Luister gerus mooi na die woorde en hoor hoe vaardig Lucas was met taal
Lucas se verwerking van “Blouberg” (saam met Jannie du Toit)
“N1-roete Noord”
“Droomvrou” (uit Lucas se album Plakboek)
“Ek en jy” (uit Lucas se album Plakboek)
“Nog een koppie koffie” (uit Lucas se album Plakboek)
“Heel van vooraf” (Vanaf Lucas se album Mot om die kers)