Leonardo da Vinci

Leonardo da Vinci se naam is dalk sinoniem met die Mona Lisa, een van die bekendste skilderye in die wêreld, maar dié merkwaardige “Renaissance-man” was soveel meer as net ʼn skilder. Hy was ʼn briljante en begaafde perfeksionis wie se onversadigbare soeke na kennis deur ontdekking ʼn bydrae van onskatbare waarde tot velerlei fasette van die geskiedenis gelewer het. Hy was ʼn talentvolle meesterskilder, beeldhouer, wetenskaplike, uitvinder, argitek, ingenieur en skrywer wie se werk mense wêreldwyd meer as vyf eeue later steeds verstom.

Familie en kinderjare

Leonardo da Vinci is op 15 April 1452 in die dorpie Vinci naby die Italiaanse stad Florence gebore. Sy pa, Ser Piero Fruosino di Antonia da Vinci, en ma, Caterina, was nie getroud nie. 1

Met sy geboorte was Leonardo die enigste naam waaronder hy bekend was. Later het sy pa hom toegelaat (onthou, sy ma en pa was nie getroud nie) om as Leonardo di ser Piero bekend te staan en mettertyd ook die “da Vinci”-gedeelte by sy naam te voeg. Da Vinci beteken dat hy van die dorp Vinci afkomstig was. 2

Die dood van Leonardo da Vinci.

Daar is nie baie oor Leonardo se biologiese ma bekend nie, en historici het lank oor haar identiteit kopgekrap. Hoewel daar aanvanklik geglo is dat sy ʼn slaaf van die Midde-Ooste of Noord-Afrika was, is die meeste mense dit vandag eens dat sy ʼn arm meisie was wat in ʼn plaashuis naby die dorpie Vinci gewoon het. Toe Caterina en haar tweejarige boetie, Papo, se ouers oorlede is, is hulle deur hul ouma grootgemaak. In 1451 sterf hul ouma, en in hierdie tyd ontmoet die vyftienjarige wesie Caterina Leonardo se pa. 3

Leonardo se pa se familie was op hul beurt ryk en invloedryke regsgeleerdes van die dorp. Leonardo is vir die eerste vyf jaar van sy lewe deur sy ma grootgemaak, waarna hy by sy pa se familie gaan woon het. Ná sy geboorte trou sy pa met die sestienjarige Albiera aan wie Leonardo baie geheg was. Sy sterf ongelukkig op ʼn jong ouderdom. Selfs al het Leonardo nie by sy biologiese ma gebly nie, het hy haar baie gesien en tot met haar dood kontak met haar gehad. Trouens, sy ma het ʼn jaar voor haar dood by hom in Milaan gewoon. Sy is ook hier begrawe. 2

Opleiding

As kind het Leonardo by sy pa se huis die gewone skoolopleiding van daardie tyd – in lees, skryf en wiskunde – ontvang. Dit is eers heelwat later, in sy dertigerjarige, wat hy werklik ʼn liefde vir wiskunde en geografie (aardrykskunde) ontwikkel het en het ook Latyn, die akademiese taal van die tyd, self aangeleer. Leonardo was van kleins af knapper met die kwas as in die klas, en sy pa het dié kunstalent vroeg reeds opgemerk. Leonardo gaan bly gevolglik as vyftienjarige seun in Florence, waar die kunstenaar Andrea del Verrocchio hom in die fynere vaardighede van skilder en beeldhouwerk touwys maak. 4

Soos enige kunsstudent wat onder ʼn meester in daardie tyd geleer het, het Leonardo eers net klein werkies vir Verrocchio gedoen. Later het hy geleer om kleure te meng en skilderdoeke gereed te kry. Die volgende stap in die leerproses was om van Verrocchio se werk na te teken, waarna Leonardo vir die eerste keer die geleentheid gekry het om saam met ander studente aan ʼn groepskildery te werk. 5

Leonardo se eerste herkenbare werk is in Verrocchio se skildery Die doop van Christus te sien. Kenners glo dat hy die heel linkerkantste engel op die skildery geverf het omdat dit anders as al die ander figure in die prent lyk. Hy was waarskynlik ook verantwoordelik vir die agtergrond van die skildery. Verrocchio het vir ʼn rukkie opgehou skilder omdat Leonardo volgens hom goed genoeg was om al die skilderwerk van sy werkswinkel te hanteer. Dit het Verrocchio in staat gestel om op sy eie beeldhouwerk te fokus – iets waarvan hy baie gehou het. Leonardo, wat ook in die werkswinkel van die kunstenaar Antonio Pollaiuolo (Verrocchio se buurman) gewerk het, skilder in 1478 sy eerste solowerk. Hy was in daardie stadium 26 jaar oud. 4

In Die doop van Christus is Da Vinci se heel eerste herkenbare werk te sien.

Kuns van die Renaissance

Die Renaissance (afgelei van ʼn Latynse woord wat “hergeboorte” beteken) was ʼn geskiedkundige (historiese) tydperk ná die Middeleeue (waarvan ʼn groot deel die Donker Eeue genoem is) en is as ʼn “tyd van lig ná die donker” beskou. Die Renaissance was nie net ʼn hergeboorte van die kunswêreld nie, maar ook die onderwys, wetenskap, letterkunde, musiek en ʼn beter lewe vir mense in die algemeen.

ʼn Belangrike deel van die Renaissance was ʼn kulturele beweging wat die humanisme genoem is. Die mens is skielik as die middelpunt van alles beskou, en loop soos ʼn goue draadjie deur die kuns van dié tyd. Die humanisme het nie net verander hóé kunstenaars hul kuns beoefen het nie, maar ook wié en wát hulle geteken of geskilder het. Historici beskou Da Vinci as die verpersoonliking van die Renaissance se humanistiese ideaal, en daarom word hy dikwels die Renaissance-man genoem. 6

Portret van ‘n musikant.

Die grootste stylverandering van kuns in die Renaissance was dat mense en voorwerpe realisties uitgebeeld moes word. Dié realisme is bewerkstellig deur van tegnieke gebruik te maak waar daar diepte in die skilderye geskep word. Die uitbeelding van emosie is ook kenmerkend van die kunsstyl van dié besonderse tydperk in die geskiedenis. 7

Kuns tydens die Renaissance word in twee hooftydperke verdeel: Tydens die Vroeë Renaissance (1400-1479) het kunstenaars soos Giotto, Masaccio en Donatello baie op simmetrie en “die perfekte vorm” gefokus om die onderwerpe van hul skilderye meer realisties te maak. Tydens die Hoog-Renaissance (1475-1525) het kunstenaars soos Michelangelo, Leonardo da Vinci en Rafael leiding geneem en kuns nog meer realisties gemaak deur op perspektief (hoe ver of naby voorwerpe is om diepte te skep) en ruimte te fokus. 7

St. John die Baptis.

Leonardo die skilder

Sover bekend bestaan daar vandag minder as twintig skilderye wat kenners met sekerheid kan sê skeppings deur Leonardo da Vinci is. Hy sou dikwels met ʼn opdragwerk begin sonder om dit te voltooi. Sommige werke soos Salvator Mundi (“Verlosser van die Wêreld”) en Die Laaste Avondmaal is só baie gerestoureer of beskadig dat dit moeilik is om die oorspronklike werk onder die herstelwerk te herken. 8

Van sy werk is hierdie drie sekerlik sy bekendstes:

Mona Lisa

Die Mona Lisa is volgens kunskenners eintlik van onskatbare waarde. Da Vinci se grootste werk is in 1962 vir $100 miljoen verseker, wat die Guinness-wêreldrekord vir die hoogste versekeringswaarde ooit in die kunsmark is. In vandag se geldwaarde is die Mona Lisa dus sowat $870 miljoen (R13 920 000 000) werd! 11

Die Mona Lisa, wat in die Louvre-museum in Parys hang, is van onskatbare waarde.

Dié olieverfskildery van die Italiaanse edelvrou Lisa Gherardini is glo in Leonardo se testament aan sy gunstelingleerling, Salaì, bemaak. Sedert die 1790’s word die Mona Lisa permanent in die wêreldbekende Louvre-museum in Parys, Frankryk uitgestal. Dit is die kunswerk in die geskiedenis waaroor daar die meeste nóg gepraat, geskryf en selfs gesing is. Da Vinci het van 1503 tot ongeveer 1507 aan die Mona Lisa geskilder, hoewel sommige mense beweer dat hy moontlik tot in 1517 hieraan gewerk het. Baie glo dat hy stadig gewerk het en meer as ʼn dekade geneem het om nét haar mond te skilder. Of dit feit of fiksie is, sal net Leonardo egter weet! 9

Haar mond en oë is waarom die Mona Lisa so waardevol en bekend is. Die oë is geteken in die sentrale visie van die kyker, en dit voel asof sy jou volg waar ook al jy beweeg. Haar mond is weer só geteken dat dit heeltyd uit die hoek van die kyker se oog – sonder om direk daarna te kyk (periferale visie) – sigbaar is. Wanneer die kyker wel direk na die Mona Lisa se mond kyk, lyk dit egter nie soos ʼn glimlag nie. 10

Die wêreldbekende Louvre-museum in Parys, Frankryk.

Die Vitruviaanse Man

Daar word gesê dat Leonardo oor ʼn tydperk van 30 jaar ongeveer 30 lyke van mans en vroue, jonk en oud, gedissekteer (oopgesny en ontleed) het om sketse van die menslike liggaam te maak. Hy het ook diere soos koeie, ape, voëls en paddas oopgesny om te sien hoe hul organe van die mens sʼn verskil. Omdat papier in daardie tyd so duur was, sou Leonardo soveel as moontlik inligting en sketse op een bladsy probeer kry. Meer as 200 van sy tekeninge van die menslike liggaam is 161 jaar ná sy dood in 1680 in boekvorm gepubliseer. 11

Die Vitruviaanse Man is die bekendste voorbeeld van hierdie sketse wat Leonardo da Vinci in ongeveer 1490 van die menslike liggaam gemaak het. Dit beeld uit hoe Leonardo die ideale proporsies (verhouding) van die menslike liggaam sien. Die kunswerk van ink op papier beeld ʼn naakte man in verskillende posisies uit. Waar die arms en bene reguit in die een figuur is, is die arms en bene in die ander figuur uitmekaar. Albei figure is (bo-oor mekaar) binne ʼn sirkel en vierkant geteken. Hy het die afmetings van die arms bepaal deur manlike modelle in Milaan te meet.

Die Vitruviaanse Man is een van Da Vinci se bekendste sketse.

Marcus Vitruvius Pollio was ʼn argitek en skrywer van Rome in die eerste eeu voor Christus en was Leonardo se inspirasie vir dié werk. 12

Vitruvius het geglo dat die uitleg en ontwerp van tempels die proporsies van die menslike liggaam moet uitbeeld, asof die liggaam plat op sy rug lê op die geometriese vorms van die vloerplan. Dit was vir hom belangrik in die ontwerp van ʼn tempel dat dit simmetries moet wees – daar moes ʼn presiese verhouding wees tussen die verskillende komponente (dele), net soos in ʼn man wat goed gebou is. 13

Die Vitruviaanse Man word in ʼn temperatuurbeheerde kamer by die Gallerie dell’Accademia in Venesië gehou en word elke ses jaar slegs vir ʼn paar weke uitgestal omdat dit so delikaat is. Dit is al sedert 1822 in dié museum se versameling. 14 Die waarde van die skets kan byna nie bepaal word nie omdat dit so kosbaar is. Volgens Italiaanse bronne is die werk vir meer as €1 miljard (nagenoeg R22 miljard) verseker. 15

Die Laaste Avondmaal

Die Laaste Avondmaal, wat Jesus se laaste ete saam met sy dissipels voor sy kruisiging uitbeeld, is ʼn muurskildery wat Leonardo da Vinci vir ʼn eetsaal van ʼn klooster in Italië gedoen het. Hy het in 1495 met dié werk begin, en dit het hom drie jaar geneem om te voltooi. Hy sou soms vir ʼn dag sonder ophou werk en dan vir twee of drie dae rus voor hy sy werk aan die skildery hervat het. 8

Die kunswerk beeld die dramatiese toneel uit, soos wat dit in die Bybelse Evangelies (insluitend Matt. 26:21-28) beskryf word. Jesus verklaar dat een van sy dissipels Hom gaan verraai. Leonardo wou die liggaamshouding, handgebare en gesigsuitdrukking uitbeeld wat by elke dissipel sou pas. Jesus sit in die middel van die tafel met die dissipels links en regs van Hom. Hy dra tradisionele rooi en blou klere en het ʼn baard. 16

Die Laaste Avondmaal, wat Jesus se laaste ete saam met sy dissipels voor sy kruisiging uitbeeld.

Die verf het binne ʼn paar jaar reeds begin afdop weens die stoom en rook uit die klooster se kombuis, roet van die kerse en vogtigheid. In die eeue daarna het die skildery verdere skade opgedoen. ʼn Deur is in 1652 in die noordelike muur uitgebreek wat Jesus se voete verwyder en die verf en pleister losgeskud het. Verskeie restourasies het gevolg, maar dit was nie behoorlik deur kunstenaars uitgevoer nie. Die muurskildery is weer beskadig toe Napoleon se soldate die klooster as ʼn stal gebruik het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die gebou deur ʼn bom van die Geallieerdes getref. Die dak en een van die mure het inmekaargestort. Die skildery het oorleef, maar dit is maande lank aan die elemente (weersomstandighede) blootgestel voordat die ruimte herbou is. 16

Die skildery bly broos en in ʼn poging om verdere agteruitgang te keer, word besoekers aan die Santa Maria delle Grazie, ʼn beroemde kerk en klooster in Milaan, slegs in klein groepies van 35 mense vir 15 minute toegelaat om daarna te kyk. ʼn Anonieme bron voer aan dat Die Laaste Avondmaal sowat $450 miljoen (sowat R7,2 miljard) werd kan wees. 17

Van sy ander bekende werk

Salvator Mundi (Latyn vir “Verlosser van die Wêreld”) (c. 1500) – dit is ʼn olieverfskildery van Christus waar Hy die teken van die kruis met sy regterhand maak, terwyl hy ʼn deursigtige kristalbal in sy linkerhand hou. Dit is ʼn uitbeelding van sy rol as Verlosser van die wêreld. Dié werk is in November 2017 vir $450,3 miljoen deur Christie’s-afslaers in New York aan prins Badr bin Abdullah verkoop. 18

Salvator Mundi is in November 2017 vir $450,3 miljoen op ‘n veiling verkoop.

Leonardo da Vinci: Selfportret (c. 1490/1515-16) – ook bekend as Portret van ʼn Man in Rooi Kryt. Da Vinci het vermoedelik dié selfportret geteken toe hy ongeveer 60 jaar oud was. Dit word in die Koninklike Biblioteek van Turyn gehuisves. 19

Madonna van die Rotse (c. 1483-86) – die titel van twee verskillende, dog byna identiese, skilderye deur Leonardo da Vinci. Die een word in die Louvre in Parys gehuisves en die ander in die Nasionale Galery in Londen. 20

Madonna van die Rotse is die titel van byna twee identiese werke.

La Scapigliata (Italiaans vir “Meisie met die Deurmekaar Hare”) (c. 1500-10) is ʼn onvoltooide skildery. Kenners stem egter nie saam oor die onderwerp van die kunswerk, die datum wanneer dit geskilder is óf die doel van die skildery nie. Dit word in die Nasionale Galery in Parma, Italië, gehou. 21

La Scapigliata of “Meisie met die Deurmekaar Hare”.

Dame met die Hermelyn (c. 1489-91) – ʼn skildery van Cecilia Gallerani, die minnares van Ludovico Sforza, hertog van Milaan. Dit word gehuisves by die Czartoryski-museum in Krakow, Pole. 20

Dame met die Hermelyn is in die Czartoryski-museum in Krakow, Pole, te sien.

Ginevra de’ Benci (c. 1474/78) – die enigste skildery deur Leonardo wat in die Amerikas vir die publiek uitgestal word. Dit word deur die Nasionale Kunsgalery in Washington DC in die VSA gehuisves. Dit is een van Leonardo se vroegste werke en is afgehandel toe hy in sy vroeë 20’s was. 20

Ginevra de’ Benci is een van Da Vinci se vroegste werke.

Maria met Kind en Sint Anna (c. 1503-19) – sommige kenners glo dit is Leonardo se laaste skildery. Volgens Christelike apokriewe was sint Anna die moeder van Maria. Maria se moeder se naam word egter nooit in die Evangelies in die Bybel bekendgemaak nie. 20

Maria met Kind en Sint Anna. Baie mense glo dit was Da Vinci se laaste skildery.

Leonardo die beeldhouer

Hoewel daar talle sketse is van standbeelde wat hy beplan het om te maak, het net een sover bekend die toets van tyd deurstaan.

Sedert sy afsterwe in 1519 is geen ander driedimensionele kunswerk van hom ooit geïdentifiseer nie. Kurators in Italië glo dat Madonna met die Laggende Kind die enigste beeldhouwerk van Leonardo is wat bestaan. Die beeldjie, sowat 50 cm hoog, is gemaak van rooi klei en beeld die Maagd Maria uit wat na ʼn glimlaggende Jesus op haar skoot kyk. Volgens kurators is die werk in 1472 geskep toe Leonardo ʼn student by die Florentynse kunstenaar Andrea del Verrocchio was. 22

Die Gran Cavallo (“Groot Perd”), ook bekend as Leonardo se Perd, was ʼn projek vir ʼn bronsbeeld op versoek van die hertog van Milaan, Ludovico il Moro. Dit is egter nooit voltooi nie. Dit sou die grootste perdestandbeeld in die wêreld gewees het, ʼn monument vir die hertog se pa, Francesco Sforza. Leonardo het byna 17 jaar lank voorbereidingswerk gedoen vir die beeld, maar uiteindelik net ʼn groot kleimodel daarvan gebou. Die beeld sou meer as 7 meter hoog (dit is meer as twee verdiepings hoog!) wees. Voor die beeld afgehandel kon word, het Franse magte Milaan in 1499 binnegeval. Die Franse soldate het die kleibeeld tydens ʼn skietoefening gebruik, en dit het in stukke gebreek. 23

Leonardo die wetenskaplike en uitvinder

Om meer realistiese kuns te skep, het Da Vinci verskillende velde van die wetenskap bestudeer. Hy het byvoorbeeld die menslike anatomie en plantkunde bestudeer om meer gedetailleerde skilderye van mense, diere, plante en landskappe te maak. Sy kennis van chemie het hom weer gehelp om verf te meng. In sy leeftyd het Leonardo meer as 7 000 notaboeke met sketse en bevindinge vol geskryf! 24

Hierdie boeke is nie maklik om te lees nie, want as ʼn linkshandige was dit waarskynlik vir hom makliker om van regs na links te skryf (spieëlbeeld of spieëlskrif). Wanneer hy iets geskryf het wat ander moes lees, het hy wel van links na regs op die “normale” manier geskryf, maar wanneer dit net vir sy oë bedoel was, het hy van spieëlskrif gebruik gemaak. 12

Studies van die embrio. Leonardo het van spieëlskrif gebruik gemaak (van regs na links geskryf).

Leonardo het sy oë as sy poort na kennis beskou; vir hom was sig die mens se belangrikste sintuig omdat dit feite deur ervaring onmiddellik en akkuraat oordra. Daarom het saper vedere (wat beteken “weet hóé om te sien”) die vernaamste tema geword waarop hy sy werk geskoei het: van die skilderkuns tot beeldhouwerk, argitektuur en ingenieurswese. 4

Leonardo was ʼn gerekende uitvinder en ʼn argitek van formaat. As jy na sy honderde sketse kyk, sal jy alles van hefbome tot katrolle, hystoestelle, koppelaars, ratte en skakels sien. Sy kreatiwiteit het geen perke gehad nie, en hoewel sy idees meestal nie verder as sketse op papier gevorder het nie, het baie van die idees wat hy neergepen het wél honderde jaar later in een of ander vorm ʼn werklikheid geword.

Van dié idees sluit in verskeie oorlogswapens soos ʼn kanon en masjiengeweer; sweeftuie; ʼn tweemangepantserde voertuig; ʼn skroefvliegtuig (die voorloper van die helikopter van vandag); ʼn hangvlieër; ʼn mensaangedrewe “vliegmasjien” met flappende vlerke; ʼn onderwaterduikpak; en selfs ʼn valskerm. 11

Tyd in Milaan en laaste jare in Frankryk

Leonardo het ʼn interessante en innemende persoonlikheid gehad, en baie mense het van hom gehou. Sy werk het hom reg oor die wêreld geneem, onder andere na Milaan, waar hy vir 17 jaar in diens van hertog Ludovico il Moro was totdat Ludovico in 1499 ontsetel is. Sy naam verskyn in die register van die huishouding as pictor et ingeniarius ducalis (“skilder en ingenieur van die hertog”). Sy dienste is hoog geag en hy was wyd in aanvraag as skilder, beeldhouer en beplanner van groot feeste. Hy tree ook dikwels op as tegniese konsultant op die gebiede van argitektuur en militêre aangeleenthede, en werk as hidrouliese en meganiese ingenieur. 12

Gedurende sy laaste jare woon hy soos ʼn adellike in die kasteel van koning Franciskus I van Frankryk. Op 2 Mei 1519 sterf hy op 67-jarige ouderdom ná ʼn paar beroertes. 11

Tydens sy begrafnis het 60 bedelaars, soos hy in sy testament vereis het, in die begrafnisstoet geloop. 25 Sy graf het verlore geraak, maar ʼn skedel en beendere wat blykbaar syne was, is later in die St. Florentin-kerk in Amboise, Frankryk, begrawe. 26

Woordbank

anatomie Wetenskap waarin die vorm en bou van die liggaam van die mens, dier en plante beskryf word; ontleedkunde.
argitek Ontwerper van geboue en bestuurder van die uitvoering van die ontwerpe; boumeester.
beeldhouer Kunstenaar wat beelde uitkap/uitsny/vorm uit marmer/klip/hout/metaal.
biologiese ma ʼn Kind se eie ma/pa deur geboorte (nie aanneming nie).
booswig Slegte mens; skurk; misdadiger.
gedissekteer Oopsny; ontleed.
edelvrou Vrou uit die adelstand.
geniaal Buitengewoon begaaf/vindingryk/vernuftig/slim.
gerekende Wat aansien geniet; vooraanstaande.
geskiedkundige Kenner/beoefenaar van die geskiedenis.
humanisme Wêreldbeskouing wat menslike waardigheid, vryheid en die waarde van die persoonlikheid vooropstel en godsdiens as minder belangrik ag.
ingenieur Iemand wat akademies opgelei is in een of ander vertakking van die ingenieurswese of dit as beroep beoefen.
invloedryke Wat groot invloed het/uitoefen.
klooster Gebou waar monnike of nonne woon.
kurators Hoof van ʼn kunsgalery, museum of dieretuin.
mitologie Al die oorgelewerde mites (stories/verhale) van ʼn volk.
objek Voorwerp.
perfeksionis Persoon wat oordrewe presies is, wat volmaaktheid nastrewe.
realisties Op die waarneembare werklikheid gerig.
regsgeleerdes Iemand wat (in die) regte (ge)studeer het; regskenner; juris; advokaat; prokureur.
replika Namaaksel van die oorspronklike; presiese kopie; duplikaat.
restoureer Tot sy oorspronklike toestand terugbring; herstel; opknap; verbeter.
simmetrie Wat vorm en afmeting betref, regte onderlinge verhoudings van die onderdele van ʼn geheel.
begrafnisstoet Groep mense wat stadig en ordelik, te voet of per voertuig, êrens heen beweeg.
testament Verklaring, in wettige vorm opgestel, waarin ʼn persoon uiteensit/stipuleer wat ná sy/haar dood met sy/haar eiendom en bates moet gebeur.
uitvinder Iemand wat iets vir die eerste keer uitdink, maak of bou.
vegetariër Persoon wat uitsluitend groente, vrugte, graan en neute eet, en geen voedsel wat deur die doodmaak van diere verkry is nie.
verskynsel Iets wat gebeur/verskyn; gebeurtenis; gesig.
wesie Kind van wie een of (meestal) albei ouers oorlede is.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hoe het Leonardo regtig gelyk?

ʼn Liedjie deur Joe Foster oor ʼn meisie wat hy met Mona Lisa vergelyk

“Mona Lisa” deur Nat King Cole

Hoe Mr. Bean sou lyk as hy die Mona Lisa was

Hoe groot die Mona Lisa werklik is